Jaarboeke

Fakulteit Gesondheidswetenskappe

Fakulteitsregulasies en -inligting

Die regulasies ten opsigte van grade wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan voor die aanvang van die akademiese jaar gewysig word.

Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sal wees. Onkunde betreffende hierdie regulasies sal nie as 'n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Raadpleeg ook die Algemene Reëls en Inligting op die Jaarboek-webblad vir bykomende inligting.

1. Keuring

’n Keuringsproses vind plaas voor toelating tot alle graadprogramme in die Skole in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. As deel van die keuringsreglement word ’n persoonlike onderhoud vir sommige van die voorgraadse graadprogramme vereis. Die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test) is verpligtend vir alle aansoekers wat aansoek om toelating tot ’n voorgraadse graadprogram doen, met uitsondering van die Baccalaureus in Kliniese Mediese Praktyk en studente met vorige tersiêre blootstelling.

2. Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT)

Die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test) is verpligtend vir aansoekers tans in Graad 12 of wat Graad 12 reeds voltooi het en aansoek doen om toelating tot enige studierigting, uitgesonder die Baccalaureus in Kliniese Mediese Praktyk asook studente met vorige tersiêre blootstelling, in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Aansoekers wat in gebreke bly om hierdie toets te skryf sal nie in aanmerking kom vir keuring nie. Akademiese Geletterdheid, Kwantitatiewe Geletterdheid en Wiskunde word getoets en aansoekers kan nie spesiaal vir die toets voorberei nie. Die toetsresultate sal addisioneel tot die Graad 12-punte vir voorlopige keuring gebruik word en sal nie die Graad 12-punte vervang nie.

3.  Vereistes vir toelating tot spesifieke modules

 ’n Student wat

(a)    in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde asook in Fisiese Wetenskap behaal het, word tot die module Molekulêre en selbiologie (MLB 111), en ’n module in die vakke Chemie, Fisika, Dierkunde en Entomologie, Genetika, Mikrobiologie of Plantkunde toegelaat;

(b)    in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde asook in Fisiese Wetenskap behaal het, word tot ’n module in Stralingsfisika (RFI) toegelaat;

(c)     in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Fisiese Wetenskap of in Lewenswetenskappe behaal het, word tot modules in Arbeidsterapie en Terapeutiese Media toegelaat;

(d)    in die Graad 12-eindeksamen minstens 60% in Wiskunde behaal het, word tot die module WTW 158 in Wiskunde toegelaat; en

(e)    in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde behaal het, word tot die module WTW 134 in Wiskunde toegelaat.

4.  Akademiesegeletterdheidstoets

Daar word van alle nuweling- voorgraadse studente wat in die Skool vir Tandheelkunde en die Skool vir Geneeskunde registreer, verwag om 'n akademiesegeletterdheidstoets af te lê. Op grond van hierdie toets moet studente akademiesegeletterdheidsmodules volg  (ELH 111 en 112 vir studente in Tandheelkunde en Geneeskunde en ELH 131 en 132 vir studente in Kliniese Mediese Praktyk), wat hulle moet slaag as een van die vereistes om hul graad te kan verwerf.

Voorgraadse studente wat in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe registreer hoef nie die akademiesegeletterdheidstoets af te lê nie. Die akademiesegeletterdheidsmodules ELH 121 en ELH 122 is verpligtend vir alle studente en 'n slaagpunt vir elkeen van hierdie modules word vereis ten einde die betrokke graad te kan verwerf.

5.    Akademiese-inligtingbestuur

Die Universiteit van Pretoria vereis dat alle voorgraadse studente die module AIM 101 Akademiese-inligtingbestuur 101 moet voltooi. Besonderhede oor hierdie module verskyn in die modulelys.

6.   Subminima in eksamenvraestelle

Subminima wat in eksamens vereis word (indien enige), verskyn in die regulasies van die betrokke graad/diploma en in die leerplanne van die betrokke modules.

         Ten opsigte van MBChB:

’n Subminimum kan in elke module of praktiese komponent waaruit ’n gegewe blok saamgestel is, vereis word ten einde in die betrokke blok te kan slaag.

7.   Eksamens

Die eksamen in modules wat in die eerste semester aangebied word, vind gedurende Mei/Junie plaas, terwyl alle ander eksamens (tweedesemester-modules, jaarmodules en blokke in die MBChB-graadprogram) in Oktober/ November plaasvind.

Ten opsigte van die MBChB-kurrikulum, moet die studiehandleiding van ’n gegewe blok geraadpleeg word.

8.  Aanvullende eksaminering

Die eksaminatore kan ’n student na aflegging van ’n eksamen en voor bekendmaking van die eksamenuitslae oproep om ’n aanvullende eksamen oor bepaalde aspekte van ’n module af te lê. Besonderhede oor ’n Skool se vereistes vir aanvullende eksamens verskyn in die studiehandleiding van ’n gegewe blok.

9.  Buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens)

Behoudens die bepalings van die Algemene Regulasies word die tydperk vir die aflegging van ’n buitengewone eksamen in die Skool vir Geneeskunde deur die betrokke dosent in oorleg met die departementshoof/blokvoorsitter bepaal: Met dien verstande dat die eksamen in ’n blokkursus, indien moontlik, binne die betrokke periode vir tweede eksamens afgeneem behoort te word.

Indien ’n eksamen uit meer as een evalueringsmodaliteit bestaan, moet die eksamen in geheel herhaal word, ongeag of ’n deel daarvan reeds afgelê is.

10.  Hernasien van eksamenantwoordstelle

Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies gee departemente ná eksaminering terugvoering aan studente oor die raamwerk wat eksaminatore tydens eksaminering gebruik. Die wyse waarop hierdie terugvoering geskied, word deur die departementshoof bepaal. Studente kan ná insae, en in die geval van MBChB-studie ná die eksamenperiode (wat die eksamen en die tweede eksamen insluit), binne 14 kalenderdae ná die aanvang van die lesings in die volgende semester, en na betaling van die voorgeskrewe geld, aansoek doen om hernasien van ’n antwoordstel, deur ’n eksaminator (in die geval van MBChB-studie ’n eksterne eksaminator van buite die Universiteit), wat deur die betrokke departementshoof aangewys word.

Die Skool vir Geneeskunde omskryf die betrokke regulasie verder soos volg:

(i)      ’n Student het die reg om insae in sy/haar eksamenantwoordstel te kry voordat hy/sy aansoek doen om hernasien van die antwoordstel.

        Tydens hierdie geleentheid word byvoorbeeld vasgestel of:

•     alle antwoorde wel nagesien is,

•     punte wat toegeken is korrek opgetel is, en

•     of die student wel al die vrae beantwoord het.

Tydens hierdie geleentheid moet die student, dosent sowel as ’n derde persoon aanwesig wees.

(ii)     Indien ’n gesprek ontwikkel oor die inhoud van die antwoorde in die antwoordstel moet die student na die betrokke Skool se administrasie verwys word, waar hy of sy dan aansoek doen om die hernasien van die antwoordstel.

11.       Tweede eksamengeleentheid

(i)      ’n Student kan tot ’n tweede eksamen in ’n module toegelaat word [uitgesonder die spesifieke fakulteitsvereistes met betrekking tot tweede eksamens van bepaalde blokke van die eerste tot vyfde studiejaar van MBChB (raadpleeg Reg. M.1(b), en die eerste en tweede studiejaar van BChD (raadpleeg Reg. D.1 (b)], indien

(aa)  ’n finale punt van tussen 40% en 49% behaal is;

(bb)  ’n slaagpunt behaal is, maar nie die vereiste subminimum van 40% in die eksamen as geheel nie; of

(cc)   ’n slaagpunt behaal is, maar nie aan die vereiste subminimum in onderdele van die module voldoen is nie.

(ii)     ’n Student moet minstens 50% in die tweede eksamen behaal om te slaag.

(iii)    Die jaar-/semester-/deurlopende evalueringspunt word slegs in aanmerking geneem waar ’n student in ’n eerstesemestermodule op 100-vlak nie minstens 50% in die tweede eksamen behaal het nie.

(iv)    Die hoogste finale persentasie (slaagpunt) wat vir ’n tweede eksamen aan ’n student toegeken kan word, is 50%.

12.  Promovering

In sekere departemente kan studente tot ’n volgende semester of vlak van ’n vak gepromoveer word sonder die aflegging van die voorgeskrewe eksamen, op voorwaarde dat hulle hul bevredigend voorberei en ook ’n deurlopende evalueringspunt van minstens 65% verwerf het. Departemente waar hierdie reëling wel geld, sal dit vroegtydig aan studente bekend maak.

Let wel:

•   Studente ontvang krediet vir ’n gepromoveerde module slegs nadat die eksamen in ’n daaropvolgende module of modules van die betrokke vak aan hierdie Universiteit geslaag is.

•   Promovering soos hierbo beskryf, verwys nie na die opsie wat mediese studente mag uitoefen dat die blokpunt aan die einde van die jaar as die finale blokpunt vir ’n spesifieke blok bekragtig word (d.i. vrystelling van die blokeksamen), indien hulle, onder andere, ’n blokpunt van minstens 60% in die betrokke blok behaal het nie.

 

13.  Die eksamenmodereringsvergadering

13.1 Studente in Jaar 1 - 3:

 (i)   Ten opsigte van elke blok en spesiale aktiwiteit behaal studente klastoets-, praktika- en bloktoetspunte (wat aan studente bekend gemaak word). Hierdie punte word verwerk tot ’n blokpunt (wat nie aan studente bekend gemaak word nie). Elke blokvoorsitter maak ’n lys bekend van die registrasienommers van studente wat die semestereksamen in sy of haar blok moet aflê. Die blokpunte word na Studenteadministrasie gestuur. Studente met eksamenvrystelling wat nogtans verkies om die blokeksamen af te lê, mag dit doen, maar moet dan die finale blokpunt aanvaar (wat bereken word uit die blokpunt en die eksamenpunt), al is die finale blokpunt laer as die (oorspronklike) blokpunt.

(ii)  Die studente wat eksamen moet aflê, se finale blokpunt word eers aan die einde van die blokeksamen bepaal uit die bydraes van die blokpunt en die eksamenpunt. Hierdie finale blokpunt weerspieël die ware punt behaal.

Die EMV (Eksamenmodereringsvergadering) vind nou plaas, met die volgende doelwitte:

  • Identifisering van die studente wat slaag.
  • Identifisering van die studente wat druip en gevolglik die remediërings-program moet volg en die tweede blokeksamen moet aflê.
  • Identifisering van die studente wat nie die vereiste subminimum behaal het nie.
  • Bekragtiging van die blokpunte van diegene wat eksamenvrystelling gehad het as die finale blokpunte.
  • Identifisering van die studente wat studiehulp benodig.

(iii)    Studente wat die eksamen druip moet die remediëringsgeleentheid volg waar van toepassing en die behoefte aan ‘n spesifieke regstellende aksie sal bepaal word by die eksamenmodereringsvergadering. Sodanige student moet die tweede blokeksamen aflê wat aan die einde van die tweede semester plaasvind. Slegs die tweede blokeksamenpunt tel en die maksimum wat verwerf kan word, is “50H”.

(iv)    Studente wat die tweede eksamen geskryf het, se prestasie word by die tweede EMV bespreek, met die volgende doelwitte:

  • Identifisering van die studente wat slaag.
  • Identifisering van die studente wat druip. Volgens die MBChB-keuringsregulasies moet eerste- en tweedejaarstudente wat gedruip het, weer aansoek doen om keuring.

13.2  Studente in Jaar 4 en die eerste helfte van Jaar 5: MBChB

(i)      Tydens die blokke en spesiale aktiwiteite, skryf studente die klastoetse sowel as die bloktoets. Hierdie punte word deur die blokvoorsitter bekend gemaak.

(ii)     Studente doen ook oggendrotasies wat elk beoordeel word. In Jaar 4 is daar agt oggendrotasies en in die eerste helfte van Jaar5 vier oggend-rotasies. Hierdie rotasiepunte word deur die betrokke departemente bekend gemaak.

(iii)    Die blokpunt word bereken uit die verskillende toetspunte, punte toegeken vir praktika en opdragte, sowel as die rotasie(s) gekoppel aan die spesifieke blok. In Jaar 4 is hierdie punt eers berekenbaar in die middel van September en in Jaar 5 in die middel van Mei. Hierdie punte word nie aan studente bekend gemaak nie. ’n Lys van registrasienommers van studente wat nie eksamenvrystelling verwerf het nie, word deur die blokvoorsitter op die kennisgewingbord geplaas. Hierdie studente is dus verplig om die blokeksamen te skryf. Die blokpunte word na Studenteadministrasie gestuur. Studente wat verkies om in elk geval die eksamen te skryf al het hulle vrystelling daarvan ontvang, mag dit doen, maar hulle moet die finale blokpunt aanvaar, al is dit laer as die (oorspronklike) blokpunt.

(iv)    Die studente wat eksamen moet aflê se finale blokpunt word eers aan die einde van die blokeksamen bepaal uit die bydraes van die blokpunt en die eksamenpunt. Hierdie finale blokpunt weerspieël die ware punt behaal. Die EMV vind nou plaas met die volgende doelwitte:

  • Identifisering van die studente wat slaag.
  • Identifisering van die studente wat druip en gevolglik die remediërings-program moet volg en die tweede blokeksamen moet aflê.
  • Bekragtiging van die blokpunte van diegene wat eksamenvrystelling gehad het, as die finale blokpunte.
  • Identifisering van studente wat studiehulp benodig.

(v)     Studente wat die eksamen druip, moet die remediëringsprogram volg en die tweede blokeksamen aflê, wat in Jaar 4 aan die einde van die tweede semester en in Jaar 5 aan die begin van die tweede semester plaasvind. Slegs die tweede blokeksamenpunt tel en die maksimum wat verwerf kan word, is "50H".

(vi)    Studente wat die tweede eksamen skryf, word by die tweede EMV bespreek, met die volgende doelwitte:

  • Identifisering van die studente wat slaag.
  • Identifisering van die studente wat druip.

13.3     Studentinterns: MBChB

13.3.1 Alle studente

(i)      Na afloop van elke sewe-week-rotasie vind ’n einde-van-rotasie-evaluering (EVRE) in die verskillende departemente plaas. Die doel van die EVRE is die identifisering van studente wat vrystelling van eksamen (semester-eksamen) verkry en diegene wat nie vrystelling verkry nie en die eksamen dus aan die einde van die semester moet aflê. Alle EVRE’s word deur eksterne eksaminatore ondersteun.

(ii)     Dieselfde proses vind plaas in rotasies wat 3,5 weke duur.

(iii)    Geen punte word aan studente bekend gemaak nie; slegs die name en/of die registrasienommers van studente wat die semestereksamen moet aflê, word bekend gemaak.

(iv)    Na afloop van die semestereksamen (wat oor drie dae strek op datums wat vooraf bepaal word), word ’n EMV gehou, met die volgende doelwitte:

  • Bekragtiging van die rotasiepunte van studente wat eksamen-vrystelling verkry het, as die semestereksamenpunt. Die rotasiepunt en die EVRE-punt dra by tot die finale punt.
  • Identifisering van die studente wat die semestereksamen geslaag het. Die rotasiepunt en die semestereksamenpunt dra by tot die finale punt.
  • Identifisering van die studente wat die semestereksamen gedruip het. Hierdie studente word na Studenteadministrasie verwys, aangesien ’n nuwe rotasie-indeling nou gevolg moet word.
  • Identifisering van die studente wat studiehulp benodig.

13.4  Studente wat rotasies herhaal: MBChB

(i)      Studente wat rotasies herhaal, lê aan die einde van die rotasie wat herhaal is, die EVRE af. Die doelwit is om ’n slaagpunt te behaal. Die deurlopende evaluasiepunte en die EVRE-punt dra by tot die finale punt.

(ii)     Op die eerste Woensdag na afloop van die rotasie word ’n EMV om 13:00 gehou (of op ’n ander tyd soos gereël) om die prestasie van die studente, wat die rotasie herhaal, te evalueer. Die doelwitte van hierdie EMV is:

  • Identifisering van die studente wat die herhaalrotasie slaag (finale punt van 50% en hoër) (maksimum op vorm aangedui is "50H").
  • Identifisering van die studente wat die herhaalrotasie druip. Hierdie studente word na Studenteadministrasie verwys aangesien ’n nuwe rotasie-indeling nou gevolg moet word.
  • Identifisering van die studente wat studiehulp benodig.

(iii)    Die prestasie van studente wat ’n 3,5-weke rotasie herhaal het, word by dieselfde EMV bespreek.

13.5     Studente wat "finaliste" is op ander tye as die einde van die sesde studie-jaar: MBChB

13.5.1 Studente wat vorige rotasies herhaal het, suksesvol was, en nou "finaliste" is, maar wat die huidige rotasie vir die eerste keer doen:

(i)      Hierdie studente doen die EVRE soos alle ander studente. Die doelwit is om, soos in die geval van ander studente, diegene te identifiseer wat vrystelling van die semestereksamen verkry of nie.

(ii)     Studente wat na afloop van die EVRE vrystelling van eksamen verkry, slaag die rotasie dus outomaties.

(iii)    Studente wat na afloop van die EVRE nie vrystelling van die semester-eksamen verkry nie, moet dus aan die einde van die betrokke semester die eksamen aflê.

(iv)    Om in te pas by UP-regulasies kan hierdie afstuderende studente (“finaliste”) wat slegs een kursus (rotasie) uitstaande het om die MBChB-graadprogram te kan voltooi en nie vrystelling van eksamen verkry het nie, aansoek doen om in die volgende week ’n “spesiale eksamen” af te lê (vervroeg van die semester-eksamen waar van toepassing). Die vervroegde eksamen moet verkieslik in die volgende week op die Maandag of die Dinsdag afgelê word. Die formaat word deur die departement bepaal en aangesien die student reeds deur die eksterne evalueringsproses geëvalueer is, is teenwoordigheid van ’n eksterne eksaminator by hierdie spesiale eksamen opsioneel, dog aanbeveel. Die finale punt bestaan uit die eksamenpunt en moet 50% of hoër wees om te kan slaag. Die punte moet teen die Woensdag beskikbaar wees sodat hierdie studente se punte by die EMV wat op daardie Woensdag plaasvind, kan dien.

(v)     Die doelwitte van die EMV vir hierdie kategorie studente is:

  • Identifisering van die studente wat die spesiale eksamen geslaag het. Hierdie studente voltooi dan die MBChB-graadprogram en ’n spesiale mini-belofteseremonie word vir hulle gereël.
  • Identifisering van die studente wat die spesiale eksamen gedruip het. Hierdie studente druip die kursus, moet die betrokke rotasie herhaal en word dus na Studenteadministrasie verwys.

13.6     Studente wat "finaliste" is, maar die huidige rotasie herhaal (alle omstandighede – reeds vantevore, of deur ’n onlangse EMV, as gedruip geïdentifiseer): MBChB

(i)      Hierdie studente lê die EVRE af soos alle ander studente. Die doelwit is om ’n slaagpunt te behaal. Die deurlopende evaluasiepunte en die EVRE-punt dra by tot die rotasiepunt, wat in hierdie geval ook die finale punt is. Die punt moet 50% of hoër wees, maar die maksimum wat op die vorm aangedui word, is "50H".

(ii)     Op die eerste Woensdag na afloop van die rotasie word ’n EMV om 13:00 gehou (of ’n ander tyd soos gereël) om die prestasie van hierdie studente wat die huidige rotasie herhaal het, te evalueer. Die doelwitte van hierdie EMV is:

  • Identifisering van die studente wat die EVRE/eksamen geslaag het. Hierdie studente voltooi dan die MBChB-graadprogram en ’n spesiale mini-belofteseremonie word vir hulle gereël.
  • Identifisering van die studente wat die EVRE/eksamen gedruip het. Hierdie studente druip die rotasie, moet die betrokke rotasie herhaal en word dus na Studenteadministrasie verwys.

(iii)    Studente in hierdie kategorie wat slegs ’n 3,5-weke rotasie herhaal, volg presies dieselfde roete, maar ’n unieke EMV word gereël kort na die volltooiing van die EVRE/eksamen. Dieselfde doelwitte geld.

Spesiale opknappingskursus vir algemene praktisyns

Die Skool vir Geneeskunde bied jaarliks ’n weekkursus in die middae en saans vir algemene praktisyns aan waartydens kliniese voordragte deur verskeie departemente aangebied word. Verder bied die Skool jaarliks ’n intensiewe tweedaagse kursus in een hoofvakgebied aan.

’n Algemene praktisyn wat sy of haar kennis wil opknap, kan as spesiale nagraadse student (Geneeskunde Spesiaal) by die Skool vir Geneeskunde registreer. Hy of sy word dan die geleentheid gebied om demonstrasies en besprekings by te woon en om deel te neem aan sodanige werk soos deur die betrokke departementshoof bepaal.

Hospiterende nagraadse studente (Kode 10290001)

’n Algemene praktisyn of spesialisgeneesheer kan aansoek doen om te registreer as hospiterende nagraadse student vir nie-eksamendoeleindes vir tydperke van een of meer maande volgens eie keuse waartydens hy of sy in ’n departement van sy of haar keuse werksaam kan wees. Die aard van hierdie werksaamhede word deur elke departementshoof bepaal. Dergelike opknappingstydperke word nie erken as formele opleidingstyd vir spesialiseringsdoeleindes nie.

Gesondheidswetenskappe Spesiaal (Voorgraads)

Individuele modules – nie vir graaddoeleindes nie.

Kode

Beskrywing

10180001

Geneeskunde Spes (Voorgraads) Prinshofkampus

10185021

Geneeskunde Spesiaal (Kubaanse studente: Prinshof)

10190001

Geneeskunde Buitelands (Nie-eksamendoeleindes) Hospiterend (Voorgraads)

Gesondheidswetenskappe Spesiaal (Nagraads) (Kode 10280001)

Registrasie van nagraadse studente met die doel om eksamen in die voorvereiste vakke van ’n MMed-graad (met goedkeuring van die betrokke departementshoofde en die Voorsitter van die Skool) af te lê, tot tyd en wyl ’n kliniese assistentskap beskikbaar is. Voorvereiste vakke wat op die hierdie wyse geslaag word, plaas die Universiteit van Pretoria of die provinsie geensins onder enige verpligting om die betrokke persoon as kliniese assistent aan te stel of selfs bo ander studente voorkeur vir aanstelling te gee nie.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share