Jaarboeke

Eksamens, toetse en ander akademiese opdragte

Studente moet hulself vergewis van die Algemene Regulasies van toepassing op eksamens en verwante aangeleenthede. Neem ook asseblief kennis van die relevante fakulteit-spesifieke beleide oor eksamens in die onderskeie fakulteite.

REGISTRASIE VIR EKSAMEN

'n Student dui op die registrasievorm aan die begin van die jaar aan in welke modules eksamen afgelê gaan word. Indien daar egter later besluit word om nie meer eksamen in 'n module(s) af te lê nie, moet die Studenteadministrasie van die betrokke fakulteit daarvan in kennis gestel word.

TOELATING TOT EKSAMEN

  1. 'n Student word slegs tot eksamen in 'n module toegelaat indien hy of sy hom of haar deur die behoorlike uitvoering van die werk bevredigend voorberei het en behoudens andersluidende fakulteitsregulasies 'n semester-/jaarpunt van minstens 40% verwerf het: Met dien verstande dat vir alle eerstesemestermodules op 100-vlak, 'n kandidaat minstens 30% as semesterpunt moet behaal om tot die eksamen in die betrokke modules toegelaat te word.
  2.  By berekening van die jaarsyfer word prestasie in toetse en die bevredigende uitvoering van werkopdragte (take) in berekening gebring.
  3.  Dit is derhalwe noodsaaklik dat 'n student gereeld klasse bywoon, alle toetse aflê en alle werkopdragte afhandel. 'n Student wat as gevolg van onvoorsiene omstandighede verhoed word om klasse by te woon, toetse af te lê of werkopdragte betyds te voltooi, moet onverwyld met die betrokke dosent(e) in verbinding tree, ten einde alternatiewe reëlings te tref. Versuim om dit te doen, kan tot gevolg hê dat toelating tot die eksamen geweier mag word.
  4.  In geval van siekte moet, benewens die reëlings met die dosent(e), 'n geldige en aanvaarbare geneeskundige sertifikaat by die betrokke Studente­administrasie ingedien word.
  5.  Kandidate wat nie tot die eksamen toegelaat word nie se name word op die dag waarop lesings afsluit deur die verskillende departemente bekend gemaak by wyse van naamlyste wat op die departementele kennisge­wingborde geplaas word. Studente moet hul persoonlik daarvan vergewis of hulle tot die eksamen in ’n bepaalde module toegelaat word al dan nie.

 

EKSAMENS, TOETSE EN ANDER AKADEMIESE OPDRAGTE     

INSTRUKSIES tydens die aflê van toetse en/of eksamens

       1.   Studente is verplig om hulself tydens die aflê van 'n toets of eksamen positief te identifiseer deur middel van 'n geldige studentekaart. Niemand sal toegang tot die toets- of eksamenlokaal verkry sonder 'n geldige studentekaart nie.

       2.   Geen persoon mag voorgee om 'n geregistreerde student te wees en/of 'n toets of eksamen namens 'n student aflê nie.

      3.   Geen student mag later as 'n halfuur na die aanvang van 'n toets- of eksamensessie die toets- of eksamenlokaal binnegaan nie. Geen student mag die toets- of eksamenlokaal vroeër as 'n halfuur na die aanvang van die toets- of eksamensessie verlaat nie. In die geval van rekenaargebaseerde assessering mag 'n student nie na die stiptelike aanvang van die toets- of eksamensessie die lokaal binnegaan nie.

       4.   Studente moet alle instruksies wat deur 'n opsiener gegee word, onmiddellik en nougeset nakom.

       5.   Behalwe soos vermeld in paragraaf 6, mag studente nie enige van die volgende items in die toets- of eksamenlokaal inbring, of in hul besit hê nie:

  • sakke (boeksakke)
  • handsakke
  • potloodblikkies of -sakkies
  • ongematigde apparaat
  • boeke
  • elektroniese kommunikasiemiddels of soortgelyke toestelle
  • selfoonhorlosies (slimhorlosies) of selfone (selfone mag nie as plaasvervanger vir sakrekenaars gebruik word nie)
  • enige stuk papier, ongeag hoe klein
  • notas van enige aard.

Die blote besit van enige van die bogenoemde items – ongeag of die student doelbewus, nalatig of onskuldig opgetree het - word as 'n ernstige oortreding van die reëls en derhalwe as ernstige akademiese wangedrag beskou. Dit bly die student se verantwoordelikheid om voor die aanvang van die toets of eksamen te verseker dat geen van bogenoemde items in sy of haar besit is nie.

      6.   Boeksakke en handsakke mag by 'n student gehou word, op voorwaarde dat sodanige sakke toegemaak is en onder die student se stoel geplaas word. Alle boeke en studiemateriaal moet in die toegemaakte sak gebêre word. Die student mag nie ter enige tyd tydens die toets- of eksamensessie die sak oopmaak of hanteer nie. Indien studiemateriaal en/of -notas (wat aan die student behoort), onder die sitplek of lessenaar gekry word, of die student die studiemateriaal en/of -notas enigsins kon sien en dit hom of haar moontlik kon bevoordeel, sal sodanige student beskou word as in die besit te wees van verbode, ongemagtigde materiaal. Elektroniese toestelle soos selfone en tablette moet afgeskakel en in die sak gebêre word, wat toegemaak en onder die student se stoel geplaas moet word. By gebrek aan 'n sak moet die student sy of haar selfoon of tablet afskakel en dit op die vloer onder sy of haar stoel plaas, buite sig van die student. Hierdie toestelle mag nie aan die persoon van die student gehou word nie en mag nie tydens die toets- of eksamensessie aangeskakel word of deur die student hanteer word nie.

      7.  Studente is daarvoor verantwoordelik om hul eie skryfbehoeftes, apparaat en ander materiaal, in ooreenstemming met die vereistes, voorskrifte en instruksies van die betrokke dosent, te voorsien. Onderlinge uitruil van vermelde items is nie toelaatbaar nie.

      8.  Die dra van 'n pet, hoed of mus tydens toetse en eksamens word verbied en studente mag versoek word om sodanige hoofbedekkings te verwyder. 'n Uitsondering word gemaak in die geval van godsdienstige hoofbedekkings.

      9.  Dit is belangrik dat 'n student se van, volle voorname en handtekening in die toepaslike ruimte op die toets- of eksamenantwoordstel verskaf word. lndien 'n student dit so verkies, kan hierdie besonderhede as vertroulik hanteer word deur die boonste gedeelte van die eksamen- of toetsantwoordstel toe te vou en vas te plak. Die toegevoude gedeelte mag slegs deur die eksaminator oopgemaak word indien die studentenommer foutief of onleesbaar is. Alle antwoordstelle moet in onuitwisbare ink voltooi word. Antwoordstelle wat in potlood of uitwisbare ink voltooi word, sal nie nagesien word nie en die skrywer (student) sal nie vir 'n addisionele evalueringsgeleentheid (toets/eksamen) kwalifiseer nie.

     10.  Nadat die opsiener die begin van die toets of eksamen aangekondig het, moet alle gesprekke of enige ander wyse van kommunikasie tussen studente gestaak word. Vir die duur van die toets of eksamen mag daar geen kommunikasie van welke aard ook al tussen studente plaasvind nie.

     11. Geen student mag 'n ander student help of probeer help, of hulp verkry, of probeer om hulp van 'n ander student te verkry tydens 'n toets of eksamen nie.

     12.  Studente mag op geen wyse hoegenaamd oneerlik optree nie. Oneerlike optrede sluit in, maar is nie beperk nie, tot:

  • oneerlikheid met betrekking tot enige toets- of eksamenassessering of die voltooiing en/of inhandiging van enige ander akademiese taak of opdrag;
  • plagiaat (die gebruik van die werk van ander asof dit die student se eie werk is sonder om erkenning aan die bron te gee);
  • die indiening van werk deur 'n student met die oog op assessering wat in die geheel of deels iemand anders se werk is of waar die betrokke werk die produk van samewerking is tussen die student en 'n ander persoon of persone. Die uitsondering is groepwerk soos deur die betrokke dosent bepaal.

     13.  Dit is ten strengste verbode om op enige ander papier te skryf as dit wat vir toets- of eksamendoeleindes verskaf word. Studente mag ook nie op die toets- of eksamenvraestel skryf nie, behalwe in die geval van invul- en meervoudigekeuse-vraestelle.

     14.  Rofwerk moet in die toets- of eksamenantwoordstel gedoen en dan deurgehaal word. Geen blaaie mag uit die toets- of eksamenantwoordstel verwyder word nie.

     15.  Rook word nie in die toets- of eksamenlokaal toegelaat nie en studente sal ook nie toegelaat word om die lokaal tydens die toets of eksamen vir hierdie doel te 'n opsiener.

     17.  Studente mag nie gebruikte of ongebruikte antwoordstelle uit die toets- of eksamenlokaal neem nie.

     18.  Sodra die opsiener tydens 'n toets of eksamen aankondig dat die tyd verstreke is, moet studente onmiddellik ophou skryf. In die geval van rekenaargebaseerde assessering word studente outomaties gestop om verdere werk op die rekenaar te verrig sodra die aantekentyd op die rekenaar verstryk het.

     19.  Studente mag hul eie horlosies na die toets- of eksamenlokaal saamneem, hoewel slimhorlosies nie toegelaat sal word nie.

TOETSINSTRUKSIES

Die eksameninstruksies soos uiteengesit in die paragraaf hierbo is met die nodige veranderinge van toepassing op toetse en praktika.

Let wel: Studente word daarop gewys dat, by 'n skuldigbevinding aan akademiese wangedrag of die nie-nakoming van hierdie reëls, 'n student, benewens ander dissiplinêre maatreëls, sy of haar krediete vir 'nmodule kan verbeur en/of uit die Universiteit geskors kan word vir 'n tydperk wat kan wissel van een jaar tot permanente skorsing. Sodanige student se rekord sal vir die tydperk van skorsing geblok word en hy of sy sal gedurende hierdie tydperk nie geregtig wees op 'n sertifikaat van goeie gedrag van die Universiteit nie. Studente moet ook daarop let dat skuldigbevinding aan akademiese wangedrag toelating tot ander universiteite en/of registrasie by professionele rade negatief kan beïnvloed.

BEKENDMAKING VAN EKSAMENUITSLAE

 Eksamenuitslae word op die volgende maniere aan studente bekend gemaak:

  • MTN-telefoonnommer: 083 123 111
  • Uitslae kan via SMS ontvang word deur UP (spasie) STUDENTENOMMER (8 syfers) (spasie) JUN of NOV in te sleutel en dit na 35606 te stuur
  • Uitslae kan op “Student Self Service” gevind word by https://www.up.ac.za/portal.
HERNASIEN VAN EKSAMENANTWOORDSTELLE
 
Die hernasien van eksamenantwoordstelle word op die volgende voorwaardes toegelaat:
(a)   'n Skriftelike aansoek om die hernasien van 'n eksamenantwoordstel moet binne 14 kalenderdae na die aanvang van lesings in die volgende semester, by die Hoof: Studenteadministrasie ingedien word.

(b)   Die hernasienpunt(e) sal as die finale punt(e) en uitslag geld, selfs al is dit laer as die oorspronklike punt(e).

(c)   Hernasiengeld beloop R330 per afsonderlike eksamenantwoordstel. Die hernasien van modules wat byvoorbeeld uit vraestel 1 en 2 bestaan, se hernasienkoste sal derhalwe R660 beloop. Die geld moet by die kassiere in die Kliëntedienssentrum betaal word alvorens die aansoek oorweeg sal word.

(d)   Terugbetaling van hernasiengeld sal geskied indien die uitslag van 'n student vir die betrokke vraestel na 'n slaagpunt sou verander.

(e)   'n Student sal nie op grond van 'n hernasien geregtig wees op 'n addisionele hereksamen nie.

(f)   Die hernasienuitslae sal so spoedig moontlik bekend gemaak word.

AFNEEM VAN EKSAMENS EN TOETSE OP SATERDAE

Die Universiteit is weens die omvangryke toets- en eksamenprogramme genoodsaak om sommige toetse en eksamens ook op Saterdae af te neem. Om hierdie rede kan spesiale toetse en eksamens, met die uitsluitlike doel om programme wat vir 'n Saterdag geskeduleer is te vervang, om praktiese oorwegings nie toegestaan word nie.

KANSELLASIE VAN LESINGS EN TOETSE

Die aandag van dosente en studente word daarop gevestig dat lesings nie met die oog op voorbereidings vir Jool of enige ander aktiwiteit gekanselleer mag word nie.

Die Raad het egter, op aanbeveling van die Senaat, besluit om dosente te versoek om nie eksamens en toetse op die volgende tye te skeduleer nie:

(a)   vanaf die Woensdag van Joolweek tot die eerste Dinsdag na die Joolweek;

(b)   Lentedag en die dag wat op daarop volg; en

(c)   op die Saterdag waarop ’n intervarsity plaasvind.

 


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences