Ren

Commendatio: Heinrich Philip Grebe

deur Renée Marais

Dit is vir my ’n eer en ’n voorreg om vanaand hulde te mag bring aan ’n gewaardeerde kollega en geliefde vriend, Heinrich Grebe, bestuurslid van die Suider-Afrikaanse Vereniging, wat ons op 8 April vanjaar ontval het. Hy was 61 jaar oud, en ofskoon hy al diep spore in die Neerlandistiek en in die linguistiek getrap het, het hy nog so baie gehad om ons te bied.

Ek het hom aan die Universiteit van Pretoria se Departement Afrikaans leer ken, 26 jaar gelede, as ’n vreemdeling, nie in Jerusalem nie, maar in Pretoria; veral ongelukkig wanneer die son in die winter geskyn het (byna altyd) en ontevrede as die jakarandabome hul ligpers bloeisels elke Oktober oor die stad uitgestrooi het. Hy het hom ontheemd gevind in die noorde en halsstarrig verseg om te akklimatiseer, maar voortgegaan om linguistiek te doseer, en hy het dit goed gedoen.

En toen gebeurde er een mirakel in zijn leven. Hij werd in 1995 op het Gent/Boswell-docentenproject uitgenodigd, en een nieuwe wereld ging letterlijk en figuurlijk voor hem open: de wereld van Vlaanderen en Nederland. Deze wereld hield de sleutel tot ons herkomst, qua geografische ligging, cultuur en taal. En hij vond een aantal gidsen in deze wereld: Marleen Coutuer, vooral, maar ook Agaath Pescher-ter Meer, Hilda Zwitsers, Herman van der Berg.

Heinrich was een herboren man. En hij nam een wereld in zich op: die van de neerlandistiek. Hij kwam er moeiteloos in thuis. Hij leerde Nederlands spreken en schrijven, ging in Vlaanderen lesgeven (in Leuven en in Hasselt), hij las Nederlandse boeken, maakte verschillende zomerscholen mee, ging vertalen, werd op de adviesraad van het tijdschrift Internationale Neerlandistiek verkozen, en sluitte levenslange vriendschappen met vrienden die hem nu zeer missen.

Die Neerlandistiek het Heinrich se lewe verander, sin en rigting daaraan gegee en hom ’n tuiste gebied. Maar terwyl Nederlands in sy lewe veel meer was as net sy werk, het Heinrich se lewe ook ’n veel groter reikwydte gehad as net sy vak.

Hy was hoe langer hoe meer die argetipe van die verstrooide professor. Ek vertel graag een staaltjie wat dit baie goed illustreer. Ná ’n besoek aan Nederland vertel Heinrich my hoe hy met sy bagasie op ’n stasieperron in Nederland staan en wag het om die trein na Schiphol te haal. Hy was vroeg en het nodig gehad om gou ’n draai te gaan loop, maar het daarteen opgesien om al sy bagasie die hele ent pad met ’n paar stelle trappe op en af met hom saam te dra. Hy vra toe iemand wat ook op die perron staan en wag het om asseblief ’n ogie oor sy bagasie te hou. “En toe ek weer terug is op die perron,” vertel hy, “weet ek dadelik dat ek ’n verskriklike fout begaan het, want daar is geen teken van my bagasie of van die persoon wat dit moes oppas nie.” In ’n toestand van volslae paniek begin hy soek, later met behulp van die stasiepolisie. En uiteindelik kry hy toe sy koffers: op presies dieselfde plek waar hy dit op die perron gelaat het. In sy haas en verstrooidheid het hy na die verkeerde perron toe teruggegaan. Die oppasser was toe al weg, maar sy bagasie was onaangeraak.

Hy was kleurryk: koppig, dwars, soms onversetlik en vol draadwerk, verstrooid en vergeetagtig; ’n taalaktivis vir Nederlands en Afrikaans, iemand vir wie ’n ding reg moes wees;
maar terselfdertyd ongelooflik lojaal, standvastig, onkreukbaar eerlik, opreg, fyn gekultiveerd, iemand met ’n talent vir gebalanseerd lewe en vir die genieting van die dinge wat kwaliteit aan mens se lewe verleen (goeie kos, goeie wyn, kuns, vriendskap), hoflik; iemand met deernis vir ander, veral vir die anderse en die underdog; sterk gelowig.

Heinrich Philip Grebe is gebore op 2 Maart 1950. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad argitektuur gestudeer, en linguistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Die taal van sy geliefde Overbergstreek was die onderwerp van sy doktorale proefskrif, wat hy aan die Universiteit van Pretoria behaal het. Hy het getrou met sy blonde godin, Elizabeth Hambidge, sy groot trots en liefde sy hele lewe lank; en saam het hulle twee seuns verwek en grootgemaak: Coenraad en Gerhard.

Vergun my asseblief om vanaand ook spesiaal aan Elizabeth dankie te sê. Sy het Heinrich se liefde vir Nederlands met hom gedeel, en was daarom in ’n baie groot mate ook by die Neerlandistiek betrokke: sy het gaan kuier wanneer hy as gasdosent langer tye in België deurgebring het, het saam hom Nederlandse romans gelees, en Nederlandse en Vlaamse vriende tuis ontvang. En Heinrich het altyd as hy op pad terug Suid-Afrika toe was sy laaste geld gaan uitgee op iets moois om vir Elizabeth huis toe te neem.

Ek wil ten slotte met u ’n herinnering deel wat my altyd sal bybly: die blymoedige berusting waarmee Heinrich sy onafwendbare en te vroeë dood aanvaar het. Hy het óns getroos. Vir talle van sy vriende wat verslae gestaan het oor wat aan die gebeur was, het Heinrich ’n aankoms- en afskeidsgroet gehad: “Moenie oor my bekommerd wees nie.”

Vanaand kan ek getuig van hoe ’n voorreg dit was om hom te kon ken. In die woorde van die Egidiuslied: “Mi lanct na di, gheselle mijn. […] Dat was gheselscap goed ende fijn.”


Renée Marais
SAVN-kongres, Dinsdag 12 Julie 2011

Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences