Jaarboeke

Program: BIS Inligtingkunde

Code Faculty Duration Credits Download
12131012 Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie Duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 415
Contact:
Dr MA Holmner
[email protected]
+27 (0)124205215

Programinligting

In die huidige samelewing groei die hoeveelheid beskikbare inligting deurentyd met die gevolg dat ook inligtingbehoeftes verander en toeneem. Hierdie groei en verandering is van so 'n aard dat opgeleide inligtingtussengangers noodsaaklik geraak het. Daar bestaan dus 'n groot behoefte aan professioneel gekwalifiseerde persone wat as fasiliteerders kan optree tussen gebruikers en hul inligtingbehoeftes en die realiteit van die inligtingoorvloed.

Hierdie pakket is só ontwerp dat studente opgelei word in die bestuur, herwinning en organisering van inligting en dat hulle ook die vaardighede verwerf in waardetoevoeging tot inligting, asook die verpakking en verspreiding daarvan. Die fokus val voorts ook op die benutting van inligtingtegnologie en die verwerking van inligtingprodukte. Studente word dus die geleentheid gebied om vertroud te raak met inligting en kennis as belangrike hulpbronne in ondernemings en om vaardighede in die hantering en benutting daarvan te ontwikkel. Twee of drie spesialiseringsmoontlikhede is beskikbaar afhangende van die keusemodules wat gekies word.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  • Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  • ‘n Geldige kwalifikasie met toelating vir graadstudie word vereis.
  • Minimum vak- en prestasievereistes, soos hieronder uiteengesit, word vereis. Op eerstejaarsvlak het studente ‘n keuse tussen Afrikaans en Engels as taalmedium. In verskeie gevalle word lesings slegs in Engels aangebied, byvoorbeeld vir keusemodules waar die dosent nie Afrikaans magtig is nie, of indien dit nie ekonomies of prakties regverdigbaar is nie.
  • Indien ‘n kandidaat ‘n TPT van 25 tot 27 behaal, sal toelating oorweeg word op grond van die uitslae van die NBT, mits die kwotas vir studentegetalle nog nie bereik is nie. ‘n Prestasievlak van 5 word vereis vir Wiskunde indien informatika gekies word as ‘n keusemodule op eerstejaarsvlak.

 

 
Minimum vereistes 
Prestasievlak
Afrikaans of Engels TPT
NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level
4 3 D D

28
(25-27
toelating
gebaseer
op die NBT)

 

Ander programspesifieke inligting

Krediete word nie in alle fakulteite dieselfde bereken nie; studente moet dus daarop let dat die totale aantal krediete vir die pakket steeds tot minstens 415-458 moet lei na gelang van watter keusemodules geneem word.

Minimum krediete: 110

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inligting en kommunikasietegnologie. Hierdie module bied 'n bondige oorsig van harde- en sagteware, telekommunikasietegnologie, LANe, WANe en intranette, die inligtinghoofweg, die Internet en die wêreldwye web, rekenaar-etiek, inligting- en kommunikasietegnologie (ICTs), e-handel, mobiele rekenaartegnologie, en die inlvoed wat nuwe neigings en ontwikkelings op die verspreiding van inligting het.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Persoonlike inligtingbestuur. Hierdie module fokus op persoonlike inligtingbestuur binne 'n organisatoriese konteks. Dit handel oor die bestuur van inligting wat spesifiek te doen het met die individu en wat hom/haar dus in staat stel om sy/haar werk te verrig. Onderwerpe wat behandel word, sluit die volgende in: die skep van 'n omgewing waarbinne die individu inligting en kennis kan bestuur; die vaardighede wat nodig is om persoonlike inligting- en kennisbestuur te kan doen; inligtingoorlading wat aanleiding gee tot persoonlike inligting- en kennisbestuur sowel as die manier waarop individue kan oorskakel van persoonlike inligtingbestuur na persoonlike kennisbestuur; en persoonlike inligting- en kennisbestuur as 'n beroep.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module bied 'n inleiding tot die studieterrein van die inligtingkunde en verwante beroepsvelde. Sleutelkonsepte wat bespreek word, sluit die volgende in: die mens as inligtingverwerker en -gebruiker; die lewensiklus van inligting in terme van prosesse, produkte en rolspelers; asook die kommunikasie van inligting. Die sosio-etiese impak van globalisering, met spesifieke verwysing na Afrika, word ingesluit as 'n kernvraagstuk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Organisasie en voorstelling van inligting. Hierdie module bied die student 'n inleiding tot die basiese beginsels en prosesse onderliggend aan die organisering en voorstelling van inligting. Die organisering van inligting in dokumente en op die web, in multimediaformate, met behulp van dokumentbeeldprosessering en in databasisse word behandel. Die voorstelling van inligting deur middel van die skep van metadata in verskeie algemene en domeinspesifieke metadataskemas word behandel, bv. Dublin Core as 'n metadatastandaard vir die Web, asook verskeie ander metadaskemas. Praktiese klasse sluit in basiese HTML en die skep van webblaaie wat alles dek wat in die teorie behandel is.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n inleiding ten opsigte van ‘n basiese kennis en begrip van die biologiese basis van menslike gedrag. Die module behels die kernkonsepte en terminologie wat met die biologiese subsisteem verband hou, die reëls en beginsels onderliggend aan biologiese sielkunde en die identifisering van verwantskappe tussen verskillende biologiese sisteme en subsisteme. Verskillende kognitiewe prosesse word bestudeer insluitend persepsie, geheue, denke, intelligensie en kreatiwiteit. Verskeie denkprosesse, soos probleemoplossende, krities-analitiese en integrerende denke word geillustreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Fundamentele kriminologie
    Inleiding tot die kriminologie, omskrywing van misdaad, misdaadtendense, klassieke en positivistiese verklarings van misdaad.
    Deel 2: Geweldsmisdaad
    ‘n Kort analise van oorsake, gevolge en meganismes ter voorkoming en vermindering van geweldsmisdaad in ‘n Suid-Afrikaanse konteks. Omskrywing van geweldsmisdaad in terme van interpersoonlike geweld, moord, geweldsmisdaad binne die kriminele regsplegingstelsel en eiendomsverwante geweldsmisdaad.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Samewerking in die politieke wêreld ’n Inleiding tot samewerking op nasionale en internasionale vlak met spesifieke verwysing na die aard, grondslae en politiek van samewerking. Dit sluit ’n analise en vergelyking in van die politisering, lokalisering en internasionalisering van vraagstukke, en van die probleme op nasionale, regionale en globale vlak rakende samewerking in ’n toenemend interafhanklike wêreld gekenmerk deur ’n afwesigheid van supranasionale instellings. Aandag word ook gegee aan die verbandhoudende dinamiek van regime-ontwikkeling, -prestasie en -verandering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Algemene oriëntering tot die sielkunde. Inleiding tot verskillende teoretiese benaderings in en die ontwikkeling van die sielkunde as wetenskap word behandel.  Geselekteerde temas uit die alledaagse lewe word bespreek en met sielkundige beginsels geïntegreer. Hierdie module fokus ook op sentrale persoonlikheidsteorieë. 'n Inleiding tot verskillende paradigmatiese benaderings in die sielkunde word gegee.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inligtingstelsels; inligtingstelsels in ondernemings; apparatuur: invoer; verwerking; uitvoer; programmatuur: stelsels- en toepassingsprogrammatuur; organisering van data en inligting; telekommunikasie en netwerke; die internet en intranet. Transaksieverwerkingstelsels; bestuursinligtingstelsels; besluitnemingsteunstelsels; inligtingstelsels in besigheid en samelewing; stelselontleding; stelselontwerp; implementering; onderhoud en hersiening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Penologie In die Penologie word aandag aan die strafregsplegingstelsel as sisteem gegee ten einde die belangrikheid van ’n geïntegreerde benadering tot oortrederhantering te benadruk. Die impak van oorbevolking in gevangenisse word krities in oënskou geneem. Verder word aandag aan die probleme rakende verhoorafwagtende oortreders asook die belang van gemeenskapsgebaseerde vonnisse en die herintegrasie van oortreders in die gemeenskap gegee. Deel 2: Misdaadvoorkoming en -beheer Verantwoordelikhede van die polisie en gemeenskap by misdaadvoorkoming en -beheer. Primêre, sekondêre en tersiêre misdaadvoorkoming, misdaadvoorkoming en -vermindering in Suid-Afrika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module in publieke administrasie bied inleidend die konstitusionele raamwerk met betrekking tot publieke administrasie. Die Suid-Afrikaanse stelsel van regering, die funksies, rol en magte van die uitvoerende gesag, die wetgewende en juridiese gesag sowel as die funksionering van die drieledige sfere van die owerheid. Die module sal die student in staat stel om te verstaan hoe en waar publieke administrasie toegepas word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Grondslae van politiek ’n Inleiding tot die bestudering van die georganiseerde politieke samelewing op nasionale en internasionale vlak met spesifieke verwysing na politieke konsepte, benaderings en metodes. Die klem val op die staat en regeerkunde as ontledingsraamwerke. Dit sluit die ontwikkeling en vergelyking van verwante politieke entiteite, prosesse en regime-tipes van ’n demokratiese en niedemokratiese aard in, inaggenome die belangrikste veranderinge wat deur globalisering veroorsaak word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Alleenlik vir BCur-studente

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gevorderde programmering; gebruik van 'n rekenaargesteunde programmatuuringenieurswesehulpmiddel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module in publieke administrasie is ontwerp om spesifiek studente te ondersteun in die verstaan van die rol van publieke administrasie in die moderne staat, die unieke kenmerke van publieke administrasie, die skole en benaderings in publieke administrasie en inleidende inligting in die onderskeie generiese administratiewe funksies. Die dissipline van publieke administrasie het vinnig ontwikkel en by implikasie, die paradigma verskuif oor die jare. Die doelwit van hierdie module is om publieke administrasie inleidend aan die student bekend te maak as ‘n veld van studie wat ‘n betekenisvolle bydrae tot die effektiewe administrasie en bestuur van owerheidswerksaamhede maak.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Alleenlik vir BCur-studente

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot programmering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene stelselteorie; kreatiewe probleemoplossing; sagtestelselmetodologie. Die stelselontleder; stelselontwikkelingsboublokke; stelselontwikkeling; stelselontledingsmetodes; prosesmodellering. 

    Sien meer

Minimum krediete: 160

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Hierdie projek-georiënteerde module is 'n vorm van toepassingsleer wat gerig is op spesifieke gemeenskapsbehoeftes en word ingesluit in alle voorgraadse akademiese programme wat deur die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie aangebied word. Die belangrikste doelwitte met die module is soos volg: (1) Die uitvoering van 'n gemeenskapsverwante projek gerig op die bereiking van 'n voordelige effek op 'n gekose deel van die samelewing, verkieslik maar nie eksklusief, deur die betrokkenheid by 'n gedeelte van die samelewing wat anders is as die student se eie sosiale agtergrond. (2) Die ontwikkeling van 'n bewuswording van persoonlike, sosiale en kulturele waardes, 'n ingesteldheid om tot diens te wees en 'n begrip van sosiale aspekte met die doel om in 'n verantwoordelike professionele persoon te ontwikkel. (3) Die ontwikkeling van belangrike multidissiplinêre en lewensvaardighede, soos kommunikasie, interpersoonlike en leierskapsvaardighede. Assessering in die module sal die meeste van die volgende komponente insluit: evaluering en goedkeuring van die projekvoorstel, assessering van mondelinge en/of geskrewe vorderingsverslae, eweknie-assessering in die geval van spanprojekte, geskrewe terugrapportering deur diegene op wie die projek gerig is, en finale assessering op grond van die voorlegging van 'n portefeulje en 'n geskrewe verslag.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Voorstelling en organisasie. Ten einde inligting te kan herwin, moet dit in 'n sisteem voorgestel en georganiseer wees. Die module handel oor die verteenwoordiging en organisasie van inligting op die vlak van individuele entiteite (bv. indeksering), van die inligtinggebruiker se perspektief (gebruikerprofiele), sowel as binne 'n dokumentversameling (taksonomie en ontologie).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Projekbestuur: Inleiding. Konsepte van projekbestuur; behoefte-identifisering; die projek, projekbestuurder en projekspan; soorte projekorganisasies; projekkommunikasie en -dokumentasie. Beplanning en beheer: beplanning, skedulering en skedulebeheer van projekte; hulpbronoorwegings en toedeling; kostebeplanning en prestasie-evaluering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Logistieke bestuur Die rol van logistiek in 'n onderneming; omskrywing en omvang van klantediens; elektroniese en ander logistieke inligtingstelsels; voorraadbestuur en materiaalbestuur met besondere verwysing na Japannese stelsels; bestuur van die voorsieningsketting. Vervoermetodes en vervoerkoste; soorte opberging en die koste daarvan; elektroniese hulpmiddels by materiaalhantering; koste en prysbepaling by aankope; organisering vir logistieke bestuur en metodes om logistieke werkverrigting te verbeter.