Waardevolle foto-collage vergestalt Fakulteit Teologie geskiedenis

Posted on April 14, 2011

Ds Albertus van Wyk wat vanjaar 99 jaar oud word het saam met sy kinders tydens ’n middagete in Kya Rosa die geraamde werk aan die Dekaan prof Johan Buitendag en die Adjunkdekaan, prof Julian Müller oorhandig.

UP het die oudste teologiese fakulteit in SA wat terugdateer na 1917 toe die Nederduitse Hervormde Kerk (NHK) en die Presbiteriaanse Kerk hul opleiding by die Universiteit, toe Transvaalse Universiteitskollege (TUK) begin het. Tydens die verwelkoming het prof Buitendag ook verwys na die belangrikheid van die skenking: ds Van Wyk wil dit aan die Fakulteit en nie aan die Kerk skenk nie. Hierdeur word blyke gegee van die pragtige eenwording van die twee eertydse fakulteite van die NGK en die NHK. Prof Buitendag het gesê dit is soos wanneer iemand na sy of haar genealogie navraag doen: sowel jou pa as jou ma se voorgeslagte vorm jou geskiedenis en bepaal jou DNS. Die huidige Fakulteit is die resultaat van die afdelings wat een geword het.

Binne die NG Kerk was daar destyds baie gemaak van die eerste 5 studente wat met klasse begin het op 16 Maart 1938. Dit was vir die NG Kerk 'n gedenkwaardige geleentheid vanweë die jarelange pogings wat aanleiding gegee het tot die daarstelling van 'n Teologiese Fakulteit in Pretoria vir ook die NGK. Die studente destyds was Albertus van Wyk, Barry Murray, JM Louw, Lood Visser, JP Theron en JP Grobler.

Ds Albertus van Wyk

Kort na Albertus van Wyk se geboorte in 1912 het sy moeder hom aan die Here opgedra om eendag in sy diens te wees. Aan die einde van Standerd 6 het hy die skool verlaat om op familie-plaas te gaan boer. Na vier jaar het hy tot bekering gekom en besluit om weer terug te gaan skool toe omdat hy na skool teologie wou gaan studeer. Albertus van Wyk registreer as een van 21 studente in 1935 vir die kursus BA Admissie by die Transvaalse Universiteiteskollege (TUK). In daardie stadium was daar nog nie 'n amptelike NG Fakulteit nie. Hul het het in die Ou Klubsaal (vandag Coffee at Burgandy's) op die boonste vloer in die een lokaaltjie klas gedraf. Die kursus wat hy gevolg het was natuurlik ook oor 'n tydperk van 7 jaar: 3 jaar BA; 3 jaar BD en 1 jaar 'prakties'.
In 1936 ontmoet Albertus van Wyk vir Christine, 'n Maatskaplike Werk student en hulle is in 1939 getroud. Sy is 1918 gebore en word een van die dae 93!
Aan die einde van 1937 het hierdie groepie studente voor 'n krisis te staan gekom omdat UP nog nie 'n NG Teologie Fakulteit gehad het nie en hul dus hul studies by Stellenbosch se Kweekskool sou moes gaan voltooi. Maar in 1938 is daar 4 professore aangestel en ’n nuwe afdeling word by die Fakulteit Teologie tot stand gebring wat beteken dat hulle nieaf Stellenbosch toe hoef te trek nie. In 1941 kry genoemde 5 studente die BA Admissie graad van wie slegs Ds Van Wyk nog lewe.
Ds Van Wyk se eerste gemeente was in Koster waarna hy na Brits is, toe Rustenburg-Noord en later na Newcastle en Arcadia. Hy was tot en met sy aftrede as predikant by die Evangelisasiespreekkamer in Pretoria werksaam.
Ds van Wyk en sy eggenote, Christine, woon in Florauna, Pretoria. Hulle het 7 kinders (1 seun en 6 dogters; 32 kleinkinders en 26 agterkleinkinders).

Die Fakulteit wens hom ’n geseënde jaar toe en vertrou dat die Heer van die kerk hom tot minstens 100 jaar sal spaar.

Vir foto's kliek hier

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences