Hein Willemse

H.P. Grebe (2.3.1950–8.4.2011): Historiese taalkundige en Neerlandikus

deur Hein Willemse

 

 

Eiewys. Belese. Krities. Behoudend. Passievol.

Heinrich Grebe sou nie omgee dat hierdie byvoeglike naamwoorde hom toegevoeg word nie, want hy het waardering vir die geledinge van die lewe gehad. Hy kon in detail vertel van ’n besondere gereg of ’n goeie wyn, net soos hy ’n fyn sin vir ’n mooi skildery, ’n treffende ontwerp of ’n gebou gehad het. By voorkeur het hy Europese kunsmusiek, Lieder en opera, waardeer. Jare na ’n besoek kon hy vertel van die slingerende bospad na die afgeleë Berg Sheba bokant Pelgrimsrus of die gesig van ’n olifantkoei en haar kalf teen die agtergrond van ’n sonsopkoms oor die Shasherivier. Met my, my vrou Carol-Ann, en kollega Andries Visagie se laaste hospitaalbesoek kon hy gerusstellend, soos vir talle van sy kollegas en vriende, sê: “Al ek sou ek langer wou geleef het, het ek ’n goeie lewe gehad.”

Hy was een van die min eietydse Afrikaanse historiese taalkundiges en kon kundig oor sy vakgebied skryf en praat, maar hy kon ook oor talle onderwerpe intelligent saamgesels. Hy het uitlopende belangstellings gehad en wyd gelees. Geen teekamergesprek op die vyftiende verdieping van die Geesteswetenskappegebou aan die Universiteit van Pretoria was afgerond voordat Hein nie breedvoerig oor die jongste boek wat hy aan’t lees was, vertel het nie. Soms was dit Engelse boeke maar meesal was dit Nederlandse niefiksie en letterkunde of Nederlandse vertalings van wêreldletterkunde. Menige van sy aanbevelings was die moeite werd om op te volg. Sy leesreaksies was nooit vertoon nie, maar altyd aanknopingspunte vir wydlopige en driftige uitwisseling.

(Inderdaad: Hy kon driftig raak oor persoonlike sake, oor gekkighede en sy rekenaar en sagteware wat hy nooit behoorlik baasgeraak het nie. Sy kollegas om hom moes uithelp wanneer hy een of ander probleem met sy rekenaar ervaar het soms tot die uiterste beproewing van selfs die sagmoedigste. Neeltje Celliers, ons voormalige sekretaresse, vertel dat hy op een dag tot 22 keer by haar navraag gedoen het.)

Nederland het hy relatief laat in sy lewe ontdek – eers na 1994, ’n regstreekse nagevolg van die Verenigde Nasies se kultuurboikot wat sedert die 1970’s en 1980’s teen akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite gegeld het. Die Lae Lande, Vlaams en Nederlands, die Wes-Europese kultuurlewe het vir hom oneindige bekoring ingehou. Na elkeen van sy Europese besoeke kon hy nie uitgepraat raak oor die ouer argitektoniese boustyle, Europese rituele, obskure Middeleeuse kerkies, imposante Gotiese katedrale of sy besoeke aan skouburge nie. Hy het Nederlands aangeleer, dit vlot gepraat en geskryf, ’n kursus “Leer Nederlands” aan die Universiteit van Pretoria ingevoer en selfs sy Afrikaanse gesprekstaal en skryfstyl het opvallende Nederlandismes vertoon. Sy sabbatsverlof in Vlaandere en ’n uitgebreide Wes-Europese motortoer was vir hom ’n geestelike en kulturele tuiskoms.

Al was die Afrikaanse letterkunde nie sy spesialisgebied nie, was hy ’n skerp waarnemer en ’n vaardige leser. Hy kon ’n mooi storie waardeer. Met ons laaste hospitaalbesoek was hy rustig en onverwags opgewek, selfs al het kruipende verlamming sy tol begin eis, maar steeds het hy sy leesbelangstelling volgehou. Op sy bedkassie het ’n verslete eerste uitgawe van André P. Brink se ’n Oomblik in die wind gelê, een van die laaste boeke wat sy vrou, Elizabeth, in hul alleentye stuk-stuk vir hom herlees het.

Hy kon kundig met letterkundiges saampraat en sy lees van die eietydse Afrikaanse letterkunde het dikwels gepaard gegaan met kwaai woorde oor die agteruitgang van taalnormering, die gebrekkige styl en die slordige versorging van tekste. Met sy lees van In stede van die liefde moes ons, sy gespreksgenote, sy irritasie met elke taal-, spellings- of stylprobleem in die boek beleef. Uiteindelik, tot ons almal se verligting, kon ons hom oorreed om sy vele frustrasies in ’n artikel om te sit wat gelei het tot “Etienne van Heerden: Mooi loop met die woorde!” in Tydskrif vir Letterkunde, 43(2).


Hein was behoudend en kon hom hartstogtelik uitspreek oor die “verloedering” wat hy rondom hom waargeneem het; die agteruitgang van dinge wat vir hom saak gemaak het: die slaggate; die swak opgeleide en oningeligte studente; die vervlakking, maar veral die afwesigheid, van ’n nasionale intellektuele diskoers; die sleggeredigeerde Afrikaanse koerante; die vrot kajuitdiens van lugdienste; die afname aan kwaliteitwyn; die aanvalle teen standhoudende norme en die gebrek aan sosiale ewewig en regverdigheid. Ek onthou hoe hy tydens ’n departementele besoek aan die Hector Peterson Museum in Orlando-Wes, Soweto sigbaar ontsteld vir my gesê het, “Hierdie museum skreeu téén my mense – waar is die balans?!” en terstond omgedraai en ’n bier in die naaste sjebien met die gids, Obed Mnisi, gaan drink het.

Die agteruitgang van Afrikaans het hom hewig ontstel, nie net die taal(on)vaardigheid van sy studente nie, maar soms het hy selfs sy kollegas gekapittel vir hul onpresiese taalgebruik. In talle gesprekke het hy hom onomwonde uitgespreek oor die verlies van die taal se hoër funksies. Een dag het hy vir kennisname ’n skerpbewoorde dokument aan my as sy lynhoof gestuur. Hy was duidelik op die oorlogspad: die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Pretoria was vir hom ’n bitter pil. Na ’n lang gesprek kon ek hom tog oortuig om hy sy dokument te temper. Wat daarna gevolg het, was egter nie bemoedigend nie. “Dit gaan alles op niks uitloop nie”, was sy slotsom nadat die rektor hom in opvolg van sy griefskrif tot ’n gesprek uitgenooi het. Later nadat hy ontdek het dat een van sy nabye familielede tydens sy universiteitstudie aan die begin van die vorige eeu ’n Afrikaanse taalaktivis was, het hy die betiteling met trots én pyniging opgeëis: “Hulle het iets groots reggekry en nou breek ons dit oornag af.”

Na sy dekadeslange verblyf noord van die Vaal het hy gewoond geraak aan dié landstreek se helder wintersdae en vinnige, swaar somerstorms, maar wanneer daar die slag ’n grys dag dynserig oor die purperstad gedaal het, het hy my as mede-Kapenaar gereeld, en later ritualisties gegroet met, “wat ’n pragtige sagte Kaapse dag?” Sy hunkering na die Suide het nooit getaan nie. Sy plan was om sy aftreehuis op Dwarswegstrand in die Suidwes-Kaap te bou. Een dag het hy selfs met ’n skaalmodel van sy beplande huis by die werk opgedaag, ’n huis vol lig met oop ruimtes en groot vensters. As ’n opgeleide argitek het hy so uitgesien om sy droomhuisprojek aan te pak.

Toe tref die onvoorstelbare: In Julie 2010 word breinkanker gediagnoseer en ten spyte van verskeie operasies was die einde onvermydelik.

’n Paar weke voor sy dood het van sy kollegas ’n voordruk van sy te verskene artikelbundel, Op die keper beskou: Oor die ontstaan van Afrikaans, aan hom by sy huis oorhandig. Hy was toe al erg verswak en kon hy ons bewoë met enkele woorde vir die gebaar bedank. Verbeel ek my of het Karel Schoeman se Hierdie lewe op die linkerkantste bedkassie gelê?

Sy gedenkdiens in die NG Kerk Waterkloof, Pretoria op 13 April 2011 was gedemp en waardig, sy vriende en kollegas was waarderend, sy kis van jakarandahout met touhandvatsels was onversierd … Wanneer sy seuns, Coenraad en Gerhard, sy as op Dwarswegstrand strooi, sal sy laaste wens vervul wees.

Vandag is die vyftiende verdieping van die GW-gebou stiller en ons teekamergesprekke armer … Ons sal moet leer om sonder hom klaar te kom, maar ons troos lê in sy woorde: “Ek het ’n goeie lewe gehad …”

Pretoria
14 April 2011


Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences