Jaarboeke

Program: BSocSci Bedryfsosiologie en Arbeidstudies

Code Faculty Duration Credits Download
01130064 Fakulteit Geesteswetenskappe Minimum duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 374

Programinligting

Die toenemende prominensie in die werksplek van mense wat diepgaande analitiese vaardigheid en kennis het met betrekking tot die veeleisende uitdaging van die kontem­porêre geglobaliseerde wêreld van werk – sowel binne Suid-Afrika as internasionaal – beteken dat daar ’n groeiende behoefte is aan industriële sosiologie en industriële sosioloë. Hierdie program rus gegradueerdes toe met begrip, kritiese kennis en die denkvaardighede om op die talle probleme en uitdagings van en binne die werksplek te reageer op ’n proaktiewe, kreatiewe en nuttige wyse.

 

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Kandidate wat voldoen aan die minimum vak- en prestasievereistes sowel as die TPT-vereistes van hierdie programme sal in die programme geplaas word, onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke. Bogenoemde is nie van toepassing op keuringsprogramme nie.
  • Om toelating te behou, sal daar van leerders verwag word om 'n TPT van ten minste 28 in Graad 12 te behaal. Voornemende studente wat reeds voorlopige toelating tot hierdie programme ontvang het, maar 'n TPT van ten minste 26 of 27 in Graad 12 behaal het, sal deur die Toelatingskomitee oorweeg word indien plekke beskikbaar is. Die Toelatingskomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe sal hierdie studente oorweeg sodra die uitslag van die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT) beskikbaar is en onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke.
  • Die Fakulteit sal bevredigende resultate in die NBT beoordeel in die lig van sy onderneming om te verseker dat ‘n voldoende gedeelte aansoekers uit die histories benadeelde kategorie van die bevolking getrek word.
  • Aansoekers wat aan die minimum TPT-vereistes voldoen, maar nie aan die vakvereistes nie, moet die NBT aflê.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit wanneer die TPT bereken word.

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Afrikaans of Engels

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

30

Ander programspesifieke inligting

Studente wat in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is, is verplig om VAG 110 en VAG 125 te neem.

Studente wat nie in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is nie, is verplig om ’n taalmodule ter waarde van 12 krediete uit die lys van taalmodules (sien Akademiese geletterdheid) te neem.

ABV 320 – mag in enige studiejaar geneem word, maar verkieslik in die eerste jaar.
ABR 311 – Mag in enige studiejaar geneem word maar verkieslik in die tweede jaar

Kies een van die volgende dissiplines en neem twee semestermodules op elke jaarvlak. Modules wat nie as kernmodules geneem is nie, kan ook as keusemodules geneem word:

  • Antropologie: APL 110,120 [12 elk] APL 210,220, [20 elk] APL 310,320 [30 elk]
  • Filosofie: FIL 110,120 [12 elk] FIL 210,220 [20 elk] FIL 310,320 [30 elk]
  • Geskiedenis: GES 110,120 [12 elk] GES 210,220 [20 elk] GES 310,320 [30 elk]
  • Politiek: PTO 111,120 [12 elk] saam met
  • Internasionale verhoudinge: IPL 210,220 [20 elk] IPL 310,320 [30 elk]
  • Politiek: PTO 111,120 [12 elk] saam met
  • Staatsleer: STL 210,220 [20 elk] STL 310,320 [30 elk]

Addisionele keusemodule-opsies
Kies modules ter waarde van minstens 48-64 krediete uit die lys van $$dissiplines hierbo of die addisionele keusemodules hieronder:

  • Sepedi: SEP 110 [12] SEP 120 [12] SEP 210 [20] SEP 220 [20]
  • IsiZulu: ZUL 110 [12] ZUL 120 [12] ZUL 210 [20] ZUL 220 [20]
  • Ondernemingsbestuur: OBS 124 [10]
 

Akademiese geletterdheid
Alle studente wat vir die eerste keer aan die Universiteit van Pretoria inskryf en alle nuwelingstudente wat vir die eerste keer by die Fakulteit Geesteswetenskappe inskryf se akademiese geletterdheid sal aan die begin van die akademiese jaar deur middel van hulle NSS-punte bepaal word.

  1. Studente wat ’n graadprogram in Engels volg: Die NSC Graad 12-Engelspunt sal gebruik word om te bepaal of studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe vir die akademiese-geletterdheidsmodules (ALL 110 en ALL 125 in Engels) moet registreer.
  • Huistaal: Studente wat 'n 4 of laer behaal het, registreer vir ALL 110 en ALL 125.
  • Eerste Addisionele Taal: Studente wat ’n 5 of laer behaal het, registreer vir ALL 110 en ALL 125.
  1. Studente wat ’n graadprogram in Afrikaans volg: Die NSC Graad 12-Afrikaanspunt sal gebruik word om te bepaal of studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe vir die akademiese-geletterdheidsmodules (VAG 110 en VAG 125 in Afrikaans) moet registreer.
  • Huistaal: Studente wat ’n 4 of laer behaal het, registreer vir VAG 110 en VAG 125.

Alle studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe wat as risikogevalle geïdenti¬fiseer is, is verplig om ten minste twaalf krediete te verwerf in die akademiese- geletterdheidsmodules VAG 110 of ALL 110 en VAG 125 of ALL 125.
Alle studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe wat nie as risikogevalle geïdentifiseer is nie, is verplig om ten minste 12 krediete in ’n taalmodule te verwerf:

Department of English
ENG 110 Introduction to literature in English (I) 
ENG 120 Introduction to literature in English (II) 
ENG 118 English for specific purposes 

Departement Afrikaans
AFR 110 Afrikaanse taalkunde en letterkunde 
AFR 120 Afrikaanse taalkunde en letterkunde 
AFR 114 Afrikaans vir sprekers van ander tale (I) 

Departement Afrikatale
NDE 1101 Inleiding tot isiNdebele-grammatika: Capita selecta 
*Studente wat isiNdebele in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
ZUL 110 IsiZulu vir beginners
ZUL 111 Inleiding tot isiZulu-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat isiZulu in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
SEP 110 Sepedi vir beginners 
SEP 111 Inleiding tot Sepedi-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat Sepedi in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
STW 110 Setswana vir beginners 
STW 111 Inleiding tot Setswana-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat Setswana in die tweede semester wil neem, moet ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta) registreer.

Departement Moderne Europese Tale
DTS 104 Duits vir beginners 
DTS 113 Duits: Kultureel-professioneel (1) *Voorvereiste: Graad 12 Duits
FRN 104 Frans vir beginners 
FRN 113 Frans: Kultureel-professioneel (1) *Voorvereiste: Graad 12 Frans
SPN 101 Spaans vir beginners
SPN 102 Spaans vir beginners 
PTG 101 Portugees vir beginners

Departement Antieke Tale en Kulture
HEB 110 Hebreeus 
LAT 110 Latyn 
GRK 110 Grieks 

Minimum krediete: 130

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Teoretiese onderbou van Arbeidsverhoudinge Die basiese begrippe, historiese konteks en teoretiese benaderings tot die vakgebied van Arbeidsverhoudinge word toegelig. Die institusionele raamwerk waarbinne arbeidsverhoudinge bedryf word, word uiteengesit met besondere klem op die strukturele meganismes en institusionele prosesse. Die diensverhouding wat die grondslag van 'n arbeidsvehoudingepraktyk vorm, word ook ontleed. Arbeidsverhoudingepraktyk In hierdie afdeling word konseptuele en praktiese vaardighede deur ervaringsleer oorgedra ten opsigte van praktyksaspekte soos griewehantering, dissiplinering, verskraling, kollektiewe bedinging, nywerheidsaksie en geskilbeslegting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die individu en die samelewing
    'n Inleiding tot sosiologie en die klassike sosiologiese paradigma en die beginsels van die sosiologiese navorsingsmetodes.

    Deel 2: Die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse orde

    Hierdie afdeling ondersoek sleutelfaktore wat tot die totstandkoming en vorming van die kontemporêre Suid-Afrikaanse sosiale orde aanleiding gegee het en skenk oorweging aan die sosiologiese implikasies hiervan. Studente word bekendgestel aan die politieke ekonomie van Suid-Afrika, met klem op die aard van die Suid-Afrikaanse industrialiseringsproses, proletariaatvorming, en die instelling van die trekarbeidstelsel. Hierbenewens word die rassestaat, die fondamente van hierdie staat se sosiale projek, sowel as die ruimtelike vorm van Suid-Afrika se 20ste-eeuse rassemoderniteit onder die loep geneem. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van instellings
    Die sosiale dinamiek van samelewingsinstellings soos die gesin, die staat, die ekonomie, godsdiens, onderwys, en burgerlike samelewing met ’n spesifieke fokus op die Suider-Afrikaanse problematiek word in hierdie afdeling behandel.

    Deel 2: Sosiale stratifisering: Ras, klas en gender
    Die aard en dinamiek van sosiale stratifisering en ongelykheid sal ondersoek word. Ras, gender en klas is die fokuspunte van die afdeling. Die Suid-Afrikaanse ervaring word beklemtoon.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot Antropologie Hierdie inleiding tot antrop0ologie stel die basiese begrippe van die dissipline, soos rituele, religieê, huweliksluiting en seks, bekend. Dit kombineer klassieke en resente studies, en vra 'groot vrae' oor die menlike samelewing en kulture wat uitdagende perspektiewe bied op die wêreld waarin ons leef.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Plaaslike kontekste, globale kwessies Hierdie module bou voort op die inleidende etnografiese en teoretiese temas bevat in APL 110 terwyl spesifieke vrae gevra word oor hoe ons die verhouding tussen die plaaslike en globale, die inheemse en universele, die publieke en private, en die werklike en moontlike kan konseptualiseer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die Filosofie Die twee semestermodules in die eerste jaar bied studente ? inleiding tot die vier hoof- onderafdelings van Filosofie, te wete epistemologie, metafisika, etiek, en politieke filosofie. Hierdie module bied‚ ’n inleiding tot twee van hierdie onderafdelings. Studente moet die Departement Filosofie kontak om vas te stel watter twee onderafdelings in watter semester aangebied word, aangesien die keuse mag wissel van tyd tot tyd op grond van beskikbaarheid van onderrigpersoneel. Studente sal bekendgestel word aan die aard van filosofiese nadenke deur ’n aantal klassieke filosofiese temas in elke onderafdeling te ondersoek. Regdeur die module word daar aandag gegee aan die ontwikkeling van daardie kritiese denk-, lees- en skryfvaardighede wat in die Filosofie vereis word, terwyl studente bekendgestel word aan die krag van kritiek as onderskeidingsvermoë en oordeelkundigheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die Filosofie Die twee semestermodules in die eerste jaar bied studente ? inleiding tot die vier hoof- onderafdelings van Filosofie, te wete epistemologie, metafisika, etiek, en politieke filosofie. Hierdie module bied ’n inleiding tot twee van hierdie onderafdelings. Studente moet die Departement Filosofie kontak om vas te stel watter twee onderafdelings in watter semester aangebied word, aangesien die keuse mag wissel van tyd tot tyd op grond van beskikbaarheid van onderrigpersoneel. Studente sal bekendgestel word aan die aard van filosofiese nadenke deur ’n aantal klassieke filosofiese temas in elke onderafdeling te ondersoek. Regdeur die module word daar aandag gegee aan die ontwikkeling van daardie kritiese denk-, lees- en skryfvaardighede wat in die Filosofie vereis word, terwyl studente bekendgestel word aan die krag van kritiek as onderskeidingsvermoë en oordeelkundigheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die ontstaan van die Moderne Wêreld: ’n oorsig ’n Keuse van temas oor Asië, Afrika, die Amerika’s en Europa en hulle bydrae tot die ontstaan van die Moderne Wêreld.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Afrika en Suid-Afrika: ‘n oorsig 'n Oorsig met die fokus op die vorming van Afrika- en Suid-Afrikaanse samelewings van die vroegste tye tot die hede, met die klem op die mees betekenisvolle kragte, faktore en gebeure.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    ’n Inleiding tot die bestudering van die georganiseerde politieke samelewing op nasionale en internasionale vlak, met spesifieke verwysing na politieke konsepte, benaderings en metodes. Die klem val op die staat en regeerkunde as ontledingsraamwerke inaggenome die belangrikste veranderinge wat deur globalisering veroorsaak word op nasionale en internasionale vlak. Aandag word geskenk aan die verwante dinamika van regime-ontwikkeling, prestasie en verandering op nasionale en internasionale vlak in die lig van toenemende uitdagings aan nasionale soewereiniteit van binne en buite die staat in ’n konteks van ’n groeiende globale agenda wat transnasionale aspekte hanteer soos die omgewing, menseregte, ontwikkeling en humanitêre intervensie.

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners. *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module tydens semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ’n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in Sepedi waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sepedi - kommunikasie en grammatika Die verwerwing van meer gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale situasies. Meer uitgebreide woordeskat en meer gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word verder verhoog. Skryf- en spelreëls. Woordeboeke en woordeboekgebruik. Lees en begrip van basiese tekste.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners.

    Die verwerwing van basiese kommunikatiewe vaardighede in Setswana waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Setswana - kommunikasie en grammatika 
    Die verwerwing van meer gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale situasies. Meer uitgebreide woordeskat en meer gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word verder verhoog. Skryf- en spelreëls. Woordeboeke en woordeboekgebruik. Lees en begrip van basiese tekste.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module gedurende semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ‘n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in isiZulu waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    isiZulu - kommunikasie en grammatika Die verwerwing van meer gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale situasies. Meer uitgebreide woordeskat en meer gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word verder verhoog. Skryf- en spelreëls. Woordeboeke en woordeboekgebruik. Lees en begrip van basiese tekste.

    Sien meer

Minimum krediete: 132

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Basiese beginsels van die dienskontrak; kollektiewe arbeidsreg (insluitend kollektiewe bedinging en vakbonde). Statutêre diensvoorwaardes; individuele arbeidsgeskille; kollektiewe arbeidsdispute; beslegtingsprosedures.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van werk: globalisasie
    Die huidige proses van globalisering op ’n wêreldwye skaal het ’n impak op prosesse wat met verandering en ekonomiese ontwikkeling verband hou Hierdie module bespreek prosesse en debatte oor ekonomiese globalisaring en die globale dominansie van finansiële kapitaal in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu. Studente kry die geleentheid om kontemporêre debatte wat met hierdie aangeleenthede verband hou te hersien.

    Deel 2: Gender, die gesin en huishoudings

    Hierdie afdeling fokus op kwessies en teorieë wat betrekking het op ons begrip van huishoudings, gesinne en gender. Dit spreek aangeleenthde soos die dinamiek van gesinstrukture, armoede, die oorlewingstrategieë van arm huishoudings, gendergebaseerde geweld en die maniere waarop die voorafgaande die gesinslewe en -vorme, sowel as kinders en jeugdiges in die besonder, beïnvloed. Klem word daarop geplaas om hierdie kwessies binne ’n Suider-Afrikaanse konteks te ondersoek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Demografie, gesondheid en die samelewing
    Hierdie afdeling ondersoek die dinamiese interaksie tussen demografie en gesondheid aan die hand van Suid-Afrikaanse en internasionale gevallestudies. Die betekenisvolle toename in die wêreldbevolking gedurende die vorige eeu vermeervoudig die sleuteluitdagings wat kontemporêre samelewings in die gesig staar. Die wisselwerking tussen demografiese prosesse, soos morbiditeit, mortaliteit, fertiliteit en mobiliteit, het ’n impak op die grootte van ’n bevolking. Net so word hierdie faktore weer tot ’n redelike mate deur die struktuur sowel as die kulturele konteks van ’n samelewing gevorm. Sentraal tot hierdie proses is besorgdhede oor gesondheid en siekte.

    Deel 2: Kultuursosiologie

    Hierdie afdeling ondersoek temas in kultuursosiologie met ’n fokus op die wyses waarop individue sowel as kollektiewe groeperinge in die alledaagse lewe betekenis konstrueer. Die wisselwerking tussen kultuur en institusionele vorme sowel as sosiale strukture kom ook onder die loep. Studente sal aan die werk van sleuteldenkers in die veld bekendgestel word en kry die geleentheid om ’n onafhanklike essay oor ’n tema in kultuursosiologie te skryf.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Seks, gender en genesing
    Hierdie module verken seks, seksualiteit, gender, ongesondheid en genesing.  Dit behels 'n ontleding van die wyses waarop hierdie begrippe binne uiteenlopende sosiale kontekste verstaan word en hoe antropoloë dit in die hedendaagse samelewing bestudeer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mag en welvaart
    Hierdie module ondersoek antropologiese perspektiewe ten opsigte van politiek, mag en welvaart binne koloniale en post-koloniale verband.  Kernbegrippe wat bespreek word, is onder meer burgerskap, kosmopolitanisme, hegemonie, menseregte, neoliberalisme, soewereiniteit, burgerlike samelewing, gender, ras en klas.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geskiedenis van die moderne filosofie I en II

    ’n Oorsig van die geskiedenis van die moderne filosofie. Die volgende is voorbeelde van temas wat behandel kan word: Die Renaissance, die Wetenskaplike Rewolusie, die grondslae van die moderne wêreldbeskouing (in teenstelling tot die premoderne), die Europese Verligting, die Romantiek, die Duitse Idealisme (Kant, Hegel), Marx en die Marxisme, Kierkegaard en die eksistensialisme, die filosofie van Nietzsche. ’n Seleksie van kontemporêre kritiese antwoorde op moderne filosofie kan ondersoek word; dit sou byvoorbeeld die volgende kon insluit: Afrikafilosofie, analitiese (Anglo-Amerikaanse) filosofie, postmodernisme, neo-Marxisme, ens.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke filosofie en etiek
    In hierdie module word daar ondersoek ingestel na die maniere waarop die menslike werklikheid in die praktiese filosofie bedink word. Sowel die analities-interpretatiewe perspektief as die normatiewe perspektief word gedek. Dit word gedoen aan die hand van ’n seleksie van sleuteltemas en -tekste uit die geskiedenis van die filosofie, maar spesiale aandag word gegee aan die kontemporêre relevansie daarvan. Die eerste van die twee fokuspunte van hierdie semestermodule is politieke filosofie. Onder die temas wat hanteer kan word tel geregtigheid, mag, ideologie, die sosiale kontrak, die reg, erkenning, ensovoorts. Die tweede fokuspunt van hierdie semestermodule is etiek. Onder die temas wat hanteer kan word tel die vorming van reëls, beginsels, ideale, disposisies en vermoë om te beoordeel wat sulke diverse fenomene soos vryheid, gelykheid, regte, hervedeling, onderdrukking, pluralisme, en ander reguleer. Die klassieke benaderings tot etiek - deugde-etiek, deontogolie en konsekwensialisme - sal die agtergrond vorm waarteen morele filosofie aangebied sal word. In hierdie module kan die student in die algemeen verwag om blootgestel te word aan die werk van Plato, Aristoteles, Augustinus, Aquinas, Machiavelli, Hobbes, Locke, Kant, Hegel, Marx, Sidgwick, Nietzsche, Weber, Mead, Arendt, Habermas, Rawls, Ricoeur, Walzer, Young, Sen, Honneth, en ander.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Temas uit Afrikageskiedenis 'n Seleksie van temas uit die geskiedenis van Afrika en haar mense gedurende pre-koloniale, koloniale en postkoloniale tye, met die fokus op sosiale, politieke en ekonomiese kragte wat die historiese ervaring van Afrika help vorm het.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die opkoms en val van segregasie en apartheid Fokus op die oorsprong en teoretiese fondasies van die beleide van segregasie en apartheid en die verskansing daarvan in SA wetgewing. Die weerstand teen die instelling van hierdie onderskeie beleide en die daaropvolgende beëindiging van apartheid. Die impak op sosiale, kulturele en ekonomiese terrein.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Internasonale teorie en organisasie
    Wat veroorsaak oorlog en vrede? Is internasionale orde en geregtigheid versoenbaar? Is die internasionale struktuur belangrik? Die antwoorde word bepaal deur die teoretiese lense waardeur wêreldpolitiek beskou word. ’n Oorsig word gebied van die mededingende teoretiese perspektiewe van internasionale verhoudinge. Dit sluit hoofstroom en alternatiewe perspektiewe in, asook die onderliggende denke, teorieë en variasies van elk. Hierdie teorieë bied verskillende benaderings tot globale vrede, waaronder vrede deur internasionale organisasie. ’n Breedvoerige ontleding word gemaak van geselekteerde internasionale organisasies met ’n universele of streeksomvang, soos die Verenigde Nasies, die Afrika-unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, en van internasionale reg wat hierdie organisasies en hul aktiwiteite begrond.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Buitelandse beleid en diplomasie
    ’n Kort inleiding tot die studie van buitelandse beleid word gevolg deur ’n verduideliking van die gebruik van die vergelykende metode en ’n raamwerk vir die analise en evaluasie van buitelandse beleid. Dit bied ’n vergelykende studie van die buitelandse beleid van geselekteerde state van die belangrikste streke van die wêreld, waaronder die buitelandse beleid van Suid-Afrika. In elke gevallestudie word die beleidsomgewing, die formulering- en implementeringsprosesse, asook die inhoud van die spesifieke staat se buitelandse beleid gedek. Daarna vernou die fokus na diplomasie: die oudste, mees veelsydige en universeel gebruikte instrument van buitelandse beleid. Die aard, geskiedenis, tipes diplomasie en regsraamwerk van hierdie instelling word ondersoek. Voorbeelde uit die globale praktyk word gebruik, met spesifieke oorweging van die evolusie van diplomatieke praktyk in die Afrika en Suid-Afrikaanse konteks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sepedi - kommunikasie en grammatika Die verwerwing van gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale, beroepsgerigte en opvoedkundige situasies. Meer uitgebreide woordeskat en gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word verhoog. Sepedi - lees en skryf Die skryf van samehangende, idiomatiese en grammaties korrekte tekste om bepaalde idees en informasie oor te dra vir ‘n aantal geselekteerde kommunikatiewe doeleindes. Skryfwerk sluit sowel kreatiewe as reproduktiewe skryfaktiwiteite in. Lees en begrip van tekste wat ‘n redelik uitgebreide woordeskat en redelik groot verskeidenheid taalstrukture bevat. ‘n Aanvang word gemaak met die lees van relatief eenvoudige literêre werke. Studente word ook verder opgelei in die gebruik van die woordeboek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sepedi - kommunikasie, grammatika, lees en skryf. Die verdere verwerwing van gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale, beroepsgerigte en opvoedkundige situasies. Meer uitgebreide woordeskat en gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word nog verder verhoog. Voortsetting van die skryf van samehangende, idiomatiese en grammaties korrekte tekste om idees en informasie oor te dra vir ‘n verskeidenheid kommunikatiewe doeleindes. Inleiding tot die Sepedi klankleer / fonetiek. Lees en begrip van tekste wat ‘n meer uitgebreide woordeskat en groter verskeidenheid taalstrukture bevat. Die lees van verdere literêre werke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke dinamika (Mikro)
    Die bestudering van die teorie en praktyk van gedragsverskynsels in politiek. Met verwysing na toepaslike voorbeelde val die klem op die studie van politieke kultuur, leierskap, kommunikasie, belangegroepe, partye en partystelsels; op verkiesings, kiesstelsels en kiesersgedrag; en op openbare mening en direkte populêre kontroletegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke dinamika (Makro)
    ’n Teoretiese begronding en raamwerk word gebied vir die beskrywing, ontleding en klassifikasie van politieke en beleidvraagstukke. Die klem is op die aard van die staat, regeerkunde en konflik in Afrika. Onder andere word ’n studie gemaak van die vraagstukke van kolonialisme en post-kolonialisme, demokratisering, outoritarisme en die ontwikkeling van die staat in Afrika, in die konteks van ’n globaliserende wêreld.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    isiZulu - kommunikasie en grammatika Die verwerwing van gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale, beroepsgerigte en opvoedkundige situasies. Meer uitgebreide woordeskat en gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word verhoog. isiZulu - lees en skryf Die skryf van samehangende, idiomatiese en grammaties korrekte tekste om bepaalde idees en informasie oor te dra vir ‘n aantal geselekteerde kommunikatiewe doeleindes. Skryfwerk sluit sowel kreatiewe as reproduktiewe skryfaktiwiteite in. Lees en begrip van tekste wat ‘n redelik uitgebreide woordeskat en redelik groot verskeidenheid taalstrukture bevat. ‘n Aanvang word gemaak met die lees van relatief eenvoudige literêre werke. Studente word ook verder opgelei in die gebruik van die woordeboek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    isiZulu - kommunikasie, grammatika, lees en skryf Die verdere verwerwing van gevorderde kommunikasievaardighede binne verdere sosiale, beroepsgerigte en opvoedkundige situasies. Meer uitgebreide woordeskat en gevorderde taalstrukture word aangeleer en gebruik. Die bewustheid van die aard en funksie van taalstrukture word nog verder verhoog. Voortsetting van die skryf van samehangende, idiomatiese en grammaties korrekte tekste om idees en informasie oor te dra vir ‘n verskeidenheid kommunikatiewe doeleindes. Inleiding tot die isiZulu- klankleer/fonetiek. Lees en begrip van tekste wat ‘n meer uitgebreide woordeskat en groter verskeidenheid taalstrukture bevat. Die lees van verdere literêre werke.

    Sien meer

Minimum krediete: 144

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Sosiale teorie

    Hierdie afdeling fokus op kontemporêre sosiale teorie met die oog daarop om student se begrip van sosiale teorie verby die klassieke kanon te strek. Studente word vetroud gemaak met ‘n kern konseptuele woordeskat, gekose teoretiese paradigmas en onlangse werke in die veld. Hierbenewens word daar klem geplaas op die wyse waarop navorsers wat oor Suid-Afrika werk van sosiale teorie gebruik maak om hulle werk te verryk en om daaraan vorm te gee.

    Deel 2: Arbeidstudies

    Hierdie afdeling spreek sosiologiese benaderings tot die werkplek aan. Dit sluit in ’n kritiese beskouing van arbeidsmarkbeleid en aangeleenthede soos bestuurspraktyk, werk-verskaffing en werkloosheid, asook diskriminasie en buigsaamheid in die arbeidsmark in Suid-Afrika.

     

     

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Landelike en stedelike sosiologie

    Teen die agtergrond van die ontstaan en ontwikkeling van sowel die vele gestaltes van kapitalisme as globalisering in die globale Noorde en Suide gedurende die 20ste en 21ste eeu, skenk hierdie afdeling oorweging aan die verhouding tussen landelike en stedelike omgewings. Vrae oor die aard van sosiale interaksie in gemeenskappe, nuwe vorme van sosiale betrekkinge, ongelykheid en bestaansmiddele, kollektiewe aksie, plaaslike kulture en moderniteite word bespreek. 

    Deel 2:  Die sosiologie van godsdiens

    Hierdie afdeling ondersoek godsdiens en sekularisasie binne sosiale konteks. Spesifieke klem word geplaas op godsdiens en die sekularisme as kragte van sosiale verandering.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Afrika: antropologiese perspektiewe  310
    Kontemporêre etnografie in die Afrikakontinent, met besondere verwysing na politiek, oorlog, hervestiging en vlugtelinge, religie, identiteitsvorming en -politiek, etnisiteit en klas asook verbruik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Veldwerk, etnografie en teorie
    Hierdie module bestudeer temas rakende veldwerkpraktyk, etnografiese skryfwerk en die ontwikkeling van teorie in antropologie.  Die module bied die geleentheid om ervaring in etnografiese veldwerkmetodes op te doen en insig te ontwikkel vir die implikasies van metodologiese keuses en hul veband met navorsingsvrae en -kontekste.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Filosofiese antropologie en kognitiewe filosofie
    In hierdie module is die doel om ondersoek in te stel na die wesensaard van die mens en sy/haar verhouding met die werklikheid en kennis. Sowel die analities-interpretatiewe perspektief as die normatiewe perspektief word gedek. Dit word gedoen aan die hand van 'n seleksie van sleutelemas en -tekste uit die geskiedenis van die filosofie, maar spesiale aandag word gegee aan die kontemporêre metafisika. Dit kan die volgende temas insluit: Is die mens meer as die somtotaal van sy eienskappe?;  die relasie tussen bewussyn, selfbewussyn en die onderbewuste; die vraag na die sin van die lewe; die aard van persoonlike identiteit; die problematiek van vrye wil. Die tweede fokuspunt van die semestermodule is die kognitiewe dissiplines van filosofie soos wetenskapfilosofie, filosofie van denke, en epistemologie. In wetenskapfilosofie kan temas wat aangespreek word die volgende insluit: die verskillende soort redenering in die wetenskap, die aard en rol van verduideliking in die wetenskap; wetenskaplikerealismedebat; die aard van wetenskaplike voortuitgang. regverdeling van wetenskaplike teorieë, die rol van waarheid in die wetenskap, en andere. In filosofie van denke kan temas waaraan aandag gegee word die volgende insluit: die verhoduding tussen gees, psige/siel, en liggaam - die liggaam-gees probleem, die aard van bewussyn en qualia, dualisme, materialisme, funksionalisme, fisikalisme, intensionaliteit, en andere. In epistemologie kan temas wat aangespreek word die volgende insluit: rasionalisme, empirisme, transendentale idealisme en Kant fundamentalisme, koherentisme, epistemiese internalisme en eksternalisme, radikale skeptisisme, en andere.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Filosofiese hermeneutiek en sosiale filosofie

    Die eerste van die twee fokuspunte van hierdie semestermodule is ’n bespreking en analise van filosofiese perspektiewe op die hermeneutiese probleem (die probleem van verstaan en interpretasie), met spesifieke aandag aan kontemporêre denkers soos Nietzsche, Heidegger, Gadamer en Derrida. Die tweede fokuspunt van die semestermodule is sosiale filosofie waar filosofiese vrae oor sosiale vorme, strukture, instellings, praktyke, gewoontes en etos geopper word. ’n Reeks temas kan ondersoek word, soos byvoorbeeld struktuur en agentskap, sosiale denkbeelde (“social imaginaries”), nuwe sosiale formasies, institusionele kulture, geslag en seksualiteit, subjek en konstitusie, en andere. Verder word die gesitueerdheid van hierdie temas in ’n spektrum van benaderings ontleed en ondersoek. Sulke benaderings sluit in kritiese teorie, ideologie-teorie, kontrakleer, sosiale aksie- of handelingsteorie, metaforologie, kritiese ras-teorie, genealogie, en andere.


     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Historiese tendense in die moderne wêreld 'n Seleksie van politieke, ekonomiese en sosiale temas.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Globalisering, diversiteit en verandering Teorieë en interpretasies van die proses van verandering. Globalisering en die betekenis daarvan vir o.m. die globale ekonomie, die nasiestaat, nasionalisme, etnisiteit en kultuur.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Internasionale politieke ekonomie
    Die aard en funksionering van die hedendaagse internasionale polities-ekonomiese orde word ontleed teen die agtergrond van die globaliseringsproses. Die klem val op die interaksie tussen politieke en ekonomiese tendense en vraagstukke soos die ekonomiese belang en politieke impak van regionale handelsblokke; die skuldlas van state; internasionale hulpverlening; die rol en invloed van multinasionale korporasies; en die oordrag van tegnologie na minder-ontwikkelde state; ontluikende ekonomiese moondhede in die Globale Suide; en globale ekonomiese regeerkunde.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Veiligheid- en strategiese studies
    ’n Studie van tradisionele en kontemporêre benaderings tot veiligheid en strategie. Aandag word geskenk aan nuwe teorieë oor oorlog, veiligheid en strategie; militêre en nie-militêre bedreigings vir nasionale veiligheid en menseveiligheid; die nasionale veiligheid van ontwikkelende state; asook die verhouding tussen beleid, strategie en taktiek. Laasgenoemde sluit ’n inleidende oorsig in van die aard, vlakke, patrone, vorms en instrumente van strategie, en van oorlogsreg. Die nasionale, regionale en kontinentale veiligheidsituasie in Afrika en vorms van multilaterale veiligheidsamewerking in die besonder word ontleed, ook in verhouding tot buite-kontinentale tendense. Wat die voorafgaande betref, word klem geplaas op die regs- en institusionele raamwerk, nasionale veiligheidsbeleid en strategiese ingesteldheid van Suid-Afrika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke teorie
    ’n Teoretiese en normatiewe studie van politieke idees. Dit sluit die studie van prominente politieke denkers soos Plato, Thomas Hobbes en John Rawls in, sowel as die kontemporêre manifestasies van ideologieë soos liberalisme, sosialisme, konserwatisme en nasionalisme. Hierdie normatiewe beoordeling van politiek sluit af met ’n kritiese evaluasie van die ontwikkeling, aard en praktiese waarde van prominente demokratiese teorieë, onder andere deelnemende, wetlike en beraadslagende demokrasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Demokratiese studies
    ‘n Hoë-vlak kritiese analise van demokratiese teorie en praktyk. Die analise van demokratiese teorie sal temas soos die klassieke, radikale, deliberatiewe en feministiese perspektiewe insluit. Die analise van demokratiese praktyk sal aspekte insluit soos demokratisering, demokratiese konsolidasie, demokratiese burgerskap en samelewing, die rol en belang van die burgerlike gemeenskap, die instellings en prosedures vir demokrasie en “goeie regering”.
    Deel 2: Politieke analise
    Die metodiek en praktyk van politieke analise is die fokus van die studie. Die beginsels en problematiek onderliggend aan verskillende benaderings en metodes van politieke analise word beskryf en verduidelik. Dit sluit die aard, metodes en gebruik van vergelykende analise, vooruitskouing, risiko-analise, prestasie-evaluering en die politieke oudit in. Hierdie analitiese metodes word in die politieke en beleidskonteks geplaas, met beklemtoning van die praktiese waarde daarvan. Daar word deurgaans van toepaslike voorbeelde en gevallestudies gebruik gemaak.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share