Jaarboeke

Program: MBChB Geneeskunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10130003 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Minimum duur van studie: 6 jaar Totale krediete: 1238
Contact:
Prof BG Lindeque
[email protected]
+27 (0)123541201

Programinligting

Elke student in Geneeskunde moet onmiddellik na toelating tot die eerste studiejaar by die Registrateur van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aansoek doen om registrasie as student in Geneeskunde.

Na verwerwing van die graad moet ’n student by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as ’n intern registreer en vir minstens een jaar opleiding ondergaan aan ’n inrigting wat deur genoemde Raad vir dié doel goedgekeur is. (Studente wat na Julie 2006 kwalifiseer, sal verplig wees om ’n tweejaar-internskap te voltooi.) Daarna moet hy of sy by die Raad as geneesheer registreer en een jaar gemeenskapsdiens verrig alvorens hy of sy in ’n privaat praktyk kan praktiseer.

Die geïntegreerde, uitkomsgebaseerde probleem-georiënteerde graadprogram bestaan uit teoretiese blokke, spesiale aktiwiteite (SA’s) en kliniese rotasies. Tydens die finale 18 maande, bekend as die Studentinternkompleks (SIK) vind al die programaktiwiteite in die kliniese omgewings plaas.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat in besit is van ‘n sertifikaat wat deur die Universiteit beskou word as ekwivalent aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met universiteitsvrystelling, ‘n kandidaat wat aan ‘n ander tersiêre instelling gegradueer het of aan wie die status van ‘n gegradueerde van sodanige instelling toegeken is, en ‘n kandidaat wat aan ‘n ander fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gegradueer het.

  • Lewensoriëntering word van die TPT-berekening uitgesluit.

  • Graad 11 se finale-eksamenuitslae, die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT) se uitslae en ‘n Toegevoegdewaardevraelys sal vir die voorlopige toelating van voornemende studente gebruik word.

  • Toelating tot Gesondheidswetenskappeprogramme is onderhewig aan ‘n keuringsproses.

  • Aansoeke van internasionale kandidate wat van lande kom met mediese opleidingskole sal nie oorweeg word vir plasing in die MBChB program nie, behalwe waar interregeringssamewerkingsooreenkomte in plek is.

  • Die som van die uitslae van ses vakke, waaronder Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskap, word vir keuringsdoeleindes bereken.

  • Kandidate, neem asseblief kennis dat jou TPT nie met meer as twee punte mag daal in die uitslae van jou finale skooleksamen nie ten einde jou voorlopige toelating te behou.

  • NEEM ASSEBLIEF KENNIS dat voldoening aan die minimum toelatingsvereistes nie noodwendig toelating tot enige program in hierdie Fakulteit waarborg nie.

  • Navrae oor keuring kan gerig word aan [email protected].

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

Fisiese Wetenskap

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

5

3

C

C

35

Addisionele vereistes

In die eerste studiejaar is daar 300 plekke in die MBChB-graadprogram beskikbaar. Aansoekers vir MBChB I word aan die hand van verskillende kategorieë beoordeel en die minimum toelatingsvereistes word hiervolgens vasgestel.

  1. Volgens die keuringsproses, moet kandidate Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskap met ‘n minimum prestasiekode van 5 (60%-69%) geslaag  het. ‘n Minimum TPT van 35 is ‘n voorvereiste om in aanmerking te kom vir keuring en/of toelating.
  2. Kandidate mag nie die eerste studiejaar van hierdie graadprogram aan enige ander Suid-Afrikaanse universiteit voltooi nie.
  3. ’n Kandidaat wat ten minste ’n volledige akademiese jaar aan ’n ander universiteit voltooi het en minstens vier eerstejaarsvakke geslaag het, kan in aanmerking kom vir keuring, maar slegs vir die MBChB I-program.
  4. Die toelating van buitelandse kandidate word beperk. Kandidate van lande in die SAOG word verkieslik oorweeg.
  5. Kandidate word na afloop van die keuring per SMS en skriftelik van die uitslag verwittig.
  6. Skoolverlaters met geen vorige tersiêre opleiding wat nie tot die MBChB I-program toegelaat is nie, kan vir die eerste studiejaar van ’n BSc-graadprogram in Biologiese of Mediese Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria registreer, indien hulle daarvoor kwalifiseer. Indien hulle die voorgeskrewe eerstesemestermodules slaag, kan hulle voor 31 Mei in die eerste studiejaar aansoek doen vir MBChB I om vanaf die tweede semester oorweeg te word.
  7. Kandidate wat nie tot die eerste studiejaar van die MBChB-graadprogram toegelaat word nie, kan aansoek doen om toelating tot enige ander graadprogram solank hulle aan die betrokke toelatingsvereistes van hierdie Universiteit voldoen en kan op grond van daardie prestasie weer aansoek om toelating tot of oorskakeling na MBChB I doen.

Ander programspesifieke inligting

Belangrik:
Studente het drie evalueringsgeleenthede, naamlik ’n bloktoets, eerste eksamen en tweede eksamen ten einde te slaag in GPS Generiese prosedurevaardighede 280. Alhoewel 'n student nie teruggehou sal word as GPS 280 gedruip word nie, moet die betrokke module teen die einde van die eerste semester van die derde studiejaar geslaag word, in gebreke waarvan die student wel teruggehou sal word in die derde studiejaar.

Vierde studiejaar:

  • SA 11 (GNK 487) Vel 487 word voorafgegaan deur een studieweek genaamd SA 11a in die 4de jaar, 2de semester.
  • 'n Student wat vanaf 2015 BOK 284 (25 krediete) neem, sal module GNK 482 moet neem en slaag.
  • SA 16 (GNK 482) Geregtelike geneeskunde 482 sal vir die eerste keer vanaf 2017 aangebied word. ‘n Student wat BOK 482 voor 2015 geslaag het, hoef nie hierdie module te neem nie aangesien die inhoud reeds by BOK 284 (31 krediete) ingesluit was.

Vyfde studiejaar:
Blok 18 (GNK 585) Farmakoterapie 585 word voorafgegaan deur twee studieweke, naamlik Blok 18a in die 2de jaar, 2de semester en Blok 18b in die 4de jaar, 2de semester.
Let wel: Punte behaal in die oggendrotasies word in berekening gebring by die betrokke blokpunte.

Toelating tot die Studentinternkompleks (SIK):
Tweede helfte van vyfde studiejaar en die sesde studiejaar

  1. Om tot die SIK toegelaat te word, moet ’n student in al die eksamenmodules en oggendrotasies van die eerste semester van die vyfde studiejaar geslaag het.
  2. Rotasies en einde-van-rotasie- evaluasie (eerste eksamen) en einde-van-semester-eksamen (tweede eksamen):
  1. Opleiding in die SIK duur 18 maande. Rotasies vind oor 63 weke in drie semesters plaas.
  2. Alle studente wat betrokke is, geniet dieselfde rang van senioriteit en staan as studentinterns bekend; dit wil sê, geen onderskeid word in hierdie geval tussen die status van ’n vyfde- en sesdejaarstudent gemaak nie.
  3. ’n Rotasie duur sewe weke, en elke drie rotasies word logies saam-gegroepeer, in die drie semesterafdelings van die SIK.
  4. Die semesterrotasies word soos volg ingedeel:

Studentinternkompleks (SIK) (18 maande)
SIC Semester (a): Chirurgie en verwante dissiplines en huisartskunde

  1. Chirurgie (7 weke) GNK 680 – 52 krediete
  • Algemene chirurgie
  • Vaskulêre chirurgie
  • Plastiese chirurgie
  • Pediatriese chirurgie
  • Kardiotorakale chirurgie
  • Neurochirurgie (1 week)
  1. Chirurgie-verwante subdissiplines (3 weke)
  • Urologie (2 weke) GNK 690 – 11 krediete
  • Ortopedie (3 weke) GNK 681 – 17 krediete
  • 1 week van eksamens
  1. Anestesiologie en huisartskunde (7 weke)
  • Anestesiologie (3½ weke) GNK 682 – 20 credits
  • Huisartskunde (3½ weke) GNK 691 – 20 credits

Totale krediete per semester: 120

SIK Semester (b): Interne geneeskunde en verwante subdissiplines en psigiatrie

  1. Interne geneeskunde (7 weke) GNK 683 – 45 krediete
  2. Interne geneeskunde-verwante subdissiplines (3½ weke) GNK 684 – 20 krediete
  • Dermatologie
  • Hematologie
  • Kardiologie
  • Neurologie (3½ weke) GNK 693 – 15 krediete
  1. Psigiatrie (7 weke) GNK 685 – 40 krediete

Totale krediete per semester: 120

SIK Semester (c): Vroue- en kindergesondheid en gemeenskapsgebaseerde onderrig

  1. Obstetrie en ginekologie (7 weke) GNK 686 – 40 krediete
  2. Pediatrie (7 weke) GNK 687 – 40 krediete
  3. Gemeenskapsobstetrie (3½ weke) GNK 692 – 20 krediete
  4. Gemeenskapsgebaseerde onderrig (3½ weke) GNK 688 – 20 krediete

Totale krediete per semester: 120

SA13 Spesiale aktiwiteit: Diagnostiese laboratorium-geneeskunde

  1. Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde (2 weke) GNK 689 – 11 krediete
  • Beeldvormende geneeskunde
  • Getuienisgebaseerde geneeskunde
  • Bio-etiek (2 dae)*

Totale krediete: 11 
Totale krediete Studentinternkompleks 371

SA 13 Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde word gevolg deur twee studie-dae, naamlik SA 13a in die 6de jaar, 2de semester.

  1. Einde-van-rotasie-evaluasie word aan die einde van elke sewe-week- rotasie gehou. Studente wat 'n finale punt van minstens 60% behaal, promoveer die rotasie en hoef nie die einde-van-semester-eksamen in die rotasie af te lê nie.
  • In die eerste semester vind hierdie eksamen drie keer vir studente in die eerste semester van hul sesde studiejaar).
  • In die tweede semester vind die eksamen ook drie keer plaas (vir studente in die tweede semester van beide die vyfde en sesde studiejaar).
  1. Einde-van-semester-eksamen vind plaas in die betrokke rotasies van die betrokke semester van 'n SIK waarin studente nie voldoende presteer het nie (d.i. minder as 60%).Studente wat nie in hierdie eksamens slaag nie, sal nie tot die volgende semester se rotasies toegelaat word nie, en sal die betrokke onsuksesvolle rotasie(s) moet herhaal en slaag. (Nadere besonderhede in die      verband verskyn hieronder.
  2. Tydens die eerste semester van die sesde studiejaar word twee periodes van twee weke elk aan die volgende bestee: GNK 689: Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde; Beeldvormende geneeskunde; Getuienisgebaseerde geneeskunde; Bio-etiek.

Rotasie(s) gedruip of nie gepromoveer nie

  1. ’n Studentintern wat vir die eerste keer ’n sewe-week-rotasie of rotasies druip (dit wil sê die einde-van-rotasie-eksamen) of nie daarin promoveer nie, lê die einde-van-semester-evaluasie daarin af. Indien suksesvol in die tweede eksamen, word voortgegaan met die rotasies van die volgende semester. Indien nie suksesvol nie, moet die betrokke rotasie(s) by die eerste geleentheid in die volgende semester herhaal word. Die aard van sodanige herhaling moet beskou word as remediërend en dit eindig met die volgende einde-van-rotasie-evaluasie.
  2. Die einde-van-rotasie-eksamen vir sodanige studentinterns dien as die volgende amptelike eksamen en moet as sodanig deur eksterne eksaminatore gemonitor word. ’n Slaagpunt van minstens 50% word vereis.
  3. Studentinterns wat die einde-van-rotasie-evaluasie suksesvol aflê, gaan voort met die volgende “semesterrotasies” en mag by hul oorspronklike groep aansluit vir die res van die SIK. Die derde rotasie van die semester sal dan weer ongelykfasig wees.
  4. Studentinterns wat die einde-van-rotasie-evaluasie (dit wil sê eerste eksamen) weer druip, gaan roetinegewys voort met die volgende rotasies of semesteraktiwiteit soos van toepassing ooreenkomstig die aantal rotasies wat gedruip is. Sodanige studentinterns sal die onsuksesvolle rotasies aan die einde van die opleidingstydperk voltooi, nadat alle ander rotasies geslaag is.
  5. Die sesde studiejaar mag twee keer gedruip word, mits geen vorige jaar gedruip is nie. Dit beteken dat ’n totaal van sewe semesters vir die sesde studiejaar beskikbaar is vir ’n studentintern wat geen vorige studiejaar gedruip het nie.

Eksamens en slaagvereistes

Slaag van 'n blok/spesiale aktiwiteit in die MBChB-graadprogram

  1. 'n Blokpunt word bereken uit die einde van die blokevaluering en tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke blok of spesiale aktiwiteit. Hierdie evaluasies sal een of meer van die volgende insluit:
  1. Evaluasies ten opsigte van teoretiese kennis.
  2. Evaluasies ten opsigte van kliniese kennis en vaardighede.
  3. Verpligte bywoning van en aktiewe deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.
  4. ’n Finale omvattende bloktoets wat deur eksterne eksaminatore gemodereer word.
  1. Studente mag die opsie uitoefen dat die blokpunt aan die einde van die jaar as die finale blokpunt vir die betrokke blok bekragtig word (dit wil sê hulle word vrygestel van die blokeksamen van hierdie blok) mits hulle aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Bogenoemde blokpunt is meer as 60%.
  2. Bewese bywoning van alle toepaslike blokspesifieke aktiwiteite, te wete:
  • Alle toetse/deurlopende evaluasies.
  • Alle praktika en oggendsaalrondte-aktiwiteite.
  • Alle relevante vaardigheidslaboratoriumaktiwiteite.
  • Alle relevante gemeenskapsgebaseerde onderrigaktiwiteite.
  • Alle kliniese rotasies.
  1. ’n Slaagsyfer in die kliniese rotasietoets.
  2. Bywoning van die betrokke blok vanaf dag 1.
  3. Geen skuldigbevinding deur die Fakulteit se Preliminêre Dissiplinêre Komitee (Studente-oortredings) aan enige vorm van oneerlikheid of bedrog nie.

 

  1. ’n Blokeksamen word toegestaan aan alle geregistreerde studente ongeag die blokpunt.
  2. Die finale blokpunt word bereken uit die blokeksamenpunt en die blokpunt (deurlopende evaluering) in ’n verhouding 50:50 of 60:40, na gelang van die studiejaar en/of blokspesifieke regulasies. Die formule waarvolgens die finale blokpunt bereken word, sal uiteengesit word in die blokboek (studie-handleiding) en by die aanvang van die program aan die studente verduidelik word.
  3. Om ’n blok/spesiale aktiwiteit te slaag waarin ’n kliniese komponent teenwoordig is, word ’n subminimum van 50% as blokeksamenpunt vereis (’n student wat dus ’n blokpunt bo 50%, ’n blokeksamenpunt onder 50%, en ’n finale blokpunt van bo 50% behaal, druip die blok en word tot ’n tweede eksamen toegelaat).
  4. Met betrekking tot die Aaneenlopende Kliniekbesoekprogram (L-CAS-aktiwiteite) van ’n akademiese jaar (modulekode LCP 180, 280, 380, 480 en 580), moet studente ’n portefeulje vir assessering aan die einde van die jaar inhandig. Bevredigende bywoning word verder vereis betreffende hierdie module om die jaar te slaag. Let wel: Studente word nie toegelaat binne pasiënte se huise of enige ander ongemagtigde fasiliteit nie.
  5. ‘n Tweede eksamen in ’n blok word toegestaan aan alle studente wat in ’n betrokke blok druip.
  6.  As ’n reël word die betrokke tweede eksamen in November/Desember van dieselfde jaar of in Januarie van die daaropvolgende jaar afgeneem. Hierdie regulasie is egter nie van toepassing aan die einde van die eerste semester van MBChB V nie. ’n Minimum van 50% word vereis om in die tweede eksamen te kan slaag.
  7. Siekte- of buitengewone eksamens vir studente wat weens gesondheids- of ander aanvaarbare redes nie die blokeksamen kon aflê nie, word tydens die tweede eksamenperiode afgelê. Studente doen formeel aansoek om sodanige eksamen, en toelating daartoe word deur die Voorsitter van die Skool of bemagtigde persoon goedgekeur. Waar toepaslik, kan die Voorsitter van die Skool eers ’n aanbeveling van die Gesondheidskomitee van die Fakulteit vereis voordat toelating tot ’n siekte-eksamen toegestaan word. Alle modaliteite van ’n finale eksamen moet gesamentlik as ’n siekte- of buitengewone eksamen afgelê word selfs al was ’n deel van die betrokke eksamen alreeds in die vorige eksamenperiode afgelê. Die finale blokpunt word bereken uit die punte van al die afdelings/modaliteite van die siekte- of buitengewone eksamen en die betrokke blokpunt (deurlopende evaluerings-punt). Dieselfde kriteria soos uiteengesit vir ’n finale punt in ’n blok, is ook hier van toepassing.Let wel: Geen spesiale datums sal vir siekte-/buitengewone eksamens gereël word nie. Sodanige eksamens sal slegs op die geskeduleerde datums van gewone eerste/tweede eksamens plaasvind.
  8. Siekte- of buitengewone toetse word nie in die MBChB-graadprogram toegestaan nie. Studente wat met toestemming van toetse afwesig is, sal uiteraard geen blokpunt hê nie, en die slaag van hierdie betrokke blok/ke sal uitsluitlik deur die blokeksamenpunt bepaal word.


