Jaarboeke

Program: BCom Menslikehulpbronbestuur

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
07130144 Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Credits Duration
Minimum duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 411
Contact:
Prof C Olckers
[email protected]
+27 (0)124203435

Programinligting

Die doel van hierdie pakket is om leerders toe te rus met die vereiste kennis en vaardighede om menslike hulpbronne in enige organisasie effektief te bestuur. Hierdie kennis en vaardighede sluit die volgende in: persepsie (studie, navorsing); evaluering (beoordeling, meting, keuring, plasing en probleemidentifisering); optimale benutting en beïnvloeding (verandering, opleiding, ontwikkeling, motivering, onderhandeling en bestuur) van menslike gedrag en die interaksie daarvan met die omgewing (fisies, sielkundig, sosiaal en organisatories) soos dit in die werkswêreld voorkom.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.

  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.

Minimum vereistes

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

4

3

D

D

30

Addisionele vereistes

  1. Algemene Regulasies G.1 tot G.15 (met uitsondering van Regulasie G.11.2(c)) is van toepassing op ’n baccalaureusgraad.
  2. Tensy die Dekaan anders besluit, mag ’n student nie meer as die voorgeskrewe getal modules per semester volg nie.
  3. ’n Ander module as dié wat onder keusemodules vermeld is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan geneem word.
  4. ’n Student wat reeds in besit van ’n baccalaureusgraad is, mag nie modules wat vir dié graad geslaag is, weer vir ’n ander rigting of graad in hierdie Fakulteit aanbied nie. (Raadpleeg Algemene Regulasies G.8 en G.9.)
  5. ’n Module wat op 300-vlak geslaag is, sal slegs as kwalifiserende module vir die graad erken word indien die ooreenstemmende voorgeskrewe module(s) op 200-vlak ook reeds geslaag is, tensy die Dekaan anders besluit, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as kwalifiserende modules geld: Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320), en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369). Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
  6. ’n Module wat reeds geslaag is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan herhaal word.
  7. ’n Module wat reeds geslaag is, mag nie vir meer as een graad of spesialiseringsrigting in aanmerking geneem word nie.
  8. Die onus rus op studente om voor registrasie seker te maak dat hul modules nie op die klas-, toets- en eksamenrooster bots nie.
  9. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ondersteun uitkoms-gebaseerde onderwys en plaas ’n hoë premie op die ontwikkeling van spesifieke akademiese vaardighede. Klasbywoning in al die modules en vir die volle duur van die program is daarom verpligtend vir alle studente.
  10. Die Dekaan het ’n beslissingsbevoegdheid ten opsigte van aangeleenthede waar-voor nie in die Algemene of Fakulteitsregulasies voorsiening gemaak word nie.

Ander programspesifieke inligting

Let wel: Raadpleeg die alfabetiese lys van modules vir die voorvereistes van alle modules.

  • FRK 122 is ’n eindmodule. Kandidate sal nie met Finansiële rekeningkunde op 200- en 300-vlak kan voortgaan nie.
  • Studente wat RES 151 of RES 261 in 2012 gedruip het, moet in 2013 vir RES 210 registreer.
  • OBS 310 mag nie saam met BDO 319, 329 in dieselfde kurrikulum vir graaddoeleindes ingesluit word nie.

Spesialiseringsmodules: BDO 319, 329, 373, OBS 320.

Hoofvak
Ten einde as "hoofvak" te kwalifiseer moet minstens die ekwivalent van vier 14- week-modules van ’n vak, insluitende twee op 300-vlak, geslaag word, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as "hoofvakke" geld:

  • Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320) en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369);
  • en dat slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300 vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).

Bevordering tot volgende studiejaar

Volgens Algemene Regulasie G.3 word spesifieke bevorderingsvoorwaardes gestel deur fakulteitsrade waaraan studente van die fakulteit moet voldoen.

  1. 'n Student moet in ten minste 4 kernsemestermodules of 2 kern-jaarmodules slaag om tot die volgende akademiese jaar toegelaat te word.
  2. 'n Student wat minder as 4 kernsemestermodules of 2 kernjaarmodules geslaag het, word nie tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hertoegelaat nie. Sodanige student wie se reg op hertoelating verval het, mag skriftelik by die Fakulteit se Toelatingskomitee aansoek doen om voorwaardelike hertoelating tot die Fakulteit – met die voorbehoud dat die Toelatingskomitee verdere voorwaardes ten opsigte van studente se vordering mag stel. 'n Student se aansoek om voorwaardelike hertoelating mag geweier word.
  3. 'n Student wat voorwaardelik tot die Fakulteit hertoegelaat word, se studies sal na die eerste semestereksamen nagegaan word om vas te stel of hy/sy aan die gestelde voorwaardes voldoen het. Indien daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie, sal sodanige student se studies opgeskort word.
  4. 'n Student wie se studies weens swak akademiese prestasie opgeskort word, het die reg om teen die besluit van die Fakulteit se Toelatingskomitee te appelleer.
  5. 'n Student kan bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien die vasgestelde klasgeld soos voorgeskryf, nie betaal is nie.
  6. 'n Student kan toelating tot die eksamen of bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien hy/sy nie aan die bywonings-vereistes voldoen het nie. Klasbywoning in alle modules en vir die volle duur van die program is verpligtend vir alle studente.

Slaag met lof

  1. 'n Graad kan met lof toegeken word mits die kandidaat aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Die graad moet binne drie jaar voltooi word;
  2. 'n Geweegde gemiddelde (GPA) van 75% moet behaal word;
  3. Modules wat reeds geslaag is en herhaal word, se nuwe punt sal nie in berekening gebring word nie. Die oorspronklike slaagpunt van die module sal gebruik word vir die berekening van die GPA.
  1. Oorskakelaars van ander fakulteite en ander universiteite (insluitend krediete wat oorgedra word en erken word vanaf die graad waarvoor oorspronklik geregistreer was), sal as buitengewone gevalle deur die dekaan oorweeg word.
  2. Die GPA sal nie gerond word tot die naaste volgende heelgetal nie.
  3. Buitengewone gevalle sal deur die dekaan oorweeg word.

Algemene inligting

Minimumvereistes vir baccalaureusgrade; semester- en jaarmodules; nuwe regulasies

  1. Studente wat voor 2015 met hul studies begin het, moet die program voltooi ooreenkomstig die bepalinge van die leergang van die jaar waarin hulle studies ’n aanvang geneem het, of ooreenkomstig die leergang van die jaar waarin hulle na hul huidige spesialiteitsrigting oorgeskakel het. Studente wat dit verkies, mag egter aansoek doen om oor te skakel na die jongste leergang, maar dan moet hulle voldoen aan al die vereistes daarvan. Hulle mag ook nie weer terugskakel na die regulasies van ’n vorige jaar nie.
  2. Studente wat in 2015 vir die eerste keer vir ’n graadprogram registreer, moet die modules volg wat in die betrokke spesialiseringsrigting aangedui word.

Let wel: Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, mag as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
Die onus rus dus ten volle op studente om vóór registrasie seker te maak dat hulle leergange aan al die vereistes van die toepaslike regulasies voldoen.

Minimum krediete: 110

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Slegs vir BCom / BAdmin studente
    Bedryf- en Organisasiesielkunde is ‘n toegepaste veld van die Sielkunde wat fokus op werknemer en organisatoriese gedrag.  Die module het ten doel om die student bekend te stel aan:

    • die geskiedenis en ontwikkeling van die Sielkunde asook die Bedryf- en Organisasiesielkunde
    • die verskillende sub-areas van die Sielkunde asook die Bedryf- en Organisasiesielkunde
    • hoe die verskillende teoretiese denkskole in die Sielkunde die psige van die mens en mens-gedrag beskou
    • die genetiese en biologiese basis van mens-gedrag, ‘n beter begrip vir individuele verskille aan te toon en ‘n inleiding tot ergonomiese beginsels te gee
    • hoe wetenskaplike navorsing die grondslag vorm om mens-gedrag te verstaan en te hanteer sodat optimale funksionering van die mens in die werkomgewing bereik kan word.

    Individuele prosesse
    In hierdie afdeling word die beginsels van leer soos dit in die werkkonteks voorkom, ondersoek.  Die rol van persepsie binne werkverband word behandel deur te kyk na qaspeket soos vorm-, diepte-, afstand– en kleurpersepsie.  Kognisie, denke, redenering, geheue, kreatiwiteit en besluitneming word behandel.  Intelligensie word toegelig en in perspektief geplaas binne die veld van die bedryf– en organisasiesielkunde.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en funksie van rekeningkunde; die ontwikkeling van rekeningkunde; finansiële toestand; finansiële prestasie; die boekstawingsproses; verwerking van rekeningkundige data; elementêre inkomstestaat en balansstaat; dokumentevloei; rekeningkundige stelsels; inleiding tot interne beheer en interne beheermaatreëls; bankrekonsiliasies; kontrolerekeninge; aansuiwerings; opstel van finale state van 'n eenmansaak; die rekeningkundige raamwerk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Begroting, salarisverantwoording, belasting – inkomstebelasting en ‘n inleiding tot ander soorte belasting, krediet en die nuwe Kredietwet, versekering, verantwoording van voorraad (klem op voorraad en die rekeningkundige inskrywings, nie berekeninge nie), vertolking van finansiële state.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    STK 113 en 123 tel op sigself nie as krediet vir graaddoeleindes nie, maar verleen vrystelling van STK 110. Databewerkings en transformasies: Inleidende begrippe: die rol van statistiek, verskillende tipes data en die getallestelsel. Begrippe onderliggend aan lineêre, kwadratiese, eksponensiële, hiperboliese en logaritmiese transformasies van kwantitatiewe data, grafiese voorstellings, oplossing van vergelykings en interpretasie. Bepaling van lineêre vergelykings in praktiese situasies. Eienskappe van logaritmiese funksies. Die verwantskap tussen die eksponensiële en logaritmiese funksies in ekonomiese en verwante probleme. Stelsels van vergelyking in ewewig. Addisionele begrippe van belang by dataverwerking, funksies en inverse funksies, sigma-notasie, faktoriaalnotasie, rye en reekse, ongelykhede (streng, swak, absoluut, voorwaardelik en dubbele) en absolute waardes. Beskrywende statistiek – Eenvariant: Steekproefneming en die insameling van data, frekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding. Inleidende waarskynlikheidsleer. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke. Die weeklikse een uur prakties word gedurende die laaste sewe weke van die semester aangebied.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Meervariante statistiek:
    Variansieanalise, kategoriese data-analise, verdelingsvrye metodes, krommepassing, regressie en korrelasie, die ontleding van tydreekse en indekse.  Statistiese en ekonomiese toepassings van kwantitatiewe tegnieke:
    Stelsels van lineêre vergelykings; opstelling, matrikse, oplossing en toepassing. Optimering; lineêre funksies (twee en meer onafhanklike veranderlikes), nie-lineêre funksies (een en twee onafhanklike veranderlikes).  Marginale en totale funksies. Stogastiese en deterministiese veranderlikes in statistiese en ekonomiese konteks: produsentesurplus, verbruikersurplus, distribusiefunksies, waarskynlikheidsverdelings en digtheidsfunksies. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Hierdie module word ook as anti-semester tweetalige module aangebied.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *STK 113 en 123 tel op sigself nie as krediet vir graaddoeleindes nie, maar verleen vrystelling van STK 110.
    Optimeringstegnieke met ekonomiese toepassings:
    Datatransformasies en verwantskappe met ekonomiese toepassings: bewerkings en reëls, lineêre, kwadratiese, eksponensiële, hiperboliese en logaritmiese funksies, stelsels van vergelykings in ewewig, stelsels van lineêre ongelykhede, oplossing van lineêre programmeringsprobleme met behulp van die grafiese en hoekpuntmetodes. Toepassings van differensiasie en integrasie in statisties- en ekonomiesverwante probleme: die limiet van ‘n funksie, kontinuïteit, veranderingstempo, die afgeleide van ‘n funksie, differensiasiereëls, hoërorde- afgeleides, optimeringstegnieke, die oppervlakte onder ‘n kromme en toepassings van bepaalde integrale. 
    Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings. Steekproefverdelings.  Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproefverhoudings (een- en twee-steekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Die weeklikse een uur prakties word gedurende die laaste sewe weke van die semester aangebied.

    Sien meer

Minimum krediete: 153

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Slegs vir BCom / BAdmin studente

    Menslike ontwikkeling en persoonlikheid
    Die lewenspan en belangrike periodes in die menslike omgewing word behandel met die klem op die betekenis daarvan in die werkkonteks.  Ten opsigte van persoonlikheid word daar onder andere aandag gegee aand ie kulturele konteks van persoonlikheid, die vorming, dimensies en determinante van persoonlikheid, persoonlikheid as gedragsbepaler en die ont¬wikkeling en instandhouding van die selfkonsep.  Aandag word ook gegee aan die basiese metodes van persoonlikheidsmeting en –assessering.

    Motivering en werknemer welstand
    Een van die baie faktore wat deel vorm van individuele prosesse is Motivering en Emosie. Om insig te hê in individuele prosesse sal bydra tot 'n begrip van hoe en waarom werknemers presteer by hulle werkplekke . Die eerste deel van hierdie semester kursus het ten doel om die student bekend te stel aan die fundamentele teorieë van motivering en emosie. Die tweede deel van hierdie semesterkursus is gemoeid met die erkenning en klassifikasie van sielkundige versteurings, asook die bestuur en bevordering van psigologiese welstand in organisasies. 'n Positiewe siening van psigologiese gesondheid het ten doel om die persoon se innerlike hulpbronne of sterkpunte en uithouvermoeë te fasiliteer sodat hulle gesond bly en effektief kan omgaan.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs vir BCom / BAdmin studente

    Groepsgedrag en leierskap
    Hierdie module fokus op organisasiegedrag met spesifieke verwysing na die beginsels van groepsgedrag en die rol van werkspanne in die organisasie. Daar word spesifiek gefokus op groepsontwikkeling, -interaksie, -strukture en -prosesse asook die bevordering van spanprestasie in organisasies.
    Leierskap en die invloed van mag en politiek in die organisasie word bestudeer. Die funksie wat leierskap in individuele, groeps- en taakgerigtegedrag vervul, word toegelig.

    Organisasiegedrag
    Die gedragsbasis vir organisasiestrukturering en -ontwerp word in die module bestudeer. Organisasiekultuur as ’n belangrike faset van ’n organisasie word toegelig. Die dinamiek en benaderings tot organisasieverandering word behandel. Daar word spesifiek gefokus op die rol van veranderingsagente, weerstand teen verandering en organisasie-ontwikkeling. Kontemporêre vraagstukke met betrekking tot organisasieverandering word prakties toegelig.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs vir BCom / BAdmin studente

    Werknemergesondheid en ergonomika

    Hierdie afdeling fokus op aktuele en belangrike aspekte van gesondheids- en veiligheidsbestuur in organisasies, asook die aard en rol van ergonomika daarin. Hierdie aspekte word teoreties en prakties toegelig sodat die student die nodige kennis en vaardighede bekom in die veld van organisasiesielkunde en menslikehulpbronbestuur.

    Bestuur van diversiteit

    Hierdie afdeling fokus op die ontwikkeling van ’n sensitiwiteit vir ’n diverse werksmag en die ontwikkeling van ’n klimaat van wedersydse respek en toleransie tussen individue en groepe in die organisasie. Daar word spesifiek gefokus op die voorvereistes vir die effektiewe instel van ’n diversiteitsbestuurprogram in ’n organisasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Menslikehulpbronbestuur)-studente.  Psigometrika
    Hierdie module fokus op die basiese konsepte van sielkundige toetsing. Die volgende aspekte word bestudeer: fundamentele, etiese en wetlike vraagstukke in sielkundige toetsing; toetsgeldigheid en -betroubaarheid; toetssydigheid; toetsinterpretasiemetodes; die effektiewe toepassing van verskillende tipes psigometriese toetse en die gebruik van rekenaars in die toepassing en interpretasie van toetse.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Basiese beginsels van die kontraktereg; koopreg; kredietooreenkomste, huurreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Arbeidsreg; aspekte van sekerheidstelling; insolvensiereg; ondernemingsreg; maatskappyereg; reg insake beslote korporasies en vennootskapsreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    *Module content will be adapted in accordance with the appropriate degree programme. Only one of KOB 281– 284 may be taken as a module where necessary for a programme.

    Applied business communication skills

    Acquiring basic business communication skills will enhance the capabilities of employees, managers and leaders in the business environment. An overview of applied skills on the intrapersonal, dyadic, interpersonal, group (team), organisational, public and mass communication contexts is provided. The practical part of the module (for example, the writing of business reports and presentation skills) concentrates on the performance dimensions of these skills as applied to particular professions.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Logistieke bestuur Die rol van logistiek in 'n onderneming; omskrywing en omvang van klantediens; elektroniese en ander logistieke inligtingstelsels; voorraadbestuur en materiaalbestuur met besondere verwysing na Japannese stelsels; bestuur van die voorsieningsketting. Vervoermetodes en vervoerkoste; soorte opberging en die koste daarvan; elektroniese hulpmiddels by materiaalhantering; koste en prysbepaling by aankope; organisering vir logistieke bestuur en metodes om logistieke werkverrigting te verbeter.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Projekbestuur: Inleiding. Konsepte van projekbestuur; behoefte-identifisering; die projek, projekbestuurder en projekspan; soorte projekorganisasies; projekkommunikasie en -dokumentasie. Beplanning en beheer: beplanning, skedulering en skedulebeheer van projekte; hulpbronoorwegings en toedeling; kostebeplanning en prestasie-evaluering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die module is ‘n inleiding tot die verskillende ondersoekmetodes van die sosiale- en geesteswetenskappe. Die doel van hierdie module is om studente in te lei in die navorsingsproses met die doel om hulle toe te rus met die vaardighede om:
    • sosiale probleme te identifiseer en navorsingsvrae en -hipoteses te formuleer;
    • ‘n basiese begrip van wat die skryf van ’n literatuuroorsig en navorsingsvoorstel behels te ontwikkel;
    • kennis te dra van ondersoekmetodes en op ‘n toepaslike metode te kan besluit;
    • data te interpreteer en grafies voor te stel; en
    • bewus te wees van die noodsaak om eties verantwoordbare navorsing te doen.

    Sien meer

Minimum krediete: 138

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Basiese beginsels van die dienskontrak; kollektiewe arbeidsreg (insluitend kollektiewe bedinging en vakbonde). Statutêre diensvoorwaardes; individuele arbeidsgeskille; kollektiewe arbeidsdispute; beslegtingsprosedures.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teoretiese onderbou van Arbeidsverhoudinge Die basiese begrippe, historiese konteks en teoretiese benaderings tot die vakgebied van Arbeidsverhoudinge word toegelig. Die institusionele raamwerk waarbinne arbeidsverhoudinge bedryf word, word uiteengesit met besondere klem op die strukturele meganismes en institusionele prosesse. Die diensverhouding wat die grondslag van 'n arbeidsvehoudingepraktyk vorm, word ook ontleed. Arbeidsverhoudingepraktyk In hierdie afdeling word konseptuele en praktiese vaardighede deur ervaringsleer oorgedra ten opsigte van praktyksaspekte soos griewehantering, dissiplinering, verskraling, kollektiewe bedinging, nywerheidsaksie en geskilbeslegting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Menslikehulpbronbestuurstelsels Die afdeling verskaf ‘n inleiding tot menslikehulpbronbestuurstelsels en spreek ook hedendaagse ontwikkelinge en vraagstukke op die gebied aan. Die volgende temas word omvattend bespreek: posontleding, posbeskrywing en posspesifikasie; posontwerp; vergoedingsteorie en -stelsels; posevaluering en -gradering; voordele- en byvoordele-stelsels. Vergoedingstelsels as motivering vir werknemers word ook behandel. Menslikehulpbronvoorsiening Menslikehulpbronvoorsiening word, vanuit ‘n bedryfsielkundige perspektief, aangebied onder die volgende hoofde: mensehulpbronbeplanning; makro- en mikroveranderlikes wat ‘n invloed het op personeelvooruitskatting en -voorsiening; menslikehulpbron-inligtingstelsels; die ouditering van vaardighede; asook tegnieke soos werwing, keuring, plasing en induksie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Prestasiebestuur, opleiding en ontwikkeling
    Die afdeling spreek die hoofkenmerke van ‘n prestasiebestuurstelsel aan en fokus op die strategiese en motiveringswaarde van die proses en fokus op die volgende aspekte: die basiese konsepte van prestasiebestuur, die prestasiebestuursproses, prestasiebestuursmetodes, asook die beoordelingsonderhoud.  Die module sal ook opleiding en ontwikkeling binne in die werkskonteks aanspreek, en sal veral fokus op die opleidingsproses.  Dit sal insluit: basiese konsepte in opleiding en ontwikkeling, die opleidingsproses, die behoeftebepaling, ontwikkeling en implimentering van ‘n opleidingsprogram, asook die wetgewing wat verband hou met opleiding en ontwikkeling in SA. 

    Menslikehulpbron– en loopbaanontwikkeling
    Die afdeling spreek die hedendaagse metodes aan wat benut kan word om mensekrag– en loopbaanontwikkelingsprogramme te ontwikkel en aan te bied om prestasie op sowel die individuele as organisatoriese vlak te bevorder. Die klem val op die implikasies van die veranderinge in organisasies vir loopbane, loopbaankonsepte, loopbaanbestuurmodelle, lewens- en loopbaanfases, loopbaankwessies, organisatoriese keuse, loopbaanontwikkelingsteunpraktyke en ontluikende menslike hulp¬bron¬praktyke. Die integrasie van individuele loopbaanverwagtinge met die vereistes en die organisasie se strategieë sal geïllustreer met behulp van die loopbaanbestuur literatuur.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Menslikehulpbronbestuur)-studente. Menslikehulpbronbestuurpraktyk
    In hierdie module word ‘n virtuele organisasie gestig. Studente tree op as ''menslikehulpbronpraktisyns'' in hierdie organisasie. Die volle spektrum van menslikehulpbronbestuurspraktyke word toegepas en beoefen. Die student word die geleentheid gebied om verslae voor te berei en aan te bied, om tegnieke te oefen en toe te pas, om in spanne aan projekte saam te werk, asook om prosesse te beoordeel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Menslikehulpbronbestuur)-studente.     

    Hierdie module fokus op die gebruik van sielkundige toetse en ander evaluerings-metodes in die bedryfskonteks. Die volgende word aangespreek: die oordrag van toetsresultate in die bedryf; die samestelling van bevoegdheidsprofiele; die voer van onderhoude in die werksplek en die praktiese toepassing daarvan. Riglyne vir etiese toetsprakryke in die bedryf; die meting van video-simulasietoetse; situasie-besluitnemingtoetse (SJT); waardeskale en beroepsgereedheidstoetse asook ’n inleiding tot die meting van persoonlikheid in die bedryfskonteks word in die module aangespreek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Menslikehulpbronbestuur)-studente. Navorsingsmetodiek vir menslikehulpbronbestuurpraktyk
    Hierdie module plaas navorsingsmetodiek binne die konteks van menslikehulpbronbestuur en bedryf- en organisasiesielkunde. Klem word geplaas op die praktiese toepassing en uitvoering van navorsing deur middel van praktiese navorsingsprojekte. Hierdie module lê klem op probleemstelling; identifisering van veranderlikes; gebruik en opstel van ‘n vraelys en onderhoudskedule vir data-insameling; seleksie en toepassing van basiese navorsingsontwerpe; gebruik en interpretasie van beskrywende statistiek; navorsingsetiek in die praktyk; weergee van resultate deur middel van ’n navorsingsverslag.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Strategiese bestuursanalise en -formulering Grondbegrippe; formulering van missie, beleid en doelwitte; eksterne evaluering van die sake-omgewing; interne evaluering van die onderneming, insluitende intellektuele bates; die formulering en ontwikkeling van ‘n strategiese plan. Strategiese bestuursimplementering Die rol van bestuur in strategiese implementering; begrotings as instrument in die implementeringsproses; die lei van veranderingsprosesse binne ondernemings; ondersteunende beleid, prosedure en inligtingstelsels vir strategiese implementering; implementering in die verskillende funksionele gebiede; evaluering en beheer van implementering.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences