Jaarboeke

Program: BCom Finansiële Wetenskappe

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
07130206 Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Credits Duration
Minimum duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 411
Contact:
Dr E Louw
[email protected]
+27 (0)124204423

Programinligting

Die doel van hierdie kwalifikasie is om studente met omvattende kennis en spesifieke vaardighede op ’n aantal terreine in die Finansiële Wetenskappe toe te rus. Die vaardigheide kan in die private sowel as die openbare sektor aangewend word. Leerders ontvang loopbaangerigte opleiding wat hulle voorberei om die toelatingseksamens van verskeie professionele kwalifikasies in die Finansiële Wetenskappe te skryf.

 

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.

  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

32

Addisionele vereistes

  1. Algemene Regulasies G.1 tot G.15 (met uitsondering van Regulasie G.11.2(c)) is van toepassing op ’n baccalaureusgraad.
  2. Tensy die Dekaan anders besluit, mag ’n student nie meer as die voorgeskrewe getal modules per semester volg nie.
  3. ’n Ander module as dié wat onder keusemodules vermeld is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan geneem word.
  4. ’n Student wat reeds in besit van ’n baccalaureusgraad is, mag nie modules wat vir dié graad geslaag is, weer vir ’n ander rigting of graad in hierdie Fakulteit aanbied nie. (Raadpleeg Algemene Regulasies G.8 en G.9.)
  5. ’n Module wat op 300-vlak geslaag is, sal slegs as kwalifiserende module vir die graad erken word indien die ooreenstemmende voorgeskrewe module(s) op 200-vlak ook reeds geslaag is, tensy die Dekaan anders besluit, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as kwalifiserende modules geld: Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320), en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369). Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
  6. ’n Module wat reeds geslaag is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan herhaal word.
  7. ’n Module wat reeds geslaag is, mag nie vir meer as een graad of spesialiseringsrigting in aanmerking geneem word nie.
  8. Die onus rus op studente om voor registrasie seker te maak dat hul modules nie op die klas-, toets- en eksamenrooster bots nie.
  9. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ondersteun uitkoms-gebaseerde onderwys en plaas ’n hoë premie op die ontwikkeling van spesifieke akademiese vaardighede. Klasbywoning in al die modules en vir die volle duur van die program is daarom verpligtend vir alle studente.
  10. Die Dekaan het ’n beslissingsbevoegdheid ten opsigte van aangeleenthede waar-voor nie in die Algemene of Fakulteitsregulasies voorsiening gemaak word nie.

Ander programspesifieke inligting

Let wel

  • Raadpleeg die individuele modules vir die voorvereistes.
  • Op 300-vlak moet enige drie van die volgende as hoofvakke geneem word: Finansiële rekeningkunde (FRK), Finansiële bestuur (FBS), Interne ouditkunde (IOK), of Belasting (BEL). 
  • Finansiële bestuur 210 en 220 word vereis om Finansiële bestuur as ‘n hoofvak in die derde jaar te neem.  Finansiële bestuur as ‘n hoofvak is ‘n voorvereiste om aansoek te doen vir toelating tot die BComHons (Finansiële Bestuurswetenskappe)-graadprogram.

Spesialiseringsmodules: BEL 300; FBS 310, 320; FRK 311, 321; IOK 311, 321.

 

Hoofvak
Ten einde as "hoofvak" te kwalifiseer moet minstens die ekwivalent van vier 14- week-modules van ’n vak, insluitende twee op 300-vlak, geslaag word, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as "hoofvakke" geld:

  • Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320) en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369);
  • en dat slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300 vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).

Bevordering tot volgende studiejaar

Volgens Algemene Regulasie G.3 word spesifieke bevorderingsvoorwaardes gestel deur fakulteitsrade waaraan studente van die fakulteit moet voldoen.

  1. 'n Student moet in ten minste 4 kernsemestermodules of 2 kern-jaarmodules slaag om tot die volgende akademiese jaar toegelaat te word.
  2. 'n Student wat minder as 4 kernsemestermodules of 2 kernjaarmodules geslaag het, word nie tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hertoegelaat nie. Sodanige student wie se reg op hertoelating verval het, mag skriftelik by die Fakulteit se Toelatingskomitee aansoek doen om voorwaardelike hertoelating tot die Fakulteit – met die voorbehoud dat die Toelatingskomitee verdere voorwaardes ten opsigte van studente se vordering mag stel. 'n Student se aansoek om voorwaardelike hertoelating mag geweier word.
  3. 'n Student wat voorwaardelik tot die Fakulteit hertoegelaat word, se studies sal na die eerste semestereksamen nagegaan word om vas te stel of hy/sy aan die gestelde voorwaardes voldoen het. Indien daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie, sal sodanige student se studies opgeskort word.
  4. 'n Student wie se studies weens swak akademiese prestasie opgeskort word, het die reg om teen die besluit van die Fakulteit se Toelatingskomitee te appelleer.
  5. 'n Student kan bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien die vasgestelde klasgeld soos voorgeskryf, nie betaal is nie.
  6. 'n Student kan toelating tot die eksamen of bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien hy/sy nie aan die bywonings-vereistes voldoen het nie. Klasbywoning in alle modules en vir die volle duur van die program is verpligtend vir alle studente.

Slaag met lof

  1. 'n Graad kan met lof toegeken word mits die kandidaat aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Die graad moet binne drie jaar voltooi word;
  2. 'n Geweegde gemiddelde (GPA) van 75% moet behaal word;
  3. Modules wat reeds geslaag is en herhaal word, se nuwe punt sal nie in berekening gebring word nie. Die oorspronklike slaagpunt van die module sal gebruik word vir die berekening van die GPA.
  1. Oorskakelaars van ander fakulteite en ander universiteite (insluitend krediete wat oorgedra word en erken word vanaf die graad waarvoor oorspronklik geregistreer was), sal as buitengewone gevalle deur die dekaan oorweeg word.
  2. Die GPA sal nie gerond word tot die naaste volgende heelgetal nie.
  3. Buitengewone gevalle sal deur die dekaan oorweeg word.

Algemene inligting

Minimumvereistes vir baccalaureusgrade; semester- en jaarmodules; nuwe regulasies

  1. Studente wat voor 2015 met hul studies begin het, moet die program voltooi ooreenkomstig die bepalinge van die leergang van die jaar waarin hulle studies ’n aanvang geneem het, of ooreenkomstig die leergang van die jaar waarin hulle na hul huidige spesialiteitsrigting oorgeskakel het. Studente wat dit verkies, mag egter aansoek doen om oor te skakel na die jongste leergang, maar dan moet hulle voldoen aan al die vereistes daarvan. Hulle mag ook nie weer terugskakel na die regulasies van ’n vorige jaar nie.
  2. Studente wat in 2015 vir die eerste keer vir ’n graadprogram registreer, moet die modules volg wat in die betrokke spesialiseringsrigting aangedui word.

Let wel: Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, mag as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
Die onus rus dus ten volle op studente om vóór registrasie seker te maak dat hulle leergange aan al die vereistes van die toepaslike regulasies voldoen.

Minimum krediete: 110

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en funksie van rekeningkunde; die ontwikkeling van rekeningkunde; finansiële toestand; finansiële prestasie; die boekstawingsproses; verwerking van rekeningkundige data; elementêre inkomstestaat en balansstaat; dokumentevloei; rekeningkundige stelsels; inleiding tot interne beheer en interne beheermaatreëls; bankrekonsiliasies; kontrolerekeninge; aansuiwerings; opstel van finale state van 'n eenmansaak; die rekeningkundige raamwerk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eiendom, aanleg en toerusting; ontasbare bates; voorraad; laste; aanbieding van finansiële state; ondernemings sonder winsoogmerk; vennootskappe; maatskappye; beslote korporasies; kontantvloeistate; ontleding en vertolking van finansiële state.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inligtingstelsels; inligtingstelsels in ondernemings; apparatuur: invoer; verwerking; uitvoer; programmatuur: stelsels- en toepassingsprogrammatuur; organisering van data en inligting; telekommunikasie en netwerke; die internet en intranet. Transaksieverwerkingstelsels; bestuursinligtingstelsels; besluitnemingsteunstelsels; inligtingstelsels in besigheid en samelewing; stelselontleding; stelselontwerp; implementering; onderhoud en hersiening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Meervariante statistiek:
    Variansieanalise, kategoriese data-analise, verdelingsvrye metodes, krommepassing, regressie en korrelasie, die ontleding van tydreekse en indekse.  Statistiese en ekonomiese toepassings van kwantitatiewe tegnieke:
    Stelsels van lineêre vergelykings; opstelling, matrikse, oplossing en toepassing. Optimering; lineêre funksies (twee en meer onafhanklike veranderlikes), nie-lineêre funksies (een en twee onafhanklike veranderlikes).  Marginale en totale funksies. Stogastiese en deterministiese veranderlikes in statistiese en ekonomiese konteks: produsentesurplus, verbruikersurplus, distribusiefunksies, waarskynlikheidsverdelings en digtheidsfunksies. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Hierdie module word ook as anti-semester tweetalige module aangebied.

    Sien meer

Minimum krediete: 181

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inkomstebelasting ten opsigte van maatskappye en individue
    In hierdie module word 'n inleiding tot die beredderingsproses van bestorwe en insolvente boedels verskaf. Spesifieke klem word geplaas op die opstel van die eksekuteursrekening vir bestorwe boedels asook die trusteesrekening vir insolvente boedels. Die berekening van boedelbelasting word in detail behandel. Inleiding tot belasting, beswaar en appèl, bruto inkomste, bron van inkomste, bruto inkomste (spesifieke insluitings), vrygestelde inkomste, algemene aftrekkingsdefinisie, vasgestelde verliese, spesifieke aftrekkings vir maatskappye, spesifieke aftrekkings vir individue, kapitaaltoelaes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Basiese beginsels van die kontraktereg; koopreg; kredietooreenkomste, huurreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Arbeidsreg; aspekte van sekerheidstelling; insolvensiereg; ondernemingsreg; maatskappyereg; reg insake beslote korporasies en vennootskapsreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Raamwerk en doel van finansiële bestuur; die finansiële jaarstate met die klem op inhoud; die ontleding en vertolking van finansiële state vir besluitneming; die tydwaarde van geld; risiko en opbrengsverwantskappe; die waarderingasie van die onderneming; korttermynbeplanning; die bestuur van bedryfskapitaal.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Rol en omgewing van finansiële bestuur. Ontleding van finansiële state; kontantvloei en finansiële beplanning. Tydwaarde van geld; risiko en opbrengs; kapitaalinvesteringsbesluite; bedryfskapitaalbestuur.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente Doel en funksie van bestuursrekeningkunde; grondliggende kostebegrippe; die bepaling van produkkoste met inbegrip van grondstof-, arbeids- en bokoste en die toedeling daarvan volgens die tradisionele sowel as aktiwiteitsgebaseerde kostetegnieke, voorraadbestuur, die akkumulering van kostes volgens ’n taak- en proseskostestelsel, die hantering van gesamentlike en neweprodukte en die bepaling van kostes volgens ’n direkte sowel as ’n absorpsiekostebenadering; besluitneming met verwysing na kostevolume-wins-verhoudings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot bestuursrekeningkunde; kosteterme, konsepte en klassifikasie; taakkoste; proseskoste; kostegedrag; veranderlike versus absorpsiekoste, koste-volume-wins-verwantskappe; begrotings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van die Maatskappywet, die Raamwerk en Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: aanbieding van finansiële state; inkomste; voorsienings, voorwaardelike aanspreeklikhede en voorwaardelike bates; gebeure na die balansstaatdatum; voorraad; inkomstebelasting; hure; eiendom, aanleg en toerusting; waardedaling van bates; ontasbare bates; beleggingseiendom; veranderinge in rekeningkundige ramings en foute; inleiding tot finansiële instrumente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: werknemervoordele; die uitwerking van veranderinge in wisselkoerse; rekeningkundige beleide; beleidverdienste per aandeel; kontantvloeistate; belange in gesamentlike ondernemings. Takrekeningkunde. Inleiding tot konsolidasies, insluitend basiese konsolidasietegnieke vir beide volfiliale en filiale wat gedeeltelik besit word. Inleiding tot owerheidsrekeningkunde.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Toepassing van spreiblaaie en navraagtale in 'n rekenkundige omgewing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Rekenaarverwerking van rekeningkundige inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die ouditomgewing. Aard, doel, geskiedenis en ontwikkeling van interne ouditering. Die interne ouditprofessie en die rol van die Instituut vir Interne Ouditeure (IIA). Etiese gedragskode en standaarde van toepassing op interne ouditeure (IPPF). ‘n Organisasie se interne beheeromgewing en interne beheerstelsels. Inleiding tot Inligtingstegnologie (IT). Algemene kontroles en toepassingskontroles raamwerke. Die interne ouditproses en hulpmiddels en tegnieke wat gebruik word tydens die oudit. Inleiding tot steekproefneming.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot korporatiewe bestuur. Verhouding tussen interne ouditering en ander verwante dissiplines en individue. Agtergrond oor eksterne ouditering. Interne en eksterne ouditbenaderings. Identifisering van swakhede, risiko’s en interne beheermaatreëls in die inkomste en aankope stelsels. Die oudit van interne beheerstelsels en die oudit van finansiële state.

    Sien meer

Minimum krediete: 120

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die doel van die module is om die leerder in staat te stel om die belasting op toegevoegdewaarde-aanspreeklikheid te kan bereken en die nodige joernaalinskrywings te kan weergee; die normale belastingaanspreeklikheid (ingesluit die bepaling van belasbare kapitaalwinste en aangeslane kapitaalverliese) van individue, maatskappye, boedels en trusts te kan bereken en belastingbeginsels te kan bespreek; en om voorlopige en werknemersbelasting te kan bereken en beswaar teen ‘n aanslag te kan aanteken.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Relevante koste; standaardkosteberekening met verwysing na toepassing en evaluasie; voorbereiding en evaluasie van planne, begrotings en voorspellings; tegnieke om hulpbronne aan te wend en te bestuur; evaluasie van koste- en rekeningkundige stelsels; tegnieke wat gebruik word in bestuursbesluitneming; nuwe ontwikkelings in besigheid en bestuurs-rekeningkunde; gevallestudie-perspektief.  Kostebestuur; strategiese bestuursrekeningkunde; kostevooruitskatting en koste-gedrag; kwantitatiewe modelle vir voorraadbeheer; toepassing van linieêre programmering in bestuursrekeningkunde; verskeie bestuursrekeningkundige tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Die koste van kapitaal; die bepaling van die kapitaalbehoeftes en die finansiering van die onderneming met die oog op ‘n optimale kapitaalstruktuur; die investeringsbesluit en ‘n studie van die seleksiemaatstawwe vir die beoordeling van kapitaalinvesteringsprojekte; die invloed van inflasie en risiko op investeringsbesluite; die evaluasie van huurfinansieringsbesluite; die dividendbesluit; internasionale finansiële bestuur.  Waardasiebeginsels en -praktyke: ‘n inleiding tot sekuriteitewaardasie; hibriede en afgeleide instrumente; samesmeltings en oornames.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: inkomstebelasting; eiendom, aanleg en toerusting; waardedaling; niebedryfsbates gehou vir verkoop; ontasbare bates; beleggingseiendom; leenkoste; hure; rekeningkundige beleid; veranderinge in rekeningkundige ramings en foute; segmentverslagdoening; sekere aspekte van finansiële instrumente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: die uitwerking van veranderinge in wisselkoerse; verdienste per aandeel; verwante party openbaarmaking; geassosieerdes. Gevorderde konsolidasie-aangeleenthede, insluitend intragroeptransaksies; dividende; voorkeuraandele; herwaardasies; horisontale, vertikale en gemengde groepe; insolvente filiale; verandering in belang; gekonsolideerde kontantvloeistaat.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene en toepassings IT kontroles. Die identifisering van swakhede, risiko's en interne beheermaatreëls in die voorraad, en bank en kontant stelsels. Statistiese steekproefneming. Die oudit van interne beheerstelsels en die oudit van finansiële state. Interne oudit- en eksterne ouditverslae. Rekenaarouditering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die identifisering van swakhede, risiko's en interne beheermaatreëls in die betaalstaatstelsel, en gesondheids- en veiligheidsomgewing. Die oudit van interne beheerstelsels en die oudit van finansiële state. Rekenaargesteunde oudittegnieke (CAATS). Inleiding tot die uitvoer van operasionele/prestasie oudits. Relevante wetgewing en ander riglyne wat die interne ouditprofessie beïnvloed. Inleiding tot die publieke sektor interne ouditomgewing.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences