Jaarboeke

Program: MA Kliniese Sielkunde (Gedoseer)

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
01250212 Fakulteit Geesteswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 2 jaar Totale krediete: 180
Contact:
Dr MS Makhubela
[email protected]

Programinligting

Hierdie program verskaf geïntegreerde professionele en akademiese opleiding wat die kandidaat toerus om as ’n kliniese sielkundige op te tree. Die kandidaat kan ook by die Beroepsraad vir Sielkunde van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aansoek doen om registrasie as kliniese sielkundige. Sodanige registrasie is onderhewig aan die bepalings van die Professionele Raad vir Sielkunde ten tye van registrasie.

Sluitingsdatum vir aansoeke: Jaarliks 31 Mei.

Die graad behels twee jaar voltydse studie; 50% van die program bestaan uit gedoseerde werk en 50% uit ’n navorsingskomponent.

A. Teoretiese gedeelte
’n Kernkurrikulum van gedoseerde werk moet gevolg en geslaag word.

B. Praktiese gedeelte
Gedurende die twee jaar en as deel van die praktiese komponent van die program word akademiese indiensopleiding by instansies soos deur die Departement Sielkunde gereël, gedoen.

C. Miniverhandeling (KLS 895)
’n Miniverhandeling oor ’n toepaslike onderwerp wat deur die departementshoof en die Nagraadse en Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe goedgekeur is, moet geslaag word alvorens die MA-graad in Kliniese Sielkunde toegeken word. ’n Slaagpunt van minstens 50% moet behaal word. ’n Konsepartikel vir publikasie in ’n goedgekeurde wetenskaplike joernaal moet saam met die voltooide miniverhandeling ingedien word.
 

Toelatingsvereistes

  • BSocSciHons of BAHons in Sielkunde of ekwivalente kwalifikasie wat geakkrediteer is by die Raad vir Hoër Onderwys.
  • Toelating tot die MA (Kliniese Sielkunde)-program is onderhewig aan ’n assesserings- en keuringsproses van moontlike kandidate wat gebaseer is op vereistes soos deur die program van tyd tot tyd voorgeskryf word.
  • Daar is ’n assesserings- en keuringsproses vir toelating van kandidate tot die MA (Kliniese Sielkunde)-program. Slegs ’n beperkte aantal kandidate word jaarliks tot die program toegelaat. Inligting oor die assesserings- en keuringsproses asook die toelatingskriteria kan by die Departement Sielkunde verkry word ten tye van die aansoek.

 

Eksamens en slaagvereistes

Assesserings

  1. Om 'n module te slaag, moet 'n finale punt van 50% behaal word. 'n Student slaag 'n module met lof wanneer 'n finale punt van 75% behaal word.
  2. Vordering in modules word op 'n deurlopende basis geassesseer deur middel van verskeie assesseringsaktiwiteite. Die assesserings is ontwerp om te verseker dat al die uitkomste van ’n module geëvalueer word deur middel van formatiewe assessering.
  3. Die finale resultate van alle modules sal slegs gepubliseer word nadat die eksamenkommissie van die Fakulteit Geesteswetenskappe dit bekragtig het. Geen resultate sal voor die bekragtiging bekend gestel word nie

Bevordering tot volgende studiejaar

Vereistes om na jaar II van die program te vorder

  1. In elk van die programme moet aan al die vereistes van die eerste jaar voldoen word alvorens daar met die tweede jaar voortgegaan kan word.
  2. Indien al die vereistes van die eerste jaar nie nagekom word nie, kan die eerste jaar nie herhaal word nie en daardie student sal die program moet verlaat.
  3. Indien so 'n student sy/haar studies wil voltooi, sal die student moet heraansoek doen in ooreenstemming met die reëls wat betrekking het op die keuringsproses vir alle nuwe aansoeke.
  4. Geen module mag oorgedra word vanaf die eerste jaar na die tweede jaar nie.


Vereistes om na die internskap te vorder

  1. Die reëls en regulasies soos bepaal deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA), en wat van tyd tot tyd aangepas word, is van toepassing.
  2. Alle programvereistes van die graad moet suksesvol voltooi word en die assessering daarvan afgehandel wees deur die betrokke komitees van die Universiteit.
  3. Die magsitergraad moet binne twee jaar voltooi word.

.

Slaag met lof

'n Student slaag ’n module met lof wanneer 'n finale punt van 75% behaal word.

Algemene inligting

Professionele wangedrag
Navrae ten opsigte van moontlike professionele wangedrag binne die program
Indien dit voorkom of ’n student enige professionele reël, regulasie of kode van die RGBSA verbreek, kan daardie student versoek word om voor die uitvoerende bestuur van die Departement Sielkunde te verskyn. Hierdie komitee sal bepaal of die saak na die RGBSA verwys moet word vir verdere ondersoek.

Opskorting van deelname aan die program
Die dekaan mag, op aanbeveling van die hoof van die Departement Sielkunde, ’n ondersoek las na die bevoegdheid van 'n student om te as 'n sielkundige te praktiseer. ’n Moontlike uitkoms van so ’n ondersoek sluit in, maar is nie beperk nie tot die opskorting van die student se studies gedurende die akademiese jaar. Hierdie besluit sal oorweeg word deur 'n paneel in die departement en verskeie aspekte, soos die student se vordering en gedrag, sal in aanmerking geneem word. Die student sal ook die geleentheid gegun word om op die aantygings te reageer.

Minimum krediete: 90

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Geslote – toelating tot hierdie module is onderhewig aan departementele keuring vir die MA Kliniese sielkunde-program.
    Die module is interafhanklik van modules KLS 871 Psigoterapie (Teorie) en KLS 803 Psigodiagnostiek, naamlik as die toepassing van psigoterapeutiese paradigmas en psigometriese toetse by verskeie klinies/sielkundig gerigte instansies onder toesig van senior kliniese sielkundiges. Die module handel ook oor die analises/diagnoses en beskrywing van die toepassingsprosesse. Kritiese evaluasie van die psigoterapeutiese proses is deel van ’n wetenskapsbenadering tot die beoefening van psigoterapie. Professionele en etiese beginsels in die praktyk van psigoterapie word ook aangespreek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – toelating tot hierdie module is onderhewig aan departementele keuring vir die MA Kliniese sielkunde-program. Die module se primêre doel is die kodering, interpretasie en administrasie van verskeidenheid psigometriese toetse ten einde tot ’n DSM IV-diagnose en psigodiagnose van kliënt/pasiënt te kan kom. ’n Sekondêre doel is om psigodiagnostiek in ander kontekste, soos byvoorbeeld die forensiese en die neurosielkunde, toe te pas.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – toelating tot hierdie module is onderhewig aan departementele keuring vir die MA Kliniese sielkunde-program. In hierdie module word menslike gedrag binne konteks ondersoek en word die student tot ’n sensitiewe begrip van gedragswyses gebring wat die grense van wat algemeen as kultureel/sosiaal aanvaarbare gedrag beskou word, oorskry. Gedrag wat gewoonlik as normaal/abnormaal beskryf word, word vanuit verskeie paradigmatiese beskouings krities aangespreek en bestudeer. Gedrag wat beïnvloed word deur genetiese en neurologiese prosesse word ook behandel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – toelating tot hierdie module is onderhewig aan departementele keuring vir die MA Kliniese sielkunde-program.
    Die module handel oor verskeie psigoterapeutiese modelle en die beginsels grondliggend daaraan. Die bestudering van hierdie paradigmas is nie slegs gerig op die individu as ’n geïsoleerde persoon nie, maar lei tot insig en begrip van die gesin, groep en sosiale kontekste. Hierdie module vind toepassing in KLS 872 Psigoterapie (Praktyk).

    Sien meer

Minimum krediete: 90

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Met ’n miniverhandeling word die student se vermoë getoets in die beoefening en voltooiing van ’n onafhanklike navorsingsprojek. Die projek is gebaseer op ’n onderwerp in die veld van die kliniese sielkunde en word onder leiding van ’n studieleier (geregistreerde kliniese sielkundige) of ’n goedgekeurde kundige op die gebied van die navorsingsonderwerp voltooi. Die student ontvang ook onderrig oor navorsingsmetodiek gedurende die proses van die ontwikkeling van die navorsingsvoorstel.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences