Bundel ter ere van prof Andries van Aarde oorhandig

Posted on June 15, 2011

Prof Lina Spies van die Universiteit van Stellenbosch het as die geleentheidspreker opgetree en het gefokus op haar “spiritualiteit en om soeker te wees” en die invloed wat dit op haar digkuns het.

Prof Theuns Dreyer, Hoof van die Hervormde Teologiese Kollege aan die Fakulteit Teologie, het as gasheer opgetree.

Prof Johan Buitendag, Dekaan van die Fakulteit Teologie, het die huldigingswoord gespreek. Prof Buitendag het genoem dat uit die perspektief van die Universiteit van Pretoria in die algemeen en van die Fakulteit Teologie in die besonder, dit verblydend is dat daar erkenning aan so buitengewoon begaafde teoloog gegee word. Prof Andries Gideon van Aarde was byna sy hele professionele loopbaan in diens van die Universiteit van Pretoria. Aanvanklik as ‘n lektor en later as departementshoof. Al sy naskoolse kwalifikasies, onder andere drie doktorsgrade, het hy van UP en na sy vervroegde emeritaat verwerf. Hy is as honorêre professor in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap aangestel.

Prof Buitendag het ook gemeld dat selfs net ‘n vlugtige blik op sy navorsingsportefeulje toon watter besondere prolifieke skrywer prof van Aarde deur die jare was en steeds is. Vir die bydraes het hy ook wêreldwyd van die hoogste erkennings ontvang. “Die Redaksie van die HTS Teologiese Studies het ‘n waardige laureatus in Andries Gideon van Aarde gevind en soos wat hierdie feesbundel hom tot eer strek, gebeur tegelyk ook die omgekeerde: hý gee eer aan die HTS Teologiese Studies”, het prof Buitendag gesê.

Die oorhandiging van die Festschrift was deur prof Ernest van Eck, Voorsitter van die Redaksie van die Hervormde Teologiese Studies; prof Yolanda Dreyer, Mede-redakteur en Dr Pierre de Villiers, Besturende Direkteur van AOSIS/OJP, aanlyn uitgewers van HTS, hanteer.
Vir foto's van die geleentheid, klik hier

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences