Jaarboeke

Program: MTh Nuwe Testamentiese Wetenskap (Gedoseer)

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
06256934 Fakulteit Teologie
Credits Duration
Duur van studie: 1 jaar Totale krediete: 180

Programinligting

Hierdie program voer studente met 'n vier jaar BDiv, ? BThHons of gelykwaardige kwalifikasie, tot teologiese spesialisasie en navorsing op magistervlak. In gedoseerde aanbiedingsmodules bied dit ook die moontlikheid om gespesialiseerde vaardighede met die oog op die praktyk van die Bedienaar van die Woord te verwerf.

Sien ook Algemene Regulasies soos van toepassing op magistergraad-programme.

Toelatingsvereistes

Behoudens die bepalings van Algemene Regulasies G.1.3 en G.54, word die BDiv, die BThHons of BAHons (Teologie)-graad, of die voorheen BD of MDiv-grade of 'n gelykwaardige kwalifikasie vereis vir toelating, op voorwaarde dat 'n minimum van 65% behaal is.

Addisionele vereistes

  1. Die teologiese dissipline wat gekies word sluit aan by die hoofvak of een van die hoofvakke in die voorafgaande graad, indien die leergangstruktuur vir hoofvakke voorsiening maak.
  2. Hebreeus op 200-vlak, indien Ou-Testamentiese Wetenskap gekies word. Indien Hebreeus 200 nie aan ’n universiteit geslaag is nie, kan ’n student toegelaat word op grond van assessering en goedkeuring deur die departementshoof.
  3. Grieks op 200-vlak, indien Nuwe-Testamentiese Wetenskap gekies word. Indien Grieks 200 nie aan ’n universiteit geslaag is nie, kan ’n student toegelaat word op grond van assessering en goedkeuring deur die departementshoof.

Eksamens en slaagvereistes

Eksamenregulasies van toepassing op alle magistergrade in die fakulteit
'n Magistergraad word toegeken op grond van ’n eksamen óf 'n eksamen en 'n verhandeling óf 'n eksamen en 'n miniverhandeling óf 'n verhandeling. Eksamens kan skriftelik en/of mondeling afgeneem word. 'n Persentasiepunt word toegeken met dien verstande dat minstens 50% as slaagpunt beskou word en minstens 75% as slaag met lof.

’n Subminimum van 50% word in die eksamen vereis. ’n Slaagpunt van minstens 50% word in die miniverhandeling of die verhandeling vereis.

Die bepalings ten opsigte van slaagvereistes vir verhandelings in Algemene Regulasies G.39.11 is mutatis mutandis op miniverhandelings van toepassing.

Miniverhandelings word geëvalueer en geëksamineer ooreenkomstig bepalings uiteengesit in 'n handleiding wat op aanvraag by die onderskeie departemente beskikbaar is.

Navorsing

Artikel vir publikasie
Tensy die Senaat op aanbeveling van die studieleier/promotor anders besluit, moet 'n student voor of gelyktydig met die indiening van die verhandeling ten minste een konsepartikel vir publikasie in 'n erkende akademiese joernaal, en, in die geval van ? proefskrif, 'n bewys uitgereik deur 'n geakkrediteerde joernaal dat 'n artikel ingedien is, by die Hoof: Studenteadministrasie indien.
Die konsepartikel of die artikel wat ingedien is, na gelang van die geval, moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die verhandeling/proefskrif gedoen het en moet deur die studieleier/promotor goedgekeur wees, indien die studieleier/promotor nie 'n medeskrywer is nie.

Die studieleier/promotor sal verantwoordelik wees daarvoor om toe te sien dat die artikel deur die prosesse van hersiening en hervoorlegging gaan, soos nodig mag wees. Die toekenning van die graad kan onderhewig gestel word aan die nakoming van die voorskrifte van hierdie regulasie.

Seminaarwerk en miniverhandeling
In die geval van seminaarwerk en 'n miniverhandeling moet 'n student die titel van die verhandeling via die studieleier en departementshoof aan die Navorsings- en Etiekkomitee voorlê alvorens 'n student toegelaat word om met die skryf van 'n miniverhandeling te begin.

Slaag met lof

Om met lof te slaag, moet 'n geweegde gemiddelde van minstens 75% (GPA) in die eksamen en 75% in die miniverhandeling behaal word.

Algemene inligting

Registrasie vir nagraadse programme

1. Gelyktydige registrasie vir 'n tweede nagraadse program
Geen student word toegelaat om vir meer as een nagraadse program gelyktydig in te skryf nie, behalwe waar 'n student se bewese prestasieprofiel dit regverdig en dan ook met goedkeuring van die Dekaan. Die voortsetting van studie in die tweede nagraadse program is onderhewig aan gunstige vorderingsverslae deur die hoofde van departemente in die Fakulteit Teologie. Geen student word toegelaat om tydens die eksamen in die Fakulteit Teologie, ook eksamen vir die tweede nagraadse program in 'n ander fakulteit af te lê nie.

2. Hernuwing van registrasie
Studente van die Universiteit word geregistreer vir een studiejaar. Na die verstryking van die akademiese jaar, moet die student, indien hy of sy 'n student van die Universiteit wil bly, sy of haar registrasie hernu en ten opsigte van so ’n hernuwing die gelde betaal wat voorgeskryf word.
'n Student wat vir 'n nagraadse studieprogram registreer moet ononderbroke geregistreer wees. Indien 'n nagraadse student sy/haar studie onderbreek, is die student by hernuwing van registrasie aanspreeklik vir die volle onderriggelde van toepassing op die graadprogram.
Indien 'n student ’n nagraadse program onderbreek, en dit word nie binne vier jaar na oorspronklike registrasie hervat nie, behou die student nie krediete verwerf nie. Die student moet die geslaagde modules herhaal.

'n Student vir ’n honneursgraad moet sy of haar studie binne twee jaar voltooi, met dien verstande dat die Dekaan, op aanbeveling van die departementshoof, in buitengewone omstandighede 'n vasgestelde beperkte verlenging van die tydperk kan goedkeur.
Die magistergraad word slegs aan 'n student toegeken indien minstens een jaar verloop het nadat die kwalifikasies op grond waarvan toelating tot magisterstudie verkry is, verwerf is.
Die doktorsgraad word slegs aan 'n student toegeken indien minstens 12 maande verstryk het sedert registrasie vir die doktorsgraad aan die Universiteit, tensy 'n korter tydperk deur die dekaan goedgekeur word.

Behoudens ander fakulteitsregulasies moet 'n doktorale student sy of haar studies binne drie jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi. In buitengewone omstandighede kan die dekaan op aanbeveling van die departementshoof, 'n vasgestelde beperkte verlenging van die tydperk goedkeur.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences