Jaarboeke

Program: BSocSci Filosofie, Politiek en Ekonomie

Code Faculty Duration Credits Download
01130056 Fakulteit Geesteswetenskappe Minimum duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 434
Contact:
Prof EB Ruttkamp
[email protected]
+27 (0)124202694

Programinligting

Die doel van hierdie program is om studente dieptekennis en analitiese begrip te gee van kontemporêre politieke en ekonomiese kwessies. Al drie dissiplines – politieke wetenskappe, filosofie en ekonomie – fokus op die sosiale wêreld en sosiale verskynsels, elk vanuit ’n ander perspektief. Ekonomie fokus op die produksie van goedere (waarom, hoe, en wat word geproduseer) en die gevolge van sulke produksie vir die samelewing (wie word bevoordeel). Politieke wetenskappe fokus op politieke prosesse en regeringskwessies soos besluitneming. Filosofie rus studente toe met analitiese redeneringsvaardighede wat nodig is om komplekse morele probleme wat verband hou met ekonomiese en politieke besluitneming, te verstaan en op te los. Die gevolge van die kombinasie van hierdie perspektiewe is dat studente toegerus word met begrip van die morele kwessies wat menslike agentskap in ekonomiese en politieke kontekste beïnvloed. ’n FPE-kwalifikasie is ’n internasionaal erkende handelsmerk, gerespekteer vir die streng opleiding wat studente onmiddellik toegang gee tot ’n verskeidenheid beroepe wat verband hou met ekonomiese of politieke beleidsbepaling, van joernalistiek tot die diplomatieke diens. Hierdie kwalifikasie sal studente in staat stel om, sodra hulle in ’n beroep in die privaat of openbare sektor staan, op morele probleme en uitdagings in hul politiek-ekonomiese konteks te reageer op ’n sensitiewe, rasionele, en innoverende manier.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Kandidate wat voldoen aan die minimum vak- en prestasievereistes sowel as die TPT-vereistes van hierdie programme sal in die programme geplaas word, onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke. Bogenoemde is nie van toepassing op keuringsprogramme nie.
  • Om toelating te behou, sal daar van leerders verwag word om 'n TPT van ten minste 32 in Graad 12 te behaal.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit wanneer die TPT bereken word

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Afrikaans of Engels

Wiskunde

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

32

Ander programspesifieke inligting

  • Keusemodules: Jr-vlak 1: Kies enige twee semestermodules (een per semester) van dieselfde dissipline op jr-vlak 1 met ’n kredietwaarde van ten minste 20 (indien gekies uit EBW) of 24 krediete (indien gekies uit Geesteswetenskappe).
  • Die VAG-modules is uitgesluit as gevolg van die hoë TPT (32) wat vereis word.
  • Studente wat dit oorweeg om vir ’n honneurs in Ekonomie in te skryf, moet die studenteadministrasie van EBW kontak om te bepaal watter addisionele modules hulle in hul studieprogram moet insluit om aan die toelatingsvereistes vir BComHons in Ekonomie te voldoen.
  • Studente wat met ’n honneursgraad in Ekonomie wil voortgaan, moet STK 210, STK 220 sowel as EKN 310 en EKN 320 voltooi.
  • Studente moet EEN van die volgende twee kombinasies van Ekonomie-modules kies: EKN 214/234 of EKN 224/244.

Minimum krediete: 120

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die Filosofie Die twee semestermodules in die eerste jaar bied studente ? inleiding tot die vier hoof- onderafdelings van Filosofie, te wete epistemologie, metafisika, etiek, en politieke filosofie. Hierdie module bied‚ ’n inleiding tot twee van hierdie onderafdelings. Studente moet die Departement Filosofie kontak om vas te stel watter twee onderafdelings in watter semester aangebied word, aangesien die keuse mag wissel van tyd tot tyd op grond van beskikbaarheid van onderrigpersoneel. Studente sal bekendgestel word aan die aard van filosofiese nadenke deur ’n aantal klassieke filosofiese temas in elke onderafdeling te ondersoek. Regdeur die module word daar aandag gegee aan die ontwikkeling van daardie kritiese denk-, lees- en skryfvaardighede wat in die Filosofie vereis word, terwyl studente bekendgestel word aan die krag van kritiek as onderskeidingsvermoë en oordeelkundigheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot die Filosofie Die twee semestermodules in die eerste jaar bied studente ? inleiding tot die vier hoof- onderafdelings van Filosofie, te wete epistemologie, metafisika, etiek, en politieke filosofie. Hierdie module bied ’n inleiding tot twee van hierdie onderafdelings. Studente moet die Departement Filosofie kontak om vas te stel watter twee onderafdelings in watter semester aangebied word, aangesien die keuse mag wissel van tyd tot tyd op grond van beskikbaarheid van onderrigpersoneel. Studente sal bekendgestel word aan die aard van filosofiese nadenke deur ’n aantal klassieke filosofiese temas in elke onderafdeling te ondersoek. Regdeur die module word daar aandag gegee aan die ontwikkeling van daardie kritiese denk-, lees- en skryfvaardighede wat in die Filosofie vereis word, terwyl studente bekendgestel word aan die krag van kritiek as onderskeidingsvermoë en oordeelkundigheid.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    ’n Inleiding tot die bestudering van die georganiseerde politieke samelewing op nasionale en internasionale vlak, met spesifieke verwysing na politieke konsepte, benaderings en metodes. Die klem val op die staat en regeerkunde as ontledingsraamwerke inaggenome die belangrikste veranderinge wat deur globalisering veroorsaak word op nasionale en internasionale vlak. Aandag word geskenk aan die verwante dinamika van regime-ontwikkeling, prestasie en verandering op nasionale en internasionale vlak in die lig van toenemende uitdagings aan nasionale soewereiniteit van binne en buite die staat in ’n konteks van ’n groeiende globale agenda wat transnasionale aspekte hanteer soos die omgewing, menseregte, ontwikkeling en humanitêre intervensie.

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Meervariante statistiek:
    Variansieanalise, kategoriese data-analise, verdelingsvrye metodes, krommepassing, regressie en korrelasie, die ontleding van tydreekse en indekse.  Statistiese en ekonomiese toepassings van kwantitatiewe tegnieke:
    Stelsels van lineêre vergelykings; opstelling, matrikse, oplossing en toepassing. Optimering; lineêre funksies (twee en meer onafhanklike veranderlikes), nie-lineêre funksies (een en twee onafhanklike veranderlikes).  Marginale en totale funksies. Stogastiese en deterministiese veranderlikes in statistiese en ekonomiese konteks: produsentesurplus, verbruikersurplus, distribusiefunksies, waarskynlikheidsverdelings en digtheidsfunksies. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.
    Hierdie module word ook as anti-semester tweetalige module aangebied.

    Sien meer

Minimum krediete: 152

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie
    Vanaf  Wall en Bay Street tot Diagonal Street: 'n deeglike begrip van die meganisme en teorieë wat die funksionering van die ekonomie verduidelik, is onontbeerlik. Makro-ekonomiese insig in die reële mark, die geldmark, tweemarkewewig, monetarisme, groeiteorieë, konjuktuuranalise, inflasie, Keynesiaanse algemene ewewigsanalise, fiskale en monetêre beleidsaangeleenthede.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mikro-ekonomie
    Mikro-ekonomiese insig in produsente- en verbruikersteorie, algemene mikro-ekonomiese ewewig, Pareto-optimaliteit en optimaliteit van die prysmeganisme, welvaartsekonomie, markvorme en die produksiestruktuur van Suid-Afrika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Makro-ekonomie

    Toepassing van die beginsels geleer in EKN 214 op die wêreld waarin ons leef. Ons pas die teorie toe op internasionale marke en dinamiese makro-ekonomiese modelle, terwyl ons die student blootstel aan die makro-ekonomiese beleidsvraagstukke van die dag. Ons kyk ook na die jongste makro-ekonomiese navorsingsvraagstukke in die wêreld. Die kursus sluit onderwerpe in van die wiskundige en ekonometriese ontleding van makro-ekonomiese vraagstukke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mikro-ekonomie

    Vanaf algemene ewewig en ekonomiese welvaart, tot onsekerheid en assimetriese inligting. In hierdie module word die beginsels wat in EKN 224 geleer word toegepas op die wêreld om ons, deurdat ons die mikro-ekonomiese beginsels van die arbeids- en kapitaalmark bestudeer, asook die redes waarom die vryemarkstelsel soms misluk. Ons raak aan die owerheid se rol in hierdie markmislukkings. Die kursus sluit onderwerpe in van die wiskundige en ekonometriese ontleding van mikro-ekonomiese vraagstukke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geskiedenis van die moderne filosofie I en II

    ’n Oorsig van die geskiedenis van die moderne filosofie. Die volgende is voorbeelde van temas wat behandel kan word: Die Renaissance, die Wetenskaplike Rewolusie, die grondslae van die moderne wêreldbeskouing (in teenstelling tot die premoderne), die Europese Verligting, die Romantiek, die Duitse Idealisme (Kant, Hegel), Marx en die Marxisme, Kierkegaard en die eksistensialisme, die filosofie van Nietzsche. ’n Seleksie van kontemporêre kritiese antwoorde op moderne filosofie kan ondersoek word; dit sou byvoorbeeld die volgende kon insluit: Afrikafilosofie, analitiese (Anglo-Amerikaanse) filosofie, postmodernisme, neo-Marxisme, ens.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke filosofie en etiek
    In hierdie module word daar ondersoek ingestel na die maniere waarop die menslike werklikheid in die praktiese filosofie bedink word. Sowel die analities-interpretatiewe perspektief as die normatiewe perspektief word gedek. Dit word gedoen aan die hand van ’n seleksie van sleuteltemas en -tekste uit die geskiedenis van die filosofie, maar spesiale aandag word gegee aan die kontemporêre relevansie daarvan. Die eerste van die twee fokuspunte van hierdie semestermodule is politieke filosofie. Onder die temas wat hanteer kan word tel geregtigheid, mag, ideologie, die sosiale kontrak, die reg, erkenning, ensovoorts. Die tweede fokuspunt van hierdie semestermodule is etiek. Onder die temas wat hanteer kan word tel die vorming van reëls, beginsels, ideale, disposisies en vermoë om te beoordeel wat sulke diverse fenomene soos vryheid, gelykheid, regte, hervedeling, onderdrukking, pluralisme, en ander reguleer. Die klassieke benaderings tot etiek - deugde-etiek, deontogolie en konsekwensialisme - sal die agtergrond vorm waarteen morele filosofie aangebied sal word. In hierdie module kan die student in die algemeen verwag om blootgestel te word aan die werk van Plato, Aristoteles, Augustinus, Aquinas, Machiavelli, Hobbes, Locke, Kant, Hegel, Marx, Sidgwick, Nietzsche, Weber, Mead, Arendt, Habermas, Rawls, Ricoeur, Walzer, Young, Sen, Honneth, en ander.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Internasonale teorie en organisasie
    Wat veroorsaak oorlog en vrede? Is internasionale orde en geregtigheid versoenbaar? Is die internasionale struktuur belangrik? Die antwoorde word bepaal deur die teoretiese lense waardeur wêreldpolitiek beskou word. ’n Oorsig word gebied van die mededingende teoretiese perspektiewe van internasionale verhoudinge. Dit sluit hoofstroom en alternatiewe perspektiewe in, asook die onderliggende denke, teorieë en variasies van elk. Hierdie teorieë bied verskillende benaderings tot globale vrede, waaronder vrede deur internasionale organisasie. ’n Breedvoerige ontleding word gemaak van geselekteerde internasionale organisasies met ’n universele of streeksomvang, soos die Verenigde Nasies, die Afrika-unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, en van internasionale reg wat hierdie organisasies en hul aktiwiteite begrond.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Buitelandse beleid en diplomasie
    ’n Kort inleiding tot die studie van buitelandse beleid word gevolg deur ’n verduideliking van die gebruik van die vergelykende metode en ’n raamwerk vir die analise en evaluasie van buitelandse beleid. Dit bied ’n vergelykende studie van die buitelandse beleid van geselekteerde state van die belangrikste streke van die wêreld, waaronder die buitelandse beleid van Suid-Afrika. In elke gevallestudie word die beleidsomgewing, die formulering- en implementeringsprosesse, asook die inhoud van die spesifieke staat se buitelandse beleid gedek. Daarna vernou die fokus na diplomasie: die oudste, mees veelsydige en universeel gebruikte instrument van buitelandse beleid. Die aard, geskiedenis, tipes diplomasie en regsraamwerk van hierdie instelling word ondersoek. Voorbeelde uit die globale praktyk word gebruik, met spesifieke oorweging van die evolusie van diplomatieke praktyk in die Afrika en Suid-Afrikaanse konteks.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Teltegnieke. Waarskynlikheidsleer: Steekproefruimtes, gebeurtenisse, waarskynlikheidsreëls, voorwaardelike waarskynlikhede, onafhanklike gebeurtenisse en Bayes se stelling. Waarskynlikheidsverdelings en waarskynlikheidsdigtheidsfunksies: kumulatiewe verdelingsfunksies, marginale verdelings, gesamentlike verdelings, voorwaardelike verdelings en onafhanklikheid. Verwagte waardes: Momente, Chebyshev se stelling, momentvoortbringende funksies, produkmomente, momente van linêere kombinasies van stogastiese veranderlikes en voorwaardelike verwagte waardes. Transformasietegnieke van stogastiese veranderlikes. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Spesiale waarskynlikheidsverdelings: die diskrete uniforme verdeling, Bernoulli-verdeling, binomiaalverdeling, negatief-binomiaal- and geometrieseverdeling, die hypergeometriese verdeling, Poissonverdeling en multinomiaalverdeling. Spesiale waarskynlikheids-digtheidsfunkies: Uniforme verdeling, gamma-, eksponentiaal- and chi-kwadraatverdelings, die betaverdeling, die normaalverdeling en die tweeveranderlike normaalverdeling. Funksies van stogastiese veranderlikes. Steekproefverdelings, puntberaming, intervalberaming en hipotese toetsing. Regressie-analise. Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke in die simulasie van verdelings en statistiese inferensie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke dinamika (Mikro)
    Die bestudering van die teorie en praktyk van gedragsverskynsels in politiek. Met verwysing na toepaslike voorbeelde val die klem op die studie van politieke kultuur, leierskap, kommunikasie, belangegroepe, partye en partystelsels; op verkiesings, kiesstelsels en kiesersgedrag; en op openbare mening en direkte populêre kontroletegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke dinamika (Makro)
    ’n Teoretiese begronding en raamwerk word gebied vir die beskrywing, ontleding en klassifikasie van politieke en beleidvraagstukke. Die klem is op die aard van die staat, regeerkunde en konflik in Afrika. Onder andere word ’n studie gemaak van die vraagstukke van kolonialisme en post-kolonialisme, demokratisering, outoritarisme en die ontwikkeling van die staat in Afrika, in die konteks van ’n globaliserende wêreld.

    Sien meer

Minimum krediete: 160

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Staatsfinansies
    Rol van die owerheid in die ekonomie. Welvaartsteorie en die optimaliteitsteorieë. Maniere waarop markmislukkings reggestel word. Owerheidsbestedingsteorieë, modelle en programme. Owerheidsinkomste. Modelle oor belasting, effek van belasting op die ekonomie. Beoordeling van belasting vanuit 'n optimaliteits- en effektiwiteitsoogpunt. Suid-Afrikaanse perspektief op owerheidsfinansies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Ekonomiese analises Die identifikasie, insameling en interpretering van ekonomiese data; die nasionale rekeninge (inkome- en produksierekeninge, die nasionale finansiële rekening, die betalingsbalans en inset-uitsettabelle); ekonomiese groei; inflasie; werkskepping; werkloosheid, lone, produktiwiteit en inkomeverdeling; besigheidsiklusse; finansiële aanwysers; sosiale aanwysers; internasionale vergelykings; regressie-analise van verwantskappe tussen ekonomiese tydreekse; langtermyn toekomsstudies en scenarios; algehele beoordeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie vanaf 1994.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Filosofiese antropologie en kognitiewe filosofie
    In hierdie module is die doel om ondersoek in te stel na die wesensaard van die mens en sy/haar verhouding met die werklikheid en kennis. Sowel die analities-interpretatiewe perspektief as die normatiewe perspektief word gedek. Dit word gedoen aan die hand van 'n seleksie van sleutelemas en -tekste uit die geskiedenis van die filosofie, maar spesiale aandag word gegee aan die kontemporêre metafisika. Dit kan die volgende temas insluit: Is die mens meer as die somtotaal van sy eienskappe?;  die relasie tussen bewussyn, selfbewussyn en die onderbewuste; die vraag na die sin van die lewe; die aard van persoonlike identiteit; die problematiek van vrye wil. Die tweede fokuspunt van die semestermodule is die kognitiewe dissiplines van filosofie soos wetenskapfilosofie, filosofie van denke, en epistemologie. In wetenskapfilosofie kan temas wat aangespreek word die volgende insluit: die verskillende soort redenering in die wetenskap, die aard en rol van verduideliking in die wetenskap; wetenskaplikerealismedebat; die aard van wetenskaplike voortuitgang. regverdeling van wetenskaplike teorieë, die rol van waarheid in die wetenskap, en andere. In filosofie van denke kan temas waaraan aandag gegee word die volgende insluit: die verhoduding tussen gees, psige/siel, en liggaam - die liggaam-gees probleem, die aard van bewussyn en qualia, dualisme, materialisme, funksionalisme, fisikalisme, intensionaliteit, en andere. In epistemologie kan temas wat aangespreek word die volgende insluit: rasionalisme, empirisme, transendentale idealisme en Kant fundamentalisme, koherentisme, epistemiese internalisme en eksternalisme, radikale skeptisisme, en andere.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Filosofiese hermeneutiek en sosiale filosofie

    Die eerste van die twee fokuspunte van hierdie semestermodule is ’n bespreking en analise van filosofiese perspektiewe op die hermeneutiese probleem (die probleem van verstaan en interpretasie), met spesifieke aandag aan kontemporêre denkers soos Nietzsche, Heidegger, Gadamer en Derrida. Die tweede fokuspunt van die semestermodule is sosiale filosofie waar filosofiese vrae oor sosiale vorme, strukture, instellings, praktyke, gewoontes en etos geopper word. ’n Reeks temas kan ondersoek word, soos byvoorbeeld struktuur en agentskap, sosiale denkbeelde (“social imaginaries”), nuwe sosiale formasies, institusionele kulture, geslag en seksualiteit, subjek en konstitusie, en andere. Verder word die gesitueerdheid van hierdie temas in ’n spektrum van benaderings ontleed en ondersoek. Sulke benaderings sluit in kritiese teorie, ideologie-teorie, kontrakleer, sosiale aksie- of handelingsteorie, metaforologie, kritiese ras-teorie, genealogie, en andere.


     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Internasionale politieke ekonomie
    Die aard en funksionering van die hedendaagse internasionale polities-ekonomiese orde word ontleed teen die agtergrond van die globaliseringsproses. Die klem val op die interaksie tussen politieke en ekonomiese tendense en vraagstukke soos die ekonomiese belang en politieke impak van regionale handelsblokke; die skuldlas van state; internasionale hulpverlening; die rol en invloed van multinasionale korporasies; en die oordrag van tegnologie na minder-ontwikkelde state; ontluikende ekonomiese moondhede in die Globale Suide; en globale ekonomiese regeerkunde.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Veiligheid- en strategiese studies
    ’n Studie van tradisionele en kontemporêre benaderings tot veiligheid en strategie. Aandag word geskenk aan nuwe teorieë oor oorlog, veiligheid en strategie; militêre en nie-militêre bedreigings vir nasionale veiligheid en menseveiligheid; die nasionale veiligheid van ontwikkelende state; asook die verhouding tussen beleid, strategie en taktiek. Laasgenoemde sluit ’n inleidende oorsig in van die aard, vlakke, patrone, vorms en instrumente van strategie, en van oorlogsreg. Die nasionale, regionale en kontinentale veiligheidsituasie in Afrika en vorms van multilaterale veiligheidsamewerking in die besonder word ontleed, ook in verhouding tot buite-kontinentale tendense. Wat die voorafgaande betref, word klem geplaas op die regs- en institusionele raamwerk, nasionale veiligheidsbeleid en strategiese ingesteldheid van Suid-Afrika.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Politieke teorie
    ’n Teoretiese en normatiewe studie van politieke idees. Dit sluit die studie van prominente politieke denkers soos Plato, Thomas Hobbes en John Rawls in, sowel as die kontemporêre manifestasies van ideologieë soos liberalisme, sosialisme, konserwatisme en nasionalisme. Hierdie normatiewe beoordeling van politiek sluit af met ’n kritiese evaluasie van die ontwikkeling, aard en praktiese waarde van prominente demokratiese teorieë, onder andere deelnemende, wetlike en beraadslagende demokrasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Demokratiese studies
    ‘n Hoë-vlak kritiese analise van demokratiese teorie en praktyk. Die analise van demokratiese teorie sal temas soos die klassieke, radikale, deliberatiewe en feministiese perspektiewe insluit. Die analise van demokratiese praktyk sal aspekte insluit soos demokratisering, demokratiese konsolidasie, demokratiese burgerskap en samelewing, die rol en belang van die burgerlike gemeenskap, die instellings en prosedures vir demokrasie en “goeie regering”.
    Deel 2: Politieke analise
    Die metodiek en praktyk van politieke analise is die fokus van die studie. Die beginsels en problematiek onderliggend aan verskillende benaderings en metodes van politieke analise word beskryf en verduidelik. Dit sluit die aard, metodes en gebruik van vergelykende analise, vooruitskouing, risiko-analise, prestasie-evaluering en die politieke oudit in. Hierdie analitiese metodes word in die politieke en beleidskonteks geplaas, met beklemtoning van die praktiese waarde daarvan. Daar word deurgaans van toepaslike voorbeelde en gevallestudies gebruik gemaak.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2019. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share