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Organisatoriese kommunikasiebestuur Deur die gebruikmaking van bestuursteorieë van organisasiekommunikasie word 'n studie gemaak van groep- en spankommunikasie, met spesifieke beklemtoning van fasilitering, onderhandeling en innovasie. Kennisbestuur, interne kommunikasie, kultuur en organisasieklimaat is kernkomponente van die komplekse dinamika van die deel van betekenis in die organisasie. Die funksie van strategiese kommunikasie word deurgaans benadruk. Etiese oorwegings in organisatoriese kommunikasiebestuur word ook beklemtoon en gepaste navorsingstegnieke word bekend gestel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sosiale en etiese impak. Hierdie module ondersoek die morele en wetlike regulasiepraktyke wat verband hou met inligting in gedrukte en digitale omgewings. Verskillende etiese teorieë word geïdentifiseer en toegepas op privaatheid, toegang tot inliging, inligtingarmoede en sensorskap. Die interpretasie en toepassing van reëls en regulasies word bespreek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inligtingsoek en -herwinning. Die module ondersoek die teorie en praktyk van effektiewe inligtingsoek en -herwinning. Dit bou op ondersteunende navorsingsraamwerke soos die sisteem-, gebruiker-gesentreerde, kognitiewe en sosio-kognitiewe raamwerke. Die fokus is op die kompleksiteite van effektiewe inligtingsoek en -herwinning binne die konteks van inligtinggedrag op 'n persoonlike vlak, sowel as binne die konteks van professionele, akademiese of daaglikse inligtingbehoeftes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Bestuurskommunikasie Gebaseer op die paradigma van Geïntegreerde Kommunikasie (GK), dek hierdie module bestuurskommunikasieteorie, leierskap- en toesighouerkommunikasie, sowel as die bestuur van verandering en transformasie deur kommunikasie. Bestuurskommunikasie in die globale arena fokus op die dinamika en viering van diversiteit en interkulturele verhoudings. Bestuurders moet kennis neem van die belangrikheid van ontwikkelingskommunikasie, beide in 'n besigheids- en gemeenskapskonteks. Die belangrikheid van etiese oorwegings in bestuurs- en leierskapskommunikasie word beklemtoon. Na 'n verduideliking van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsontwerpe, word toepaslike kommunikasienavorsingstegnieke ondersoek.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Databasisontwerp: die relasiemodel; gestruktureerde navraagtaal (SQL); entiteitsverwantskap modellering; normalisering; databasis ontwikkelingslewensiklus. Praktiese inleiding tot databasisontwerp. Databasisse: gevorderde entiteitsverwantskapmodellering en -normalisering; objek-geöriënteerde databasisse; databasis-ontwikkelingslewensiklus; gevorderde praktiese databasisontwerp.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die ekonomie en politiek van inligting. Hierdie module ondersoek die ekonomie en politiek van inligting met spesifieke klem op die Suid-Afrikaanse inligtingsektor. Dit bevorder die begrip van sowel die mark- as die niemarkeienskappe van inligting asook die gevolge daarvan vir die produksie, verspreiding en bemarking van inligtingprodukte en -dienste. Die maniere waarop toegang tot inligting, sowel as die uitdrukking van inligting gereguleer word, asook die gebruik van IKT's in misdaad en korrupsie, word ook aangespreek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inheemse kennis en kommunikasie. Hierdie module fokus op die rol en funksie van inheemse kennis in die inligting- en kennissamelewing. Verskeie kategorieë en kontekste van inheemse kennis word verken binne internasionale en plaaslike perspektiewe. Aspekte wat verband hou met toegang tot en die kommunikasie van inheemse kennis, onder andere deur inligting- en kommunikasie tegnologie, word ook aangespreek ten einde volhoubare ontwikkeling te verseker.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Stelselontleding. Stelselontwerp: konstruksie; toepassingsargitektuur; invoer-, uitvoer- en koppelvlakontwerp; interne kontroles; programontwerp; objekontwerp; projekbestuur; stelselimplementasie; gebruik van rekenaargesteunde ontwikkelingshulpmiddels.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Oorsig van stelselinfrastruktuur en -integrering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gebruikerstudies en verspreiding. Hierdie module fokus op die individu as soeker, gebruiker, leser en kommunikeerder van inligting. Verskillende gebruikersgroepe word geïdentifiseer en die maniere waarop hulle inligting gebruik, asook die vereistes wat hulle aan kommunikasie stel en hul kommunikasiepatrone, word ontleed en ondersoek. Die module sluit ook diensverskaffingmetodes in waardeur die gebruik en verspreiding van inligting, in ooreenstemming met gebruikersbehoeftes, ondersteun en bevorder word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Databasisbestuur: transaksiebestuur; gelyktydige prosesse; herstel; databasisadministrasie: nuwe ontwikkelings: verspreide databasisse: kliëntbedienerdatabasisse; praktiese implementering van databasisse.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gebruik van rekenaargesteunde ontwikkelingshulpmiddels; gevorderde programmering.

    Sien meer

Minimum krediete: 145

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inligtingorganisasie. Die module handel oor die organisasie van inligting binne die digitale omgewing, en fokus op die struktuur en gebruik van dokumentbestuur en werkvloeisisteme, asook verspreidingskanale en virtuele omgewings. Die eienskappe en toepassing van die Internet, intranette, sowel as portale en portaaltoepassings word bestudeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eksperimentele leerprojek. Projek en praktiese ondervinding in samewerking met die industrie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inligting- en Kennisbestuur. Die module fokus op inligting- en kennisbestuur op 'n operasionele vlak. Dit bestudeer die bestuur van inligting en kennis wat spesifiek is tot 'n organisasie, wat die organisasie in staat stel om kompeterend te wees. Daar word hoofsaaklik gefokus op vier aspekte naamlik: die 21ste-eeuse organisasie, die inligtingprodukte wat bestuur word op 'n operasionele vlak, die belang van hierdie produkte vir die 21ste-eeuse organisasie, die interne en eksterne rolspelers wat 'n belang het by inligtingsprodukte sowel as die infrastruktuur wat aanwesig moet wees binne organisasies ten einde inligtingsprodukte te bestuur. Die module word afgesluit met enkele onderwerpe wat verband hou met inligtingbestuur op 'n strategiese vlak.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Inligtingstelsels in organisasies; sosiaal en etiese verantwoordelikhede; die rol van die informatikus. IT-eindgebruikerverhoudings; IT-bestuur.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Oorsig van huidige tendense wat relevant is tot inligtingstelsels in die sake-omgewing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die module is toegespits op die samestelling en bestuur van digitale pakhuise.  Die eienskappe van die digitale pakhuis in ’n vinnig veranderende tegnologiese omgewing en ’n uitdagende inligtinggemeenskap word bespreek. Kernaspekte sluit in: sisteemontwerp, verhoudings tot saamgestelde biblioteke, digitale versamelings en die bestuur van regte, standaarde, virtuele verwysings en die ontwikkeling en evaluering van digitale pakhuise.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kompeterende intelligensie Hierdie module verskaf ’n oorsig van kompeterende intelligensie (KI) en fokus op die behoefte van KI in organisasies. Die manier waarop organisasies kompeteer en die voordele wat KI aan hierdie organisasies kan bring sal ook gedek word. Die groeiende behoefte vir KI in Suid-Afrikaanse organisasies sal ook ondersoek word. Praktiese voorbeelde en gevallestudies sal gebruik word om die waarde van KI in organisasies te beklemtoon.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module ondersoek aspekte van die inligting en kennis samelewing in plaaslike, streek- en internasionale kontekste. ’n Spesiale fokus van die module is die interaksie en uitruil van data, inligting en kennis van gemeenskappe se lokale kennis stelsel met data, inligting en kennis in die globale kennis stelsel. Die module bespreek verder die groei van inligting- en kommunikasietegnologieë (IKT’s), en die implikasies daarvan op ontwikkeling.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share