Herhaling van blokke en/of spesiale aktiwiteite (en dus die studiejaar) in die MBChB-graadprogram
’n Student wat een of meer blokke en/of spesiale aktiwiteite in ’n betrokke jaar druip moet die studiejaar herhaal. Sodanige student word egter vrygestel van die blokke en/of spesiale aktiwiteite wat wel in die onsuksesvolle jaar geslaag is.
Die Eksamenmodereringsvergadering en/of die Voorsitter van die Skool vir Geneeskunde behou die reg om slegs ’n slaagpunt in genoemde blokke en/of spesiale aktiwiteite toe te staan, mits die student in daardie blokke en/of spesiale aktiwiteite aan die volgende vereistes voldoen:

  • Dat die punt wat aan die betrokke blok of spesiale aktiwiteit toegeken is, nie op grond van kondonering geskied het nie.
  • Dat die student die betrokke blok of spesiale aktiwiteit gereeld bygewoon het, aan alle aktiwiteite deelgeneem het en verder aan alle ander vereistes voldoen het.

Eksamens en slaagvereistes
Ingevolge die bepalings van Algemene Regulasie is daar 'n minimum jaar- of semesterpunt van 40% wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie: Met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules binne ’n skool nie op dieselfde wyse hanteer hoef te word nie alhoewel ’n groot mate van eenvormigheid gewens is. Die bepaling dat alle studente vrylik tot eksamens toegelaat word, word ondersteun. 'n Finale blokpunt in die betrokke module word egter bereken uit die blokeksamenpunt sowel as die blokpunt wat saamgestel word uit die deurlopende evaluering tydens die aanbieding van die module (dws die semester-, jaar-, module- of blokpunt). Laasgenoemde punt word bereken uit punte behaal in een of meer van die onderstaande:

  1. Evaluering oor teoretiese kennis.
  2. Evaluering oor kliniese kennis en vaardighede.
  3.  Verpligte bywoning van en deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.

Die bydrae van elke modaliteit in die berekening van die bogenoemde punt, word in die regulasies uiteengesit en in studiehandleidings opgeneem, en dit word breedvoerig voor die aanvang van die modules aan die betrokke studente verduidelik. So ook die gewig wat aan bogenoemde punte en aan die onderskeie eksamenpunte by die berekening van die finale blokpunt van die student toegeken word, wat wissel tussen 50:50 en 40:60 na gelang van die studierigting, studiejaar en programspesifieke samestelling.
Die belangrikheid van deurlopende evaluering in die assessering van studente is ononderhandelbaar en daarom sal punte in hierdie soort evaluasies in alle modules/vakke deel uitmaak van die finale slaagpunt.
Die slaagsyfer vir skripsies is minstens 50%. Die bepalings van die Algemene Regulasies ten opsigte van slaagvereistes vir verhandelings is mutatis mutandis op skripsies van toepassing.
Vir vereistes in bovermelde verband, raadpleeg ook die studie-handleiding van 'n gegewe blok.

Akademiese uitsluiting van verdere studie

  1. Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies word ’n student slegs toegelaat om te herregistreer indien sodanige student die graad-program waarvoor hy of sy ingeskryf is, binne die minimum voorgeskrewe tydperk van studie plus twee jaar voltooi.
  2. In die geval van die MBChB-graad wat deur die Skool vir Geneeskunde aangebied word, moet ’n student wat ’n studiejaar vir die tweede keer druip, ’n skriftelike aansoek om hertoelating tot die program, aan die Hertoelatings-komitee van die Skool met die Voorsitter van Skool as voorsitter, rig.
  3. Die betrokke Komitee sal alle relevante faktore in oorweging neem.

Bevordering tot volgende studiejaar

Druipelinge/Toelating tot die tweede semester van MBChB I

  1. Gekeurde eerstejaarstudente wat in alle voorgeskrewe eerste-semestermodules op 100-vlak geslaag het, word onderworpe aan die bepalings van die Algemene Regulasies outomaties tot die tweede semester van die eerste studiejaar toegelaat.
  2. Gedurende die tweede semester kan studente wat vakke gedruip het, op ’n antisemesterbasis tot ‘n eksamen toegelaat word, op voorwaarde dat daar geen roosterbotsings sal wees nie.
  3. In die Skool vir Geneeskunde mag ’n student nie meer eerstesemester-modules as wat in totaal gelykstaande is aan agt lesings per week, op ’n antisemesterbasis in die tweede semester herhaal nie.

Druipelinge/Toelating tot MBChB II

  1. ’n Student moet al die modules voorgeskryf vir MBChB I slaag om toelating tot MBChB II te verkry.
  2. Studente wat die toelaatbare hoeveelheid modules van die eerste semester op ’n antisemesterbasis in die tweede semester volg, moet ’n tweede eksamen daarin aflê en slaag voor die aanvang van die tweede studiejaar. Indien ’n student die betrokke module(s) dan slaag, sal die feit dat dit in die eerste semester gedruip is, nie toelating tot MBChB II beïnvloed nie.
  3. Geen tweedesemesterblok of spesiale aktiwiteit vir MBChB I word op ’n antisemesterbasis aangebied nie.
  4. ALLE studente wat MBChB I druip, verbeur keuring en moet skriftelik aansoek doen om hertoelating tot die MBChB-graadprogram. Raadpleeg ook Reg. M.1 (c) in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die tweede studiejaar
Om tot die tweede studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die eerste studiejaar geslaag het.

Druipelinge/Toelating tot MBChB III

  1. Studente moet al die voorgeskrewe modules vir MBChB II slaag vir toelating tot MChB III.
  2. Studente wat een blok druip, mag die MBChB II-jaar* herhaal sonder om sy/haar keuring te verbeur.
  3. Studente wat twee blokke druip maar wat nog nie vantevore ’n blok gedruip het nie, mag die MBChB II-jaar* herhaal, sonder om sy/haar keuring te verbeur.
  4. Studente wat drie of meer blokke druip, word outomaties van die program uitgesluit.
  5. Studente wat MBChB I gedruip het en vervolgens ook MBChB II (nieteenstaande die hoeveelheid blokke wat betrokke is), word outomaties van die program uitgesluit.
  6. Studente wat van die program uitgesluit is, is weer aan keuring met die oog op hertoelating tot MBChB II onderworpe.

Raadpleeg Eksamens en slaagvereistes in verband met studente wat sekere blokke druip en die jaar gevolglik moet herhaal.

Toelating tot die derde studiejaar
Om tot die derde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die tweede studiejaar geslaag het met die uitsluiting van SA9.

Druipelinge (derde studiejaar)
’n Student wat enige gegewe blok (d.i. eksamenmodules) druip, moet die derde studiejaar herhaal. Raadpleeg ook die fakulteitsregulasies in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die vierde studiejaar
Om tot die vierde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die derde studiejaar geslaag het. Raadpleeg ook die fakulteitsregulasies in verband met studente wat enkele blokke en dus ’n studiejaar druip.

Druipelinge (vierde studiejaar)
’n Student wat enige gegewe blok (d.i. eksamenmodules) druip, moet die vierde studiejaar herhaal. Raadpleeg die paragraaf oor druipelinge in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die vyfde studiejaar
Om tot die vyfde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die vierde studiejaar geslaag het.

Tweede semester
Die Studentintern-kompleks (SIK) neem ‘n aanvang aan die begin van die tweede semester van die vyfde studiejaar.

Druipelinge

  1. Aan die einde van die eerste semester van die vyfde studiejaar lê studente ’n blokeksamen af in elk van die blokke waarin hulle nie promoveer nie. ’n Tweede eksamen vind direk ná aanvang van die SIK plaas. Suksesvolle studente verkry SIK-status en gaan voort met die SIK.
  2.  Studente wat die eksamen sowel as die tweede eksamen in een of meer van die blokke druip (en dus die semester druip) mag nie met die SIK voortgaan nie, maar neem deel aan ’n remediëringsprogram wat plaasvind tydens die eerste sewe weke van die tweede semester.
  3. ’n Tweede eksamen sal in die ontbrekende blokke toegestaan word aan die einde van die sewe-week-periode.
  4. Onsuksesvolle afhandeling van die oggendrotasies tydens die eerste semester van die vyfde studiejaar sal ’n student verhoed om die betrokke blok(ke) te promoveer en eksamen sal dan verpligtend wees.
  5. Indien die studente die tweede eksamen slaag kan hulle vanaf die tweede sewe-week-rotasieperiode by die SIK inskakel.
  6. Indien ’n student weer druip met die tweede eksamen, word die res van die studiejaar as remediëring gebruik. In Januarie van die daarop-volgende jaar kan studente voorwaardelik met die SIK begin, maar moet die SIK onderbreek vir die duur van die onsuksesvolle blok wanneer dit in die eerste semester aangebied word. Studente moet die blok dan herhaal. Suksesvolle studente gaan dan voort met die SIK.

Slaag met lof

Die graad word met lof aan ’n student toegeken wat ’n gemiddelde van minstens 75% in die Studentinternkompleks-rotasies behaal het.

Algemene inligting

Studente wat teen 28 Februarie aan alle vereistes vir die MBChB-graad sal voldoen, sal die betrokke graad tydens die Herfspromosieplegtighede gedurende April van die betrokke jaar amptelik ontvang. Studente wat tydens of ná Maart eers aan alle vereistes vir die MBChB-graad sal voldoen, sal die betrokke graad tydens die Lentepromosieplegtighede in September van die betrokke jaar ontvang.

Minimum krediete: 160

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Vind, evalueer, prosesseer, bied inligtingbronne aan en bestuur hulle vir akademiese doeleindes deur die gepaste tegnologie te gebruik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    Proficiency in academic English by interpreting and contextualising philosophical and sociological texts prescribed during the first semester; medical ethics; study skill improvement. *Presented to students in Health Sciences only.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    Proficiency in Academic English used in the basic medical sciences; analysis, synthesis and presentation of select texts prescribed in the second semester. *Presented to students in Health Sciences only.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aaneenlopende kliniekbesoekprogram koppel studente van hul eerste tot vyfde jaar aan een van 40 klinieke in Pretoria en die stad se omgewing. Elke student word vir ‘n vierjaarperiode by 'n kliniek in Tshwane, Hammanskraal of Metsweding ingedeel, van die middel van die eerste jaar tot die middel van die vyfde jaar in die geval van mediese studente, en van die middel van die eerste jaar tot die einde van die tweede jaar in die geval van tandheelkundestudente. Studente besoek hierdie klinieke gedurende die blokke en spesiale aktiwiteite soos onderhandel met elke blok- en aktiwiteitshoof. Die aktiwiteite wat in die kliniek gedoen word, is 'n praktiese toepassing van die teorie wat in die klas geleer word met dié voordeel dat dit geskied in die konteks van die pasiënt en in die gesondheidstelsel.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    (a) Molekuul tot sel (2 weke) Beginsels van fisiologie, chemie en genetika soos op die mens van toepassing. Makromolekules, lipiede, koolhidrate en proteïene. Inleidende genetika: Molekulêre evolusie, geenstruktuur en transmissie, genetiese beheer van selsiklus en genetiese defekte. Impulsgeleiding en spiersametrekking. senuweepotensiale. (b) Sel tot weefsel (4 weke) Gametogenese, embriogenese, embriopatie, weefselleer en voorkoms van die verskillende weefseltipes. Die immuunsisteem en komponente daarvan. Weefselspesifisiteit, genetiese beheer van ekspressie en faktore wat geen-ekspressie beïnvloed. (c) Weefsel tot organisme (2 weke) Anatomiese terminologie en inleiding tot sistemiese en funksionele organisasie van die liggaam. Rangskikking van weefsels in organe. Die lewenstadia van die mens.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie: Inleiding tot algemene chemie: Meting in chemie, materie en energie, atoomteorie en die periodieke tabel, chemiese verbindings en chemiese bindings, kwantitatiewe verwantskappe in chemiese reaksies, fases van materie en die kinetiese teorie, oplossings en kolloïde, sure, basisse en ioniese verbindings, chemiese ewewig. Inleiding tot organiese chemie: Chemiese binding in organiese verbindings, aard, fisiese eienskappe en benaming van eenvoudige organiese molekules, isomerie, chemiese eienskappe van alkane en sikloalkane, alkene, alkohole, aldehiede en ketone, karboksielsure en esters, amiene en amiede, koolhidrate, proteïne en lipiede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n inleiding tot wetenskapfilosofie en die geskiedenis van die wetenskap in die breë. Die volgende is voorbeelde van temas en tydperke wat bespreek kan word: Wêreldbeskouings in antieke Griekeland; Sokrates; Plato – die grondlegger van die Westerse denke; Aristoteles – die vestiging van ’n nuwe tradisie; Leonardo da Vinci; die vestiging van die moderne wetenskap; die wonderjare van die 17de eeu – die hoogbloei van die wetenskappe en filosofie; die opkoms van die meganika; ’n drastiese wending in die sieninge van die mens – die opkoms van die sielkunde; hoe die relatiwiteitsteorie ons siening van die kosmos verander het; die kwantumteorie en die implikasies daarvan vir die moderne wêreldbeskouing; die biologiese wetenskappe en die geheime van die lewe; Opkoms en rol van sielkunde. die neurowetenskappe; die plek, rol en nut van filosofiese denke in die wetenskappe.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die Studie van Geneeskunde/Tandheelkunde. Inleiding tot die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die studente se interaksie met die Fakulteit. Beskrywing van die kurrikulum en die eise wat dit aan die studente stel. Inleiding tot die beginsels omvat in die “goue drade”. Inleiding tot die kulturele verskille en taboes wat belangrik is vir die gesondheidswerker. Eerste fase in die leer van ‘n nuwe taal – Setswana en Afrikaans.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die bio-psigososiale benadering tot gesondheidsorg; pasiënte binne hul gesins- en gemeenskapsverband, die rol van sielkunde in die generalis se werk; hoe pasiënte by hul siekte aanpas en met spanning saamleef; die gesondheidsorgstelsel in landelike Suid- Afrika; gesondheidsbevordering en -voorligting; die gebruik van elektroniese databasisse.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleidende beginsels tot kliniese farmakoterapie aan die hand van toepaslike pasiëntprobleme/siekteprosesse; reseptore vir geneesmiddels; beginsels van struktuuraktiwiteitsverwantskappe; dinamiese en kinetiese beginsels om farmakologiese beginsels en kliniese terapie by mekaar uit te bring in ‘n probleemgebaseerde kurrikulum.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die module behels basiese psigologie- en sosiologiekonsepte soos toepaslik vir Geneeskunde en Tandheelkunde, in die geval van BChD-studente. 
    Basiese psigiatriese begrippe word ook aangespreek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleidende studie van die ultrastruktuur, funksie en samestelling van verteenwoordigende selle en selkomponente. Algemene beginsels van selmetabolisme, molekulêre genetika, selgroei, seldeling en seldifferensiasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aanleer van ‘n basiese, medies-georiënteerde woordeskat saamgestel uit Latynse en Griekse stamvorme verbind met voor- en agtervoegsels afkomstig uit hierdie tale. Die wyse waarop die betekenisse van mediese terme bepaal word deur die ontleding van mediese terme in hul herkenbare betekenisdraende, samestellende dele word onderrig en ingeoefen. Die funksionele gebruik van mediese terme in konteks as praktiese uitkoms van terminologiese toepassing geniet deurlopend aandag.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eenhede, vektore, kinematika, dinamika, arbeid, ewewig, klank, vloeistowwe, warmte, termodinamiese prosesse, elektriese potensiaal en kapasitansie, direkte en wisselstroom, optika, atoomfisika, X-strale, radioaktiwiteit.

    Sien meer

Keusemodules

Minimum krediete: 176

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Die aaneenlopende kliniekbesoekprogram koppel studente van hul eerste tot vyfde jaar aan een van 40 klinieke in Pretoria en die stad se omgewing. Elke student word vir ‘n vierjaarperiode by 'n kliniek in Tshwane, Hammanskraal of Metsweding ingedeel, van die middel van die eerste jaar tot die middel van die vyfde jaar in die geval van mediese studente, en van die middel van die eerste jaar tot die einde van die tweede jaar in die geval van tandheelkundestudente. Student ebesoek hierdie klinieke gedurende die blokke en spesiale aktiwiteite soos onderhandel met elke blok- en aktiwiteitshoof. Die aktiwiteite wat in die kliniek gedoen word, is 'n praktiese toepassing van die teorie wat in die klas geleer word met dié voordeel dat dit geskied in die konteks van die pasiënt en in die gesondheidstelsel.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Interdisciplinary module with a large Physiology component. 

    1. Intermediary metabolism (3 weeks) carbohydrate and lipid metabolism; protein and energy metabolism; vitamins and minerals. Integration of metabolism. 
    2. Control systems of the body (3 weeks). 
    3. Internal milieu (3 weeks) Water balance and blood physiology. Acid-base equilibrium, clinical haematology. Practical work: Human nutrition, anatomy/histology, haematology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    (a) Mense en hul omgewing (4 weke)
    Interpersoonlike vaardighede; kontekstuele en omgewingsaspekte waarbinne pasiënte ontwikkel en leef met hul besondere probleme; geneeskundige etiek rakende die gemeenskap, pasiënte en die geneeskundige professie; die rol en verpligtinge van die geneesheer in die Suid-Afrikaanse regstelsel veral rakende interpersoonlike geweld in die gemeenskap, beserings, die sterwensproses en die dood; genetiese gestremdheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap; gesondheid en gesondheidsnavorsing in die gemeenskap. Hierdie afdeling word slegs deur mediese studente geneem.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    Basic principles of pathology and immunology applicable to disease processes. The principles of tumour genetics, pathology and dissemination of tumours.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    The study of micro organisms which cause disease in the human body. This module entails the study of the interaction of micro-organisms with the human host which results in disease.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die bio-psigososiomodel van siekte; die SIAMS-raamwerk vir die konsultasie; oppervlaksanatomie; die geïntegreerde bestuur van kindersiekte (IMCI); algemene fisiese ondersoekvaardighede en bekendstelling aan kliniese departemente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie en praktiese inoefening van basiese noodsorg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Klinies-toegepaste regionale disseksie van die boonste ledemaat, nek en rug, kop, brein, toraks, abdomen, bekken en onderste ledemaat.

