Jaarboeke

Algemene woordverklarings

akademiese geletterdheid: die minimum gespreks-, lees- en skryfvermoë wat nodig is om sinvol in Afrikaans of Engels aan die programme van die Universiteit van Pretoria deel te neem

akademiese jaar: die akademiese jaar soos deur die Raad van die Universiteit bepaal.

algemeen-kerklik: teologiese opleiding wat nie kerk-spesifiek of eie-kerklik is nie

antisemestermodules: modules normaalweg in die eerste semester aangebied, wat in die tweede semester herhaal kan word en waardeur studente nog 'n geleentheid kry om the betrokke modules in dieselfde jaar te probeer slaag. (N.B. Slegs sekere departemente bied modules op ’n antisemesterbasis aan.)

blok: 'n aantal modules wat as 'n blok in ’n vasgestelde tydperk gedurende die akademiese jaar aangebied word

blokpunt: word bereken uit die deurlopende evalueringsgeleenthede tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke blok

blokeksamen: eksamen wat oor die totale inhoud van 'n blok handel. Dit word aan die einde van die blok/semester afgeneem.

capita selecta: 'n spesifeke komponent of kombinasie van komponente van 'n bestaande module

colloquium doctum: 'n gesprek wat gewoonlik deur die dekaan, die departementshoof en studieleier (waar nodig) met 'n kandidaat gevoer word met die oog daarop om sy of haar opleidingsagtergrond, voorkennis en vlak van wetenskaplike ontwikkeling of vaardigheid as student en navorser vas te stel

dissipline: 'n afgebakende studieveld

eie-kerklike opleiding: aanvullende teologiese opleiding wat deur die kerklike vennoot self gereël word en nie ingevolge die fakulteit se regulasies plaasvind nie

eksamenpunt: Die punt wat aan 'n student in 'n module toegeken word op grond van die eksamen in 'n vraestel/vraestelle, insluitende praktiese en kliniese eksamens waar van toepassing. Indien nodig word die eksamenpunt bereken nadat aanvullende eksamens plaasgevind het.

finale blokpunt: word bereken uit die finale eksamenpunt en die blokpunt (deurlopende evaluering) in 'n verhouding 50:50 of 60:40

finale punt: Die punt wat bereken word op grond van die semesterpunt/jaarpunt en die eksamenpunt wat aan ’n student in ’n module toegeken is, volgens ’n formule wat van tyd tot tyd by wyse van regulasie vir elke module vasgestel word, met dien verstande dat indien daar nie ’n module-/semester-/jaarpunt in ’n module vereis word nie, die eksamenpunt ook as finale punt dien.

fundamentele module: ’n Module wat as die akademiese basis beskou kan word van die kern-leeraktiwiteite in ’n bepaalde program.

(GS) gesamentlike syfer: ‘n gesamentlike finale punt (die gemiddelde van die semester-/jaarpunt plus eksamenpunt) van tussen 40% en 49% word vereis vir toelating tot die spesifieke module.

geweegde gemiddelde op grond van modulekrediete (GPA): ’n gemiddelde punt wat bereken word deur die finale punt wat in ’n module behaal is, te vermenigvuldig met die kredietwaarde van daardie module waarna die waardes wat so bereken is, bymekaargetel word en gedeel word deur die totaal van die krediete van al die modules waarvoor die student ingeskryf was. Dit lewer ’n geweegde gemiddelde op grond van modulekrediete.

jaarmodule: ’n module wat oor een jaar (twee semesters, 28 weke strek

kernmodule: ’n verplige module wat noodsaaklik is vir of sentraal staan in die bereiking van die uitkomste vir ’n bepaalde program.

keusemodule: ’n module wat deel uitmaak van ’n groep modules waaruit studente kan kies met voorbehoud dat genoegsame krediete op die bepaalde jaarvlak verwerf word, soos vereis deur die kwalifikasie waarvoor ingeskryf is

kerklike vennoot: ’n kerk met wie die Universiteit ’n formele ooreenkoms aangegaan het met betrekking tot die opleiding van kandidate en die daarstelling van doserende personeel

kerk-spesifiek: daardie deel van ’n program of van teologiese onderrig wat ingevolge die Jaarboek se regulasies plaasvind, maar wat betrekking het op ’n kerklike vennoot se besondere perspektief, praktyk- of opleidingsbehoeftes

krediet (of kredietwaarde): ’n waarde-eenheid wat aan spesifieke leeraktiwiteite gekoppel word. Wat modules betref, hang dit onder meer saam met die graad van kompleksiteit (o.a. die jaarvlak waarop dit aangebied word: 1, 2 of 3) en die totale aantal leerure wat nodig is om daardie module suksesvol af te handel. Kredietwaardes word ook aan volledige kwalifikasies gekoppel: vir die verwerwing van ’n driejaar-baccalaureusgraad word daar normaalweg minstens 360 krediete vereis (gemiddeld 120 krediete vir elke jaarvlak, met minstens 72 krediete vir jaarvlak 3). Die onus rus op die student om te verseker dat die graadpakket voldoen aan die vereiste aantal krediete benodig om die graad te voltooi.

