Jaarboeke

Program: BPhysio Fisioterapie

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10138103 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 420
Contact:
Prof DJ Mothabeng
[email protected]
+27 (0)123563233

Programinligting

‘n Gewysigde leergang word vir die program ingefaseer. Die gewysigde eerste jaar van studie sal vir die eerste keer in 2015 gevolg word, die tweede jaar van studie in 2016, die derde jaar van studie in 2017 en die vierde jaar van studie in 2018.

Die program duur vier akademiese jare, waartydens ’n student kliniese opleiding as studentfisioterapeut ontvang aan ’n inrigting deur die Universiteit goedgekeur.

Studente kan toegelaat word om die eerste twee jaar oor drie jaar te voltooi. In sulke gevalle word die modulekeuse by aanvang van die program in oorleg met die departementshoof gedoen.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat in besit is van ‘n sertifikaat wat deur die Universiteit beskou word as ekwivalent aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met universiteitsvrystelling, ‘n kandidaat wat aan ‘n ander tersiêre instelling gegradueer het of aan wie die status van ‘n gegradueerde van sodanige instelling toegeken is, en ‘n kandidaat wat aan ‘n ander fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gegradueer het.
  • Lewensoriëntering word van die TPT-berekening uitgesluit.
  • Graad 11 se finale-eksamenuitslae, die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT) se uitslae en ‘n Toegevoegdewaardevraelys sal vir die voorlopige toelating van voornemende studente gebruik word.
  • Toelating tot Gesondheidswetenskappeprogramme is onderhewig aan ‘n keuringsproses.
  • Aansoeke van internasionale kandidate wat van lande kom met mediese opleidingskole sal nie oorweeg word vir plasing in die MBChB program nie, behalwe waar interregeringssamewerkingsooreenkomte in plek is.
  • Die som van die uitslae van ses vakke, waaronder Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskap, word vir keuringsdoeleindes bereken.
  • Kandidate, neem asseblief kennis dat jou TPT nie met meer as twee punte mag daal in die uitslae van jou finale skooleksamen nie ten einde jou voorlopige toelating te behou.
  • NEEM ASSEBLIEF KENNIS dat voldoening aan die minimum toelatingsvereistes nie noodwendig toelating tot enige program in hierdie Fakulteit waarborg nie.
  • Navrae oor keuring kan gerig word aan [email protected].
 

 

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

Fisiese Wetenskap

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

4

3

D

D

4

3

D

D

4

3

D

D

30

 

Addisionele vereistes

Sien ook die Algemene Regulasies.

Let wel:

  1. Die 2014 Jaarboekregulasies sal op studente wat voor 2015 vir die BPhysT-graadprogram geregistreer het, van toepassing wees.
  2. Elke student in Fisioterapie moet onmiddellik na toelating tot die eerste studiejaar by die Registrateur van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aansoek doen om geregistreer te word as student in Fisioterapie.

Ander programspesifieke inligting

Eerste studiejaar
Praktiese verpleging
Praktiese verpleging vir ’n aaneenlopende periode van 40 uur, moet bevredigend voltooi word in ’n goedgekeurde hospitaal/fasiliteit ná afloop van die eksamenperiode in November in die eerste studiejaar. Dokumentêre bewys van hierdie periode van verpleging moet voorgelê word.
Subminimum
’n Subminimum van 40% word in die teoretiese sowel as die praktiese eksamen in FTP 100 vereis.

Tweede studiejaar
Basiese noodsorg (Kode GNK 286)

  • Studente wat in Basiese noodsorg 60% of meer behaal het, se punt word aan die einde van die jaar as die eksamenpunt vir die module bekragtig en sodanige studente word dan vrygestel van die eksamen in die module.
  • ’n Tweede eksamen vir studente wat tussen 40% en 49% in die berekende punt vir die module behaal, word in November/Desember van dieselfde jaar of in Januarie van die volgende jaar afgeneem. ’n Minimum van 50% word vereis om in die tweede eksamen te slaag.
  • Die eksamen dien ook as siekte- of buitengewone eksamen vir die studente wat weens gesondheids- of ander aanvaarbare redes die eksamen nie kon aflê nie, mits die student formeel aansoek gedoen het om sodanige eksamen te mag aflê en die aansoek deur die departmentshoof, dekaan en in bepaalde gevalle ook die Gesondheids-komitee van die Fakulteit goedgekeur is.

Subminimum
 ’n Subminimum van 40% word in die teoretiese en die praktiese komponente in die eksamen in FTP 220 en 203 en IHL 210 vereis.

Derde studiejaar
Subminimum
 ’n Subminimum van 40% word vereis in die teoretiese en praktiese/kliniese eksamen in (FTP) Fisioterapie 300, (FTP) Fisioterapie kliniese praktyk 301 en in (IHL) Geïntegreerde gesondheidsorgleierskap 310, 324.

Vrystelling van die eksamen in (ANP) Anatomiese Patologie 210
Vrystelling van die eksamen mag verleen word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as die finale punt te aanvaar.

Vrystelling van die eksamen in (FAR) Farmakologie 381, 382
Vrystelling van die eksamen kan toegestaan word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as finale punt te aanvaar.

Eksamens en slaagvereistes

Studente wat in die bestaande leergang ‘n jaar druip, sal op ‘n individuele basis deur die Department Fisioterapie hanteer word.

Spesiale eksamen: Vierde studiejaar

  1. Die student kry weer ’n geleentheid om eksamen af te lê.
  2. ’n Spesiale eksamen in (FTP 400) Fisioterapie 400, (FTP 402) Fisioterapie kliniese praktyk 402 (IHL 414, 424) Geïntegreerde gesondheidsorgleierskap 414, 424 vind plaas nadat ses maande verloop het sedert die eksamen waarin die student gedruip het. Indien die student (FTP 402) Fisioterapie kliniese praktyk 402 gedruip het, moet hy of sy verdere kliniese onderrig in die kliniese opleidingsareas ondergaan en minstens 50% in die eksamen behaal.
  3. Indien ’n student nie die vereiste slaagsyfer in die navorsingsverslag van (RHC 400) Navorsing in gesondheidsorgwetenskappe 400 behaal nie, moet ’n verbeterde navorsingsverslag op ’n later datum, deur die departmentshoof vasgestel, voorgelê word.

Aanvullende eksaminering: Vierde studiejaar
Na afloop van die eksamen in (FTP 400) Fisioterapie 400 en (FTP 402) Fisioterapie kliniese praktyk 402 en voordat die uitslae bekend gemaak word, kan die eksaminatore met die oog op die toekenning van die finale punt, ’n student versoek om ’n aanvullende eksamen in die teorie en/of kliniese komponent van (FTP 400) Fisioterapie 400 en (FTP 402) Fisioterapie kliniese praktyk 402 af te lê.

  • Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies is daar geen minimum jaar- of semesterpunt wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie en kry alle geregistreerde studente outomaties toelating tot die eksamen.
  • Die finale punt vir 'n bepaalde module in Verpleegkunde, Fisioterapie, Radiografie, Arbeidsterapie en Mensvoeding (minstens 50% word vereis om te slaag) word bereken uit die eksamenpunt sowel as die punt saamgestel uit die evaluasie van 'n student tydens deurlopende, objektiewe en gekontroleerde assesserings-geleenthede gedurende die kwartaal/semester/jaar. Minstens een formele assessering per module word as die minimum norm in dié verband gestel, en studente sal deurgaans op ’n gereelde grondslag aan selfgerigte leeropdragte blootgestel word ten einde selfgerigte leer te bevorder.
  • In die geval van modules met praktiese komponente word vereis dat die studente aan al die toepaslike bywoningsvereistes met betrekking tot die bemeestering van praktiese vaardighede voldoen alvorens ’n slaagpunt vir die module verwerf word.
  • Daar is twee hoofeksamengeleenthede per jaar, die eerste en tweede eksamen. Ten opsigte van eerstesemestermodules is die eksamengeleentheid in Mei/Junie en die tweede eksamengeleentheid in Julie. Ten opsigte van tweedesemester-modules is die eerste eksamengeleentheid in Oktober/November en die tweede eksamengeleentheid in November/Desember van dieselfde jaar. In gevalle waar studente addisionele kliniese werkure moet voltooi om tot ’n tweede eksamen toegelaat te word, sal die departementshoof die tweede eksamengeleentheid bepaal.
  • Slegs twee eksamengeleenthede per module is toelaatbaar. Indien ’n student ’n module tydens die tweede eksamengeleentheid druip, moet die betrokke module herhaal word.
  • 'n Tweede eksamengeleentheid in ’n module word in die volgende gevalle aan studente verleen:

- Indien ’n student ’n finale punt van minder as 50% in die betrokke module gedurende die eerste eksamengeleentheid behaal het en dus druip.
- Indien ’n student nie die subminimum in die eksamen, wat vir ’n bepaalde module vereis word, behaal het nie.
- Indien ’n student weens siekte of buitengewone omstandighede nie die eksamen in ’n module gedurende die eerste eksamengeleentheid kon aflê nie.

  • Studente wat weens bogemelde redes die tweede eksamen wil aflê, moet 24 uur na die uitslae ontvang is, registreer vir die tweede eksamengeleentheid.
  • Indien ’n student ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid gedruip het, word die eksamenpunt wat hy of sy tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal, as die finale punt verreken. Die punte wat met die deurlopende evaluering gedurende die kwartaal/semester/jaar verwerf word, word nie in berekening gebring nie. Indien die student die module tydens die tweede eksamengeleentheid slaag, word nie meer as 50% as slaagpunt in die betrokke module toegeken nie.
  • Indien ’n student as gevolg van siekte of buitengewone omstandighede nie aan die eksamen in ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid kon deelneem nie, word die deurlopende evalueringspunt, tesame met die eksamenpunt wat tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal is, as die finale punt in die module behaal, bereken.
  • Die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe pas die bepalings van die Algemene Regulasies toe. Daarvolgens mag ’n student wat ’n beperkte aantal modules uitstaande het ten einde aan graadvereistes te kan voldoen, kragtens fakulteitsregulasies tot ’n spesiale eksamen daarin toegelaat word.

Bevordering tot volgende studiejaar

Gekeurde eerstejaarstudente wat ’n voldoende hoeveelheid eerstesemester-modules op 100-vlak geslaag het, word onderworpe aan die bepalings van die Algemene Regulasies, outomaties tot die tweede semester van die eerste studiejaar toegelaat. Gedurende die tweede semester kan die ontbrekende module(s), op ’n antisemesterbasis geneem word, en eksamen afgelê word, mits die betrokke departement dit as sodanig aanbied en indien daar geen lesing- en eksamenroosterbotsings sal wees nie.

Modules/vakke met praktiese en kliniese opleidingskrediete kan nie geslaag word alvorens al die voorgeskrewe kliniese ure en praktiese vaardighede tot die bevrediging van die departementshoof voltooi is nie.

  • 'n Student moet al die voorgeskrewe kernmodules van 'n spesifieke studiejaar slaag ten einde bevorder te kan word tot die daaropvolgende studiejaar. 'n Student kan slegs tot 'n volgende studiejaar bevorder word indien hy of sy nie meer as twee fundamentele modules van sewe weke elk per semester of een module van 14 weke per semester gedruip het nie. ’n Ononderhandelbare voorvereiste vir toelating tot die finale studiejaar is slaagpunte in al die kern- en fundamentele modules van die voorafgaande studiejare.
  • Raadpleeg die Jaarboek vir fundamentele modules in elke dissipline.
  • 'n Slaagpunt verwys na 'n finale punt van minstens 50%.
  • Modules met krediete vir praktiese werk en kliniese opleiding kan nie geslaag word nie, alvorens al die voorgeskrewe kliniese ure en praktiese aktiwiteite tot die bevrediging van die departementshoof voltooi is.
  • Die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering mag na beoordeling van die student se totale profiel, spesiale toestemming aan die student verleen/toestaan om tot 'n volgende studiejaar bevorder te word.
  • Die uitsondering is die Departement Mensvoeding, waar die regulasies van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe ten opsigte van die modules deur daardie Fakulteit aangebied, van toepassing is.
  • Modules kan slegs vooruitgeneem of herhaal word indien dit in die bestaande eksamenrooster geakkommodeer kan word.
  • 'n Student wat 'n studiejaar herhaal, mag met die toestemming van die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering en die betrokke departementshoof, toegelaat word om fundamentele modules van die daaropvolgende jaar te neem, mits hy of sy aan die voorvereistes vir die betrokke modules voldoen. Geen aanpassing van bestaande roosters sal toegelaat word nie. Die volgende fundamentele modules is ter sprake:

Departement Verpleegkunde: SLK 110, 120; FSG 251, 252.

  • Departement Fisioterapie: SOH 254; FSG 251, 252, 261, 262, SLK 210
  • ANP 210, GMB 252, 253, 254, FAR 381, 382
  • Departement Arbeidsterapie: ZUL 110; SEP 110; SLK 210, 220;
  • FSG 251, 252, 261, 262; ANP 210; RPD 481; GNK 286
  • Departement Mensvoeding:  FLG 211, 212, 221, 222;
  • BCM 251, 252, 261, 262; FAR 381, 382, VDS 322; VDB 321
  • Departement Radiografie:  FSG 251, 252, 262; GNK 286; ANP 210.

Slaag met lof

Om die graad met lof te verwerf, moet ’n student minstens 75% in (FTP 400) Fisioterapie 400 en (FTP 402) Fisioterapie kliniese praktyk 402 asook ’n gesamentlike gemiddelde van minstens 75% in (RHC 400) Navorsing in gesondheidsorgwetenskappe 400 en (IHL 414, 424) Geïntegreerde gesondheidsorgleierskap 414, 424 behaal.

Minimum krediete: 140

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Anatomie van die kop en nek, asook neuro-anatomie Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die kop en nekgebiede, sintuie en die sentrale en perifere senuweestelsels (kraniaalsenuwees, outomone senuweestelsel), asook die oppervlaksanatomie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Anatomie van die aanhangskelet Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die spiere, bloedvate, senuweevoorsiening, limfdreinering en gewrigte van die boonste en onderste ledemate, asook die oppervlaksanatomie. Inleidende histologie behels spierweefsel, senuweeweefsel, bloed en hemopoïetiese weefsel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eenhede, vektore, kinematika, dinamika, arbeid, ewewig, klank, vloeistowwe, warmte, termodinamiese prosesse, elektriese potensiaal en kapasitansie, direkte en wisselstroom, optika, atoomfisika, X-strale, radioaktiwiteit.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verkry, evalueer, verwerk, bestuur en bied inligtingsbronne vir akademiese doeleindes aan deur gebruik te maak van toepaslike tegnologie. Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Vind, evalueer, prosesseer, bied inligtingbronne aan en bestuur hulle vir akademiese doeleindes deur die gepaste tegnologie te gebruik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van algemene terminologie, embriologie, osteologie. Inleidende histologie behels sitologie, kern en seldeling, epitele, algemene bindweefsel en kraakbeen en been.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Body fluids; haematology; cardiovascular physiology, lymphatic system, and body defence mechanisms.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Academic reading as well as academic writing and presentation skills, based on the approach followed in the healthcare sciences. *Presented to students in Health Sciences only.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie: Inleiding tot algemene chemie: Meting in chemie, materie en energie, atoomteorie en die periodieke tabel, chemiese verbindings en chemiese bindings, kwantitatiewe verwantskappe in chemiese reaksies, fases van materie en die kinetiese teorie, oplossings en kolloïde, sure, basisse en ioniese verbindings, chemiese ewewig. Inleiding tot organiese chemie: Chemiese binding in organiese verbindings, aard, fisiese eienskappe en benaming van eenvoudige organiese molekules, isomerie, chemiese eienskappe van alkane en sikloalkane, alkene, alkohole, aldehiede en ketone, karboksielsure en esters, amiene en amiede, koolhidrate, proteïne en lipiede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Introduction to physiological principles; neurophysiology, and muscle physiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module gedurende semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ‘n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in isiZulu waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die toraks met inhoud, abdomen met inhoud en bekken met inhoud (organe, vaskulêre stelsels, senuweevoorsiening, limfdreinering, spiere en gewrigte), asook die oppervlaksanatomie. Inleidende histologie behels die histologie van die longe, lewer en niere.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners. *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module tydens semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ’n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in Sepedi waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Algemene oriëntering tot die sielkunde. Inleiding tot verskillende teoretiese benaderings in en die ontwikkeling van die sielkunde as wetenskap word behandel.  Geselekteerde temas uit die alledaagse lewe word bespreek en met sielkundige beginsels geïntegreer. Hierdie module fokus ook op sentrale persoonlikheidsteorieë. 'n Inleiding tot verskillende paradigmatiese benaderings in die sielkunde word gegee.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Study of specific language skills required in the Health Care Sciences, including interviewing and report-writing skills. *Presented to students in Health Sciences only.   (BCur, BDietetics, BOH, BOT, Brad, BPhysT)*

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Multidissiplinêre spanwerk. Gesondheidsorgsisteme en -wetgewing. Determinante van gesondheid. Inleiding tot gesondheidsorgmodelle (bv Gemeenskapsgebaseerde sorg, gesin-gesentreerde sorg, ens). Professionalisme. Etiese beginsels. Bestuur van diversiteit. NB: Slegs vir Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene inleiding en oriëntering tot fisioterapie, PBL-vaardighede en bewysgebaseerde benadering tot fisioterapie.
    Inleiding tot biomeganika, terminologie, passiewe bewegings, meting van omvang van beweging, kliniese besoeke en pasiënthantering.
    Kinetika: asse, vlakke, hefbome, effek van swaartekrag op die menslike liggaam. Toegepaste elektrobiomeganika: Inleiding tot straling, hoëfrekwensie, ultraklank, kortgolf-diatermie, laser, ultraviolet, infrarooi straling.
    Inleiding tot manuele terapie: algemene inleiding tot massering, evaluering van sagte-weefsel, tipes massering, effekte en gebruike, modaliteite, toepassing op menslike liggaam.
    Menslikebewegingswetenskap: inleiding tot biomeganika, studie van menslike beweging, funksionele evaluering, spiertoetsing, tipes spierwerk, kinematika: analise van beweging, motoriese beheer en postuur, eienskappe van normale beweging. Toegepaste elektrobiomeganika, Inleiding tot mediumfrekwensiestrome, Russiese strome. Pulmonologie.
    Let wel: Fisioterapie word op ‘n probleemgebaseerde en geïntegreerde wyse aangebied.

    Sien meer

Minimum krediete: 128

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Applied pathophysiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie en praktiese inoefening van basiese noodsorg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Nutrition, digestion and metabolism, hormonal control of body functions and the reproductive systems. 
    Practical work: endocrine system, reproductive system, pregnancy test.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sistemiese bakteriologie. Bakteriële infeksies wat algemeen voorkom en die bakterieë wat dit veroorsaak.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene beginsels van patologie, insluitend nekrose, omkeerbare selbeskadiging, herstel en afwykings van groei, versteurings van die sirkulasie, akute en chroniese ontstekings, indeling van verspreiding van tumore en karsinogenese. Gerigte kursus in sistematiese patologie, met spesifieke verwysing na kardiovaskulêre stelsel, respiratoriese stelsel, lokomotorstelsel en neuropatologie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Structure, gas exchange and secretory functions of the lungs; build, excretory and non-urinary functions of the kidneys, acid-base balance, as well as the skin and body temperature control.
    Practical work: lung functions/spirometry, kidney function tests – side-room urine examinations. Digestion. Metabolism. Pathophysiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Infeksie, immuniteit en basiese bakteriologie. Inleiding en basiese beginsels van infeksie, sterilisasie en die immuunstelsel. Bakteriële selle en die klassifikasie van siekteveroorsakende bakterieë.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Fungi, parasitologie en virologie. Fungus-, virale en parasietinfestasies en -infeksies wat algemeen voorkom, en die organismes wat dit veroorsaak.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Special neuro and muscle physiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word menslike ontwikkeling vanaf konsepsie tot adolessensie, asook volwassenheid aan die hand van verskillende teoretiese modelle bespreek. Dit sluit in ontwikkelingsveranderinge ten opsigte van kognitiewe, fisieke, emosionele en sosiale funksionering en die konteks van werk. Tradisionele en kontemporêre teorieë oor menslike ontwikkeling in hierdie fases word bestudeer ten einde die kernvraagstukke wat tydens die kinderjare en volwassenheid relevant is, te verstaan en verklaar.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Beginsels van projekbestuur. Kommunikasiebeginsels. Gesondheidsbevordering en -onderrig, voorspraak en geletterdheid. Berading vir gesondheidsgedragverandering. NB: Slegs vir Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kandidate bestudeer die epidemiologie, prevalensie en insidensie van geselekteerde kliniese toestande.
    Studente doen kliniese ervaring op deur die behandeling van geselekteerde kliniese toestande in verskeie gesondheidsorginstansies, praktyke en klinieke.
    ‘n Teoretiese en kliniese eksamen word na afloop van die module afgeneem.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die probleemgebaseerde leerbenadering tot die beginsels van menslike bewegingswetenskap manuele terapie vir sagteweefsel en elektrobiomeganika.  Dit word toegepas deur die geselekteerde kliniese toestande van die toraks, bekken en heupgewrig wat oor die totale lewensiklus voorkom, gebruik te maak. 
    Die probleemgebaseerde benadering tot die behandeling van geselekteerde kliniese toestande van die knie-, enkel- en voetkompleks oor die totale lewensiklus deur die toepassing van die beginsels van menslike bewegingswetenskap manuele terapie vir sateweefsel en elektrobiomeganika.

    Sien meer

Minimum krediete: 147

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Inleiding, reseptore, antagonisme, kinetiese begrippe. Middels wat inwerk op die outonome en sentrale senuweestelsel. Geneesmiddelbehandeling van hipertensie, angina pectoris, miokardiale infarksie, hartversaking, hart-aritmieë, en epilepsie. Diuretika, glukokortikosteroïede, lokale verdowers, narkosemiddels, analgetika, yster en vitamiene, onkostatika, immuunonderdrukkers.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gemeenskapsbehoefteberaming. Gemeenskapsontwikkeling. Beplanning en implementering van samewerkende gemeenskapsgebaseerde tussentrede. Toepassing van beginsels van monitering en evaluering. NB: Slegs vir Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hormone, geneesmiddels wat inwerk op histaminerge, serotonerge en dopaminerge reseptore. Geneesmiddelbehandeling van diabetes mellitus, skisofrenie, depressie, vetsug, angs, insomnia, spysverteringskanaalsiektes. Antistolmiddels, antimikrobe middels.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sterwensbegeleiding; voorkoming en hantering van seksuele teistering; gee en ontvang van terugvoering; self- en tydsbestuur; reflektiewe sorg; praktyk; die Internasionale Klassifikasie van Funksionering, Gestremdheid en Gesondheid (IKF), werk met middelvlakwerkers; leierskapbestuur en gesondheidsgebaseerde parktyk; etiek in die fisioterapiepraktyk; regs-mediese dokumentasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Navorsingskonsepte; navorsingsproses; navorsingsondersoek; beplanning en ontwikkeling van ’n literatuuroorsig; ontwikkeling van ’n navorsingsidee en navorsingsvraag; navorsings-beginsels in die ontwerp van ’n navorsingsvoorstel; skryf van ’n navorsingsvoorstel.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Omvattende kliniese hantering van pasiënte met aanmeldbare en nie-aanmeldbare siekte en ander toestande, pasiënte met ‘n aantasting of gestremdheid as gevolg van die impak van fisiese/ekonomiese/politiese en psigo-sosiale omgewing op gesondheid en welstand, gesondheidsbevordering, en ontwikkeling van sportwetenskap. Omvattende kliniese hantering word toegepas waar relevant, in kindergesondheid (Pediatrie), adolessensie, gesondheid en siekte in die middeljare, in volwasse gesondheid en in geriatrie, leefstylsiektes, chroniese siekte, impak van HIV op gestremdhied, slagoffers van trauma en/of geestelike gesondheidstoestande.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teorie van omvattende fisioterapeutiese hantering (voorkomend, bevorderend, genesing en rehabilitasie) van aanmeldbare, nie-aanmeldbare en infektiewe toestande, lewenstylsiektes, chroniese siekte, die impak van MIV op gestremdheid en op pasiënte wat trauma en psigiese aantasting het. Impak van fisiese/ekonomiese/politiese/ psigososiale omgewing op gesondheid en welstand, gesondheidsbevordering en ontwikkeling en sportwetenskap. Omvattende fisioterapie hantering word toegepas op kindergesondheid, tydens kinderjare, adolessente gesondheid, volwasse gesondheid en siekte in die middeljare asook geriatrie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gemeenskapsbehoefteberaming. Gemeenskapsontwikkeling. Beplanning en implementering van samewerkende gemeenskapsgebaseerde tussentrede. Toepassing van beginsels van monitering en evaluering. NB: Slegs vir Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Etiese bestuur van gemeenskapsfisioterapieprogramme, insluitende fisioterapie-aspekte van gemeenskapsgebaseerde primêre sorg. Volgehoue professionele ontwikkeling, privaatpraktykbestuur en arbeidsreg.

    Sien meer

Minimum krediete: 113

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Etiese bestuur van gemeenskapsfisioterapieprogramme, insluitende fisioterapie-aspekte van gemeenskapsgebaseerde primêre sorg. Volgehoue professionele ontwikkeling, privaatpraktykbestuur en arbeidsreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Uitvoeringsproses om etiese goedkeuring te kry, data-insameling, data-analise, navorsings-verslagskrywing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gevorderde omvattende fisioterapeutiese hantering van pasiënte met aanmeldbare en nie-aanmeldbare siektes en toestande. Dit behels lewenstylsiektes, chroniese siektes, die impak van MIV op gestremdheid, slagoffers van trauma, en geestesgesondheid. Die impak van fisiese, ekonomiese/politiese/psigososiale omgewing op gesondheid en welstand, bevordering van gesondheid en ontwikkeling op sportwetenskap. Die omvattende fisioterapeutiese hantering van pasiënte is van toepassing op pasiënte van alle ouderdomme waar toepaslik op pediatrie, kindergesondheid, adolessensie, vroue- en manlike gesondheid, en gesondheid en siekte in die middeljare en in geriatrie, leefstylsiektes, chroniese siekte, impak van MIV op gestremdheid, trauma-slagoffers en/of 'n geestesgesondheidstoestand,  en spreek die determinante van gesondheid oor die totale lewenspan aan.
    Die module sluit 800 ure kliniese ondervinding in ‘n verskeidenheid gesondheidscenario’s in.
    Eksamenperiode: Oktober/November.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Insluiting van geïntegreerde gesondheidsorg in die praktyk. Aanspreek van etiese uitdagings in gesondheidsorg. Ontwikkeling van ambassadeursvaardighede in professionele aktiwiteite (plaaslik/nasionaal/internasionaal). Risiko- en batebestuur. Strategiese en sistematiese bestuur van ’n gesondheidsorgeenheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gevorderde omvattende fisioterapeutiese hantering van pasiënte met aanmeldbare en nie-aanmeldbare siektes en toestande. Dit behels lewenstylsiektes, chroniese siektes, die impak van MIV op gestremdheid, slagoffers van trauma, en geestesgesondheid. Die impak van fisiese, ekonomiese/politiese/psigososiale omgewing op gesondheid en welstand, bevordering van gesondheid en ontwikkeling op sportwetenskap. Die omvattende fisioterapeutiese hantering van pasiënte is van toepassing op pasiënte van alle ouderdomme waar toepaslik op pediatrie, kindergesondheid, adolessensie, vroue- en manlike gesondheid, en gesondheid en siekte in die middeljare en in geriatrie, leefstylsiektes, chroniese siekte, impak van MIV op gestremdheid, trauma-slagoffers en/of 'n geestesgesondheidstoestand,  en spreek die determinante van gesondheid oor die totale lewenspan aan.
    Die module sluit 800 ure kliniese ondervinding in ‘n verskeidenheid gesondheidscenario’s in.
    Eksamenperiode: Oktober/November.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences