E-pos ons

FAQ
Woude se bestaan word bedreig – en dit is 'n slegte ding
21 November 2017

 

Woude is lewende, natuurlike omgewings met verskeie ongelooflike lewensvorms wat daarbinne bestaan. Hoë bome vorm dakke wat skuiling vir 'n verskeidenheid spesies bied – waarvan baie net in die woude waar hulle woon, gevind word. Die bodem van die woud is soos 'n verkeersone van insekte en diere wat voedingstowwe skep vir plante om te gebruik. Baie woudplante is geneeskragtig en help plaaslike gemeenskappe wat in omliggende gebiede woon. Woude word egter bedreig. Houtsaerymaatskappye, mynmaatskappye, landbou, onwettige jagters en stropery, sowel as die ontwikkeling van paaie en ander infrastruktuur, fragmenteer die woude.

In Suid-Afrika alleen het ons 82% van ons kuswoude verloor en 85% van die oorvloed van spesies wat in woude regoor die wêreld beskikbaar is, word deur die fragmentasie van woude beïnvloed. Woudfragmentasie is die opbreek van groot woude in kleiner, meer geïsoleerde weergawes wat deur soorte menslike grondgebruik (matriks-habitatte) "ingebou" word. Die oorblywende fragmente word dan ook aan randuitwerkings blootgestel wat met hierdie matriks-habitatte geassosieer word. Dit is nie 'n goeie ding nie, want fragmentasie van woude belemmer die skepping van 'n verskeidenheid nisse wat beskikbaar is, en verminder plekke vir spesies om kos te soek en voort te plant, wat weer veroorsaak dat spesies verlore gaan.

In Suid-Amerika byvoorbeeld, benodig swerfmiere groot bosgebiede om in rond te loop, met swerms insekvretende voëls wat hulle volg. Die fragmentasie van die Amasone beteken dat baie gebiede nie meer skuiling vir hierdie kolonies miere kan bied nie, en baie geassosieerde voëlspesies het ook verdwyn.

Dr Pieter Olivier van die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van Pretoria maak deel uit van 'n span internasionale samewerkers wie se werk onlangs in Nature gepubliseer is, en kyk na die globale impak van woudrande op gewerwelde wouddiere, en versamel data van meer as 1 500 gewerwelde wouddiere. Die studie beklemtoon hoe biodiversiteit as gevolg van ontbossing verander – wat dreig om sommige spesies uit te wis, terwyl ander in die veranderende omgewing floreer.

'n Woudrand is die koppelvlak tussen woude en nie-bosgebiede. Olivier verduidelik dat randuitwerkings nuwe habitatte skep wat veel skeller as die binnekant van 'n woud is. Dit is geneig om warmer en droër te wees, met meer blootstelling aan lig. Dit veroorsaak 'n verandering in plantegroei en bring meer pioniers- en indringerspesies mee. Die studie het data van gefragmenteerde landskappe wêreldwyd versamel om ondersoek in te stel oor hoe woudrande die oorvloed van spesies beïnvloed. Eenduisend seshonderd drie-en-sewentig spesies soogdiere, reptiele en amfibieë is ontleed om te sien hoe hulle op rande reageer. Dikwels word kernspesies wat in woude woonagtig is deur hierdie nuwe en indringerspesies teruggedruk, wat 'n scenario van wenners en verloorders skep. Olivier verduidelik die belangrikheid van die behoud van kernspesies omdat hulle nêrens anders kan oorleef nie. Wat die bewaring van hierdie spesies selfs meer sensitief maak, is dat hulle gewoonlik nogal skaars is, en enige klein verandering kan dus 'n baie dramatiese en dikwels verwoestende uitwerking op hulle hê. Randspesies is egter sterker en kan in die meeste habitatte oorleef.

Hierdie internasionale studie, gelei deur die wêreldkenner in bosfragmentasie professor Robert Ewers van Ekologie aan Imperial Kollege Londen, is 'n eerste-in-sy-soort-studie wat nuwe ruimtelike en statistiese ontledings gebruik wat data van regoor die wêreld kombineer en 'n metriese stelsel van fragmentasie-effekte op elke woudspesie skep. Wat die internasionale samewerking uitsonderlik en heeltemal anders as tradisionele fragmentasiestudie maak, is dat dit 'n hele landskap gemodelleer het, wat randuitwerkings in elke spesifieke scenario regoor die geselekteerde landskap bepaal. Tradisioneel was fragmentasiestudie slegs in staat om vas te stel of randuitwerkings hoog of laag is. Hierdie model kan vasstel of randuitwerkings hoog of laag en ook elke veranderlike tussenin is. 'n Verskeidenheid woude van regoor die wêreld is bestudeer, van reënwoude soos die Amasone tot kuswoude wat in Suid-Afrika voorkom. Die studie het daarin geslaag om baie akkurate en omvattende resultate te kry wat op 22 landskappe van regoor die wêreld gemodelleer is.

Soos verwag, kan die uitwerking van woudrande op spesies redelik uiteenlopend wees. Die studie verduidelik dat die helfte van die wêreld se woudhabitat nou binne 500 meter van 'n woudrand is weens die uitbreiding van padnetwerke, houtsaery, landbou en ander menslike aktiwiteite.

Uiteraard reageer die natuur die beste op die natuur en wanneer die woude deur natuurlike grasvelde of bosse omring word, lyk die randuitwerkings nie so erg soos wanneer dit deur suikerriet en plantasies omring word nie. In die eerste geval is die woudspesies geneig om onaangeraak te wees en randuitwerkings gaan dus ongesiens verby. Wanneer hierdie habitatte in barre menslik omskepte habitatte omskep word, word hoë kontraste en sterk randuitwerkings waargeneem.

Voor Olivier se studie was daar geen rekords oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse kuswoude en waar hulle eens te vinde was nie. Om vas te stel hoeveel van hierdie woude verlore geraak het, het Olivier 'n model ontwikkel waarin aangedui word waar woude tipies in Suid-Afrika voorgekom het deur na die omstandighede van bestaande woude in die land te kyk en dit met ooreenstemmende toestande elders te vergelyk. Gebiede met soortgelyke klimaatstoestande wat in die afgelope jare waarskynlik kuswoude was, is nou tipies plantasiewoude en suikerriet. Van hierdie model kon Olivier bepaal dat 82% van Suid-Afrika se kuswoude inderdaad verlore gegaan het.

Olivier het steekproewe van voëls en bome in hierdie gefragmenteerde woude geneem om te sien of die grootte van die woud of die habitat wat die woud omring die samestelling van hierdie spesies beïnvloed. Sonder wisselende nisse wat binne die woud beskikbaar is, word 'n afname in spesies waargeneem. Hy het spesifiek opgemerk dat daar 'n afname in insekvretende voëls is. Die vereenvoudigde strukture wat gefragmenteerde woude het, het waarskynlik verarmde insekgemeenskappe, wat 'n afname in verskeie geassosieerde spesies tot gevolg het.

Terwyl die meeste woude regoor die wêreld nie die vernietiging van menslike aktiwiteite kan ontsnap nie, is Suid-Afrikaanse kuswoude in 'n gelukkige posisie aangesien die meeste oorblywende woude in beskermde gebiede voorkom, soos die iSimangaliso-vleilandpark. As gevolg van hierdie staat van beskerming is Olivier hoopvol dat hierdie woude nie verder gefragmenteer of afgebreek gaan word nie.

Die mynmaatskappy RBM het sedert 1979 sandduine langs die KZN-noordkus ontgin. In die vroeë negentigerjare het hulle egter 'n uitgebreide rehabilitasieprogram begin wat nou die langste rehabilitasieprogram in Afrika is. Van Olivier se navorsing wat op hierdie rehabiliterende woude gedoen word, dui daarop dat hulle die struktuur, samestelling en funksie wat met ongestoorde kuswoude in die streek verband hou, herstel. Dit is goeie nuus vir spesies wat afhanklik is van kuswoude om te oorleef.

Die internasionale span navorsers beplan om voort te gaan met hul pogings om die optimale beskerming van woude te verseker. Hul werk kyk voorts na die impakte op biodiversiteit vanweë die verlies aan woude en fragmentasie; spesifiek die beste maniere om woude te bewaar, en om wêreldwye isolasie en area-uitwerkings aan te spreek.

Isolasie op globale skaal kyk na die afstand wat gefragmenteerde woude van mekaar geleë is en of spesies tussen hulle kan beweeg. Area-uitwerkings vergelyk fragmentgroottes. Die navorsingspan se toekomstige planne is om vas te stel of dit korrek is om te verwag dat as fragmentgrootte verhoog die aantal spesies ook vermeerder. Is 'n klein fragment 'n deelversameling van 'n groter een en hoe gebruik spesies ruimte binne hierdie gebiede? Is dit beter om een groot fragment te bewaar omdat meer spesies daar bestaan, of moet alle fragmente, ongeag hul grootte, bewaar word? Hierdie span beplan om die antwoorde op hierdie vrae te vind.

Die studie het reeds nuttige inligting vir grondbestuur verskaf, en hierdie model dien as 'n waardevolle hulpmiddel om bewaringspogings te lei. Die volgende stap van die studie sal hierdie data en sagteware gebruik om bestuurders in staat te stel om "optimale landskappe" te skep wat bosgebruik met biodiversiteitsbewaring kombineer, verduidelik Ewers.

Iemand het eenkeer gesê dat wanneer jy in 'n woud loop, gaan jy jou verstand verloor, maar jou siel vind. Bosse is terapeuties, verjongend en inspirerend vir die siel, maar meer as dit is daar 'n groter verantwoordelikheid om die woude van die wêreld te red.

Selfs stadsbewoners wat ver weg van woude woon, het 'n verpligting om vir die  wêreld se woude te sorg. Die beskerming van woude raak almal. As woude gefragmenteer of vernietig word, verloor ons 'n fundamentele bron van koolstofbergingspotensiaal. Aardverwarming en die drastiese gevolge van klimaatsverandering gaan die onvermydelike resultaat vir ons almal wees.

 

 

- Outeur Louise de Bruin
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Martha MeyerWysig
Die woud-span (van links na regs): Dr Pieter Olivier, dr Pfeifer (hoof outeur van die Nature-artikel), mnr Thabani en mnr Marc Freeman