E-pos ons

FAQ
Dubbele eer vir PhD-student
13 Februarie 2018

’n PhD (Politieke Wetenskap)- student aan die Universiteit van Pretoria, Dikeledi Mokoena, is onlangs deur die Most Influential Young South Africans-inisiatief en die Africa Youth Awards erken vir haar werk oor pan-Afrikanisme en integrasie tussen jong mense op die vasteland.

Sy het die 33ste posisie uit 100 mense beklee in die Most Influential Young South Africans-inisiatief, gelei deur Avance Media, ’n sosiale onderneming, in vennootskap met verskeie ander organisasies. Haar gewese kollega in die Departement Politieke Wetenskap, Sizwe Welsh-Mpofu, was in die 16de posisie.

Hierdie jaarlikse toekennings en ranglys teiken Suid-Afrikaanse presteerders tussen die ouderdomme 15 en 40. Presteerders word benoem en die publiek word genooi om vir hulle te stem.

Die toekennings het 10 kategorieë, insluitende Besigheid, en Wetenskap en Tegnologie. Mokoena is benoem in die kategorie Persoonlike Ontwikkeling en Akademia, wat gemik is op individue wat in akademiese opdragte uitmunt en hul loopbaan aan opleiding van die volgende geslag Afrika-leiers toewy. Sy is betrokke by gemeenskapsbetrokkenheidswerk wat met haar akademiese belangstellings verband hou. In Desember was sy ’n fasiliteerder by die Afrika-unie se Vrywillerjeugkorps se voorafopleiding in Ghana. Haar belangstelling is om jong Afrikane voor te berei om hulle te beywer vir Afrika-eenheid, kollektiewe leierskap en die bevordering van interseksionele pogings vir die suksesvolle hergeboorte van Afrika, en in die vernuwing van die Globale Suide en die wêreld. Sy fasiliteer ook gemeenskapsgesprekvoering oor xenofobie en seksuele geweld.

Mokoena was ook een van die vier finaliste in die Africa Youth-toekennings, wat uit 140 benoemdes uit 25 Afrikalande gekies is, en sy het erkenning gekry vir haar akademiese werk in die gemeenskap, wat gehandel het oor knellende kwessies soos die Ebola-krisis en die implikasies daarvan vir streekmigrasie in Wes-Afrika.

Sy is ’n navorser in die Sentrum vir Seksualiteite, Vigs en Gender en is besig met haar PhD in Politieke Wetenskap. Haar PhD onderwerp is ‘Resistance and survival strategies of the women of Marikana: A decolonial political economy analysis’.

Sy was voorheen ’n deeltydse dosent in Politieke Wetenskap, in internasionale betrekkinge. Na aanleiding van haar prestasie sê sy: ‘Ek het dit nie verwag nie. Dit was ’n groot verrassing maar ’n bevestiging van die werk wat ek doen. Jy dink nie mense sien wat jy doen nie.’

Sy het op haar rug ’n opvallende tatoe van die kaart van Afrika, met die Godin van Maat daarin (die godin is ’n simbool van liefde, harmonie, geregtigheid, vrede en balans), en sy sê ‘dis ’n gebed vir myself en die vasteland.’ Haar passie vir Afrika is opvallend. Sy reken Afrika het die potensiaal om vir die wêreld ’n model te bied vir die hergeboorte van ’n egalitêre en regverdige wêreld, ’n wêreld met minder of geen krake en onstabiliteit. Uit hierdie chaos kan ’n meer pluriversale wêreld ontstaan.’

Sy beoog om volgende jaar met nadoktorale studie voort te gaan en om in die akademie te bly. ‘Ek hou daarvan. Ek hou van skryf. In my droomhuis sien ek 'n groot biblioteek met baie boeke en 'n groot venster vir vars lug,' glimlag sy.

 

- Outeur Primarashni Gower
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Jacoba OdendaalWysig
Dikeledi Mokoena