Posted on December 04, 2012
Ons be-oog om die volgende ingrypings uit te voer in GW in die komende dae en weke:
1. HERSTEL VAN DEFEKTIEWE VERKILDE WATERPYP-KOPPELINGS OP 16 VLAKKE IN GW:
Soos u bewus is, het daar 'n menigte waterlekke ontstaan as gevolg van defektiewe koppelings op die verkilde watertoevoerstelsel na lugversorgereenhede in kantore dwarsoor GW. Die defektiewe koppelings was die gevolg van 'n onlangse oefening om alle moontlike waterlekkasies in die gebou, te wyte aan die verkilde watertoevoer, uit te skakel deur die pypkoppelings stewig vas te draai. Nadat ons die hele GW se verkilde waterkoppelings verstewig het, het die sirkulasiepompe aan die beurt gekom, en het ons hulle vervang met nuwe pompe. Die hoër druklewering van die nuwe pompe het egter 'n string nuwe lekkasies tot gevolg gehad in gevalle waar die verouderde koppelings nie die verhoogde druk kon hanteer nie.
Sedertdien het Fasiliteitebestuur:
· Gesprek gevoer met Prof Stander en Aretha oor ons voorgenome verdere ingrypings;
· Nuwe verkilde waterpyp koppelings inderhaas bestel en laat aflewer en hou dit gereed vir grootskaalse vervanging van die defektiewe koppelings;
· Twee bykomstige spanne deur die Lugversorgings-instandhoudingskontrakteur in diens laat neem om die vervangings-operasie te hanteer.
Ons is dus gereed om al 16 vlakke in GW se verkilde water pypwerk te herbesoek ten einde alle bestaande koppelings te vervang met die gespesifiseerde nuwe koppelings.
Voorgenome Program:
1. Aretha Schultz het reeds voorbrand gemaak en op groot skaal GW-okkupeerders aandagtig gemaak op die voorgenome ingryping, ten einde te verseker dat kantore toeganklik is vir die kontrakteur om binne te gaan en pypkoppelings voor die voet te vervang.
2. Fasiliteitebestuur staan gereed met bykomstige spanne om hierdie vervangings-operasie uit te voer.
3. Die ingryping sal vloervlak vir vloervlak geskied. Die bykomstige spanne bring mee dat ons meer as een vlak gelyktydig kan hanteer.
4. Die totale duurte van die vervangings-operasie wat 16 vlakke moet dek sal 8 weke duur.
5. Die kontrakteur sal slegs 'n spesifieke vlak kan hanteer mits daar toegang tot al die tersaaklike kantore verleen kan word.
6. Die uitvoerbaarheid om 'n spesifieke vlak te kan hanteer vereis die volgende: Alle tersaaklike kantore op die betrokke vlak moet toeganklik wees, plus die hoekkantore op die 4 uithoeke van GW op een vlak laer as die tersaaklike vlak waarop vervanging van koppelings sal geskied. [Rede: Afsluitkleppe wat 'n betrokke vlak se verkilde water toevoer afsluit, is in die kantore op die 4 hoeke van die gebou geleë, een vlak onder die tersaaklike vlak waar vervanging moet geskied. Toegang tot die afsluitkleppe is noodsaaklik ten einde die toevoer op die tersaklike vlak af te sluit voordat koppelings vervang word].
Kritiese Suksesfaktore:
Vir hierdie vervangingsoperasie om effektief te verloop, is die volgende noodsaaklik:
· Samewerking en ondersteuning deur GW-kantoorokkupeerders ten einde vereiste toegang tot die tersaaklike kantore te verskaf en te verseker.
· Volharding deur die Lugversorgingskontrakteur deur nie een bestaande koppeling in 'n kantoor op enige vlak oor te slaan of na te laat nie.
· Buitengewone moeite deur kantoor-okkupeerders om te verseker dat elke kantoor toeganklik is op die spesifieke tydstip dat die operasie op 'n spesifieke vlak uitgevoer sal word.
· Deurlopende kommunikasie tussen Aretha Schultz en GW kantoorokkupeerders enersyds, en Fasiliteitebestuurpersoneel [Jan Pouwels en Neels Niemand] en Aretha Schultz andersyds.
· Die oordra van koordinerende en kommunikasie-aksies vanaf Aretha Schultz aan Godwill Maheme wanneer Aretha met jaarverlof gaan.
· Die oordra van skakelingsverantwoordelikhede en reëlings aan Colin Soden wanneer Jan Pouwels op 6 Desember met jaarverlof gaan.
· Deursettingsvermoë en toewyding van die Kontrakteur R & H Projects om hierdie ingryping suksesvol deur te voer.
2. MODIFIKASIE AAN AL GW SE PYPSKAGTE
Binnekort sal die modifikasies aan pypskagte ook afskop.
Die onderskeie pypskagte in GW sal sistematies en opeenvolgend aangepas word deur in elke skag 'n prominente horisontale struktuur aan te bring wat voorkom dat oorstromings as gevolg van gebou watertoevoer en -afvoer skade veroorsaak en kantore en ruimtes oorstroom in gevalle waar die gebou se waterpype bars, kraak of lek. Die operasie met 'n omvang van R1,3m is in beplanningsstadium en daar sal binnekort geskakel word met GW se Veiligheidsverteenwoordigers ten einde hul op hoogte te bring van die besonderhede betreffende toegang vir die betrokke kontrakteur, werksaamhede, moontlike impak op toegangsroetes en die werksbenadering wat die kontrakteur sal volg.
3. DANKBETUIGING
Van Fasiliteitebestuur se kant betuig ons dank aan almal in GW wat betrokke is by ons herhaalde pogings om die werksomgewing in GW by wyse van hierdie ingrypings aanvaarbaar te maak en die herhalende frustrasie as gevolg van waterlekkasies en gevolglike kantoorskade te elimineer. Ons het waardering vir begrip en geduld wat GW-okkupeerders openbaar temidde van herhalende ontwrigting wat aan GW se verouderde en ouerwordende gebou-infrasruktuur te wyte is.
Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.
Get Social With Us
Download the UP Mobile App