kwalifikasie: ’n diploma of ’n graad wat behaal is op grond van voldoening aan die leeruitkomste soos gespesifiseer in ’n koherente studieprogram, en uitgedruk as ’n akkumulasie van krediete op spesifieke vlakke

leergang (kurrikulum): ’n reeks modules wat die program uitmaak, wat oor ’n spesifieke tydperk en in ’n bepaalde volgorde volgens die regulasies saamgegroepeer is

leerplan: ’n opsomming van die leerinhoud van ’n module

leeruitkoms: die eindproduk van ’n gespesifiseerde leerproses, dws wat ’n mens beoog om te bereik en te kan doen (spesifieke vaardighede) nadat die leerproses voltooi is

leerure: die beraamde aantal ure wat ’n student behoort te bestee om die leerinhoud van ’n spesifieke module of program te bemeester. Die totale aantal leerure vir ’n module bestaan uit die tyd wat in beslag geneem word deur lesings, praktika, selfstudie en enige ander aktiwiteit wat deur die opleidings-program vereis word. (leerure = getal krediete (vir ’n module) x 10.)

module: ’n selfstandige, afgebakende leereenheid, ontwerp om ’n spesifieke stel leeruitkomste te bereik, en wat ’n onderdeel uitmaak van ’n program.

modulekode: bestaan uit ’n gelyke aantal hoofletters en syfers waardeur die modulenaam, studiejaar en vlak van die module aangedui word

module-/semester-/jaarpunt: die punt wat ’n student gedurende die loop van ’n kwartaal, semester of jaar in ’n module verwerf in toetse, klaswerk, praktiese werk of enige ander werk insluitende deurlopende evaluasie soos deur die regulasies goedgekeur.

Nasionale Normtoets (Engels: National Benchmark Test (NBT)): die Nasionale Normtoets word in opdrag van Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA) gebruik om die akademiese gereedheid van eerstejaar-universiteitstudente te assesseer, ter aanvulling van sekondêre skoolrapporte. Die toets fokus op inhoud-spesifieke kursusse nl Akademiese Geletterdheid, Kwantitatiewe Geletterdheid en Wiskunde. Sien www.nbt.ac.za vir meer inligting.

NKR: Nasionale Kwalifikasieraamwerk (Engels: National Qualifications Framework). ’n Nasionale raamwerk waarop alle SAQA-geregistreerde kwalifikasies verskyn, met agt vlakke volgens die mate van gevorderdheid van die kwalifikasie.

opsie: ’n spesifieke fokusarea binne ’n bestaande graadprogram.

program: ’n volledig beplande, gestruktureerde en samehangende stel onderrig- en leereenhede (modules) wat lei tot die verwerwing van ’n spesifieke kwalifikasie (sertifi­kaat, diploma of graad)

programbestuurder: die persoon wat verantwoordelik is vir die oorhoofse bestuur, organisasie en samestelling van ‘n bepaalde program

promoveer:  om te promoveer beteken dat ’n student vrygestel word van die finale eksamen in ’n module indien sy/haar semester-/jaarpunt daarvoor meer as ’n sekere voorafbepaalde persentasie is (bv 75%)

registrasie: die proses wat ’n student moet voltooi om as ’n student van die Universiteit aanvaar te word of vir ’n program te registreer

SAQA: Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (Engels: South African Qualifications Authority). Dié liggaam is ingevolge wetgewing gestig met die doel om kwalifikasies, programme en leereenhede wat aan sekere nasionale en internasionale standaarde en norme voldoen, te registreer.

semestermodule: ’n module wat oor een semester (14 weke) strek

sertifikaat van bevredigende voorbereiding: met bevredigende voorbereiding word ook bedoel dat bevredigende bywoning van praktika en kliniese werk vereis word

spesialismodule: hoofmodule (spesialiteit) in ’n spesifieke program

tentamen: ’n gespreksgeleentheid wat elemente van beide onderrig en evaluering bevat

toelatingsreglement: ’n regulasie opgestel deur die dekaan betreffende die toelating van studente tot ’n spesifieke program, wat ook voorsiening maak vir ’n keuringsprosedure

vak: ’n afgebakende studieveld waaruit een of meer modules vir aanbieding geselekteer word.

verlengde studieprogram: ’n studieprogram vir ’n graad of diploma wat volgens die regulasies geneem word oor ’n tydperk langer as die minimum duur van die graad of diploma

vlak (of jaarvlak): ’n aanduiding van die akademiese vlak van ’n module (bv eerste, tweede of verdere vlak), soos dit in die modulekode gedra word en wat ook ’n bepaalde moeilikheidsgraad impliseer.’n Program wat tot ’n nasionale eerste graadkwalifikasie lei, bestaan normaalweg uit eerste-, tweede- en derdejaarsvlakmodules.

 

 


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share