    Sien meer

Keusemodules

Minimum krediete: 198

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    (a) Buik en buikklagtes
    (b) Mamma
    Studie van die anatomie en funksies, asook die siektes van die verskillende organe in die buikholte, insluitend toestande van die buikwand. Verder word die kliniese toestande van die mamma gedoseer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    (a) Swangerskap
    (b) Neonatologie
    Die studie van normale fisiologie komplekse en patologiese toestande rakende swangerskap en geboorte. Daar word gebruik gemaak van verskillende leergeleenthede en -situasies, insluitend voorgeboorteklinieke, kraamsale en neonatale eenhede. Klem word geplaas op die verkryging van wetenskaplik gefundeerde inligting, asook die aanleer van belangrike praktiese en kliniese vaardighede. Die gedragswetenskappe figureer ook in die blok en die maatskaplike, gesins- en gemeenskapsverwante aspekte word aangespreek.
    (c) Groei en ontwikkeling (2 weke)
    Die studie van die unieke aspekte van die fisiese groei en neuro-ontwikkeling van ’n normale kind. Leergeleenthede word aan die student gebied om probleme rakende die groei en ontwikkeling te identifiseer, asook om kinders met abnormale groei en ontwikkeling te evalueer en te hanteer. Klem word geplaas op die voorkoming, evaluering en hantering, asook die effektiewe behandeling met besliste gevolg. Hierdie blok integreer met die vorige blok ten einde die student in staat te stel om die kontinuum van groei en neuro-ontwikkeling vanaf die voorgeboorte tot nageboorte milieu te verstaan.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Bespreking van die belangrike siektes, ten einde ’n geheelbeeld van die siekte te verkry wat anatomie, fisiologie, patologie, farmakologie en kliniese geneeskunde insluit.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Bespreking van die belangrike siektes, ten einde ’n geheelbeeld van die siekte te verkry wat anatomie, fisiologie, patologie, farmakologie en kliniese geneeskunde insluit.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hematologiese kwaadaardige neoplasie: Basiese en kliniese inligting met betrekking tot hierdie groep siektes, insluitend geneesbaarheid, met betrekking tot limfome, leukemieë, miëlo-proliferatiewe asook immunoproliferatiewe siektes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geleentheid vir die voorgraadse student om kennis, vaardighede en ondervinding in die mediese praktykomgewing op te doen.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aaneenlopende kliniekbesoekprogram koppel studente van hul eerste tot vyfde jaar aan een van 40 klinieke in Pretoria en die stad se omgewing. Elke student word vir ‘n vierjaarperiode by 'n kliniek in Tshwane, Hammanskraal of Metsweding ingedeel, van die middel van die eerste jaar tot die middel van die vyfde jaar in die geval van mediese studente, en van die middel van die eerste jaar tot die einde van die tweede jaar in die geval van tandheelkundestudente. Studente besoek hierdie klinieke gedurende die blokke en spesiale aktiwiteite soos onderhandel met elke blok- en aktiwiteitshoof. Die aktiwiteite wat in die kliniek gedoen word, is 'n praktiese toepassing van die teorie wat in die klas geleer word met dié voordeel dat dit geskied in die konteks van die pasiënt en in die gesondheidstelsel.

    Sien meer

Minimum krediete: 219

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Module 1: Genitale toestande
    Module 2: Urienwegsiektes
    'n Studie van die siektes van die urienweg en die geslagstelsel in mans en in vroue. Teoretiese en praktiese onderrig word gebruik om basiese wetenskap en kliniese geneeskunde te integreer. Belangrike kliniese vaardighede moet bemeester word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Bespreking van die belangrike siektetoestande van die sentrale, perifere en outonome senuweestelsel, ten einde 'n geheelbeeld van die spesifieke siektes te verkry, wat anatomie, fisiologie, patologie, farmakologie, kliniese neurologie, kliniese neurochirurgie en neuropediatrie insluit.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    ‘n Leergeleentheid vir die voorgraadse student om:
    (i)    die algemene praktisyn of huisarts in praktyk te beleef,
    (ii)   die ongeselekteerde pasiënt te ontmoet en
    (iii)  probleme waarmee in primêre sorg te kampe gekry word, eerstehands waar te neem. Die probleme omvat biomediese, psigososiale en bestuursuitdagings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die module is ontwerp om studente te help om kennis, vaardighede en houdings aan te leer wat hulle in staat sal stel om die besondere behoeftes en gevoeligheid van kinders met betrekking tot ontwikkeling, voeding, omgewing en aanpassing te verstaan en daarop te reageer; algemene en belangrike afwykings van ontwikkeling, voeding, omgewing en aanpassing te kan identifiseer deur middel van geskiedenis en ondersoek en dit effektief te kan hanteer; en algemene en belangrike gesondheidsprobleme van die baba- en kinderleeftyd te kan identifiseer deur middel van geskiedenis en ondersoek en dit effektief te kan hanteer. Tydens die oggendperiodes word studente direk blootgestel aan pediatriese pasiënte en hul probleme deur middel van kleingroepaktiwiteite by 'n reeks verskillende leergeleenthede. Die namiddagperiodes word gebruik vir verteenwoordigende gevallestudies betreffende ’n reeks algemene of belangrike temas, wat geïllustreer word deur multi-dissiplinêre simposia, lesings, probleemoplossingsoefeninge en selfstudie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    1. Forensic pathology, thanatology taumatology
    2. Medicine and law, medical law

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Studie van die bou en funksies, asook die siektes van die muskuloskeletale bewegingsapparaat in volwassenes en kinders, met die klem op die diagnose en behandeling van die belangrikste toestande, asook die aanleer van belangrike praktiese en kliniese vaardighede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geleentheid vir die student om kennis te maak met die mees algemene endokrinologiese probleme in die praktyk, insluitend diabetes en obesiteit. Die klem val op herkenning van hierdie probleme en hul praktiese hantering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die blok bied aan die student die geleentheid om deur middel van lesings, seminare, selfstudie en praktiese sessies in die kliniek, teater, saal, asook die vaardigheidslaboratorium, kennis en vaardighede te bekom ten opsigte van die voorkoming, diagnosering en behandeling van siektetoestande in die kop- en nekgebied. Klem word gelê op ‘n probleemgerigte en interdissiplinêre benadering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Bespreking van die fisiologie en psigologie van veroudering en 'n oorsig van siektes wat algemeen by bejaardes voorkom, met 'n biomediese psigososiale benadering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese manifestasies en behandeling.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aaneenlopende kliniekbesoekprogram koppel studente van hul eerste tot vyfde jaar aan een van 40 klinieke in Pretoria en die stad se omgewing. Elke student word vir ‘n vierjaarperiode by 'n kliniek in Tshwane, Hammanskraal of Metsweding ingedeel, van die middel van die eerste jaar tot die middel van die vyfde jaar in die geval van mediese studente, en van die middel van die eerste jaar tot die einde van die tweede jaar in die geval van tandheelkundestudente. Studente besoek hierdie klinieke gedurende die blokke en spesiale aktiwiteite soos onderhandel met elke blok- en aktiwiteitshoof. Die aktiwiteite wat in die kliniek gedoen word, is 'n praktiese toepassing van die teorie wat in die klas geleer word met dié voordeel dat dit geskied in die konteks van die pasiënt en in die gesondheidstelsel.

    Sien meer

Minimum krediete: 114

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die module is ontwerp om studente te help om kennis, vaardighede en houdings aan te leer wat hulle in staat sal stel om sekere psigiatriese toestande te diagnoseer en hanteer. Voorkomende en bevorderende aspekte van hantering word ook beklemtoon. Hierdie psigiatriese toestande sluit die volgende in: gemoedsversteurings, angsversteurings, alkohol- en substansverwante versteurings, seksuele versteurings, skisofrenie en ander psigotiese versteurings, geestesversteurings vanweë algemene mediese toestande, persoonlikheidsversteurings, eetversteurings en slaapversteurings. Hierdie onderwerpe sal gedek word soos van toepassing op kinders, jongmense en volwassenes. Addisionele onderwerpe sluit in: wetlike aspekte, aggressie, kindermishandeling, kinderontwikkeling, geestesvertraging en interpersoonlike vaardighede. Tydens die oggendperiodes word studente direk blootgestel aan psigiatriese pasiënte en hul probleme deur middel van kleingroepaktiwiteite. Die namiddagperiodes word gebruik vir die oplos van probleemgeoriënteerde gevallestudies en begeleide eksplorasie van bogemelde temas. Die module is student-gesentreerd en selfstudie word beklemtoon.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die doel van hierdie module is om die konsepte van Huisartskunde en Gemeenskapsgesondheid te integreer vir die lewering van gesondheidsorg in Suid- Afrika. Die module-inhoud dek medies-geregtelike aspekte in die praktyk, etiese kwessies asook die benadering tot algemene probleme in die praktyk, met die klem op die toepassing van die bio-psigososiale model van sorg in die Suid-Afrikaanse Distriksgesondheidstelsel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die blok bestaan uit twee modules; een prakties en die ander teoreties. Die doel van trauma-prakties is om studente bekend te stel aan die kliniese herkenning van trauma-noodgevalle, hoe om nood-ressusitasie te begin, en die aanwending van metodes met die oog op lewensredding en -ondersteuning en noodbehandeling van die trauma slagoffer. Studente word met behulp van rolspel deur akteurs/modelle, die Advanced trauma life support (ATLS) (ABCDE)-benadering tot trauma geleer. Trauma-teorie is ‘n inleiding tot die volle spektrum van trauma as ‘n siekte. Die epidemiologie van trauma, meganismes waardeur wonde toegedien word, insluitend ballistiek; die biologiese reaksie op trauma, genesing van wonde en trauma-komplikasies, word onderrig. Noodbehandeling, resussitasie en intensiewesorgbehandeling van die trauma-slagoffer word gedek. ‘n Sistematiese kursus word op ‘n tema-basis aangebied om die prioritisering van die hooforgaanstelsels volgens die ATLS-tipe benadering tot beserings wat die lewe of die ledemate bedreig, of tot skending kan lei, te dek. Toraks-, kardiovaskulêre, abdominale en kop- en nektrauma word aldus as potensiële lewensbedreigende beserings hanteer, ortopediese trauma as ledemaatbedreigend, en velbeserings hoofsaaklik as skendende beserings. Termale, elektriese en chemise brandwonde asook vrieswonde word gedek. Inleiding tot fisiese en sielkundige rehabilitasie en voeding van die trauma-slagoffer word ook behandel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kernfarmakoterapie-aspekte en toepaslike kliniese aspekte van die mees algemene en belangrike siektes en toestande, beginsels van toksikologie en medies-geregtelike aspekte van substansmisbruik, hofverrigtinge en iatrogene sterftes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Basiese inleiding tot die onderliggende grondbeginsels van die teorie en praktyk van anestesiologie toepaslik vir die generalis. Leergeleenthede behels praktiese inwoning (voor Blok 18), formele interaktiewe lesings, werkswinkels en gevallestudies (tydens Blok 18).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geregtelike geneeskunde-oggendrotasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Interne geneeskunde (7 weke) in die Studenteinternkompleks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Psigiatrie (7 weke) in die Studenteinternkompleks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Neurologie in die Studenteinternekompleks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aaneenlopende kliniekbesoekprogram koppel studente van hul eerste tot vyfde jaar aan een van 40 klinieke in Pretoria en die stad se omgewing. Elke student word vir ‘n vierjaarperiode by 'n kliniek in Tshwane, Hammanskraal of Metsweding ingedeel, van die middel van die eerste jaar tot die middel van die vyfde jaar in die geval van mediese studente, en van die middel van die eerste jaar tot die einde van die tweede jaar in die geval van tandheelkundestudente. Studente besoek hierdie klinieke gedurende die blokke en spesiale aktiwiteite soos onderhandel met elke blok- en aktiwiteitshoof. Die aktiwiteite wat in die kliniek gedoen word, is 'n praktiese toepassing van die teorie wat in die klas geleer word met dié voordeel dat dit geskied in die konteks van die pasiënt en in die gesondheidstelsel.

    Sien meer

Minimum krediete: 371

Kernmodules


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences