Toelatingsvereistes
’n Kandidaat vir die graadprogram Baccalaureus Honores in Argitektuur:
(1) moet ’n gegradueerde met ’n BScArch of ekwivalente universiteitsgraad wees;
of
(2) moet oor ’n toepaslike erkende tersiêre kwalifikasie beskik.
Daar mag deur die Departementshoof van sodanige kandidaat vereis word om:
(i) ’n akademiese geletterdheidstoets af te lê,
(ii) ’n rekenaarvaardigheidstoets af te lê,
of
(3) moet oor ’n kwalifikasie beskik wat deur die Departementshoof in oorlegpleging met die Dekaan as voldoende beskou
word en (waar nodig) die toestemming van die Senaat verkry en enige ander voorgeskrewe vereistes nakom.
Daar kan van kandidate genoem in (2 en 3) hierbo, na die diskresie van die Departementshoof, vereis word om in
voorvereiste kennisvelde geëvalueer te word en/of vir addisionele modules vir niegraaddoeleindes te registreer.
Kandidate genoem in (1), (2) en (3) hierbo:
(i) moet verkieslik oor praktiese ondervinding beskik en/of ’n uitgebreide studiereis onderneem en gedokumenteer het;
(ii) word aan ’n onderhoud vir keuring onderwerp;
(iii) moet ’n portefeulje en/of ontwerpjoernaal voorlê wat die vereiste vlak van vaardigheid en bevoegdheid demonstreer en
wat as ’n rekord van sodanige kandidaat se ondervinding in die dissipline beskou kan word;
(iv) word volgens meriete gekeur.
Let wel: ’n Beperkte aantal kandidate word tot hierdie program toegelaat.
Addisionele vereistes
Verwys na G Regulasies G.16 tot G.29 en G.54.
Ander programspesifieke inligting
Die graad word toegeken aan daardie kandidate wat die voorgeskrewe krediete behaal het. Studente wat op voorwaardes toegelaat is, moet aan al die voorwaardes voldoen voordat die volle 700-reeks modulekrediete en die graad toegeken word.
Eksamens en slaagvereistes
Die minimum slaagpunt is 50%. ’n Minimum van 40% word in die eksamen vereis, met ’n minimum finale punt van 50% om te slaag. Indien die module nie gëeksamineer word nie, word ’n minimum slaagpunt van 50% vir kursuswerk vereis. Indien kursuswerk nie geëvalueer word nie, word ’n minimum slaagpunt van 50% in die eksamen vereis.
Slaag met lof
Die graad word met lof toegeken indien studente wat vir die graad vir die eerste keer geregistreer is, die graad binne die voorgeskrewe minimum tyd voltooi en alle modules slaag met ’n geweegde gemiddelde van 75%.
Get Social With Us
Download the UP Mobile App