Jaarboeke

Program: BTRP Stads- en Streekbeplanning

Code Faculty Duration Credits Download
12132026 Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie Duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 480

Programinligting

Stads- en streekbeplanning het hoofsaaklik te make met die beplanning, ontwerp, imple-mentering en bestuur van publieke intervensies in die ontwikkeling en gebruik van grond vanaf erf- tot supranasionale vlak ten einde keuses te verbreed, gelykheid te bevorder en volhoubare ontwikkeling te verseker. Die dryfveer agter die professie is die generering van lewensvatbare alternatiewe tot huidige nedersettingstipes. Op die huidige tydstip in Suid-Afrika se geskiedenis is stads- en streekbeplanning ’n sleutelprofessie in die gelykmaking van ruimtelike en ander wanbalanse in beide stedelike en landelike gebiede, sowel as die verbetering van oneffektiewe en onderpresterende leefomgewings.

Die ideale stads- en streekbeplanner is ’n kreatiewe persoon wat in staat is om met innoverende oplossings vir komplekse probleme vorendag te kom, ’n bemiddelaar wat uiteenlopende standpunte met mekaar kan versoen, ’n stategiese denker en ’n goeie bestuurder. Gegewe die enorme agterstande in die veld van behuising en ander sosiale dienste en die ellende waarin vele Suid-Afrikaners hulle tans bevind, moet beplanners ook ’n sterk ontwikkelde sin van sosiale en omgewingsgeregtigheid hê en hulle verbind tot menslike ontwikkeling. Terwyl die meerderheid stads- en streekbeplanners as privaat konsultante vir die openbare en die private sektor optree, word hulle ook in diens geneem deur al drie sfere van regering, navorsingsinstansies soos die WNNR en die RGN, nieregerings-organisasies, gemeenskapsgebaseerde organisasies, groot finansiële instellings en eiendomsontwikkelingsgroepe.

 

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  • Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  • ‘n Geldige kwalifikasie met toelating vir graadstudie word vereis.
  • Minimum vak- en prestasievereistes, soos hieronder uiteengesit, word vereis. Op eerstejaarsvlak het studente ‘n keuse tussen Afrikaans en Engels as taalmedium. In verskeie gevalle word lesings slegs in Engels aangebied, byvoorbeeld vir keusemodules waar die dosent nie Afrikaans magtig is nie, of indien dit nie ekonomies of prakties regverdigbaar is nie
 
Minimum vereistes 
Prestasievlak
Afrikaans of Engels Wiskunde TPT
NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level
5 3 C C 4 3 D D

27

 
 

 

 

 

Bevordering tot volgende studiejaar

  1. Bevordering na die tweede semester van die eerste studiejaar en na die tweede studiejaar
  1. ‘n Nuweling-eerstejaarstudent wat aan die einde van die eerste semester al die voorgeskrewe modules van die program gedruip het, word aan die begin van die tweede semester nie tot die Skool vir die Bou-omgewing hertoegelaat nie.
  2. ‘n Student word na die tweede studiejaar bevorder mits die student (1) ten minste 100 krediete verwerf het; en (2) nie meer as een eerstejaar Stads- en Streekbeplanningmodule per semester herhaal nie; en (3) `n finale punt van ten minste 40 – 49% behaal het in die onderskeie stads- en streekbeplanning module(s) wat herhaal word.
  3. ‘n Student wat ingevolge (b) nie na die tweede studiejaar bevorder is nie mag nie vir tweedejaar Stads- en Streekbeplanningmodules registreer nie.
  4. Studente wat na die November-eksamen nie minstens 100 krediete van die eerste studiejaar geslaag het nie, moet weer aansoek doen om hertoelating indien hulle van voorneme is om hul studies voort te sit. Skriftelike aansoek moet nie later nie as 12 Januarie by die studenteadministrasie van die Skool vir die Bou-omgewing ingedien word. Laat aansoeke sal slegs in buitengewone gevalle en met goedkeuring van die Dekaan aanvaar word. Indien eerstejaar-studente hertoegelaat word, sal dit volgens die voorwaardes wees soos deur die toelatingskomitee bepaal.
  5. Studente wat nie al die voorgeskrewe eerstejaarmodules geslaag het nie, sowel as studente wat ingevolge (d) hertoelating verkry het, moet vir die ontbrekende eerstejaarmodules registreer.
  1. Bevordering na die derde studiejaar
  1. ’n Student word na die derde studiejaar bevorder mits die student (1) ten minste 200 krediete verwerf het; (2) nie enige eerstejaar of tweedejaar Stads- en streekbeplanning-module herhaal nie.
  2. ‘n Student wat ingevolge (a) nie na die derde studiejaar bevorder is nie mag nie vir derdejaar Stads- en Streekbeplanningmodules registreer nie.
  1. Bevordering na die vierde studiejaar
  1. ’n Student word na die vierde studiejaar bevorder mits die student (1) ten minste 300 krediete verwerf het; (2) nie enige derdejaar Stads- en streekbeplanning-module herhaal nie.
  2. ‘n Student wat ingevolge (a) nie na die vierde studiejaar bevorder is nie mag nie vir vierdejaar Stads- en Streekbeplanningmodules registreer nie.
  3. ‘n Student wat aan al die vereistes vir die graad voldoen het met uitsondering van hoogstens een jaarmodule of twee semester-modules waarin hy of sy ’n finale punt van minstens 40% behaal het, kan toegelaat word om aan die begin van die daaropvolgende semester ’n spesiale eksamen daarin af te lê.
  4. Die graad word toegeken indien alle voorgeskrewe modules geslaag is.

Slaag met lof

Die graad word met lof toegeken aan 'n student wat met eerste registrasie alle modules vir die finale jaar slaag met 'n geweegde gemiddelde van 75%. Die graad moet binne die minimum voorgeskrewe tydperk voltooi word. Uitsonderlike gevalle sal deur die Dekaan oorweeg word.

Minimum krediete: 162

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    'n Dieptestudie van stedebou en stads- en streekbeplanning in moderne en postmoderne tye met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse situasie. Die invloed op nedersettingsontwerp en -beplanning binne die sosiale, politieke en ekonomiese kontekste van die Industriële en Post-industriële eras. Visies van ideale stede, nedersettingspatrone, die hantering van openbare ruimte, ontwikkeling van die rand van die stad, funksionele sones en segregasie word behandel. Aandag word geskenk aan die funksie, rol, aard en praktyk van beplanning en wie daarby baat, asook die rol van beplanners.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Definisies van beplanning; rasionaal vir beplanning; fokusareas van beplanning; beplanningsprosesse; beplanners se rolle en werksplekke; die institusionele raamwerk vir beplanning; beplanningswetgewing; waardes en etiek vir beplanners; die toekoms van beplanning.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die individu en die samelewing
    'n Inleiding tot sosiologie en die klassike sosiologiese paradigma en die beginsels van die sosiologiese navorsingsmetodes.

    Deel 2: Die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse orde

    Hierdie afdeling ondersoek sleutelfaktore wat tot die totstandkoming en vorming van die kontemporêre Suid-Afrikaanse sosiale orde aanleiding gegee het en skenk oorweging aan die sosiologiese implikasies hiervan. Studente word bekendgestel aan die politieke ekonomie van Suid-Afrika, met klem op die aard van die Suid-Afrikaanse industrialiseringsproses, proletariaatvorming, en die instelling van die trekarbeidstelsel. Hierbenewens word die rassestaat, die fondamente van hierdie staat se sosiale projek, sowel as die ruimtelike vorm van Suid-Afrika se 20ste-eeuse rassemoderniteit onder die loep geneem. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die doelwitte en beginsels van nedersettingsontwerp. Karaktereienskappe en maatstawwe van ‘n goeie leefomgewing; ontwerpelemente vir ‘n goeie leefomgewing; nedersettingsontwerp binne stedelike en landelike konteks. Aspekte wat aangespreek word, sluit in nedersettingstruktuur (oopruimte- en bewegingsisteme); betekenis, simboliek en leesbaarheid; toeganklikheid, diversiteit en geleentheid; volhoubaarheid; veiligheid; regverdigheid en gelykheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Dieptestudie van stedebou en stads- en streekbeplanning in premoderne tye. Die invloed van nedersettingsontwerp en -beplanning binne die sosiale, politieke, en ekonomiese konteks van die Prehistoriese; Klassieke (Romeinse en Griekse); Feodale en Merkantiele eras. Aspekte soos visies van ideale stede, nedersettingspatrone, die hantering van openbare ruimte, die ontwikkeling van die rand van ‘n nedersetting, funksionele sones en segregasie word gedek. Aandag word geskenk aan die funksie, rol, karakter, praktyk en voordele van beplanning en die rol van beplanners.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van instellings
    Die sosiale dinamiek van samelewingsinstellings soos die gesin, die staat, die ekonomie, godsdiens, onderwys, en burgerlike samelewing met ’n spesifieke fokus op die Suider-Afrikaanse problematiek word in hierdie afdeling behandel.

    Deel 2: Sosiale stratifisering: Ras, klas en gender
    Die aard en dinamiek van sosiale stratifisering en ongelykheid sal ondersoek word. Ras, gender en klas is die fokuspunte van die afdeling. Die Suid-Afrikaanse ervaring word beklemtoon.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teoretiese komponent: Suid-Afrikaanse stede in `n globaal-ekonomiese en nasionale konteks; `n raamwerk vir nedersettingsanalise; oorsig en bespreking van belangrike demografiese, sosiale, ekonomiese, omgewings- en plaaslike regeringseienskappe van geselekteerde Suid-Afrikaanse stede. Praktiese komponent: basiese skryf- en aanbiedingsvaardighede vir beplanners; veldmetodes; deelnemende metodes; opnames; sekondêre bronne; nedersettingsanalise in `n politieke konteks; analise van `n voorstad in die Pretoria-omgewing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Analise en evaluering van terreine vir beplanningsdoeleindes. Behels die analise van konteks en natuurlike (bv. klimaat, geologie), mensgemaakte (bv. sonering, potensiële grondwaarde, grondgebruik en aktiwiteite) en sensoriese elemente (bv. genius loci) van ‘n terrein ten einde die geskikte grondgebruike asook die aard van toekomstige ontwikkeling te bepaal. Vaardighede en tegnieke om die analise grafies te kommunikeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Meervariante statistiek:
    Variansieanalise, kategoriese data-analise, verdelingsvrye metodes, krommepassing, regressie en korrelasie, die ontleding van tydreekse en indekse.  Statistiese en ekonomiese toepassings van kwantitatiewe tegnieke:
    Stelsels van lineêre vergelykings; opstelling, matrikse, oplossing en toepassing. Optimering; lineêre funksies (twee en meer onafhanklike veranderlikes), nie-lineêre funksies (een en twee onafhanklike veranderlikes).  Marginale en totale funksies. Stogastiese en deterministiese veranderlikes in statistiese en ekonomiese konteks: produsentesurplus, verbruikersurplus, distribusiefunksies, waarskynlikheidsverdelings en digtheidsfunksies. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Hierdie module word ook as anti-semester tweetalige module aangebied.

    Sien meer

Minimum krediete: 132

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ontwikkelingsproblematiek, perspektiewe op en konsepte van ontwikkeling. Benaderings tot ontwikkelingsbeplanning en ontwikkelingstudies. Toepassing van ontwikkelingsvoorstelle vanaf plaaslike tot nasionale vlakke. Internasionale en plaaslike perspektiewe en gevallestudies. Kritiese evaluering van ontwikkelingsinisiatiewe, asook van aspekte soos kultuur, geslag, diversiteit en volhoubaarheid. Rolspelers in die ontwikkelingsproses.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Kort geskiedenis van grondgebruikbestuur in Suid-Afrika; rasionaal agter grondgebruikbestuur; beginsels van goeie grondgebruikbestuur binne die konteks van post-apartheid, globale omgewingsverandering, nuwe geografiese ekonomie en ontwikkelingsekonomie; kritiek teen grondgebruikbestuur; etiek in grondgebruikbestuur; die eienskappe van 'n geskikte grondgebruikbestuurstelsel wat transformasie, volhoubaarheid, elastisiteit, gelykheid, inklusiwiteit en integrasie in Suid-Afrika bevorder; die skakel tussen grondgebruikbestuur en strategiese ruimtelike beplanning; internasionale en Suid-Afrikaanse voorbeelde van grondgebruikbestuurstelsels; die toekoms van grondgebruikbestuur.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Generiese komponente van grondgebruik- en grondontwikkelingsaansoeke en prosedures; praktiese oefeninge in die opstel, indiening, prosessering en evaluering van grondgebruiksaansoeke; beleidvoorbereiding rakende grondgebruikbestuurstelsels wat gelykheid, veerkragtigheid, inklusiwiteit, volhoubaarheid en integrasie bevorder; appèlle; inleiding tot omgewingsimpakstudies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Analise en evaluering van planne en beleidsraamwerke vanuit 'n beplannings- en
    ontwikkelingsperspektief. Analise en ontleding van substantiewe en kommunikatiewe inhoude. Dekonstruksie van teks, norme en waardes, beplannings- en ontwikkelingsbeskouinge en -benaderings. Die rol van die beplanner en die demokratisering van beplanning.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorieë en prosesse van strategiese, vooruit-, en geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning; oorsprong en intensies van hierdie konsepte; internasionale en plaaslike perspektiewe en gevallestudies; beleidsraamwerk vir ontwikkelingsbeplanning in die Suid-Afrikaanse konteks; rolspelers in ontwikkelingsbeplanningsprosesse, met spesifieke verwysing na die rol van die beplanner en die gemeenskap; inleiding tot die konsep, teorie, doelwitte, prosesse en praktyk van deelnemende beplanning.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die vaardighede en tegnieke om ‘n konsep vir ‘n nuwe nedersetting of gedeelte van ‘n bestaande nedersetting te ontwerp. Ontwerp vir die voorsiening van behuising vir beide lae- en hoë-inkomstegroepe, sowel as kommersiële en sosiale fasiliteite, oop ruimtesisteme, vervoersisteme en dienste. Ontwerp vir volhoubare en regverdige omgewings. Terreinanalise en evaluering; ontwikkeling en evaluering van alternatiewe konsepte; die detailontwerp sluit in die verdeling van erwe, infrastruktuurnetwerk, grondontwikkelingsbestuur en ontwerpriglyne.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Institusionele en wetlike raamwerke waarin dorpstigting en behuisingsvoorsiening plaasvind. Gebruiker- en terreinvereistes; behuisingstipes en -digthede; ingenieursdienste; rolspelers; finansiering; dorpstigtingsprosedures ooreenkomstig huidige wetgewing. Gesimuleerde oefening. Detailontwerp, insluitend verdeling van erwe, infrastruktuurnetwerk, grondontwikkelingsbeheer en ontwerpriglyne.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekonomie van nedersettings, insluitend aspekte soos ekonomiese voordele, transformasie, gelykheid, integrasie en inklusiwiteit; liggingskeuses van stedelike grondgebruik; digtheid en intensiteit van ontwikkeling; impak van digthede, ligging en vervoerekonomie op grondwaardes; implikasies van sonering; implikasies vir volhoubaarheid en risiko vermindering; die koste van stedelike groei na gelang van verdigting of spreiding. Die funksionering van die eiendomsmark, bv. hoe die eiedomsmark werk vir stedelike armes; sleutel-rolspelers en besluitneming binne die eiendomsmark; die rol van stedelike beplanning, asook die plaaslike regering en hul finansiële volhoubaarheid in die eiendomsmark.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie projekgeoriënteerde module is 'n vorm van toepassingsleer wat gerig is op spesifieke gemeenskapsbehoeftes en word ingesluit in alle voorgraadse akademiese programme wat deur die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie aangebied word. Die belangrikste doelwitte met die module is soos volg: (1) Die uitvoering van 'n gemeenskapsverwante projek gerig op die bereiking van 'n voordelige effek op 'n gekose deel van die samelewing, verkieslik maar nie eksklusief, deur betrokkenheid by 'n gedeelte van die samelewing wat anders is as die student se eie sosiale agtergrond. (2) Die ontwikkeling van 'n bewuswording van persoonlike, sosiale en kulturele waardes, 'n ingesteldheid van tot diens te wees, en 'n begrip van sosiale aspekte, met die doel om in 'n verantwoordelike professionele persoon te ontwikkel. (3) Die ontwikkeling van belangrike multidissiplinêre en lewensvaardighede, soos kommunikasie, interpersoonlike en leierskapvaardighede. Assessering in die module sal die meeste van die volgende komponente insluit: evaluering en goedkeuring van die projekvoorstel, assessering van mondelinge en/of geskrewe vorderingsverslae, eweknie-assessering in die geval van spanprojekte, geskrewe terugrapportering deur diegene tot wie die projek gerig is, en finale assessering op grond van die voorlegging van 'n portefeulje en 'n geskrewe verslag.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie Vanaf Wall en Bay Street tot Diagonal Street : 'n deeglike begrip van die meganisme en teorieë wat die funksionering van die ekonomie verduidelik, is onontbeerlik. Makro-ekonomiese insig in die reële mark, die geldmark, tweemarkewewig, monetarisme, groeiteorieë, konjuktuuranalise, inflasie, Keynesiaanse algemene ewewigsanalise, fiskale en monetêre beleidsaangeleenthede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie

    Toepassing van die beginsels geleer in EKN 214 op die wêreld waarin ons leef. Ons pas die teorie toe op internasionale marke en dinamiese makro-ekonomiese modelle, terwyl ons die student blootstel aan die makro-ekonomiese beleidsvraagstukke van die dag. Ons kyk ook na die jongste makro-ekonomiese navorsingsvraagstukke in die wêreld. Die kursus sluit onderwerpe in van die wiskundige en ekonometriese ontleding van makro-ekonomiese vraagstukke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van werk: globalisasie
    Die huidige proses van globalisering op ’n wêreldwye skaal het ’n impak op prosesse wat met verandering en ekonomiese ontwikkeling verband hou Hierdie module bespreek prosesse en debatte oor ekonomiese globalisaring en die globale dominansie van finansiële kapitaal in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu. Studente kry die geleentheid om kontemporêre debatte wat met hierdie aangeleenthede verband hou te hersien.

    Deel 2: Gender, die gesin en huishoudings

    Hierdie afdeling fokus op kwessies en teorieë wat betrekking het op ons begrip van huishoudings, gesinne en gender. Dit spreek aangeleenthde soos die dinamiek van gesinstrukture, armoede, die oorlewingstrategieë van arm huishoudings, gendergebaseerde geweld en die maniere waarop die voorafgaande die gesinslewe en -vorme, sowel as kinders en jeugdiges in die besonder, beïnvloed. Klem word daarop geplaas om hierdie kwessies binne ’n Suider-Afrikaanse konteks te ondersoek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Demografie, gesondheid en die samelewing
    Hierdie afdeling ondersoek die dinamiese interaksie tussen demografie en gesondheid aan die hand van Suid-Afrikaanse en internasionale gevallestudies. Die betekenisvolle toename in die wêreldbevolking gedurende die vorige eeu vermeervoudig die sleuteluitdagings wat kontemporêre samelewings in die gesig staar. Die wisselwerking tussen demografiese prosesse, soos morbiditeit, mortaliteit, fertiliteit en mobiliteit, het ’n impak op die grootte van ’n bevolking. Net so word hierdie faktore weer tot ’n redelike mate deur die struktuur sowel as die kulturele konteks van ’n samelewing gevorm. Sentraal tot hierdie proses is besorgdhede oor gesondheid en siekte.

    Deel 2: Kultuursosiologie

    Hierdie afdeling ondersoek temas in kultuursosiologie met ’n fokus op die wyses waarop individue sowel as kollektiewe groeperinge in die alledaagse lewe betekenis konstrueer. Die wisselwerking tussen kultuur en institusionele vorme sowel as sosiale strukture kom ook onder die loep. Studente sal aan die werk van sleuteldenkers in die veld bekendgestel word en kry die geleentheid om ’n onafhanklike essay oor ’n tema in kultuursosiologie te skryf.

    Sien meer

Minimum krediete: 120

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Teorie en praktyk van streekontwikkelingsbeplanning; strategiese streekontwikkelingsanalise en denke; voorbereiding en implementering van streekontwikkelingsraamwerke, en planne en strategieë op supranasionale, nasionale, provinsiale en metropolitaanse vlak.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ruimtelike konsepte rakende die ontwikkeling en beplanning van nedersettings. Morfologiese ontwikkelingsprosesse, bv. desentralisasie, teenverstedeliking, residensiële vulling en opname, stadspreiding. Ruimtelike struktureringskonsepte, bv. korridors, nodusse, kompakte stede, gemengde gebruik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kritiese beskouings op beplanning as konstruk, aktiwiteit en professie. Gevallestudie-gebaseerde eksplorasie van innoverende beplanningspraktyke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Oorsig van institusionele en wetlike raamwerke vir beplanning en ontwikkeling in Suid-Afrika op nasionale en provinsiale vlak. Verwante wetgewing en beleid wat beplanning beïnvloed. Spesifieke verwysing na wetgewende raamwerke vir grondontwikkeling, die omgewing, munisipale bestuur en ontwikkeling, vervoer, behuising, water en Menseregte.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Plaaslike ekonomiese ontwikkelingstrategieë en -instrumente. Plaaslike ontwikkelingsinisiatiewe. Die direkte en indirekte rolle van die plaaslike regering, privaat sektor en publiek in plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Die rol van onderlinge netwerke en skakeling, ligging, bemarking en tegnologie vir plaaslike gebiede binne die globale ekonomie. Regeringsprogramme en inisiatiewe wat plaaslike ekonomiese ontwikkeling kan beïnvloed en bevorder.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel A – Vervoerbeplanning: omgewings-, ekonomiese en sosiale impak van vervoer; vervoerbeplanningsproses; inleiding tot vervoerstudies en evaluasie; openbare vervoer; funksionele padhiërargie; geometriese paduitleg; padreserwedimensies; parkering; voorbereiding van `n uitleg.
    Deel B – Munisipaledienstevoorsiening: watervoorsiening; sanitasie; stormwaterafvoer; energie-voorsiening; openbare beligting; vasteafvalverwydering; insluiting van munisipale dienste in die uitleg.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Sosiale teorie

    Hierdie afdeling fokus op kontemporêre sosiale teorie met die oog daarop om student se begrip van sosiale teorie verby die klassieke kanon te strek. Studente word vetroud gemaak met ‘n kern konseptuele woordeskat, gekose teoretiese paradigmas en onlangse werke in die veld. Hierbenewens word daar klem geplaas op die wyse waarop navorsers wat oor Suid-Afrika werk van sosiale teorie gebruik maak om hulle werk te verryk en om daaraan vorm te gee.

    Deel 2: Arbeidstudies

    Hierdie afdeling spreek sosiologiese benaderings tot die werkplek aan. Dit sluit in ’n kritiese beskouing van arbeidsmarkbeleid en aangeleenthede soos bestuurspraktyk, werk-verskaffing en werkloosheid, asook diskriminasie en buigsaamheid in die arbeidsmark in Suid-Afrika.

     

     

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Staatsfinansies
    Rol van die owerheid in die ekonomie. Welvaartsteorie en die optimaliteitsteorieë. Maniere waarop markmislukkings reggestel word. Owerheidsbestedingsteorieë, modelle en programme. Owerheidsinkomste. Modelle oor belasting, effek van belasting op die ekonomie. Beoordeling van belasting vanuit 'n optimaliteits- en effektiwiteitsoogpunt. Suid-Afrikaanse perspektief op owerheidsfinansies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekonomiese analises Die identifikasie, insameling en interpretering van ekonomiese data; die nasionale rekeninge (inkome- en produksierekeninge, die nasionale finansiële rekening, die betalingsbalans en inset-uitsettabelle); ekonomiese groei; inflasie; werkskepping; werkloosheid, lone, produktiwiteit en inkomeverdeling; besigheidsiklusse; finansiële aanwysers; sosiale aanwysers; internasionale vergelykings; regressie-analise van verwantskappe tussen ekonomiese tydreekse; langtermyn toekomsstudies en scenarios; algehele beoordeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie vanaf 1994.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Landelike en stedelike sosiologie

    Teen die agtergrond van die ontstaan en ontwikkeling van sowel die vele gestaltes van kapitalisme as globalisering in die globale Noorde en Suide gedurende die 20ste en 21ste eeu, skenk hierdie afdeling oorweging aan die verhouding tussen landelike en stedelike omgewings. Vrae oor die aard van sosiale interaksie in gemeenskappe, nuwe vorme van sosiale betrekkinge, ongelykheid en bestaansmiddele, kollektiewe aksie, plaaslike kulture en moderniteite word bespreek. 

    Deel 2:  Die sosiologie van godsdiens

    Hierdie afdeling ondersoek godsdiens en sekularisasie binne sosiale konteks. Spesifieke klem word geplaas op godsdiens en die sekularisme as kragte van sosiale verandering.

    Sien meer

Minimum krediete: 98

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Kontekstualisering van `n navorsingsprobleem/-vraag; literatuurstudie; navorsingsontwerp en -metodes; onderneem empiriese navorsing in lyn met `n goedgekeurde navorsingsvoorstel; versameling, analise en interpretasie van data, opskryf van navorsingsbevindinge.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot beplanning en bestuur van klein dorpies, landelike nedersettings en buitestedelike/landelike distrikte; voorbeelde van beplanningsintervensies in landelike gebiede; benaderings tot landelike ontwikkeling, tegnieke en metodes vir beplanning in landelike gebiede; kritiek op en verbeteringe van bestaande praktyk; gesimuleerde beplanningsoefening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Definiëring van navorsing; navorsingsparadigmas; navorsingsetiek; navorsingsprobleme/-vrae; literatuuroorsigte; navorsingsontwerp; geselekteerde kwalitatiewe en kwantitatiewe metodes vir data-insameling, analise en interpretasie; rapportering van navorsing; formulering van `n navorsingsvoorstel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die opstel van stedelike ontwikkelings- en ontwerpraamwerke om toepaslike, asook sosiaal en ekologies verantwoordbare ontwikkeling of herontwikkeling van stedelike gebiede teweeg te bring. Spesifieke fokus op verval van middestede, snelgroeiende randstede, en onderontwikkelde stedelike gebiede. Kritiek op en verbeteringe op bestaande praktyk; gesimuleerde beplanningsoefening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot beplanning op provinsiale, nasionale en supra-nasionale vlak. Benaderings tot beplanning en ontwikkeling van streke en provinsies. Gevallestudies. Rol van beplanners op die onderskeie vlakke. Institusionele vereistes vir en implikasies van beplanning op hierdie vlakke. Kritiek op en verbeterings op huidige praktyke; gesimuleerde beplanningsoefening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot beplanning op metropolitaanse vlak. Voorbeelde van beplanningsintervensies op metropolitaanse vlak. Benaderings tot en voorbeelde van die voorsiening van behuising, infrastruktuur en fasiliteite. Problematiek rondom hulpbrontoewysing en prioritisering van ontwikkeling binne metropolitaanse gebiede. Institusionele vereistes vir en implikasies van beplanning en bestuur van metropolitaanse ontwikkeling; kritiek op en verbeteringe van bestaande praktyk; gesimuleerde beplanningsoefening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Aanvang van `n loopbaan in die beplanningsprofessie (insluitend kwessies soos openbare- vs. privaatsektor-indiensneming, essensiële vaardighede benodig, aansoek om vakatures, interaksie met medewerkers en ander partye, organisasiekultuur, kliënteverhoudinge, werkpleketiek); ontwikkeling van `n loopbaan in die beplanningsprofessie (insluitend kwessies soos essensiële kommunikasie-, bestuurs- en politieke vaardighede, tipiese foute om in die praktyk te vermy, vestiging van `n loopbaan); inleiding tot projekbestuur; `n oorsig van professionele beplanningsorganisasies in Suid-Afrika; oorblywende kwessies vir klasbespreking, soos bemarking, kliëntediens, bevordering en tydbestuur.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share