Jaarboeke

Algemene vereistes

Let wel: Die onus is op alle studente om hulle van die Algemene Regulasies van die Universiteit asook van die fakulteitspesifieke regulasies, reglemente, reëls en voorskrifte wat op studie in hierdie Fakulteit betrekking het, te vergewis. Onkunde betreffende die toepaslike regulasies, reëls en voorskrifte, of die foutiewe vertolking daarvan, sal nie as 'n verskoning vir die nienakoming van sodanige regulasies, reëls en voorskrifte aangevoer kan word nie.

Toelating

Kandidate wat vir die eerste keer aan die Universiteit van Pretoria wil registreer, of na onderbreking van studie weer wil registreer, moet aansoek doen om toelating. Voornemende studente moet seker maak dat hul aansoeke die Universiteit bereik voor die sperdatum soos vir die program gespesifiseer.

Studente wat vir afstandonderrigprogramme in die Fakulteit Opvoedkunde wil aansoek doen, mag regdeur die jaar aansoek doen. Hulle moet egter voor 1 September aansoek doen om eksamen in April van die daaropvolgende jaar af te lê of voor 1 Maart om in Oktober van dieselfde jaar eksamen te skryf. Geen laat registrasies sal aanvaar word nie.

Weens beperkings op die Universiteit se fasiliteite is daar ’n beperking op die aantal inskrywings by alle programme. Selfs al voldoen ’n voornemende student aan die minimumvereistes van 'n program soos in die brosjure gespesifiseer, kan dit moontlik onvoldoende wees om toelating te verseker. Voornemende studente word dus aangemoedig om betyds aansoek te doen.

Getalbeperkings

Indien daar beperkte menslike hulpbronne en/of fasiliteite beskikbaar is, sal getalbeperking toegepas word. Die Senaat kan die aantal studente beperk wat toegelaat word om vir 'n program te registreer. In so 'n geval selekteer die betrokke dekaan diegene wat toegelaat sal word, uit die applikante wat vir toelating gekwalifiseer het.

Simbolestaat of akademiese rekord

'n Kandidaat wat vir die eerste keer aan hierdie Universiteit registreer, moet by registrasie 'n staat voorlê van die simbole wat hy of sy vir die onderskeie vakke in die Graad 12-eksamen verwerf het. In sekere fakulteite moet studente wat vantevore by ander tersiêre instellings studeer het asook nagraadse studente 'n amptelike akademiese rekord voorlê.

Nasionale Senior Sertifikaat

Alle voorgraadse studente wat vir die eerste keer by die Universiteit van Pretoria inskryf, moet voor die einde van die eerste semester hulle oorspronklike Nasionale Senior Sertifikaat of ’n sertifikaat van volle vrystelling soos uitgereik deur die Matrikulasieraad, HESA, by die Studenteadministrasie van die fakulteit toon (in die Fakulteit Regsgeleerdheid voor die einde van Oktober en in die Fakulteit Veeartsenykunde voor die einde van Augustus).

Akademiese-inligtingbestuur

Die AIM-modules, Akademiese-inligtingbestuur, is verpligtend vir alle nuwe voorgraadse studente by die Universiteit van Pretoria, behalwe waar ander regulasies ten opsigte van 'n spesifieke program van toepassing is.

Besonderhede oor hierdie module/s verskyn in die lys van modules.

 

Toepassing van ou en nuwe regulasies

(Raadpleeg Algemene Regulasie G.5)

Behoudens oorgangsmaatreëls deur die Fakulteit gestel, moet 'n student sy of haar graad voltooi volgens die regulasies wat tydens sy of haar eerste registrasie vir 'n betrokke studierigting of spesialiseringsrigting gegeld het. Indien 'n student sy of haar studierigting of spesialiseringsrigting wysig of studies onderbreek, geld die regulasies van die jaar waarin die wysiging of hervatting plaasgevind het vir die gewysigde of nuwe studierigting.

Registrasie vir spesifieke studiejaar

Studente registreer aan die begin van 'n akademiese jaar vir al die modules wat hulle in 'n bepaalde studiejaar wil neem, (hetsy dit eerstesemester-, tweedesemester of jaarmodules is) ooreenkomstig die voorskrifte van die program waarvoor ingeskryf word. Wysiging van 'n leergang kan aan die begin van die tweede semester geskied, maar slegs met goedkeuring van die Dekaan. 'n Student mag slegs vir modules registreer wat nie op klas-, toets- en eksamenroosters bots nie.

Studente se aansoek om herregistrasie kan geweier word op grond van onbevredigende akademiese prestasie in die voorafgaande jaar.

Indien daar nie genoeg studente vir 'n module inskryf om so 'n module ekonomies aan te bied nie, kan die Dekaan besluit om dit te onttrek. Studente wat geraak word, sal betyds ingelig word ten einde hulle in staat te stel om vir ’n alternatiewe module in te skryf.

Let wel:

  • Indien 'n student in die Fakulteit Teologie 'n voorgraadse program onderbreek, en dit word nie binne vier jaar na oorspronklike registrasie hervat nie, behou die student nie krediete verwerf nie. Die student moet die geslaagde modules herhaal.
  • 'n Student wat suksesvol aansoek gedoen het vir 'n afstandonderrigprogram, word vir die volledige program geregistreer.
  • Indien 'n student in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe in die geval van klasroosterbotsings bereid is om een module na-uurs en 'n ander voltyds te neem (indien die betrokke module wel beide voltyds en na-uurs aangebied word), is die toestemming van die Dekaan nie nodig nie. Die registrasie van 'n student word slegs hernu indien hy of sy in 'n bepaalde studiejaar die ekwivalent van ten minste vier semestermodules slaag.
  • Studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe wat laat registreer, moet hulle vergewis van die algemene regulasies van die Fakulteit in verband met laat registrasie. 'n Student wat modules van meer as 180 krediete per jaar wil neem, moet spesiale toestemming van die programbestuurder/-koördineerder verkry.

Gelyktydige registrasie vir twee studierigtings

'n Student mag met verlof van die betrokke dekaan/dekane gelyktydig vir 'n graad, diploma of sertifikaat en 'n ander graad, diploma of sertifikaat, hetsy voor- of nagraads, registreer, onderworpe aan die regulasies wat op die betrokke studierigtings van toepassing is en enige ander voorwaardes wat die dekaan/ dekane mag neerlê op voorwaarde dat daar geen oorvleueling tussen die kursusinhoude van die eerste graad, diploma of sertifikaat en die tweede graad, diploma of sertifikaat mag wees nie. Sodanige vergunning kan deur die betrokke dekaan/dekane teruggetrek word, indien die student nie bevredigend presteer nie. (Kyk Algemene Regulasie G.6.)

Registrasie vir en staking van modules

Finale datums vir die verandering van modules (kansellasie of byvoeging) word vir elke akademiese jaar bepaal. Die keerdatum vir staking van modules in die eerste en tweede semester sal elke jaar aan studente gekommunikeer word by wyse van kennisgewing en afkondiging in klasse sowel as in die roosterboek. Daar sal streng by die datum gehou word. Geen dosent of administratiewe personeellid sal ná die datum enige briewe aangaande “geen klasbywoning/geen toetse geskryf” voorsien nie.

Studente mag slegs met die goedkeuring van die Dekaan modules verander waarvoor hulle geregistreer is, en dit moet binne die eerste twee weke na aanvang van 'n module geskied.

'n Student mag nie registreer vir 'n module van 'n gevorderde jaar wanneer dit op die rooster bots met 'n module van 'n voorafgaande jaar waarin hy of sy nog nie geslaag het nie en wat vir die studie voorgeskryf is, tensy hy of sy vrygestel is van klasbywoning in laasgenoemde module.

Indien 'n student aan die begin van 'n studiejaar registreer vir modules van die tweede semester en dit aan die einde van die eerste semester aan die lig kom dat hy of sy nie aan die voorvereistes vir daardie modules voldoen het nie, sal die registrasie vir die tweedesemestermodules gekanselleer word. Dit is ook die student se verantwoordelikheid om aan die begin van die tweede semester toe te sien dat die kansellasie gedoen is.

Modules van ander fakulteite

Studente wat ’n module volg wat deur ’n ander fakulteit aangebied word, moet hulle vergewis van die aantal krediete, toelatings- en voorvereistes van die betrokke module, subminima in vraestelle, hereksamens, ens.

Modulekrediete vir ongeregistreerde studente

Daar is studente wat nie vir modules in ’n besondere akademiese jaar registreer nie of selfs glad nie as ’n student registreer nie, maar tog klasse bywoon, toetse en eksamens skryf en op hierdie manier punte verdien. Punte van dié aard sal nie aan ’n student bekendgemaak word alvorens die student ’n registrasiebewys kan lewer nie. ’n Student kan nie in ’n spesifieke akademiese jaar krediet kry vir ’n module wat op bogemelde wyse ‘geslaag’ is in ’n vorige akademiese jaar en waarvoor hy/sy nie ingeskryf was nie. Dié reëling geld selfs waar die student bereid is om die klasgelde te betaal.

Graad met lof

Geweegde gemiddeldes (GPA), tesame met ander fakulteitspesifieke kriteria waar van toepassing, word by UP gebruik vir die berekening van gemiddeldes vir met lof-beslissings.

Ooreenkoms vir nagraadse studie

'n Ooreenkoms moet tussen 'n student en die studieleiers onderteken word voor die nagraadse studie 'n aanvang neem. Die dokument dien as basis vir die interaksie tussen die student en die studieleier. Dit dui die individuele rolle, verantwoordelikhede en verwagtinge aan, en stel dit duidelik uiteen dat die ooreenkoms 'n bindende onderneming van die wedersydse partye verteenwoordig.

Plagiaat

Plagiaat word gepleeg wanneer iemand anders se idees – gepubliseer of ongepubliseer – weergegee word asof dit jou eie is. Ander persone se idees mag voorkom in geskrewe bronne (joernaalartikels, handboeke, ens), visuele bronne (grafika, foto's, ens), multi-mediaprodukte (webwerwe, mediaproduksies, ens) musiek (komposisies, lirieke, ens) en gesproke woorde (toesprake, lesings, ens). Plagiaat is ’n ernstige oortreding en enige student wat hom/haar hieraan skuldig maak, sal van wangedrag aangekla word wat tot skorsing uit die Universiteit kan lei. Vir meer inligting oor plagiaat, besoek die volgende webwerf: www.ais.up.ac.za/plagiarism/index.htm

Afwesigheidsverlof

Indien dit vir ’n geregistreerde student aan die Universiteit van Pretoria onmoontlik is om met sy/haar studie/navorsing in ’n spesifieke jaar voort te gaan, maar hy/sy beoog om in die daaropvolgende jaar daarmee voort te gaan, moet die student skriftelik by die dekaan van die betrokke fakulteit aansoek doen om afwesigheidsverlof. Die aansoek moet die volgende insluit: volle name, studentenommer, adres, redes vir, en tydperk van afwesigheid, byvoorbeeld die hele jaar, eerste semester (Januarie tot Junie) of tweede semester (Julie tot Desember), naam van studieleier/promotor (waar van toepassing), asook die student se voornemens vir die tydperk wat volg op sy/haar afwesigheidsverlof. Ingevolge die beleid van die Universiteit van Pretoria word afwesigheidsverlof egter nie toegestaan vir ’n tydperk van langer as twee jaar nie. Enige uitstaande gelde moet ten volle betaal word wanneer die student van sy/haar afwesigheidsverlof terugkeer.

 


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences