Waarom 'n Nederlandse teoloog Suid-Afrika verkies.

Posted on November 24, 2008

"Ek is genooi om kort iets te sê oor hoekom ek graag in Suid-Afrika wil bly. Hierdie vraag het ek die afgelope twee jaar dikwels gekry. Baie mense verstaan dit nie. Die een na die ander emigreer naar Australië, Canada of Europa, want hulle verdien daar meer geld en belangriker nog, daar is ‘n mens baie veiliger. Vandag het ek op die radio gehoor dat die lewensverwagting in Suid-Afrika die laagste is van die hele Afrika, selfs laer as in die oorlogsgebiede.

 

In 2004 het ek vir die eerste keer na Suid-Afrika gekom en my hart verloor. Die son, die natuur en die gasvryheid van mense het gevoel soos ‘n warm bad. Toe ek na 6 maande terug is in Nederland, voel ek heimwee na Suid-Afrika. Ek het my studies in Nederland klaargemaak en weer terug gekom, hierdie keer vir twee jaar. In hierdie twee jaar het ek ook die donker kante van hierdie land leer ken. Miljoene mense wat nog armer is as arm, rooftogte, moorde en verkragtings. Ek kan nie onverskillig wees nie.

 

In my colloquium eksamen het ons oor ‘n boek van De Gruchy gepraat, wat handel oor die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis. De Gruchy sluit af met ‘n hoofstuk oor die Koninkryk van God in Suid-Afrika. Volgens hom het die kerk die taak om hier en nou te bou aan die Koninkryk, om ‘n einde te maak aan onreg. Ons moet nie moed verloor nie, maar ons moet hoop hou. Hy haal Romeine 15:13 aan, dieselfde teks wat my predikant vir my gegee het toe ek belydenis doen:

“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

 

My hoop vir hierdie pragtige land het al hoe sterker geword. Ek wil graag probeer om hierdie hoop te vertaal in saadjies van God se Koninkryk, en dit te saai onder die mense.

 

Dankie"

Lees ook die artikel in Beeld hieroor by: http:/152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2008/11/19/B1/5/tnjtiny.html

 

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences