Jaarboeke

Program: BCom Regte

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
07130152 Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 429
Contact:
Prof H Coetzee
[email protected]
+27 (0)124204375

Programinligting

Die pakket in regte is gerig op ’n breë formatiewe opleiding, maar lei nie spesifiek tot enige beroepsuitkoms nie. Die student word egter in ’n posisie gestel om met die LLB-graad voort te gaan wat beroepspesifiek gerig is, of met ’n BComHons. Die verworwe vaardighede kan in sowel die privaat as die openbare sektor aangewend word.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.

 

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Afrikaans of Engels

Wiskunde

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

32

 

 

Addisionele vereistes

  1. Algemene Regulasies G.1 tot G.15 (met uitsondering van Regulasie G.11.2(c)) is van toepassing op ’n baccalaureusgraad.
  2. Tensy die Dekaan anders besluit, mag ’n student nie meer as die voorgeskrewe getal modules per semester volg nie.
  3. ’n Ander module as dié wat onder keusemodules vermeld is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan geneem word.
  4. ’n Student wat reeds in besit van ’n baccalaureusgraad is, mag nie modules wat vir dié graad geslaag is, weer vir ’n ander rigting of graad in hierdie Fakulteit aanbied nie. (Raadpleeg Algemene Regulasies G.8 en G.9.)
  5. ’n Module wat op 300-vlak geslaag is, sal slegs as kwalifiserende module vir die graad erken word indien die ooreenstemmende voorgeskrewe module(s) op 200-vlak ook reeds geslaag is, tensy die Dekaan anders besluit, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as kwalifiserende modules geld: Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320), en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369). Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
  6. ’n Module wat reeds geslaag is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan herhaal word.
  7. ’n Module wat reeds geslaag is, mag nie vir meer as een graad of spesialiseringsrigting in aanmerking geneem word nie.
  8. Die onus rus op studente om voor registrasie seker te maak dat hul modules nie op die klas-, toets- en eksamenrooster bots nie.
  9. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ondersteun uitkoms-gebaseerde onderwys en plaas ’n hoë premie op die ontwikkeling van spesifieke akademiese vaardighede. Klasbywoning in al die modules en vir die volle duur van die program is daarom verpligtend vir alle studente.
  10. Die Dekaan het ’n beslissingsbevoegdheid ten opsigte van aangeleenthede waar-voor nie in die Algemene of Fakulteitsregulasies voorsiening gemaak word nie.

Ander programspesifieke inligting

Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlak-modules voorafgegaan word nie, mag as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).

Ter kennnisname: BCom (Regte)-studente wat van voorneme is om die LLB-graad te behaal, moet daarop let dat een van die vereistes vir die LLB-graad minstens 12 krediete uit die volgende lys van taalmodules is: AFR 110, AFR 120, AFR 114, ENG 118, ENG 110, ENG 120.

Dit word aanbeveel dat BCom (Regte)-studente Ondernemingsbestuur met Ekonomie as hoofvakke kombineer; Finansiële rekeningkunde met Finansiële bestuur of alternatiewelik Finansiële rekeningkunde met Belasting.

Let wel: Raadpleeg die alfabetiese lys van modules vir die voorvereistes van alle modules.

  • FRK 122 is ’n eindmodule. Indien FRK 122 gekies word, sal ’n kandidaat nie met Finansiële rekeningkunde op 200- en 300-vlak kan voortgaan nie. Let ook daarop dat FRK 121 ’n voorvereiste vir ’n aantal ander modules mag wees (bv FBS 210 en 220) en dit is die verantwoordelikheid van die kandidaat om te verseker dat hy/sy die toepaslike keuse tussen FRK 121 en 122 maak.
  • BCom (Regte)-studente sal slegs toegelaat word om Finansiële bestuur 210, 220, 310 en 320 (FBS 210, 220, 310 en 320) te neem indien Finansiële rekeningkunde op 200- en 300-vlak ook geneem word.
  • OBS 124 moet as ekstra module geneem word indien OBS as hoofvak op 300-vlak geneem word.
  • Informatika 281 (INF 281 – 3 addisonele krediete) is ’n verpligte module indien Finansiële rekeningkunde 311, 321 (FRK 311, 321) gekies word.
  • Dit word aanbeveel dat studente wat Belasting neem, ook FRK 211, 221 neem.

Let wel: Studente wat beoog om ’n LLB-graad na afloop van die BCom-graad in die Regte te volg, word aangeraai om met die Studenteadministrasie van die Fakulteit Regsgeleerdheid in verbinding te tree vir advies oor welke addisionele modules reeds gedurende hulle voorgraadse studie gevolg kan word. Let egter daarop dat goedkeuring om ekstra modules te mag volg steeds by die Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe berus.

BCom (Regte)-studente wat vir addisionele regsmodules wil registreer, doen dit in terme van die Fakulteit Regsgeleerdheid se jaarboek van die akademiese jaar waarin hulle vir die eerste keer geregistreer het.

Hoofvak
Ten einde as "hoofvak" te kwalifiseer moet minstens die ekwivalent van vier 14- week-modules van ’n vak, insluitende twee op 300-vlak, geslaag word, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as "hoofvakke" geld:

  • Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320) en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369);
  • en dat slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300 vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).

Bevordering tot volgende studiejaar

Volgens Algemene Regulasie G.3 word spesifieke bevorderingsvoorwaardes gestel deur fakulteitsrade waaraan studente van die fakulteit moet voldoen.

  1. 'n Student moet in ten minste 4 kernsemestermodules of 2 kern-jaarmodules slaag om tot die volgende akademiese jaar toegelaat te word.
  2. 'n Student wat minder as 4 kernsemestermodules of 2 kernjaarmodules geslaag het, word nie tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hertoegelaat nie. Sodanige student wie se reg op hertoelating verval het, mag skriftelik by die Fakulteit se Toelatingskomitee aansoek doen om voorwaardelike hertoelating tot die Fakulteit – met die voorbehoud dat die Toelatingskomitee verdere voorwaardes ten opsigte van studente se vordering mag stel. 'n Student se aansoek om voorwaardelike hertoelating mag geweier word.
  3. 'n Student wat voorwaardelik tot die Fakulteit hertoegelaat word, se studies sal na die eerste semestereksamen nagegaan word om vas te stel of hy/sy aan die gestelde voorwaardes voldoen het. Indien daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie, sal sodanige student se studies opgeskort word.
  4. 'n Student wie se studies weens swak akademiese prestasie opgeskort word, het die reg om teen die besluit van die Fakulteit se Toelatingskomitee te appelleer.
  5. 'n Student kan bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien die vasgestelde klasgeld soos voorgeskryf, nie betaal is nie.
  6. 'n Student kan toelating tot die eksamen of bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien hy/sy nie aan die bywonings-vereistes voldoen het nie. Klasbywoning in alle modules en vir die volle duur van die program is verpligtend vir alle studente.

Slaag met lof

 

  1. 'n Graad kan met lof toegeken word mits die kandidaat aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Die graad moet binne drie jaar voltooi word;
  2. 'n Geweegde gemiddelde (GPA) van 75% moet behaal word;
  3. Modules wat reeds geslaag is en herhaal word, se nuwe punt sal nie in berekening gebring word nie. Die oorspronklike slaagpunt van die module sal gebruik word vir die berekening van die GPA.
  1. Oorskakelaars van ander fakulteite en ander universiteite (insluitend krediete wat oorgedra word en erken word vanaf die graad waarvoor oorspronklik geregistreer was), sal as buitengewone gevalle deur die dekaan oorweeg word.
  2. Die GPA sal nie gerond word tot die naaste volgende heelgetal nie.
  3. Buitengewone gevalle sal deur die dekaan oorweeg word.

Algemene inligting

Minimumvereistes vir baccalaureusgrade; semester- en jaarmodules; nuwe regulasies

  1. Studente wat voor 2015 met hul studies begin het, moet die program voltooi ooreenkomstig die bepalinge van die leergang van die jaar waarin hulle studies ’n aanvang geneem het, of ooreenkomstig die leergang van die jaar waarin hulle na hul huidige spesialiteitsrigting oorgeskakel het. Studente wat dit verkies, mag egter aansoek doen om oor te skakel na die jongste leergang, maar dan moet hulle voldoen aan al die vereistes daarvan. Hulle mag ook nie weer terugskakel na die regulasies van ’n vorige jaar nie.
  2. Studente wat in 2015 vir die eerste keer vir ’n graadprogram registreer, moet die modules volg wat in die betrokke spesialiseringsrigting aangedui word.

Let wel: Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, mag as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
Die onus rus dus ten volle op studente om vóór registrasie seker te maak dat hulle leergange aan al die vereistes van die toepaslike regulasies voldoen.

Minimum krediete: 146

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Taalkundekomponent: Inleiding tot die Afrikaanse sintaksis, fonetiek en taalgeskiedenis. Letterkundekomponent:Inleiding tot die Romankuns Inleiding tot die Drama

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Afrikaans vir sprekers van ander tale (1) *No mother tongue speakers of Afrikaans will be allowed to take this module. A subject for advanced learners of Afrikaans. A basic knowledge of Afrikaans grammar and listening, reading, writing and speaking skills are required.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    *Alternative evening classes: 2 discussion classes per week
    Introduction to Literature in English (2)
    This module introduces the study of post-nineteenth century literature by examining a number of texts representing different genres (poetry, drama, prose). Texts will be from both Africa and other parts of the world. By the end of this module students should have the background and analytical skills to perceptively read modern and contemporary poetry, novels and plays.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in regte BASIESE BEGINSELS VAN DIE: (a) Verbintenisreg (kontrakte en delikte) (b) Strafreg (c) Siviele Prosesreg (d) Strafprosesreg (e) Bewysreg. TOEGANG TOT GEREGTIGHEID (a) Howe en alternatiewe dispuutbeslegting (b) Regsprofessie (c) Toegang tot geregtigheid en die bevordering daarvan in Suid-Afrika (die beginsel, probleme, verteenwoordiging in strafsake, rol van verskillende organisasies, ens) BOGENOEMDE INHOUD VORM DIE GRONDSLAG VAN DIE VAARDIGHEDE-KOMPONENT, WAT AKADEMIESE GELETTERDHEIDSVAARDIGHEDE INSLUIT: (a) Die opstel van ‘n eenvoudige kontrak wat op ‘n feitestel gebaseer is (b) Die lees, verstaan en opsom van ‘n hofsaak wat op die deliktereg gebaseer is en toepassing van die beginsels van argument en logika op die hofsaak (c) Die opsom, ontleding, kritisering en verbetering van ‘n regsteks te make met die bewysreg (d) Die verstaan en toepassing van die beginsels van hoofondervraging, kruisondervraging en herondervraging op ‘n feitestel met die oog op deelname aan ‘n skynhof of debat

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Taalkundekomponent: Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde met klem op lees-en skryfvaardigheid. Letterkundekomponent: Inleiding tot die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die hand van kortverhale en gedigte.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in regte Die module bevat beide `n teoretiese- en vaardighede-komponent. Alle elemente hieronder beskryf behels konseptuele kennis gekombineer met praktiese toepassing. GRONDLIGGENDE REGSFILOSOFIESE ASPEKTE VAN REG/DIE REG IN DIE ALGEMEEN (a)`n Eerstejaar-definisie van reg/die reg (b) Die verband tussen reg en die samelewing, reg en geskiedenis, reg en politiek, reg en taal (c) Wat dit behels om `n regstudent of regsgeleerde in Suid-Afrika te wees (d) Inleiding tot verskillende perspektiewe op die reg DIE SUID-AFRIKAANSE REGSISTEEM EN DIE HISTORIESE ONTWIKKELING DAARVAN BRONNE VAN DIE SUID-AFRIKAANSE REG EN DIE HISTORIESE ONTWIKKELING DAARVAN (a) Inleiding tot die eienskappe en komponente van die Suid-Afrikaanse regsisteem (b) Gemengde regsisteme (c) Die Suid-Afrikaanse grondwet en die historiese ontwikkeling daarvan Inheemse reg en die historiese ontwikkeling daarvan (d) Die gemenereg en die historiese ontwikkeling daarvan (e) Regspraak, wetgewing en ander bronne van moderne Suid-Afrikaanse reg (f) Toepassing van die bronne van die reg op `n feitestel en gebruik van die bronne van die reg om `n jurisprudensiële vraag te beantwoord. BOGENOEMDE INHOUD VORM DIE BASIS VIR DIE VAARDIGHEDE-KOMPONENT, WAT AKADEMIESE GELETTERDHEIDSVAARDIGHEDE INSLUIT: (a) Navorsing in die biblioteek (b) Die vind, lees en toepassing van die bronne van die reg; (c) Die lees, verstaan en opsom van tekste met regsonderwerpe; (d) Die ontleding, kritisering en verbetering (redigering) van skryfwerk oor die reg in `n teoretiese sin (e) Die skryf van `n goed-gestruktureerde paragraaf of opstel oor regsprobleme en regs - of regshistoriese onderwerpe

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verkry, evalueer, verwerk, bestuur en bied inligtingsbronne vir akademiese doeleindes aan deur gebruik te maak van toepaslike tegnologie. Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    This module is intended to equip students with a thorough knowledge of English grammar and is particularly useful for those interested in a career in teaching, editing, document design or other forms of language practice.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Meervariante statistiek:
    Variansieanalise, kategoriese data-analise, verdelingsvrye metodes, krommepassing, regressie en korrelasie, die ontleding van tydreekse en indekse.  Statistiese en ekonomiese toepassings van kwantitatiewe tegnieke:
    Stelsels van lineêre vergelykings; opstelling, matrikse, oplossing en toepassing. Optimering; lineêre funksies (twee en meer onafhanklike veranderlikes), nie-lineêre funksies (een en twee onafhanklike veranderlikes).  Marginale en totale funksies. Stogastiese en deterministiese veranderlikes in statistiese en ekonomiese konteks: produsentesurplus, verbruikersurplus, distribusiefunksies, waarskynlikheidsverdelings en digtheidsfunksies. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Hierdie module word ook as anti-semester tweetalige module aangebied.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Begroting, salarisverantwoording, belasting – inkomstebelasting en ‘n inleiding tot ander soorte belasting, krediet en die nuwe Kredietwet, versekering, verantwoording van voorraad (klem op voorraad en die rekeningkundige inskrywings, nie berekeninge nie), vertolking van finansiële state.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in Regte Die regsreëls in verband met die ontstaan, privaatregtelike status en tot-niet-gaan van ’n natuurlike persoon of regsubjek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en funksie van rekeningkunde; die ontwikkeling van rekeningkunde; finansiële toestand; finansiële prestasie; die boekstawingsproses; verwerking van rekeningkundige data; elementêre inkomstestaat en balansstaat; dokumentevloei; rekeningkundige stelsels; inleiding tot interne beheer en interne beheermaatreëls; bankrekonsiliasies; kontrolerekeninge; aansuiwerings; opstel van finale state van 'n eenmansaak; die rekeningkundige raamwerk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in regte Algemene inleiding tot die Romeinse reg en Europese reg as grondslae van die Suid-Afrikaanse privaatreg. INLEIDING TOT DIE ROMEINSE SAKEREG (a) Sake, saaklike regte, besit (b) Eiendomsreg, beperkings, verkryging, beskerming (c) Beperkte saaklike regte, serwitute, saaklike sekerheidsregte INLEIDING TOT DIE ROMEINSE KONTRAKTEREG (a) Algemene beginsels van die kontraktereg (b) Besondere kontrakte (c) Kwasi-kontrakte INLEIDING TOT DIE ROMEINSE DELIKTEREG (a) Algemene beginsels van die Romeinse deliktereg (b) Besondere delikte (c) Kwasi-delikte

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Eiendom, aanleg en toerusting; ontasbare bates; voorraad; laste; aanbieding van finansiële state; ondernemings sonder winsoogmerk; vennootskappe; maatskappye; beslote korporasies; kontantvloeistate; ontleding en vertolking van finansiële state.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

Minimum krediete: 127

Kernmodules

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie Vanaf Wall en Bay Street tot Diagonal Street : 'n deeglike begrip van die meganisme en teorieë wat die funksionering van die ekonomie verduidelik, is onontbeerlik. Makro-ekonomiese insig in die reële mark, die geldmark, tweemarkewewig, monetarisme, groeiteorieë, konjuktuuranalise, inflasie, Keynesiaanse algemene ewewigsanalise, fiskale en monetêre beleidsaangeleenthede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inkomstebelasting ten opsigte van maatskappye en individue
    In hierdie module word 'n inleiding tot die beredderingsproses van bestorwe en insolvente boedels verskaf. Spesifieke klem word geplaas op die opstel van die eksekuteursrekening vir bestorwe boedels asook die trusteesrekening vir insolvente boedels. Die berekening van boedelbelasting word in detail behandel. Inleiding tot belasting, beswaar en appèl, bruto inkomste, bron van inkomste, bruto inkomste (spesifieke insluitings), vrygestelde inkomste, algemene aftrekkingsdefinisie, vasgestelde verliese, spesifieke aftrekkings vir maatskappye, spesifieke aftrekkings vir individue, kapitaaltoelaes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mikro-ekonomie
    Mikro-ekonomiese insig in produsente- en verbruikersteorie, algemene mikro-ekonomiese ewewig, Pareto-optimaliteit en optimaliteit van die prysmeganisme, welvaartsekonomie, markvorme en die produksiestruktuur van Suid-Afrika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Logistieke bestuur Die rol van logistiek in 'n onderneming; omskrywing en omvang van klantediens; elektroniese en ander logistieke inligtingstelsels; voorraadbestuur en materiaalbestuur met besondere verwysing na Japannese stelsels; bestuur van die voorsieningsketting. Vervoermetodes en vervoerkoste; soorte opberging en die koste daarvan; elektroniese hulpmiddels by materiaalhantering; koste en prysbepaling by aankope; organisering vir logistieke bestuur en metodes om logistieke werkverrigting te verbeter.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: werknemervoordele; die uitwerking van veranderinge in wisselkoerse; rekeningkundige beleide; beleidverdienste per aandeel; kontantvloeistate; belange in gesamentlike ondernemings. Takrekeningkunde. Inleiding tot konsolidasies, insluitend basiese konsolidasietegnieke vir beide volfiliale en filiale wat gedeeltelik besit word. Inleiding tot owerheidsrekeningkunde.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teltegnieke. Waarskynlikheidsleer: Steekproefruimtes, gebeurtenisse, waarskynlikheidsreëls, voorwaardelike waarskynlikhede, onafhanklike gebeurtenisse en Bayes se stelling. Waarskynlikheidsverdelings en waarskynlikheidsdigtheidsfunksies: kumulatiewe verdelingsfunksies, marginale verdelings, gesamentlike verdelings, voorwaardelike verdelings en onafhanklikheid. Verwagte waardes: Momente, Chebyshev se stelling, momentvoortbringende funksies, produkmomente, momente van linêere kombinasies van stogastiese veranderlikes en voorwaardelike verwagte waardes. Transformasietegnieke van stogastiese veranderlikes. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Raamwerk en doel van finansiële bestuur; die finansiële jaarstate met die klem op inhoud; die ontleding en vertolking van finansiële state vir besluitneming; die tydwaarde van geld; risiko en opbrengsverwantskappe; die waarderingasie van die onderneming; korttermynbeplanning; die bestuur van bedryfskapitaal.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente Doel en funksie van bestuursrekeningkunde; grondliggende kostebegrippe; die bepaling van produkkoste met inbegrip van grondstof-, arbeids- en bokoste en die toedeling daarvan volgens die tradisionele sowel as aktiwiteitsgebaseerde kostetegnieke, voorraadbestuur, die akkumulering van kostes volgens ’n taak- en proseskostestelsel, die hantering van gesamentlike en neweprodukte en die bepaling van kostes volgens ’n direkte sowel as ’n absorpsiekostebenadering; besluitneming met verwysing na kostevolume-wins-verhoudings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van die Maatskappywet, die Raamwerk en Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: aanbieding van finansiële state; inkomste; voorsienings, voorwaardelike aanspreeklikhede en voorwaardelike bates; gebeure na die balansstaatdatum; voorraad; inkomstebelasting; hure; eiendom, aanleg en toerusting; waardedaling van bates; ontasbare bates; beleggingseiendom; veranderinge in rekeningkundige ramings en foute; inleiding tot finansiële instrumente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Rekenaarverwerking van rekeningkundige inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mikro-ekonomie

    Vanaf algemene ewewig en ekonomiese welvaart, tot onsekerheid en assimetriese inligting. In hierdie module word die beginsels wat in EKN 224 geleer word toegepas op die wêreld om ons, deurdat ons die mikro-ekonomiese beginsels van die arbeids- en kapitaalmark bestudeer, asook die redes waarom die vryemarkstelsel soms misluk. Ons raak aan die owerheid se rol in hierdie markmislukkings. Die kursus sluit onderwerpe in van die wiskundige en ekonometriese ontleding van mikro-ekonomiese vraagstukke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Projekbestuur: Inleiding. Konsepte van projekbestuur; behoefte-identifisering; die projek, projekbestuurder en projekspan; soorte projekorganisasies; projekkommunikasie en -dokumentasie. Beplanning en beheer: beplanning, skedulering en skedulebeheer van projekte; hulpbronoorwegings en toedeling; kostebeplanning en prestasie-evaluering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie

    Toepassing van die beginsels geleer in EKN 214 op die wêreld waarin ons leef. Ons pas die teorie toe op internasionale marke en dinamiese makro-ekonomiese modelle, terwyl ons die student blootstel aan die makro-ekonomiese beleidsvraagstukke van die dag. Ons kyk ook na die jongste makro-ekonomiese navorsingsvraagstukke in die wêreld. Die kursus sluit onderwerpe in van die wiskundige en ekonometriese ontleding van makro-ekonomiese vraagstukke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Spesiale waarskynlikheidsverdelings: die diskrete uniforme verdeling, Bernoulli-verdeling, binomiaalverdeling, negatief-binomiaal- and geometrieseverdeling, die hypergeometriese verdeling, Poissonverdeling en multinomiaalverdeling. Spesiale waarskynlikheids-digtheidsfunkies: Uniforme verdeling, gamma-, eksponentiaal- and chi-kwadraatverdelings, die betaverdeling, die normaalverdeling en die tweeveranderlike normaalverdeling. Funksies van stogastiese veranderlikes. Steekproefverdelings, puntberaming, intervalberaming en hipotese toetsing. Regressie-analise. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke in die simulasie van verdelings en statistiese inferensie.

    Sien meer

Minimum krediete: 142

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in regte (a) Algemene beginsels van die sakereg (b) Grondwetlike aspekte (c) Beheer (besit en houerskap) (d) Eiendomsreg (insluitend mede-eiendom en deeltiteleiendom) (e) Beperkte saaklike regte (insluitend serwitute, beperkende voorwaardes, publieke serwitute, mineraalregte en saaklike sekerheidsregte)

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BCom met spesialisering in regte (a) Algemene inleiding en geskiedkundige agtergrond (b) Die proses van sekwestrasie (c) Gevolge van sekwestrasie (d) Vernietigbare en nietige regshandelinge (e) ’n Oorsig van die bereddering van insolvente boedels (f) Akkoord, rehabilitasie en misdrywe (g) Likwidasie van insolvente maatskappye en beslote korporasies

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BA/BCom met spesialisering in regte (a) Algemene beginsels van die deliktereg (b) Capita selecta uit die beginsels van toepassing op besondere delikte

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BCom met spesialisering in regte (a) Kenmerke van verhandelbaarheid; die wissel, tjek en promesse; : partye betrokke by wissels, tjeks en promesses (b) Geldigheidsvereistes, verhandeling, houerskap en akseptasie (c) Die bankier-kliënt-verhouding; kruisings en toevoegings tot kruisings; die regsposisie van die betrokkene en invorderingsbank (d) Elektroniese betalingsmetodes

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Vir LLB en BCom in regte (a) Maatskappyereg (b) Reg insake beslote korporasies (c) Vennootskapsreg

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: inkomstebelasting; eiendom, aanleg en toerusting; waardedaling; niebedryfsbates gehou vir verkoop; ontasbare bates; beleggingseiendom; leenkoste; hure; rekeningkundige beleid; veranderinge in rekeningkundige ramings en foute; segmentverslagdoening; sekere aspekte van finansiële instrumente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Regressie-analise-uitbreidings: heteroskedastisiteit, reekskorrelasie en sloeringstrukture. Tydreeksanalise. Toepassings van matrikse, differensiasie en integrasie in die ekonomiese en bestuurswetenskappe. Evaluering van eenvoudige ekonomiese modelle. Teorie en toepassings van tydreeksmodelle: eenveranderlike tydreekse. Stasionêre en nie-stasionêre tydreekse. ARMA- en ARIMA-modelle. Regressiemodelle. Modelidentifikasie en -beraming. Spektrum en periodogram. Vooruitskatting met tydreeksmodelle. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke. Studenteseminare.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Internasionale handel/finansiering Internasionale ekonomiese insig in die volgende: internasionale ekonomiese verhoudings en geskiedenis, internasionale handelsteorie, internasionale kapitaalbewegings, internasionale handelspolitiek, ekonomiese en doeane-unies en ander vorme van streeksamewerking en integrasie, internasionale monetêre verhoudings, buitelandse valutamarkte, wisselkoersaangeleenthede en die betalingsbalans asook die makro-ekonomiese aspekte van oop ekonomieë.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekonomiese beleid en ontwikkeling: capita selecta Die kursus bied 'n inleiding tot ekonomiese groei en ook sommige onderwerpe en ontwikkelinge ekonomie. Eerstens word historiese bewyse ontleed en dan ook die kanonieke Solow-groei model en sommige van die empiriese toepassings daarvan (menslikekapitaal en konvergensie). Tweedens word die nuwe groeiteorie (die AK- en Romer modelle van endogene ekonomiese groei) gedek. Sommige van die ontwikkeling onderwerpe wat behandel word is tegnologie-oordrag, sosiale infrastruktuur en natuurlike hulpbronne.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: die uitwerking van veranderinge in wisselkoerse; verdienste per aandeel; verwante party openbaarmaking; geassosieerdes. Gevorderde konsolidasie-aangeleenthede, insluitend intragroeptransaksies; dividende; voorkeuraandele; herwaardasies; horisontale, vertikale en gemengde groepe; insolvente filiale; verandering in belang; gekonsolideerde kontantvloeistaat.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Menslikehulpbronbestuur en -ontwikkeling Die omgewing waarbinne menslikehulpbronbestuur plaasvind; posontleding; strategiese menslikehulpbronbeplanning; gelyke indiensnemingsgeleenthede; beplanning en bestuur van opleiding, ontwikkeling en loopbane; funksionering in internasionale sake-omgewings. Onderhandelinge en kollektiewe bedinging Die aard van onderhandeling, voorbereiding vir onderhandeling, onderhandeling vir klimaatskepping; oorredende kommunikasie; hantering van konflik en aggressie; gespesialiseerde onderhandeling en kollektiewe bedinging in die Suid-Afrikaanse konteks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekonomiese analises Die identifikasie, insameling en interpretering van ekonomiese data; die nasionale rekeninge (inkome- en produksierekeninge, die nasionale finansiële rekening, die betalingsbalans en inset-uitsettabelle); ekonomiese groei; inflasie; werkskepping; werkloosheid, lone, produktiwiteit en inkomeverdeling; besigheidsiklusse; finansiële aanwysers; sosiale aanwysers; internasionale vergelykings; regressie-analise van verwantskappe tussen ekonomiese tydreekse; langtermyn toekomsstudies en scenarios; algehele beoordeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie vanaf 1994.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Die koste van kapitaal; die bepaling van die kapitaalbehoeftes en die finansiering van die onderneming met die oog op ‘n optimale kapitaalstruktuur; die investeringsbesluit en ‘n studie van die seleksiemaatstawwe vir die beoordeling van kapitaalinvesteringsprojekte; die invloed van inflasie en risiko op investeringsbesluite; die evaluasie van huurfinansieringsbesluite; die dividendbesluit; internasionale finansiële bestuur.  Waardasiebeginsels en -praktyke: ‘n inleiding tot sekuriteitewaardasie; hibriede en afgeleide instrumente; samesmeltings en oornames.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die doel van die module is om die leerder in staat te stel om die belasting op toegevoegdewaarde-aanspreeklikheid te kan bereken en die nodige joernaalinskrywings te kan weergee; die normale belastingaanspreeklikheid (ingesluit die bepaling van belasbare kapitaalwinste en aangeslane kapitaalverliese) van individue, maatskappye, boedels en trusts te kan bereken en belastingbeginsels te kan bespreek; en om voorlopige en werknemersbelasting te kan bereken en beswaar teen ‘n aanslag te kan aanteken.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Finansiële Wetenskappe, Finansiële Bestuurswetenskappe, Beleggingsbestuur, Interne Ouditkunde en Regte)-studente
    Relevante koste; standaardkosteberekening met verwysing na toepassing en evaluasie; voorbereiding en evaluasie van planne, begrotings en voorspellings; tegnieke om hulpbronne aan te wend en te bestuur; evaluasie van koste- en rekeningkundige stelsels; tegnieke wat gebruik word in bestuursbesluitneming; nuwe ontwikkelings in besigheid en bestuurs-rekeningkunde; gevallestudie-perspektief.  Kostebestuur; strategiese bestuursrekeningkunde; kostevooruitskatting en koste-gedrag; kwantitatiewe modelle vir voorraadbeheer; toepassing van linieêre programmering in bestuursrekeningkunde; verskeie bestuursrekeningkundige tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Regressie-analise: eenvoudige en meervoudige regressie; nie-lineêre regressie; korrelasie en die gebruik van skynveranderlikes. Meerveranderlike verdelings: normaal-, multinomiaal- en poissonverdeling. Lineêre kombinasies van normaalveranderlikes. Analise van variansie en kovariansie. Kategoriese data-analise. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Staatsfinansies
    Rol van die owerheid in die ekonomie. Welvaartsteorie en die optimaliteitsteorieë. Maniere waarop markmislukkings reggestel word. Owerheidsbestedingsteorieë, modelle en programme. Owerheidsinkomste. Modelle oor belasting, effek van belasting op die ekonomie. Beoordeling van belasting vanuit 'n optimaliteits- en effektiwiteitsoogpunt. Suid-Afrikaanse perspektief op owerheidsfinansies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Strategiese bestuursanalise en -formulering Grondbegrippe; formulering van missie, beleid en doelwitte; eksterne evaluering van die sake-omgewing; interne evaluering van die onderneming, insluitende intellektuele bates; die formulering en ontwikkeling van ‘n strategiese plan. Strategiese bestuursimplementering Die rol van bestuur in strategiese implementering; begrotings as instrument in die implementeringsproses; die lei van veranderingsprosesse binne ondernemings; ondersteunende beleid, prosedure en inligtingstelsels vir strategiese implementering; implementering in die verskillende funksionele gebiede; evaluering en beheer van implementering.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences