Jaarboeke

Program: BIng Siviele Ingenieurswese

Code Faculty Duration Credits Download
12130007 Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie Duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 600

Programinligting

Al die studierigtings van die BIng-graad is geakkrediteer deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) en voldoen aan die akademiese vereistes vir registrasie as professionele ingenieur. Die programme is ontwerp aan die hand van die uitkomsgebaseerde model wat deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAQA) vereis word. Die leeruitkomstes en leerinhoud van die programme is saamgestel aan die hand van die nuutste akkreditasiestandaarde (PE-60 en PE-61) van ECSA, wat ook die SAQA-vereistes ondervang, en wat soos volg opgesom kan word:

Leeruitkomste van die BIng-graad:
Die gegradueerde in ingenieurswese moet in staat wees om die volgende vaardighede op ’n gevorderde vlak te kan toepas:

  1. Ingenieursprobleemoplossing.
  2. Toepassing van spesialis- en fundamentele kennis, met spesifieke verwysing na wiskunde, basiese wetenskap en ingenieurswetenskap.
  3. Ingenieursontwerp en -sintese.
  4. Ondersoek, eksperimentering en data-analise.
  5. Ingenieursmetodes, -vaardighede, en inligtingtegnologie.
  6. Professionele en algemene kommunikasie.
  7. Begrip vir en kennis van die impak van ingenieursaktiwiteite op die samelewing en die fisiese omgewing.
  8. Vermoë om in spanne en multidissiplinêre omgewings te kan saamwerk.
  9. Ingesteldheid op en vermoë tot lewenslange leer.
  10. Ingesteldheid op en kennis van etiese en professionele praktykbeginsels.


Leerinhoude van die BIng-programme:
Daar is ses noodsaaklike kennisgebiede wat in die leerinhoud ingesluit is. Die tipiese persentasie wat elke kennisgebied van die totale leerinhoud van ’n voorgraadse program in ingenieurswese uitmaak, word tussen hakies ( ) teenoor elke kennisgebied aangetoon. Hierdie persentasie kan in 'n sekere mate afwyk van een studierigting tot ’n ander, maar daar bestaan ’n minimum vereiste deur ECSA neergelê tov al hierdie kennisgebiede, waaraan al die programme moet voldoen.
Kennisgebiede:

  1. Wiskunde, insluitende numeriese metodes en statistiek (13%)
  2. Basiese wetenskap: natuurwetenskappe wat noodsaaklik is vir die program (15%)
  3. Ingenieurswetenskap (40%)
  4. Ingenieursontwerp en -sintese (16%)
  5. Rekenaarvaardigheid en inligtingtegnologie (5%)
  6. Komplementêre studies: kommunikasie, ekonomie, bestuur, innovasie, omgewings- impak, etiek, ingenieurspraktyk (11%).

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  • Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  • ‘n Geldige kwalifikasie met toelating vir graadstudies word vereis.
  • Minimum vak- en prestasievereistes, soos hieronder uiteengesit, word vereis. Op eerstejaarsvlak het studente ‘n keuse tussen Afrikaans en Engels as taalmedium. In verskeie gevalle word lesings slegs in Engels aangebied, byvoorbeeld vir keusemodules waar die dosent nie Afrikaans magtig is nie, of indien dit nie ekonomies of prakties regverdigbaar is nie.
  • Voorlopige toelating tot die vierjaarprogram in die Skool vir Ingenieurswese is alleenlik gewaarborg indien voornemende studente aan AL die vereistes hieronder voldoen.
  • Let wel: Kandidate wat nie aan die minimum vereistes soos hierbo uiteengesit voldoen nie, maar ‘n minimum TPT van 30, ‘n prestasievlak van 5 vir Afrikaans of Engels, 6 vir Wiskunde en 5 vir Fisiese Wetenskap behaal het, sal oorweeg word vir voorwaardelike toelating tot óf die vierjaarprogram óf die ENGAGE-program op grond van die uitslae van die verpligte NBT.
  • Toelating tot ENGAGE in die Skool vir Ingenieurswese sal bepaal word deur die uitslae van die NBT, die NSS en ‘n prestasievlak van 5 in Wiskunde en 4 in Fisiese Wetenskap, asook ‘n prestasievlak van 4 in Afrikaans of Engels, tesame met ‘n TPT van 25.
  • Studente mag direk aansoek doen om oorweeg te word vir die ENGAGE-program.
 
Minimum vereistes 
Prestasievlak
Afrikaans of Engels Wiskunde Fisiese Wetenskap TPT
NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level NSS/IEB HIGCSE AS-Level A-Level
5 3 C C 6 2 B B* 6 2 B B*

35

* A-Level: C-simbool vir Wiskunde, Fisika en Chemie sal oorweeg word vir toelating op voorwaarde dat die vereiste TPT behaal is.

Ander programspesifieke inligting

Met enkele uitsonderings na, strek modules van die Skool vir Ingenieurswese oor ’n volle semester en word kredietwaardes van 8 of 16 gewoonlik daaraan toegeken.
'n Student mag deur die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof toegelaat word om vir ’n ooreenstemmende module te registreer wat normaalweg in die ander semester vir die student se groep aangebied sou word, mits die rooster dit toelaat.

Let wel:

  1. Studente wat nie SWK 122 Meganika 122 in hul eerste studiejaar geslaag het nie, kan die module in die eerste semester van die daaropvolgende jaar neem.
  2. Dit is ’n vereiste dat studente JCP 203 Gemeenskapsprojek 203 suksesvol voltooi as deel van die vereistes vir die BIng-graad. ’n Student het die keuse om gedurende enige van die studiejare vir die module in te skryf, maar verkieslik nie gedurende die eerste of die finale studiejare nie.
  3. Studente wat vir Chemiese Ingenieurswese geregistreer is, en reeds CBI 311 geslaag het, ontvang krediet vir CBI 410.
  4. Die aanbieding van keusemodules is afhanklik van beskikbare hulpbronne en industrie- ondersteuning.
  5. Afwykings van hierdie vereistes mag slegs geskied met goedkeuring van die Dekaan, na oorlegpleging met die betrokke departementshoof(de).

Bevordering tot volgende studiejaar

Bevordering na die tweede semester van die eerste studiejaar en tot die tweede studiejaar  (Ing. 14)

  1. ’n Nuweling-eerstejaarstudent wat aan die einde van die eerste semester in al die voorgeskrewe modules van die program gedruip het, word aan die begin van die tweede semester nie tot die Skool vir Ingenieurswese hertoegelaat nie. ‘n Student wat geregistreer is vir die Uitgebreide Ingenieurswese-graadprogram en wat slegs 8 krediete geslaag het, sal ook uitgesluit word.
  2. ’n Student wat aan al die vereistes van die eerste studiejaar voldoen, word bevorder na die tweede studiejaar.
  3. Studente wat na die November-eksamen nie minstens 70% van die krediete van die eerste studiejaar geslaag het nie, moet weer aansoek doen om toelating indien hulle van voorneme is om hul studies voort te sit. Skriftelike aansoek op die voorgeskrewe vorm moet nie later nie as 11 Januarie by die Studenteadministrasie van die Skool vir Ingenieurswese ingedien word. Laat aansoeke sal slegs in buitengewone gevalle en met goedkeuring van die Dekaan aanvaar word. Indien eerstejaarstudente hertoegelaat word, sal dit volgens die voorwaardes wees soos deur die Toelatingskomitee bepaal.
  4. Studente wat nie in al die voorgeskrewe modules op eerstejaarvlak (vlak 100) geslaag het nie, sowel as studente wat ingevolge Fakulteitsregulasie Ing.14(c) hertoelating verkry het, moet vir die ontbrekende modules op eerstejaarvlak (vlak 100) registreer.
  5. Eerstejaarherhalers mag deur die Dekaan, op aanbeveling van die betrokke departementshoof(de), tot modules van die tweede studiejaar naas die ontbrekende eerstejaarmodules toegelaat word, mits die rooster dit toelaat en sodanige modules nie op eerstejaarmodules volg waarin daar nie geslaag is nie. Studente op die ENGAGE-program moet dieselfde prosedure volg en mag toegelaat word om vir modules te registreer op 200-vlak addisioneel tot die 100-vlak modules wat gedruip was op voorwaarde dat hy/sy aan die voorvereistes vir die module(s) voldoen en daar geen roosterbotsings plaasvind nie. Spesiale toestemming mag deur die Dekaan op aanbeveling van die Departementshoof vir die oorskreiding van die voorgeskrewe aantal krediete verleen word. In geen semester mag die aantal krediete waarvoor goedkeuring verkry is, die normale aantal krediete per semester met meer as 16 krediete oorskry nie.
  6. Studente in Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese wat vir ’n tweede keer ’n eerstejaarmodule druip, verbeur die voorreg om enige modules vooruit te neem vir daardie jaar.


Let wel:

  1. Elke student moet vanaf die tweede studiejaar ’n goedgekeurde sakrekenaar hê. Dit word ook aanvaar dat elke student vrye en redelike toegang tot ’n persoonlike rekenaar het.
  2. Studente wat beoog om na Mynbou-ingenieurswese oor te skakel, moet let op die bepalings uiteengesit in die leerplan van PWP 121 Werkwinkelpraktyk 121.


Bevordering na die derde studiejaar van die Vierjaarprogram, asook tot die derde en die vierde studiejare van die ENGAGE-program. In die geval van die vierde studiejaar van die ENGAGE-program moet die woorde “eerste” “tweede” en “derde” telkens met die woorde “tweede”, “derde” en “vierde” vervang word, soos van toepassing. (Ing. 15)

  1. ’n Student wat aan al die vereistes van die tweede studiejaar voldoen, word bevorder na die derde studiejaar.
  2. ’n Student moet in al die voorgeskrewe modules op eerstejaarsvlak (vlak 100) geslaag het voor hy of sy tot enige module op derdejaarsvlak (vlak 300) toegelaat word.
  3. Tweedejaarherhalers moet vir al die ontbrekende tweedejaarmodules registreer. ’n Student mag deur die Dekaan, op aanbeveling van die departementshoof(de), tot modules van die derde studiejaar naas die ontbrekende tweedejaarmodules toegelaat word, mits die rooster dit toelaat en sodanige module(s) nie op tweedejaarmodules volg waarin daar nie geslaag is nie. Spesiale toestemming mag deur die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof vir die oorskreiding van die voorgeskrewe aantal krediete verleen word. In geen semester mag die aantal krediete waarvoor goedkeuring verkry is, die normale aantal krediete per semester met meer as 16 krediete oorskry nie.
  4. Studente in Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese wat vir ’n tweede keer ’n tweedejaarmodule druip, verbeur die voorreg om vir daardie jaar enige modules vooruit te neem.
  5. Studente wat beoog om na Mynbou-ingenieurswese oor te skakel, moet let op die bepalings uiteengesit in die leerplan van PWP 121 Werkwinkelpraktyk 121 asook PPY 317 Praktykopleiding 317.


Bevordering na die vierde studiejaar van die Vierjaarprogram, asook tot die vyfde studiejaar van die ENGAGE-program. In die geval van die vyfde studiejaar van die ENGAGE-program moet die woorde “tweede”, “derde” en “vierde” telkens met die woorde “derde”, “vierde” en “vyfde” vervang word, soos van toepassing. (Ing. 16)

  1. ’n Student wat aan al die vereistes van die derde studiejaar voldoen, word bevorder tot die vierde studiejaar. ’n Student wat nie aan al die vereistes voldoen nie, maar vir al die ontbrekende modules kan registreer om die graadprogram te voltooi, mag ten tye van registrasie bevorder word na die vierde studiejaar.
  2. ’n Student moet in al die voorgeskrewe modules van die tweede studiejaar geslaag het voor hy of sy tot enige module van die vierde studiejaar toegelaat word.
  3. Derdejaarherhalers moet vir al die ontbrekende derdejaarmodules registreer. ’n Student mag deur die Dekaan, op aanbeveling van die betrokke departements- hoof(de), tot modules van die vierde studiejaar naas die ontbrekende derdejaar¬modules toegelaat word, mits die rooster dit toelaat en aan die voorvereistes voldoen is. In geen semester mag die aantal krediete waarvoor geregistreer is, die normale aantal krediete per semester met meer as 16 krediete oorskry nie. In uitsonderlike gevalle mag ’n student deur die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof toegelaat word om bogenoemde limiet te oorskry.
  4. Studente in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, asook Rekenaaringenieurswese wat vir die tweede keer ’n derdejaarmodule druip, verbeur die voorreg om enige modules vooruit te neem vir daardie jaar.

Slaag met lof

  1. 'n Student slaag met lof indien
  1. hy of sy geen module van die derde of vierde studiejaar van die vierjaarprogram of die vierde of vyfde studiejaar van die ENGAGE-program moes herhaal nie en in een jaar 'n geweegde gemiddelde van minstens 75% in al die modules van die finale studiejaar behaal het; en
  2. die graadprogram in die minimum voorgeskrewe tydperk van vier jaar vir die vierjaarprogram en vyf jaar vir die ENGAGE-program voltooi is.
  1. Uitsonderlike gevalle tot bogenoemde sal deur die Dekaan oorweeg word.

Minimum krediete: 144

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inleidende Wiskunde: simbole, eksponente, logaritmes, hoek in grade, radiaalmaat, goniometrie, differensiasie en integrasie. Beweging in 'n reguit lyn: posisie en verplasing, versnelling. Vektore: optel van vektore, komponente, vermenigvuldigingsvektore. Beweging in twee en drie dimensies: projektielbeweging, sirkelbeweging. Krag en beweging: Newton se wet, krag, wrywing. Kinetiese energie en werk: werk, drywing. Potensiële energie: massamiddelpunt, linieêre momentum. Botsings: impuls en linieêre momentum, elastiese botsings, anelastiese botsings. Rotasie: kinetiese energie van rotasie, wringkrag. Ossilasies en golwe: eenvoudige harmoniese beweging, golftipes, golflengte en -frekwensie, interferensie van golwe, staande golwe, die Doppler-effek. Temperatuur, hitte en die eerste wet van termodinamieka.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene inleiding tot anorganiese, analitiese en fisiese chemie. Nomenklatuur van anorganiese en ioniese verbindings, stoïgiometriese berekeninge van chemiese reaksies, redoksreaksies, oplosbaarhede en oplossings, atoomstruktuur, periodisiteit. Molekulêre struktuur en binding, gebruik van die VSEPA-model. Beginsels van reaktiwiteit, elektrochemie, energie en chemiese reaksies, entropie en vrye energie. Toepaslike oefenklasse en praktika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekwivalente kragstelsels, resultante. Newton se wette, eenhede. Inwerking van kragte op partikels. Starre liggame: beginsel van oordraagbaarheid, resultante van parallelle kragte. Vektor- en skalare momente. Verwantskap tussen vektor- en skalare momente. Koppels. Ekwivalente kragstelsels op starre liggame. Resultante van kragte op starre liggame. Ewewig in twee en drie dimensies. Hooke se wet. Vakwerke en raamwerke. Sentroïdes en tweede moment van area. Balke: verspreide kragte, skuifkrag, buigmoment, metode van snitte, verwantskap tussen las, skuifkrag en buigmoment.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Vryhandsketstekeninge wat die volgende dek: perspektief-, isometriese en ortografiese tekeninge. Tekenkonvensies, grafiese tegnieke en samestellingstekeninge. Tekening-evaluering en foutopsporing. Ware lengtes, vlakke, projeksies en deurdringingskrommes. Praktiese toepassings van hierdie tegnieke. Inleiding tot teken van komponente op die rekenaar, insluitend maatskrywing, arsering en detaillering. Inleiding tot basiese vervaardigingsprosesse insluitende primêre (giet, smee en ekstrusie) en sekondêre (boor, draai, frees, slyp, trekfrees en saag) vervaardigingsprosesse.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot materiale: die familie van materiale, atoomstruktuur en bindingstipes, kristaltipes en ruimtelike rangskikking van atome, rigtings en vlakke in kristalle, kristaldefekte, diffusie in vaste stowwe. Meganiese eienskappe van materiale: spanning en vervorming, meganiese toetsing (sterkte, smeebaarheid, hardheid, taaiheid, vermoeidheid, kruip), plastiese vervorming, vaste-oplossingverharding, herkristallisasie. Polimeriese materiale: polimerisasie en produksiemetodes, tipes polimeriese materiale en hul eienskappe. Korrosie van metale: meganismes en tipes korrosie, korrosietempo, beheer van korrosie. Die hittebehandeling van staal: Fe-C fasediagram, ewewigsafkoeling, verharding en tempering van staal, vlekvry staal. Komposiete materiale: Inleiding, vesel versterkte polimeriese komposiete, beton, asfalt, hout.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sosiale wetenskappe: Perspektiewe op die eietydse samelewing ’n Inleiding tot vrae oor die aard van menslike gemeenskappe en eietydse uitdagings. Onderwerpe wat besrpeek sal word sluit in globalisering en vermeerderde verbintenisse; stygende werkloosheid, ongelykheid en armoede; skielike verstedeliking en die moderme stadsvorm; veranderinge in die aard van werk; omgewingsdegradering en spanning tussen volhoubaarheid en groei; veranderinge in globale magsverhoudinge; die toekoms van die nie-staat en supra-nasionale bestuurstrukture; en moontlikhede om menseregte en demokrasie uit te bou. Kritiese vrae word oor moderne self gevra, ook oor sosialiteit, kultuur en identiteit teen die agtergrond van nuwe kommunikasietegnologieë, multikulturele gemeenskappe, geslag-, klas- en rasongelykhede en die herlewing van verouderde vorme van sosiale en politieke identiteit. Hierdie kwessie word vanuit ons ligging in suidelike Afrika en die kontinent bekyk, en berus op sosiale wetenskap-perspektiewe.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geesteswetenskappe: Teks, kultuur en kommunikasie Suksesvolle kommunikasie van idees, waardes en tradisies hang van die begrip van beide die letterlike en bedoelde betekenis van tekste af. In hierdie module word studente voorgestel aan ’n verskeidenheid tekste, insluitend oorspronklike literêre en visuele tekste, met die doel om ’n begrip te kweek vir hoe tekstuele betekenisse konstrueer en oor tyd onderhandel is. Studente word aangemoedig om hulleself as produkte – en deelnemers in – hierdie tradisies, idees en waardes te verstaan. Toepaslike voorbeelde sal vanuit, onder andere, die Verligting, Modernisme, Eksistensialisme, Postmodernisme en Postkolonialisme gebruik word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is ontwerp vir eerstejaar-ingenieurstudente. Studente sal nie vir meer as een van die volgende modules krediet ontvang vir hul graad nie: WTW 146, WTW 148, WTW 124 en 164.

    Vektoralgebra met toepassings op lyne en vlakke in die ruimte, matriksalgebra, stelsels van lineêre vergelykings, determinante, komplekse getalle, faktorisering van polinome en keëlsnitte.  Integrasietegnieke, oneintlike integrale. Die bepaalde integraal, hoofstelling van Calculus. Toepassings van integrasie. Elementêre magreekse en die stelling van Taylor. Vektorfunksies, ruimtekrommes en booglengtes. Tweedegraadsoppervlakke en meer-veranderlike funksies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Elektriese groothede, eenhede, definisies, konvensies. Elektriese simbole, ideale en praktiese stroom- en spanningsbronne, beheerde bronne. Ohm se wet in weerstandsbane, Kirchoff se stroom- en spanningswette, serie- en parallelweerstande, spanning- en stroomverdeling, lusstroom- en puntspanningsmetodes. Netwerkstellings: lineariteit, superposisie, Thevenin- en Norton-ekwivalentebane, brontransformasie, drywingsberekening, maksimum drywingsoordrag. Energiestoorelemente: stroom, spanning, drywing en energie in induktore en kapasitore, serie- en parallelkombinasies van induktore en kapasitore. Ideale operasionele versterkers en toepassings: omkeer- en nie-omkeerversterkers, sommeerders, stroombronne, integreerders.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs bywoningsmodule Die module word aan die einde van die eerste studiejaar aangebied. Die duur is minstens agt dae waartydens die studente opleiding in die volgende werkswinkels ontvang: bekisting, steierwerk, messelwerk en struktuurstaal. ’n Bevredigende verslag moet binne twee weke na aanvang van lesings in die begin van die tweede studiejaar ingedien word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is ontwerp vir eerstejaar-ingenieurstudente. Studente sal nie vir meer as een van die volgende modules krediet ontvang vir hul graad nie: WTW 158, WTW 114, WTW 134, WTW 165.
    Inleiding tot vektoralgebra. Funksies, limiete en kontinuïteit. Differensiaalrekening van eenveranderlike funksies, tempo van verandering, krommesketsing, toepassings. Die middelwaardestelling, L'Hospital se reël. Die onbepaalde integraal, integrasie.

    Sien meer

Minimum krediete: 152

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die module word ingesluit in alle voorgraadse akademiese programme wat deur die Fakulteit aangebied word. Doelwitte: uitvoering van ‘n gemeenskapsverwante projek gerig op die bereiking van ’n voordelige effek op ’n gekose deel van die samelewing; ontwikkeling van ‘n bewuswording van persoonlike, sosiale en kulturele waardes en ’n begrip van sosiale aspekte; en ontwikkeling van lewensvaardighede Assessering: projekvoorstel, geskrewe vorderingsverslae, eweknie-assessering, assessering deur die gemeenskap, voordrag, verslag in die vorm van ’n webjoernaal.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sonnestelsel, aarde se struktuur en sisteme, plaattektoniek, klassifikasie van rots en minerale, die rotssiklus. Interne en eksterne geologiese prosesse, landskapformasie, invloed van die geologiese omgewing op die mens. Geologiese tyd en die aarde se geskiedenis. Praktiese sessies rakende die identifikasie en beskrywing van kristalle, minerale en rots.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Meetinstrumente en meettegnieke vir ingenieurstoepassings. Teorie van die Wheatstone-brug en die toepassing van rekstrokies vir meetinstrumente. Akkuraatheid, presisie, resolusie, histerese en lineariteit. Lasselle, drukmeters, verplasingmeters, spanningselle en hellingmeters. Verstelling en gebruik van meettafel, waterpas, kompas en teodoliet. Eenvoudige terreinopname. Definisie van opmeting. Koördinaatsisteme en rigtingshoeke. Hoogtebepaling. Tagimetrie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kommunikeer effektief, beide mondelings en op skrif, met ingenieursgehore en die breër gemeenskap. Geskrewe kommunikasie deur middel van toepaslike strukture, moderne of elektroniese kommunikasiemiddele; styl en taal vir die doel en die gehoor; gebruik effektiewe grafiese ondersteuning; gebruik inligtingsverskaffingsmetodes wat deur ander betrokke by ingenieurswese gebruik gaan word; voldoen aan die vereistes van die gehoor. Effektiewe mondelinge kommunikasie deur middel van die toepaslike struktuur, styl en taal; toepaslike visuele materiaal, kom vloot oor; voldoening aan die vereistes van die gehoor. Gehore kan wees mede-ingenieurs, bestuur en ander wat toepaslike akademiese of professionele diskoers gebruik. Getikte verslae strek tussen kort (300-1000 woorde plus diagramme) tot lang (10 000 tot 15 000 woorde plus tabelle, diagramme, verwysings en aanhangsels) wees en dek materiaal op uittreevlak. Metodes om inligting te verskaf sluit die bekende metodes in die dissipline is, byvoorbeeld ingenieurstekeninge en vakspesifieke metodes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geologiese oorsprong. Grondtoetse en -klassifikasiesisteme. Kompaksie. Stabilisasie. Bitumen en teer. Inleiding tot plaveisels. Oorsig van padboumateriale. Plaveiselontwerpbeginsels en -metodes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Lineêre algebra, eiewaardes en eievektore met toepassings op stelsels differensiaalvergelykings van eerste en tweede orde. Rye en reekse, konvergensietoetse. Magreekse met toepassings op gewone differensiaalvergelykings met veranderlike koëffisiënte. Fourier-reekse met toepassings op parsiële differensiaalvergelykings soos die potensiaal-, hitte- en golfvergelykings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie en oplosmetodes vir lineêre differensiaalvergelykings asook vir stelsels lineêre differensiaalvergelykings. Teorie en oplosmetodes vir eerste orde nie-lineêre differensiaalvergelykings. Die Laplace-transform met toepassing in differensiaalvergelykings. Toepassing van differensiaalvergelykings op modelleringsprobleme.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Calculus van meerveranderlike funksies, rigtingsafgeleides. Ekstreemwaardes.  Meervoudige integrale, pool-, silindriese en bolkoördinate. Lynintegrale en die stelling van Green. Oppervlakintegrale en die stellings van Gauss en Stokes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ingenieurstelsels is dikwels onderworpe aan variasie, onsekerheid en onvolledige inligting. Wiskundige statistiek verskaf die basis vir die effektiewe hantering en kwantifisering van hierdie faktore. Hierdie module sal ’n inleiding verskaf tot die konsepte van wiskundige statistiek en sal die volgende sillabustemas insluit: data-analise, waarskynlikheidsteorie, stogastiese modellering, statistiese inferensie en regressie-analise.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Staties onbepaalbare balke. Euler-knik van kolomme met verskillende randvoorwaardes; virtuele arbeid. Analise van staties onbepaalbare strukture deur gebruik van die metodes van superposisie, hellingdefleksie en momentverdeling (met swaai en beweging van ondersteunings).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Massamiddelpunte: massamiddelpunte van lyne, oppervlakke en volumes. Beperkings en statiese bepaalbaarheid. Ruimte vakwerke. Buigmomente en kabels: verspreide belastings, paraboliese en gelykmatige kettinglyne. Vloeistofstatika: dryfbaarheid. Elastisiteit: spanning-deformasie verwantskappe, styfheid, elastisiteitsmoduli, moduliverbande, wringing. Deurbuiging van balke: afleiding van differensiaalvergelyking, buigspannings. Wrywing: wrywingsvlakke, wîe, skroewe, bande, laers en rolweerstand. Arbeid en energie, virtuele arbeid. Vibrasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Spannings, vervormings en die meganiese eienskappe van materiale: Normaalspanning en skuifspanning, trekspanning en drukspanning, ewewig in skuif, veiligheidsfaktor, ontwerp, skuifvervorming, die spanning/vervorming diagram, Hooke se Wet, Poisson se Verhouding en die skuifspanning/vervorming diagram. Aksiale belastings: Elastiese vervorming, verplasings, staties bepaalbare en staties onbepaalbare strukture en termiese invloed. Torsie: Die torsie van ronde stawe en kragoordrag. Buig van reguit dele asook saamgestelde balke. Dwarsskuif: Skuif in reguit dele asook skuifvloei. Saamgestelde belastings: Dunwandige drukvate asook spannings as gevolg van gekombineerde laste. Spanningstransformasie: Vlakkespanning-transformasie, hoofspannings, maksimum waardes en spanningvariasie in prismatiese balke. Vervormingstransformasie: Vlakvervorming-transformasie, hoofvervormings, maksimum vervormings, rekstrokies en rosette, en die verwantskap tussen E, G en ?. Balkontwerp vanaf sniteienskappe. Defleksie van balke: Die elastiese kromme, integrasie-metode, Macaulay se metode en superposisie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Numeriese integrasie. Numeriese metodes om die oplossing te benader van nie-lineêre vergelykings, stelsels vergelykings (lineêr en nie-lineêr), differensiaalvergelykings en stelsels van differensiaalvergelykings. Direkte metodes om lineêre stelsels vergelykings op te los.

    Sien meer

Minimum krediete: 154

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Analise van simmetriese strukture met behulp van hellingdefleksievergelykings of momentverdeling; driedimensionele strukture en roosterstrukture; plastiese ontleding van rame; matriksmetodes; invloedslyne.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot vervoeringenieurswese; voertuigbeweging; analitiese tegnieke vir verkeer; verkeerstudies; kapasiteit- en diensvlakanalise; spoorweg-ingenieurswese; lughawekapasiteit; geometriese padontwerp, dwarssnit-, horisontale en vertikale ontwerp; stedelike strate; uitlegoorwegings en aansluitingsontwerp; padveiligheid; verkeerbeheer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eienskappe van gewapende beton. Beginsels van grenstoestandontwerp. Ontleding en ontwerp van snitte in buiging en gekombineerde buig en aksiale druk. Ontwerp vir skuif en torsie. Verband en verankering. Diensbaarheidvereistes. Detaillering en span-effektiewe diepte verhoudings. Ontwerp van voetstukke en slank kolomme. Ontwerp van balke, platblaaie, geribde blaaie, balk-en blad konstruksie. Slank kolomme en tweeassige buiging. Eenvoudige en gekombineerde voetstukke. Trappe en bordesse. Inleiding tot spanbeton.

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot grondmeganika. Inleiding tot klei-mineralogie. Massa, volumeverband en fases van grond. Grondwatervloei en permeabiliteit. Beginsel van effektiewe spanning. Suigpannings in versadigde sowel as onversadigde grond. Die Mohr-sirkel en spannings by ‘n punt. Die Mohr-Coulomb sterkte teorie en spannings-vervormings eienskappe van grond. Die Boussinesq-teorie. Konsolidasieteorie en versakking.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Toepassing van konsolidasieteorie. Dravermoë van grond en fondamentontwerp, Terzaghi en algemene metodes. Horisontale spannings in grond en die ontwerp van keermure, Rankine en Coulomb se metodes. Hellingstabiliteit met limiet-toestand ewewigsmetodes, insluitend Bishop se metode van snitte. Inleiding tot terreinondersoek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Vloeistofeienskappe en fundamentele eienskappe van toegepaste hidrostatika, hidrostatiese kragte op drywende voorwerpe en die stabiliteit daarvan. Kinematika, meting van snelheid en deurstroming. Pypvloei en werklike vloeistowwe. Basiese hoofkenmerke van watersuiwering en waterbehandeling.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Pypnetwerk ontledings en munisipale dienste. Komponente van waterverpreidingsnetwerke. Pompseleksie en waterslag-analise. Vryvlakstroming asook fisiese modelle.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die gedrag, eienskappe en gebruik van sement- en betonprodukte, struktuurstaal, veselversterking, polimere, messelwerk en bitumineuse materiale.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eie-gewig, opgelegdelas en windlas. Beginsels van limiet-staat ontwerp. Hout as struktuurmateriaal, ontwerp van trek-, druk- en buigdele (lateraal gesteun en ongesteun), balkkolomme, vakwerke en verspanning.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gevorderde bladtoepassings: Veldname, liniêre algebra, oplossing van stelselvergelykings, regressie, interpolasie, optimisasie en tabelmanipulasie. Basiese gestruktureerde programmering: Lisvorming, vertakking, subroetines, iterasie, lees en skryf van datalêers. Ontwikkeling, kodering en oplos van eenvoudige programme in hoëvlak programmeringstaal. Programbeginsels word deur middel van wiskundige konsepte soos beperkinge, differensiasie, integrasie en liniêre algebra aangetoon. Gestruktureerde programmering deur gebruikmaking van funksies en beskikbare toepassings. Basiese grafiese uitsette (kartering word ook gedek). Verskillende inligtingsbronne, soek en bestuur van inligting. Gebruik van databasisse. Ontwikkeling van webblaaie. Hardewareinteraksie en beheer van toerusting en stelsels.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    Introduction to engineering economics: Basic guidelines, assessment of alternative investment possibilities. Equal annual cash flow, current value, internal rate of return, cost benefit relationship. 
    Economic evaluation of projects: Influence of depreciation on the economics of projects, determination of income tax implications of decisions, economic analysis of multiple alternatives, the influence of inflation on the economics of projects, application of the theory of probability for economics studies, economic studies on the replacement of equipment.

    Sien meer

Minimum krediete: 158

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die module fokus op toepassings in detailontwerp. Die student voer detailontwerp uit in die klassieke dissiplines soos strukture, geotegnies, hidroulika en vervoer. Die studieleiers kies die mees verteenwoordigende toepassings met die oog daarop om die student voor te berei vir praktyk. Tipiese voorbeelde is as volg: • Strukture: Meerverdiepinggeboue met gewapendebetonrame en blaaie • Hidroulika: Pypleidings en pompstasies • Geotegnies: Slikdamme en hellingstabiliteit • Vervoer: Vervoerimpakstudies, plaveiselontwerp en analise Die temas van die ontwerptoepassings mag verskil van jaar tot jaar.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ontwerp en ontleed saamgestelde staalbalke en betonbladkonstruksie, momentverbindings, elastiese en plastiese ontwerp van portaal-, nywerheid- en geboustrukture.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Twee dae per week moet in die eerste semester deur finalejaarstudente gebruik word vir die uitvoering van 'n analitiese en/of eksperimentele navorsingsprojek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs bywoningsmodule Gedurende of aan die einde van die derde studiejaar moet siviele ingenieursstudente ten minste 6 weke voorgeskrewe opleiding in die bedryf deurmaak. ‘n Aanvaarbare verslag oor die praktiese opleiding moet binne een week na registrasie by die Studenteadministrasie ingedien word.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module sal kommersieel beskikbare rekenaarpakkette gebruik word om modelle  gebaseer op Eindige Elemente, Eindige Verskille en ander benaderings te ontwikkel.  Beperkinge en basiese kontroles wat uitgevoer kan word om die niestrydigheid van algemeen gebruikte ontwerpsagteware te illustreer.  Basiese beginsels en tegnieke sal bespreek word en die effek van aspekte soos element keuse, randtoestande en materiaaleienskappe sal ondersoek word. Toepassings binne die verskillende velde van siviele ingenieurswese sal ondersoek word en resultate verkry deur modellering sal vergelyk word met eksperimentele resultate.  Die module sluit groepwerk en multidissiplinêre probleme in.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sedimentvervoer, hidrouliese strukture, brug- en duikerhidroulika, stormwaterhantering. Hidrologie, vloedhidrologie, opstelling van aflooprekords en simulasie van bogrondsewaterbronne, opstelling van stogastiese volgordes en die betroubaarheidsanalise van bogrondsewaterbronne.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Raamwerk van regulasies, terreinondersoek, -herstel en afvalwegdoening, soorte en eienskappe van afval. Vervoer van ondergrondse besoedeling. Meervoudige fase vloei. Ontwerp van afvalinperking- en afvalwegdoeningstelsels. Oorsig van alternatiewe herstelbenaderings met klem op in situ-tegnologie. Gevallestudies. Geïntegreerde omgewingsbestuursprosesse. Omgewingswetgewing in Suid-Afrika. Omgewingsimpak, omgewingsoudit en risikobeoordeling. ISO 140000: wat behels dit en hoe dit toegepas word. Gemeenskapsdeelname.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Vereiste om deurgaanse vaardighede te behou en op hoogte van die jongste metodes en tegnieke te bly. ECSA-gedragskode. Deurlopende Professionele Ontwikkeling, ECSA-uitkomste, ECSA-proses en redes om as CEng en PrEng te registreer. Toon ’n begrip vir die professionele ontwikkelingsisteem. Aanvaar verantwoordelikheid vir eie optrede. Toon oordeelvermoë mbt besluitneming gedurende probleemoplossing en ontwerp. Beperk besluitneming tot huidige vaardigheidsareas. Gaan sinvol om en oordeel oor etiese aspekte binne gevallestudies. Toon vaardigheidsgrense in probleemoplossing en ontwerp aan. Gevallestudies tipies aan ingenieurspraktyk-situasies waarin die student waarskynlik sal deelneem.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gedrag en ontwerp van balke, blaaie (solied, gerib en kofferblaaie, plat plate en plat blaaie), kolomme (slank kolomme en twee-assige buiging), voetstukke (eenvoudige en kombinasievoetstukke) en trappe. Inleiding tot die ontwerp van voorspanbetonbuigelemente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die basiese konsepte van stedelike en streeksbeplanning.  Die beplanningsprosesse, beleid en institusionele raamwerk waarin beplanning plaasvind in SA.  Die interaksie en samewerking van ruimte en grond, ekonomie, politiek en sosiale aspekte van ruimte in besluitneming.  Intervensies vir volhoubare ontwikkelingsbeplanning en -ontwerp, die definisie en oorwegings van grondgebruikbestuur en die strategiese en geïntegreerde ontwikkelingsbeplanningsproses.  Stelselevaluering, risikobepaling, uitvoerbaarheid en besluitneming.  Lewensikluskoste van infrastruktuur.  Analise van vraag en aanbod.  Voorspelling van die aanvraag vir dienste.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beplanning, behoeftebepaling en prestasie-indikators vir siviele ingenieurskontrakte, Siviele Ingenieursprojek: Kliënt-, konsultant- en kontrakteurverwagtinge en -verantwoordelikhede, tenderproses, konstruksieproses, toepassing van OHS Wet, toepassing van die Myn, Gesondheids- en Veiligheidswet, kontrakvoorwaardes, ingenieursekonomie, versekering, programmering, kosteberaming van konstruksieaktiwiteite, 150 9001: Kwaliteitsbestuurstelsels, lewensikluskonsepte, onderhoudsiklus, onderhoudsbestuur.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share