Jaarboeke

Program: BChD Tandheelkunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
11130001 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 5 jaar Totale krediete: 937
Contact:
Prof WD Snyman
[email protected]
+27 (0)123192552

Programinligting

Let wel: Kandidate word gekeur voor toelating.

Die Algemene Regulasies is op ’n baccalaureusgraad van toepassing.

Elke student in Tandheelkunde moet binne twee maande na aanvang van die eerste studiejaar by die Registrateur van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aansoek doen om registrasie as student in Tandheelkunde. Studente aan wie vrystelling van die eerste of tweede studiejaar verleen word, moet aan dieselfde registrasievereistes voldoen.

Let wel: Vir student wat voor 2014 vir die BChD-graadprogram geregistreer het, sal die relevante regulasies soos dit in die 2013-jaarboek verskyn het, van toepassing wees.

Toelatingsvereistes

  •  Ten einde te kan registreer moet NSS/IEB/Cambridge-kandidate voldoen aan die minimum vereistes vir graadstudie en aan die minimum vereistes van die betrokke studieprogram.
  •  Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  • Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  • Toelating vir Gesondheidswetenskappe studieprogramme is onderhewig aan 'n keuringsproses.
  • Vir keuringsdoeleindes word die som van die uitslae in ses vakke insluitend Engels Wiskunde en Fisiese Wetenskap bereken. 
 

Minimum vereistes vir 2016

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

Fisiese Wetenskap

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

5

3

C

C

35

 

 

.

 

Addisionele vereistes

(a)     ’n Kandidaat mag nie die eerste studiejaar by ’n ander universiteit voltooi nie.

(b)     Ingevolge die reglement vir keuring, moet ’n kandidaat Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskap neem en minstens ’n prestasiekode van 5 (60%-69%) asook ’n TPT van minstens 35 behaal, om vir keuring en/of toelating in aanmerking te kom.

(c)     Kandidate word na afloop van die keuring skriftelik van die uitslag verwittig.

(d)     Slegs een buitelandse student word jaarliks tot the BChD-graadprogram toegelaat. Slegs aansoekers uit lande in die SAOG word oorweeg.

(e)     Skoolverlaters met geen vorige tersiêre opleiding en wat nie tot die eerste studiejaar van die BChD-graadprogram toegelaat word nie, kan vir ’n BSc-graadprogram in mediese wetenskappe of biologiese wetenskappe aan die Universiteit registreer, mits hy of sy aan die toelatingsvereistes vir sodanige program voldoen. Indien die student die eerste semester van so ’n graadprogram suksesvol slaag, kan hy of sy weer om keuring aansoek doen om oorweeg te word vir keuring. Indien suksesvol, kan die student dan tot die tweede semester van BChD 1 toegelaat word.

Ander programspesifieke inligting

(i)      ’n Nuwe leergang, soos hier aangetoon, word vir die program ingefaseer. Die eerste studiejaar sal vir die eerste keer in 2014 gevolg word, die tweede studiejaar in 2015, die derde studiejaar in 2016, die vierde studiejaar in 2017 en die vyfde studiejaar in 2018.

(ii)     In  2016 sal die vierde en die vyfde studiejaar volgens die ou leergang gevolg word.

(iii)     Studente wat die jaar wat die implementering van die gewysigde kurrikulum direk voorafgaan druip, sal al die modules vir daardie bepaalde jaar moet herhaal in die gewysigde kurrikulum.

(iv)    Die totale krediete en regulasies vir die leergang verskyn in die 2013 jaarboek en is van toepassing op studente wat voor 2014 vir die BChD-graadprogram geregistreer het.

Belangrik:

  • Benewens bogemelde eksamenmodules, moet die volgende verpligte module ook tydens die eerste semester van die eerste studiejaar geslaag word: AIM 101 Akademiese-inligtingbestuur 101.
  • Alle nuwelingeerstejaarstudente aan die Universiteit moet ’n akademiesegeletterdheidstoets aflê. Op grond van die uitslag van hierdie toets kan hulle dan vrygestel word van die volgende akademiesegeletterdheidsmodules óf hulle moet die betrokke modules slaag: ELH 111 en 112.
  • Die eerste semester van die jaarmodule PHY 181 is dieselfde as PHY 131 hierbo genoem.
  • Studente word vrygestel van die taalmodule(s) op grond van die suksesvolle voltooiing van ‘n taal bevoegdheidstoets aan die begin van die jaar.

Vereistes vir toelating tot spesifieke modules
'n Student wat:

  1. in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde asook in Fisiese Wetenskap behaal het, word tot die module Molekulêre en selbiologie (MLB 111), en ’n module in die vakke Chemie, Fisika, Dierkunde en Entomologie, Genetika, Mikrobiologie of Plantkunde toegelaat;
  2. in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde asook in Fisiese Wetenskap behaal het, word tot ’n module in Stralingsfisika (RFI) toegelaat;
  3. in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Fisiese Wetenskap of in Lewenswetenskappe behaal het, word tot modules in Arbeidsterapie en Terapeutiese Media toegelaat;
  4. in die Graad 12-eindeksamen minstens 60% in Wiskunde behaal het, word tot die module WTW 158 in Wiskunde toegelaat; en
  5. in die Graad 12-eindeksamen minstens 50% in Wiskunde behaal het, word tot die module WTW 134 in Wiskunde toegelaat.

Eksamens en slaagvereistes

Slaag van ’n module

’n Modulepunt word bereken uit die deurlopende evalueringsgeleenthede tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke module. Hierdie evaluasies sal een of meer van die volgende insluit:

(i)      Evaluasies ten opsigte van teoretiese kennis.

(ii)     Evaluasies ten opsigte van kliniese kennis en vaardighede.

(iii)    Verpligte bywoning van en aktiewe deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.

(iv)    ’n Finale omvattende module-eksamen wat deur eksterne eksaminatore gemodereer word.

Herhaling van modules ( en dus die studiejaar)

(i)      Studente moet alle modules van ’n betrokke jaar slaag om toelating tot die volgende studiejaar te verkry.

(ii)     Indien die eerste of tweede studiejaar herhaal moet word, word ’n student vrygestel van die modules wat wel in die onsukses-volle jaar geslaag is.

Die Eksamenmodereringsvergadering in oorleg met die Dekaan en Voorsitter van die Skool vir Tandheelkunde, behou die reg om slegs ’n slaagpunt in genoemde modules toe te staan, mits die student in daardie modules aan die volgende vereistes voldoen:

•     Dat die punt wat aan die betrokke module toegeken is, nie op grond van kondonering geskied het nie.

•     Dat die student die betrokke module gereeld bygewoon het, aan alle aktiwiteite deelgeneem het en verder aan alle ander vereistes voldoen het.

•     Dat die inhoud van die module in die daaropvolgende jaar ooreenstem met die inhoud van die betrokke module.

Eksamens en slaagvereistes, subminima en deurlopende evalueringspunt

(i)      Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies is daar geen minimum jaar- of semesterpunt wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie: Met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules nie op dieselfde wyse in ’n Skool hanteer hoef te word nie alhoewel ’n groot mate van eenvormigheid gewens is. Enige ander vereistes vir toelating tot die eksamen verskyn in die studiehandleidings. ’n Finale punt van minstens 50% word vereis om te slaag [sien Reg. D.1.(b)(i)].

Subminimum

’n Subminimum van 40% in die skriftelike deel van ’n eksamen en ’n subminimum van 50% in die kliniese deel van ’n module word vereis. Die departementshoof lig studente aan die begin van die akademiese jaar in oor die subminima wat vereis word in onderafdelings van die modules wat deur die betrokke departement aangebied word. Hierdie inligting verskyn ook in die studiehandleiding.

Deurlopende evalueringspunt

Punte word toegeken vir praktiese en kliniese werk, vir toetse en ook vir werkopdragte wat gedurende die jaar uitgevoer word.

'n Student wat ’n studiejaar herhaal en sertifikate van bevredigende voorbereiding en vordering moet verwerf in modules wat gedruip is, moet al die vereistes nakom soos deur die departementshoof bepaal.

 

Hereksamens in die vierde studiejaar

’n Student wat in die eksamen- en bevorderingsmodules tussen 40-49% behaal het, word tot ’n hereksamen toegelaat. Indien sodanige student hierdie hereksamen/herbevorderingstoets druip, moet die vierde studiejaar herhaal word. Indien ’n studiejaar herhaal moet word, behou die student krediet vir die geslaagde eksamenmodules. Raadpleeg Reg.D.1(e) in verband met die sertifikaat van bevredigende voorbereiding en vordering wat in die herhaaljaar in alle geslaagde bevorderingsmodules verwerf moet word, asook die omvang van betrokkenheid van studente betreffende geslaagde bevorderingsmodules, ten einde ’n bepaalde vlak van kliniese vaardigheid te handhaaf.

 

Eksamens in die vyfde studiejaar

(aa)  ’n Student wat in die kliniese deel van enige module in die finale eksamen druip, moet daardie module herhaal. Die tyd wat moet verloop voordat die student weer vir eksamen kan aanmeld, word deur die Dekaan, op aanbeveling van die eksamenmodererings-vergadering bepaal. ’n Student wat ’n module herhaal, moet sertifikate van bevredigende voorbereiding in al die ander modules wat geslaag is, verwerf.

(bb)  ’n Student wat die teoretiese deel van enige module of onderafdeling van ’n module in die finale eksamen druip, sal tot ’n tweede eksamen in daardie deel van die module toegelaat word. ’n Student wat die tweede eksamen druip, moet die hele module herhaal en mag ’n eksamen aan die einde van die daaropvolgende semester aflê, maar moet sertifikate van bevredigende voorbereiding in al die ander modules wat hy/sy reeds geslaag het, verwerf.

 

Bepalings ten opsigte van bevorderingsmodules

Die bepalings van die Algemene Regulasies i.v.m. bevredigende voorbereiding en vordering is ook van toepassing op modules waarvoor ’n bevorderingstoets vereis word. Hereksamen- en slaagpunte in bevorderingsmodules word toegeken soos in die Algemene Regulasies bepaal: Met dien verstande dat

(i)      bevordering geskied op grond van teoretiese en/of praktiese en/of kliniese evaluering deur die jaar en ’n minimum van 50% vereis word om bevorder te word;

(ii)     waar die jaarpunt minder as 50% is, ’n student deur die eksamen-modereringsvergadering tot ’n herbevorderingstoets in die betrokke module toegelaat kan word;

(iii)    studente wat ’n studiejaar herhaal, krediet behou vir geslaagde eksamen-modules, tensy anders bepaal, maar ’n sertifikaat van bevredigende voor-bereiding en vordering in alle bevorderingsmodules moet verwerf;

(iv)    ten einde te voldoen aan die vereistes van (iii) en om ’n bepaalde vlak van kliniese vaardigheid te handhaaf, die betrokke modulevoorsitter die omvang van die student se betrokkenheid by geslaagde bevorderingsmodules aan die begin van die jaar bepaal, en dit so met die betrokke student(e) ooreenkom

Akademiese uitsluiting van verdere studie

(i)      ’n Student wat die BChD-graad volg, sal slegs twee geleenthede gegun word om ’n studiejaar te herhaal.

(ii)     ’n Student wat nie aan bogenoemde vereiste voldoen nie, maar nogtans toelating tot die Skool verlang, kan die Dekaan/Voorsitter van die Skool skriftelik versoek dat sy/haar aansoek om hertoelating tot die Skool aan die hand van die voorgeskrewe prosedure oorweeg word.

(iii)    Indien ’n student een of meer eerstejaarsmodules druip (en gevolglik nie tot die tweede studiejaar toegelaat word nie), verbeur sodanige student sy of haar keuring en moet hy/sy opnuut om keuring vir die eerste studiejaar aansoek doen.

(iv)    ’n Student wat ’n studiejaar vir die tweede keer druip voor die voltooiing van BChD II, word uit die program uitgesluit en moet weer aansoek doen om keuring met die oog op hertoelating tot die tweede studiejaar.

Bevordering tot volgende studiejaar

Druipelinge/Toelating tot die tweede semester van BChD I

(aa)  Gekeurde eerstejaarstudente wat in ’n voldoende aantal voor-geskrewe eerstesemestermodules op 100-vlak geslaag het, word, onderworpe aan die bepalings van die Algemene Regulasies outomaties tot die tweede semester van die eerste studiejaar toegelaat. Gedurende die tweede semester kan daar dan in die ontbrekende module(s), op ’n antisemesterbasis weer eksamen afgelê word, op voorwaarde dat daar geen roosterbotsings sal wees nie.

(bb)  In die Skool vir Tandheelkunde mag ’n student nie meer semester-modules as wat in totaal gelykstaande is aan agt lesings per week, op ’n antisemesterbasis in die tweede semester herhaal nie.

Toelating tot die tweede studiejaar

’n Student moet in al die modules van die eerste studiejaar geslaag het om tot die tweede studiejaar toegelaat te word.

Druipelinge

’n Student wat ’n studiejaar vir die tweede keer druip voor voltooing van BChD II, word uit die program uitgesluit en moet weer aansoek doen om keuring met die oog op hertoelating tot die tweede studiejaar. Raadpleeg ook Reg. D.1(c) in verband met studente wat enkele modules in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die derde studiejaar

Om tot die derde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules van die tweede studiejaar geslaag het.

Toelating tot die vierde studiejaar

Om tot die vierde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules van die derde studiejaar geslaag het.

Toelating tot vyfde studiejaar

’n Student moet in al die modules van die vierde studiejaar slaag om tot die vyfde studiejaar toegelaat te word.

Slaag met lof

Die graad word met lof toegeken aan ’n student wat in die eksamenmodules van die finale studiejaar minstens 65% in elke module behaal het met ’n gemiddelde van minstens 75% vir al die modules.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences