Jaarboeke

Program: LLD Regsgeleerdheid

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
04260001 Fakulteit Regsgeleerdheid
Credits Duration
Duur van studie: 2 jaar

Programinligting

Registrasie en hernuwing van registrasie
Indien toegelaat, mag ’n student dadelik vir die LLD-program registreer. Daar moet vir die volgende twee of drie modules geregistreer word, en dit moet binne een jaar vanaf registrasie voltooi word:

1. Navorsingsmetodologie (RHP 902) wat deur die Fakulteit Regsgeleerdheid aangebied word
Die Nagraadse Komitee van die Fakulteit Regsgeleerdheid mag op aanbeveling van die promotor ’n student van die navorsingsmetodologiemodule vrystel indien die student genoegsame bewys kan lewer dat hy/sy oor die nodige navorsingsvaardighede vir die doeleindes van nagraadse studie beskik.

2. Navorsingsvoorstel en verdediging van die navorsingsvoorstel (RHP 904)
’n Mondelinge verdediging van die navorsingsvoorstel insluitende die toetsing van die geldigheid van die proefskrifstelling, navorsingsvraag of  -vrae en argument wat in die LLD-proefskrif ontleed en ontwikkel sal word. ’n Konsep van die navorsingsvoorstel met inbegrip van ’n bibliografie wat die hoofvelde van die studie dek, asook die gronde vir die proefskrifstelling, navorsingsvraag of -vrae en argument moet minstens drie weke voor die mondelinge verdediging aan die beoordelingspaneel gestuur word. (Die konsepvoorstel moet deur die promotor goedgekeur word voordat dit aldus voorgelê mag word.) Die student moet die paneel oortuig van die geldigheid van die navorsingsonderwerp, kennis oor die navorsingsonderwerp en vermoë om die navorsing te onderneem. Waar die paneel dit verg, moet die voorgelegde konsepnavorsingsvoorstel verder gewysig word in die lig van die kommentare tydens die verdediging daarvan en deur die toesighouer goedgekeur word, voordat die student mag voortgaan met die skryf van die proefskrif. (Geen vrystelling kan van hierdie vereiste verleen word nie.)

’n Student wat nie aan bogenoemde twee modules se vereistes voldoen binne een jaar van registrasie nie, kan van die Fakulteit uitgesluit word. Indien hy/sy hertoelating tot die Fakulteit verlang, kan die Dekaan skriftelik versoek word om sy/haar aansoek om hertoelating tot die Fakulteit ingevolge die voorgeskrewe prosedure te oorweeg.

3. Gestruktureerde navorsingsvoorstelvoorbereiding (RHP 906) (nie-kredietdraend)
Die promotor mag vereis dat ’n bepaalde student ’n gestruktureerde program volg wat deur die promotor bepaal word en deur die Nagraadse Komitee goedgekeur word. Die promotor mag ook die voldoeningsvereistes vir die module, soos deur die Nagraadse Komitee goedgekeur, voorskryf.

Toelatingsvereistes

Behoudens die bepalings van die Algemene Regulasies, moet ’n kandidaat vir die LLD-program in besit wees van ’n LLM-graad of gelykwaardige kwalifikasie van ’n buitelandse universiteit.

Buitelandse kwalifikasies is onderworpe aan SAQA-evaluering.

Die Fakulteitsraad mag vrystelling van bogenoemde bepalings verleen.

’n Kandidaat sal slegs tot die LLD-program toegelaat word indien hy/sy voldoen aan die standaard van bekwaamheid in toepaslike vakke soos deur die departementshoof bepaal met inagneming van die kandidaat se akademiese rekord en enige toepaslike ondervinding.

’n Kandidaat sal slegs tot die LLD-program toegelaat word indien die Fakulteit ’n geskikte promotor kan voorsien in die lig van die aansoeker se voorlopige navorsingsvoorstel.

 

Navorsing

Die LLD-graad word toegeken op grond van ’n proefskrif en ’n mondelinge verdediging van die proefskrif. Die onderwerp van die proefskrif moet ’n onderwerp uit die Regsgeleerdheid wees, soos deur die Dekaan goedgekeur. (Sien die toepaslike Algemene Regulasies vir die finalisering van die proefskrif.) Die finale kopie van die proefskrif moet vergesel wees van bewys van inhandiging van ’n artikel by ’n geakkrediteerde joernaal. Die artikel moet gebaseer wees op die navorsing wat die student gedoen het, en goedgekeur wees deur die promotor. 

Ooreenkoms
’n Skriftelike ooreenkoms moet tussen die student en die promotor onderteken word. Die dokument dien as basis vir die interaksie tussen die student en die promotor. Dit dui op hulle afsonderlike rolle, verantwoordelikhede en verwagtinge en stel dit duidelik dat hulle ’n bindende ooreenkoms met mekaar aangaan. Die promotor dra volle verantwoordelikheid om toe te sien dat die proefskrif behoorlik deur die kandidaat voorberei word.

Mondelinge verdediging
Na die ontvangs van die verslae van die eksterne eksaminatore, moet die promotor ’n mondelinge verdedigingsgeleentheid onder voorsitterskap van die hoof van die departement reël, waartydens daar van die kandidaat verwag word om ’n voordrag ter verdediging van die proefskrif te lewer (sien die toepaslike Algemene Regulasie).


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences