Drie studente van UP gekies om Zomercursus Nederlands by te woon in Gent, België

Posted on March 04, 2020

Die Departement Afrikaans is supertrots op Maroné van Veijeren,  Ankia Pepler en Natasha Labuschagne  wat gekeur is om die jaarlikse tweeweeklange Zomercursus Nederlandse taal en cultuur in die pragtige stad Gent, België by te woon. Hierdie kursus word volledig gefinansier deur die Taalunie (taaluniversum.org). Die studente het die kursus Leer Nederlands by prof. Nerina Bosman gevolg en daarna die Certifikaat Nederlands als Vreemde taal, op vlak B1 van die Europese Verwysingsraamwerk vir Tale geslaag – na slegs vier maande. Dit wil wel gedoen wees. B1 is ’n hoë vlak in ’n vreemde taal – normaalweg is moedertaalstudente (Afrikaans of Engels) in hulle eerstejaar êrens tussen B2 en C1.

Die drie studente het ook in 2019 ’n Winterskool Nederlandse Taal- en Letterkunde by die Universiteit van Pretoria bygewoon. Die kursus is aangebied deur twee hoogs bekwame dosente uit Vlaandere en Nederland. Hulle was deel van ’n groep van 21 studente van Suid-Afrikaanse universiteite asook die Universiteit van Namibië.

Kom: skryf in vir die kursus AFR 210: Leer Nederlands in die tweede semester. ’n Ieder en ’n elk is welkom! Die enigste voorvereiste is ’n kennis van Afrikaans.

- Author Prof Nerina Bosman

Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences