E-pos ons

FAQ
Navorsing wil die mens terugbring na die omgewingskrisis
3 Februarie 2016

Die agteruitgang van die omgewing is 'n besondere bron van kommer wat die Afrika-vasteland betref. Kwessies rakende grondontwikkeling, besoedeling en klimaatverandering word daaglikse werklikhede wat 'n ernstige uitwerking op mense op alle vlakke van die samelewing het. Daar is wetenskaplike bewyse wat skrikwekkende voorspellings oor die toekoms maak, maar die werklikheid is dat die meeste van hierdie omgewingskwessies die gevolg is van mense en hulle houdings en gedrag.

Die onlangs gestigte Afrika-Observatorium vir Omgewingsgeesteswetenskappe besef dit terdeë. Die Observatorium begryp dat die mensdom aan die voorpunt van die agteruitgang van die aarde is, maar hy erken ook die potensiaal vir die mensdom om verantwoordelike en ingeligte agente van verandering te word.

Die Observatorium, wat deel van die Fakulteit Geesteswetenskappe uitmaak, erken die talle veranderinge wat oor die jare plaasgevind het en maak van Afrika se inheemse vorms van natuurbewaring gebruik in 'n poging om weg te beweeg van die negatiewe gevolge van wêreldkapitalisme, wat tot die agteruitgang van die Afrika-omgewing bydra. Die Observatorium bevorder die begrip ‘aardbewaking’, wat 'n model bied om die aarde te bewaar, en posisioneer homself by die kruising van inheemse waardestelsels en moderniteit.

Die Observatorium se uitgangspunt in al sy werk is die spirituele idee wat in verskeie inheemse tradisionele samelewings in Afrika voorkom, naamlik dat mense bewakers van die aarde is en nie uitbuiters van die aarde nie.

Hoewel nog in sy beginstadium dien die Observatorium reeds as 'n platform vir samesprekings en navorsing oor belangrike omgewingskwessies, veral dié wat met die vakgebiede in die geesteswetenskappe verband hou. Voortspruitend uit die navorsing maak die Observatorium ook voorspraak om te verseker dat sy werk nie tot die silo’s van die akademie beperk bly nie, maar tot ernstige ingrepe op grondvlak bydra.

Een van die belangrike fokusgebiede vir die Observatorium is die beklemtoning van omgewingskwessies as menslike kwessies, waardeur die tersaaklikheid en belangrikheid van die geesteswetenskappe nuwe lewe gegee word. Hoewel die wetenskap dikwels opgehemel word, sê die hoofnavorser by die Observatorium, prof James Ogude: ‘Ons moet besef dat mense in die middelpunt van alle omgewingskwessies staan. Om 'n impak te maak, moet ons mense se gedrag en houdings verander.’

Die Observatorium se navorsingstemas is gewortel in die siening van die omgewing as geheel, met weinig skeiding tussen mense, plante en diere. Die idee is om nuwe lewe te blaas in die spirituele begrip dat ons omgewing en die hulpbronne wat dit verskaf, nie 'n kommersiële kommoditeit is wat geringgeskat kan word nie maar 'n Godgegewe voorreg wat ons moet respekteer.

Met erkenning van die werk wat reeds deur die natuurwetenskaplikes gedoen is, poog die navorsing van die Observatorium om aan te toon dat daar nog nie genoeg navorsing gedoen is om die basiese menslike subjektiwiteite te verstaan nie wat ons houdings teenoor die omgewing bepaal, veral op vakgebiede wat nou verbonde is aan die geesteswetenskappe, soos filosofie, geskiedenis, antropologie, godsdiensstudies, taal en letterkundige studie. Hierdie navorsing het dus 'n sterk multidissiplinêre fokus en poog om algemene empiriese waarnemings te transendeer en genuanseerde, kwalitatiewe navorsing te lewer oor patrone van menslike gedrag. Die Observatorium poog voorts om akademici op verskillende vakgebiede byeen te bring met die doel om bestaande vakkundigheid in omgewingsgeesteswetenskappe uit te brei en daarop voort te bou. Die Observatorium het 'n uiteenlopende paneel navorsers uit 'n verskeidenheid vakgebiede wat die voordeel van hul breë insig na die projek bring.

In al sy navorsing is die Observatorium se onderliggende fokus om die mens terug te bring na die omgewingskrisis. Onder sy belangrike tematiese areas tel sosiale antropologie en letterkunde, waar na die koppelvlak tussen inheemse en koloniale begrippe van grond gekyk word; en inheemse praktyke vir die bewaring van die omgewing, met klem op inheemse bewaringsbenaderings in teenstelling met die impak van die moderniteit. Politieke kwessies rakende natuurlike hulpbronne word ook gedek, soos die bestuur van gemeenskaplike en oorgrenshulpbronne soos riviere. Ander fokusgebiede sluit in die opkoms van die Afrika-middelklas en die verbruikersgerigte ideologie met betrekking tot kwessies van omgewingsvolhoubaarheid in Afrika.

Prof Ogude gebruik 'n voorbeeld van tradisionele Afrika-boerdery om te toon hoe houdings en gedrag 'n negatiewe uitwerking op lewensbestaan en die omgewing het. Die Afrika-vasteland word ernstig geraak deur 'n gebrek aan reën as gevolg van klimaatverandering, maar droogtebestande gewasse soos pampoen en patats, wat voorheen standaardgewasse in Afrika was, is nie meer gewild nie. Ontwikkeling en 'n verskuiwing in houdings kan twyfelagtige implikasies vir voedselsekerheid inhou.

Prof Ogude is optimisties dat die Observatorium met gemeenskappe sal kan skakel oor hierdie tipes houdings. Sy visie vir die Observatorium sluit in 'n opvoedingsrol oor kwessies soos watervermorsing in Suid-Afrika met sy waterskaarste, asook die bestudering van inheemse vorms van ekologie en hoe dit die omgewing kan bewaar en 'n gebalanseerde ekostelsel kan skep.

2016 hou groot belofte vir die Observatorium in met die aanbieding van nagraadse kursusse met 'n multidissiplinêre fokus. 'n Omvangryke werksessie word ook beoog, met standpuntreferate oor die instelling se fokusgebiede. Dit lyk beslis of die Observatorium 'n sterk agent van verandering in die Universiteit van Pretoria gaan word en die weg na 'n gesonder aarde gaan baan.

 

- Outeur Louise de Bruin
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Jacoba OdendaalWysig
Prof James Ogude