E-pos ons

FAQ
Virtual Campus

Navorsingsfokusareas

Die Fakulteit is besig met die vestiging van ‘n Fakulteitnavorsingstema (FNT) wat as sambreel sal dien waaronder belangrike aspekte van die Fakulteit se navorsing gegroepeer word. Die tema is getiteld Oikodome – Life in its fullness. Hierdie FNT stem ooreen met nasionale en die UP se 2025-strategieë en beleid. Die tema het ten doel om kwessies van etiese denke en etiese besluitneming in verskeie samelewingskwessies en lewensomgewings aan te spreek met inagneming van godsdienstige wêreldbeskouings, waardes en norme. Die projek is boonop onontbeerlik in die kweek van leierskap (mensekapitaal) en die prosesse van etiese denke en besluitneming in sowel die tersiêre omgewing as die groter samelewing. Belangrike fokuspunte sluit in aspekte van maatskaplike geregtigheid, menswaardigheid, versoening, morele vorming en verantwoordelike burgerskap. Hierdie aspekte sluit aan by ‘n tema soos “Life in its fullness” deur sleutelwoorde soos Oikodome (huishouding), wat beteken die welstand van die huishouding, ekonomie, ekologie, teologie, godsdiens, lewegewend en verarming.

Groeperingbenadering

Die FNT word in drie groeperings aangepak sodat interdissiplinêre en transdissiplinêre perspektiewe in Teologie en Godsdiens ingesluit kan word. Ander vakrigtings in Geesteswetenskappe, Sosiale Wetenskappe, Regte, Opvoedkunde en Natuurwetenskappe sal ook betrek word. Die geïdentifiseerde groeperings is die sogenaamde grondbeginsels (Ou- en Nuwe Testamentiese Wetenskap), oortuigings (Dogmatiek en Christelike Etiek tesame met Kerkgeskiedenis en Kerkreg), en praktyke (Godsdiens- en Sendingwetenskappe tesame met Praktiese Teologie). Die grense is uiteraard nie duidelik afgebaken nie en sowel horisontale as vertikale interaksie sal plaasvind. Hierdie FNT sal nie net maniere nastreef om ander institusionele en Fakulteitsnavorsingstemas te ondersteun nie, maar sal ook ‘n eie identiteit ontwikkel met betrekking tot Teologie en Godsdiens. 
 

  • Grondbeginsels: Ou- en Nuwe Testamentiese Wetenskap

Navorsing in hierdie groepering fokus veral op die analise, beskrywing en toepaslikheid van Antieke Nabye Oosterse en Judaeo-Christelike identiteite. Dit word uitgevoer op die verband van die Hebreeuse Geskrifte, Hellenistiese Judaïsme en Vroeë Christendom soos gesetel binne die breër kontekste van die laat-Oudheid. Navorsingsprojekte in hierdie veld las verskeie areas aanmekaar: (a) Studies oor die dokumente van die Antieke Nabye Ooste en die Ou Testament; (b) Studies oor die vroegste weergawes van die Joodse Geskrifte wat deur vroeë Christengemeenskappe gebruik is; (c) Sosiaal-wetenskaplike studies oor die Nuwe Testament; (d) Identiteitvorming en sosiale transformasie in die Hebreeuse Oudheid en vroeë Christendom; en (e) Bybelse hermeneutiek in die konteks van Afrika-gemeenskappe. Hierdie areas voed huidige ondersoeke na die verantwoordelike gebruik van heilige geskrifte in ‘n sosio-polities en godsdienstig onstabiele wêreld. Dit bied die hoekstene in die fondament van kritiese Bybelse vakgeleerdheid wat dit kontekstueel toepaslik maak vir sowel Afrika- as internasionale godsdienstige gemeenskappe. 

  • Oortuigings: Dogmatiek en Christelike Etiek tesame met Kerkgeskiedenis en Kerkreg

Navorsing in hierdie groepering fokus op Afrika: lewe, leierskap en armoede. Die fokus is op die lewe in Afrika in 2015, en spesifiek in Suid-Afrika, uit drie besondere dissiplinêre invalshoeke en met die doel om dié drie invalshoeke in ‘n oorkoepelende perspektief saam te vat. Die drie perspektiewe sal onderskeidelik wees uit Dogmatiek oor individualiteit en kerkleer (om ‘n mens te wees in Afrika vandag/ om ‘n mens in ‘n kerk te wees in Afrika vandag) en vanuit Etiek en Kerkgeskiedenis oor die konteks (waarin iemand ‘n mens is en waarin ons kerke is en wat ons te doen staan!) wat vir baie mense gekenmerk word deur ekstreme armoede.

Vanuit Dogmatiek en Christelike Etiek impliseer dit fundamentele besinning oor kontemporêre sienings van wat dit beteken om mens te wees, oor individualiteit, oor modelle vir kerkwees en oor die neem van verantwoordelikheid vir ons lewens, waardes en gemeenskap vanuit ‘n Christelike perspektief. Eersgenoemde sal binne die teologie-wetenskap-diskoers aangepak word en laasgenoemde deur die beste huidige etiese benaderings tot leierskap en waardes.

Vir Kerkgeskiedenis impliseer dit historiese navorsing vanuit verskillende invalshoeke oor die rol van die kerk in die geskiedenis van die mensdom. Die bestudering van die rol van die wêreldwye kerk in die verlede sal dit moontlik maak om oplossing vir die hede en die toekoms te soek. Met dit in gedagte kan navorsing beperk word tot ‘n fokus op die probleme van Afrika en meer bepaald Suid-Afrika. Volgens die jongste statistieke van die Wêreldbank is werkloosheid en armoede Afrika se twee grootste probleme. Die kerk het in die geskiedenis van Suid-Afrika ‘n groot rol gespeel in die bekamping van armoede. Deur die rol van die kerk in die verlede in die stryd teen armoede te bestudeer kan oplossings vir die hede en toekoms dalk na vore kom.

Die integrasie van hierdie perspektiewe kan as Fakulteitnavorsingstema ‘n sterk boodskap stuur in die tyd waarin ons leef en nie net Departementele grense oortref nie, maar ook dié van die Fakulteit deur skakeling met ander vakrigtings soos opvoedkunde, regte, landbou, ingenieurswese, gesondheidswetenskappe, ens. Só ‘n navorsingonderneming is ook in ooreenstemming met die nuwe Ontwikkelingsplan wat deur die Suid-Afrikaanse regering aanvaar is. 

  • Praktyke: Godsdiens- en Sendingwetenskappe tesame met Praktiese Teologie

Navorsing in hierdie groepering fokus op die bevordering van “volheid van lewe” (life in fullness) deur beklemtoning van die volgende aspekte van die welstand van die huishouding (Oikodome):

Versoening en sosiale kohesie: hierdie tema word aangepak vanuit die perspektiewe van gebruike, veranderende identiteite en die verhouding tussen “vergifnis”, “versoening” en “restitusie”. Die vorming, ontwikkeling en impak van geloofsgemeenskappe op die samelewing, leierskap en interkulturele kommunikasie word ondersoek.

Armoede en die integriteit van die skepping: hierdie tema sluit in studies oor prediking en armoede en oor verskillende godsdienste se diverse benaderings tot die skepping. Dit besin ook oor hoe die Christelike geloof bydra tot die vorming van die alledaagse lewe en hoe die alledaagse lewe verstaan en getransformeer kan word deur ‘n teologiese manier van dink. Dié navorsing onderneem, ontwikkel, bevorder en implementeer maniere (modelle, produkte, tegnologie en praktyke) om die lewenskwaliteit van huishoudings te verbeter.

Die bou van samehangende, sorgsame, etiese en volhoubare gemeenskappe: hierdie tema sluit aan by een van die regering se tien strategiese prioriteite, naamlik “Die bou van samehangende, sorgsame en volhoubare gemeenskappe”, maar voeg “etiese” by. Projekte met ‘n fokus op transdissiplinêre navorsing oor geloof in die stadskonteks wat hierby aansluit is: “Geloof in die stad”, “Die doen van stedelike publieke teologie in Afrika” en “Hoofstede: Ruimte, geregtigheid en om te behoort”.

Intergodsdienstige skakeling en dialoog: die navorsing oor en dialoog met wêreldgodsdienste sluit in teologie van geloof en teologie van godsdienste. 

  • SAFE-Sentrum en NOVA-Instituut

As deel van die Praktyke-groepering werk die Southern African Fair Environment (SAFE)-Sentrum nou saam met die Nova-Instituut, wat fokus op die bevordering van ‘n gesonde huishoudingkultuur in Suider-Afrika. Hoewel Nova tot stand gekom het uit die diakonale werk van die kerk, werk dit nou grootliks in ‘n sekulêre konteks (met industrie, regeringsdepartemente, ens.) en vanuit ‘n sekulêre denkwyse. Die SAFE-Sentrum sal ‘n brug vorm tussen teologiese oordenking en die werk wat Nova doen: nie net om te besin oor die manier waarop die Christelike geloof kan help om die daaglikse lewe te vorm nie, maar net so belangrik, hoe die daaglikse lewe verstaan en getransformeer kan word deur ‘n teologiese denkwyse. Tweedens moet die teologiese besinning (in die groeperings van grondbeginsels en oortuigings) nie net die praktyke van alledaagse lewe rig en vorm nie, maar die teenoorgestelde moet terselfdertyd gebeur sodat dit een proses is.

Onafhanklike, verantwoordelike besluite in die daaglikse lewe word dikwels in die konteks van praktyke geneem. ‘n Praktyk is ‘n stewig gevestigde proses wat oor tyd gevorm het deur die kombinasie van ‘n verskeidenheid faktore, soos sosiale waardes, kennis en die beskikbaarheid van tegnologie, sosio-ekonomiese en ander toestande. Geloof kan nie soos ‘n wegneemhamburger verpak, oorgedra en verbruik word nie. Lewende geloof is meer soos die gis wat in deeg ingeknie word en dan as ‘n lewegewende en transformerende middel optree en verantwoordelike besluite ingegrawe in lewegewende praktyke deur ons hele lewens aanmoedig. Dit is nie veel anders met tegnologie nie. Tegnologie kan ook nie as ‘n pakkie oorgedra word nie; die mense wat dit wil gebruik moet dit begryp en funksioneel in hul lewens integreer. In ons pogings om armoede te bekamp is albei dié aspekte, die kontekstualisering van geloof en die kontekstualisering van tegnologie, nodig en dit moet een proses word.

Nova onderneem, ontwikkel, bevorder en implementeer maniere (modelle, produkte, tegnologie en praktyke) saam met huisinwoners om hul lewenskwaliteit te verbeter. Nadat dit op ‘n klein skaal ontwikkel en getoets is, word maniere om lewenskwaliteit te verbeter op groter skaal gebruik saam met vennote in industrie, kerke, regering en NRO’s.

Nova se werk bied betekenisvolle oplossings vir ‘n tasbare probleem. Dit vereis die toepassing van wetenskaplike metodes in die konteks van die daaglikse lewe. Interaksie met teoretiese oordenking sal wedersyds verrykend wees en kan benewens die praktiese oplossings ook akademiese oordenking en publikasie stimuleer.

In samevatting sal die interdissiplinêre en transdissiplinêre samewerking tussen hierdie groeperings in die Fakulteit bydra tot die vestiging van die FNT, getiteld Oikodome – Life in its fullness. Die bedoeling is dat dié FNT op ander FNT’s en INT’s by UP moet inwerk en dit moet ondersteun.   

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Judith FourieEdit