Posted on October 24, 2008
Die vroegste wat Suid-Afrika werklik ‘n realistiese kans sal hê om op ‘n Olimpiese Spele te presteer, is in 2020. Dit kan net gebeur as die besluitnemers in Suid-Afrikaanse sport nou reeds bymekaar kom en deeglik begin beplan. Aanstaande jaar is klaar te laat.
Dit is die mening van dr Istvan Balyi een van die hoofsprekers op die kongres van die Internasionale Raad van Afrigtersopvoeding (ICCE) wat vandeesweek by die Tshwane Universiteit van Tegnologie aangebied word.
Balyi word as ‘n leier op die gebied van beplanning oor langtermyn in sport beskou.Hy is op die oomblik besig om Engeland, Skotland, Ierland, met hul sportbeplanning te help.
Balyi sê die groot fout wat sportafrigters in Suid-Afrika en in baie ander lande begaan, is om oorhaastig te wees om resultate te behaal. “Ek het deur navorsing vasgestel dat dit agt tot 12 jaar se deeglike beplande afrigting verg voordat sportlui hul beste peil bereik. Ek noem dit die tien jaar- of 10 000 uur-plan. Dit werk uit op drie uur se oefening elke dag vir tien jaar” sê Balyi.
“Ongelukkig glo baie ouers en afrigters in beplanning oor kort termyn. Dit lei daartoe dat jong sportlui te vroeg te veel deelneem sonder dat hulle ooit behoorlike afrigting ontvang het.” Balyi noem dit “Peaking by Friday”.
Balyi het tennisspelers soos Jennnifer Capriati en Martina Hingis as sprekende voorbeelde uitgesonder. Volgens hom kan geen land ooit só wereld- of Olimpiese kampioene oplewer nie.
Balyi meen dat as Suid-Afrika se regering en sportbase ernstig oor sprotprestasies is, moet daar reg by die begin begin word. “Dit beteken daar moet ‘n sportbewustheid by alle mense gekweek word. Een van die grootste internasionale probleme is vetsug. Dit is omdat te min mense deesdae sport beoefen.” Grootskaalse fiksheid lei tot ‘n gesonde bevolking wat dit makliker maak om kampioene op te lewer. “Daarom is ek ‘n groot voorstander daarvan dat liggaamsopvoeding weer deel moet uitmaak van skole se leerplanne.
“In Kanada is hulle nou besig om liggaamsopvoeding weer terug te bring”. Dit is ook vir my noodsaaklik dat kinders jonger as tien aan soveel moontlik sportsoorte moet deelneem. “Op so ‘n jong ouderdom moet sport egter grootliks net ‘n speletjie wees”. “Kinders moet eers van 14 jaar af ernstig oefen om mededingend te wees en eers dan kan hulle begin om dalk in ‘n spesifieke sportsoort te spesialiseer.”
“Eers van 18 af moet jong atlete se oefenprogramme daarop ingestel wees om nie net mededingend te wees nie maar om wenners te kweek.” Sportlui moet dan ook spesialiseer. Dit is wanneer afrigters hard daaraan moet werk om tegniese vaardighede te verfyn. Dan moet daar ook baie aandag gegee word daaraan om sportlui se besluitneming te verfyn” het Balyi gesê.
Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.
Get Social With Us
Download the UP Mobile App