E-pos ons

FAQ
Korrupsie en staatskaping: Navorsing gee 'stem' vir gewone Suid-Afrikaners
7 Desember 2017

 

Die Sentrum vir Kommunikasie- en Reputasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria het Ask Afrika (Suid-Afrika se grootste onafhanklike navorsingsmaatskappy) en Infusion Knowledge Hub opdrag gegee om die sienings van gewone burgers oor korrupsie en staatskaping te verken. Die navorsing het gekyk na hoe burgers hulself binne die breër konteks van die bevolking definieer, hul sienings oor wat die knellendste kwessies in die regering is en die mate waarin hulle dink korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika voorkom. Daar is ook gepoog om tevredenheid met politieke prestasie vas te stel, Suid-Afrikaanse stempatrone en ‑tendense te bepaal en 'n wetenskaplik geverifieerde begrip te kry van hoe die meeste Suid-Afrikaners reken korrupsie en staatskaping die toekoms van die land sal beïnvloed.

Uit die kwalitatiewe resultate blyk dit dat burgers die fokusgroepe as 'n platform gebruik om hul ontevredenheid met die huidige stand van sake in die land uit te druk. Die besprekingstemas en taal in die fokusgroepe het 'n invloed gehad op die kwantitatiewe vraelys, wat 'n verskeidenheid kwessies gedek het, insluitende die huidige gemoedstemming van die nasie, stempatrone, tevredenheid met die regering, korrupsie, staatskaping en hoop vir die toekoms.

Hoogtepunte van die studie

  • Twee derdes van die respondente dink lewenstoestande het sedert die einde van apartheid verbeter.
  • Die meeste respondente is vol vertroue dat daar 'n gelukkige toekoms op alle rasse in Suid-Afrika wag.
  • Meer as die helfte van die respondente het vertroue in 'n gelukkige toekoms vir alle immigrante en Suid-Afrikaanse burgers wat sy aan sy werk.
  • 62% dink daar is vordering gemaak om sport te transformeer; 55% dink dit geld vir die sakesektor en 51% dink dit geld vir die werkplek.
  • 77% dink egter hul land beweeg tans in die verkeerde rigting.
  • 'n Belangrike bevinding is lae vlakke van tevredenheid met die regering – van die hoogste amp in die land tot op wyksvlak. Landdroste en regters is as die beste beskou wat hul werkverrigting betref.
  • Daar word gevoel dat leiers nie die waardes handhaaf wat burgers as belangrik beskou nie, soos betroubaarheid, eerlikheid, luister na die mense en bekwaamheid.
  • Die meeste burgers is bewus van korrupsie en 68% dink staatskaping vind in Suid-Afrika plaas.
  • Die meeste Suid-Afrikaners reken dat om 'n werk te hê, waardigheid en selfrespek meebring maar dat korrupsie tans tot minder werkgeleenthede lei. Ongeag hul agtergrond en ten spyte van hul verskille glo Suid-Afrikaners in:
  1. die bekamping van korrupsie.           
  2. werkgeleenthede vir almal, en                       
  3. die bekamping van armoede.

Dien die regering die mense?

Na vier maande van kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing verteenwoordig die resultate die stem van 37 miljoen Suid-Afrikaners 18 jaar en ouer, en 80% van die steekproef fokus op die armer gemeenskappe in die land. Dr Melani Prinsloo van Infusion Knowledge Hub, wat die kwalitatiewe navorsing bestuur en gedoen het, sê: 'Die fokusgroepbesprekings het vir gewone Suid-Afrikaners 'n veilige platform gebied om hul ervarings van regering, korrupsie, staatskaping en vertoning van politieke partye te deel en te bespreek. Daardeur het Suid-Afrikaners 'n etiese raamwerk vir die oorweging van korrupsie en staatskaping gebied. Verder is 'n stel sleutelaanwysers oor 'n ideale regering, drywers van korrupsie/staatskaping en die impak van korrupsie/staatskaping saamgestel. Dit het die grondslag vir die kwantitatiewe studie gevorm. Die waarde van die kwalitatiewe fase lê in die temas wat deur burgers self aangemeld is, en dit is gebruik om die kwantitatiewe vraelysafdeling op te stel wat deur Ask Afrika gefasiliteer is.

Die opname het hoë vlakke van wantroue in en ontevredenheid met regeringsvertoning aan die lig gebring. Die meeste burgers reken daar word nie in hul basiese behoeftes voorsien nie as gevolg van korrupsie en staatskaping, en 77% voel die land beweeg in die verkeerde rigting. Desondanks bly 84% trots om Suid-Afrikaners te wees, en 46% van hulle verkies om eers as Suid-Afrikaners geïdentifiseer te word voor enige ander demografiese beskrywers soos ras, geslag, geloof of kultuur. Die bevindings toon dat 'n minderheid Suid-Afrikaners sal aanhou om politieke leiers te volg selfs al doen hulle nie hul werk goed nie.

Daar was lae vlakke van tevredenheid, en leiers handhaaf nie die mense se waardes nie. Daar word nie van die regering verwag om volmaak te wees nie, maar die prestasiegaping oor kwessies soos behuising en grondeienaarskap, die bekamping van korrupsie, die skep van werkgeleenthede en die lewering van basiese dienste aan burgers is beduidend. Die stryd teen korrupsie bly 'n topprioriteit vir burgers en hulle verwag van die regering om na hul behoeftes en begeertes te luister.

Korrupsie verswak die wese van die samelewing

Hoëvlakse politici en sakelui word as die hoofrolspelers in korrupsie en staatskaping beskou, maar dit het 'n direkte negatiewe impak op gewone burgers. Burgers is dit eens dat korrupsie en staatskaping lei tot:

  1. 'n persoonlike gevoel van verlies en sielkundige ontmagtiging,
  2. laer vertroue in die regering,
  3. swak dienslewering, en
  4. belemmering van ekonomiese groei.

Respondente was sterk ten gunste van aktiewe burgerskap teen korrupte individue, met 62% wat tronkstraf en strafregtelike klagtes teen korrupte individue verwag en 41% wat beoog om korrupte politici uit te stem.

Die nasionale psige wat burgers saambind

Die data dui daarop dat daar 'n nasionale psige bestaan wat burgers saambind, ongeag hul agtergrond en ondanks verskille: hulle is bereid om teen korrupsie te veg (51%), hulle wil werkgeleenthede vir almal hê (46%) en hulle is toegewyd tot die stryd teen armoede (43%). Benewens bevestiging dat hulle bereid is om teen korrupsie, rassisme, staatskaping en xenofobie te veg, sê die oorweldigende meerderheid respondente korrupsie sal hul stemgedrag beïnvloed.

Die opname toon duidelik dat Suid-Afrikaners om die volgende redes sal saamstaan:

  1. 84% is trots Suid-Afrikaans.
  2. 63% voel lewensomstandighede het na die apartheidsregime verbeter.
  3. 61% is vol vertroue dat alle rasse 'n gelukkige toekoms in Suid-Afrika sal hê.
  4. 56% is vol vertroue dat immigrante en Suid-Afrikaanse burgers sy aan sy sal kan werk.
  5. 54% is vol vertroue dat alle immigrante 'n gelukkige toekoms in Suid-Afrika sal hê.
  6. 62% dink daar is vordering gemaak om sport te transformeer; 55% dink dit geld vir die sakesektor en 51% dink dit geld vir die werkplek.
  7. 77% dink egter hul land beweeg tans in die verkeerde rigting.

Die resultate van die navorsing sal bespreek word op The Nation's Voice on State Capture and Corruption, 'n eksklusiewe werksessie en paneelbespreking op 6 Desember 2017 by die Radisson Blu Gautrain Hotel in Sandton wat deur akademici, redakteurs, senior joernaliste en hoëvlakafgevaardigdes bygewoon sal word.

Prof Ronel Rensburg van die Sentrum vir Kommunikasie- en Reputasiebestuur sê: 'Hierdie projek is daarop gemik om navorsing vir die algemene bevolking toeganklik te maak en om alle individue of groepe wat hierdie konsepte en praktyke verder wil ondersoek, aan te moedig om die navorsingsbevindings te gebruik. Dit sal ons 'n stappie nader aan die demokratisering van navorsing in Suid-Afrika bring. Die data en resultate sal gebruik word om vir gewone burgers 'n stem te gee en om as 'n katalisator vir positiewe verandering in Suid-Afrika gebruik te word.'

Ask Afrika se HUB en stigter, Andrea Gevers, sê die maatskappy 'is passievol oor sosiale impak en het geëerd gevoel om die opdrag te kry om hierdie opname te doen, wat nie net die stemme van 37 miljoen mense hoorbaar maak nie maar ook as 'n katalisator vir verandering sal dien.'

 

Die navorsingsbevindings sal gehuisves word in die databasis van die Sentrum vir Kommunikasie- en Reputasiebestuur (SKRB) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Die studiedata en -bevindings sal as inligting in die openbare domein beskikbaar wees om toegang moontlik te maak vir almal wat dit wil gebruik.

 

 

- Outeur Sentrum vir Kommunikasie- en Reputasiebestuur
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Mellissa MlamboWysig
Prof Ronel Rensburg