Jaarboeke

Program: BNurs

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10131002 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 520
Contact:
Prof FM Mulaudzi
[email protected]
+27 (0)123541908

Programinligting

  1. Die graad Baccalaureus in Verpleegkunde [BNur] is ’n vierjarige, professionele, beroepsgerigte heelkwalifikasie wat gegradueerdes in staat stel om by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) geregistreer te word as:
  • Verpleegkundige (Algemene, Psigiatriese en Gemeenskapsverpleging); en
  • Vroedvrou/Vroedmeester.
  1. Suksesvolle voltooiing van die graadprogram sal aan gegradueerdes ook die geleentheid bied om hul studies in Verpleegkunde op nagraadse vlak voort te sit.
  2. Kandidate wat voldoen aan die nodige toelatingsvereistes sal die voorgeskrewe leergang volg.
  1. Die verpligte praktiese en kliniese opleidingsure van hierdie graad-program behels ’n totaal van minstens 4 000 ure oor ’n tydperk van vier jaar.
  2. Aangesien verpligte praktiese en kliniese opleiding, asook professionele ontwikkeling vereis word, kan die leergang nie in minder as vier jaar voltooi word nie.
  3. Die betrokke opleidingsinstansies sal siekte- en vakansieverlof toestaan in ooreenstemming met die toepaslike vereistes van die SARV in dié verband.

Let wel: Raadpleeg ook die Algemene Regulasies.

Toekenning van die graad
'n Student wat aan alle programvereistes voldoen, en wat die vereiste praktiese en kliniese opleiding suksesvol voltooi het, verwerf die graad Baccalaureus in Verpleegkunde [BNur].

By die suksesvolle voltooiing van die graad is die gegradueerde geregtig daarop om by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging te registreer as Verpleegkundige (Algemene, Psigiatriese en Gemeenskapsverpleegkundige), en as Vroedvrou/ Vroedmeester.
 

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat in besit is van ‘n sertifikaat wat deur die Universiteit beskou word as ekwivalent aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met universiteitsvrystelling, ‘n kandidaat wat aan ‘n ander tersiêre instelling gegradueer het of aan wie die status van ‘n gegradueerde van sodanige instelling toegeken is, en ‘n kandidaat wat aan ‘n ander fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gegradueer het.
  • Lewensoriëntering word van die TPT-berekening uitgesluit.
  • Graad 11 se finale-eksamenuitslae, die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT) se uitslae en ‘n Toegevoegdewaardevraelys sal vir die voorlopige toelating van voornemende studente gebruik word.
  • Toelating tot Gesondheidswetenskappeprogramme is onderhewig aan ‘n keuringsproses.
  • Aansoeke van internasionale kandidate wat van lande kom met mediese opleidingskole sal nie oorweeg word vir plasing in die MBChB program nie, behalwe waar interregeringssamewerkingsooreenkomte in plek is.
  • Die som van die uitslae van ses vakke, waaronder Engels, word vir keuringsdoeleindes bereken.
  • Kandidate, neem asseblief kennis dat jou TPT nie met meer as twee punte mag daal in die uitslae van jou finale skooleksamen nie ten einde jou voorlopige toelating te behou.
  • NEEM ASSEBLIEF KENNIS dat voldoening aan die minimum toelatingsvereistes nie noodwendig toelating tot enige program in hierdie Fakulteit waarborg nie.
  • Navrae oor keuring kan gerig word aan [email protected].
  • Keuring is gebaseer op Graad 11-uitslae, die NBT, die Toegevoegdewaarde-vraelys en ‘n onderhoud.
  • Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskappe en Fisiologie is nie verpligte vakke nie, maar wel aanbevole vakke.

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Engels

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

4

3

D

D

28

 

 

 

Ander programspesifieke inligting

  1. 'n Student wat spesifieke modules moet herhaal, moet ook ’n sertifikaat van bevredigende bywoning en vordering in die herhaaljaar verwerf in Verpleeg-praktykopleiding (beide modules van die betrokke studiejaar), selfs al het die student dit reeds in die onsuksesvolle jaar geslaag.
  2. Eksamen moet afgelê word in al die modules wat deur die Departement Verpleegkunde aangebied word, aangesien promovering nie moontlik is in enige van hierdie modules nie.
  3. Elke afdeling van (NPE 461) Verpleegpraktykonderrig 461 moet afsonderlik, met ’n subminimum van 50% geslaag word.

Eksamens en slaagvereistes

Vrystelling van die eksamen in (ANP) Anatomiese Patologie 210
Vrystelling van die eksamen mag verleen word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as die finale punt te aanvaar.

Akademiese uitsluiting van verdere studie

  1. Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies, moet 'n student die graadprogram waarvoor hy of sy geregistreer is, binne die minimum voorgeskrewe tydperk van studie plus twee jaar voltooi.
  2. Onderhewig aan die bepaling in a. hierbo genoem, word 'n student wat 'n studiejaar in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe vir die tweede keer druip, slegs een kans gegun om 'n studiejaar te herhaal, en moet sodanige student 'n skriftelike aansoek indien om hertoelating tot die program volgens die voorgeskrewe prosedure.
  • Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies is daar geen minimum jaar- of semesterpunt wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie en kry alle geregistreerde studente outomaties toelating tot die eksamen.
  • Die finale punt vir 'n bepaalde module in Verpleegkunde, Fisioterapie, Radiografie, Arbeidsterapie en Mensvoeding (minstens 50% word vereis om te slaag) word bereken uit die eksamenpunt sowel as die punt saamgestel uit die evaluasie van 'n student tydens deurlopende, objektiewe en gekontroleerde assesserings-geleenthede gedurende die kwartaal/semester/jaar. Minstens een formele assessering per module word as die minimum norm in dié verband gestel, en studente sal deurgaans op ’n gereelde grondslag aan selfgerigte leeropdragte blootgestel word ten einde selfgerigte leer te bevorder.
  • In die geval van modules met praktiese komponente word vereis dat die studente aan al die toepaslike bywoningsvereistes met betrekking tot die bemeestering van praktiese vaardighede voldoen alvorens ’n slaagpunt vir die module verwerf word.
  • Daar is twee hoofeksamengeleenthede per jaar, die eerste en tweede eksamen. Ten opsigte van eerstesemestermodules is die eksamengeleentheid in Mei/Junie en die tweede eksamengeleentheid in Julie. Ten opsigte van tweedesemester-modules is die eerste eksamengeleentheid in Oktober/November en die tweede eksamengeleentheid in November/Desember van dieselfde jaar. In gevalle waar studente addisionele kliniese werkure moet voltooi om tot ’n tweede eksamen toegelaat te word, sal die departementshoof die tweede eksamengeleentheid bepaal.
  • Slegs twee eksamengeleenthede per module is toelaatbaar. Indien ’n student ’n module tydens die tweede eksamengeleentheid druip, moet die betrokke module herhaal word.
  • 'n Tweede eksamengeleentheid in ’n module word in die volgende gevalle aan studente verleen:

- Indien ’n student ’n finale punt van minder as 50% in die betrokke module gedurende die eerste eksamengeleentheid behaal het en dus druip.
- Indien ’n student nie die subminimum in die eksamen, wat vir ’n bepaalde module vereis word, behaal het nie.
- Indien ’n student weens siekte of buitengewone omstandighede nie die eksamen in ’n module gedurende die eerste eksamengeleentheid kon aflê nie.

  • Studente wat weens bogemelde redes die tweede eksamen wil aflê, moet 24 uur na die uitslae ontvang is, registreer vir die tweede eksamengeleentheid.
  • Indien ’n student ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid gedruip het, word die eksamenpunt wat hy of sy tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal, as die finale punt verreken. Die punte wat met die deurlopende evaluering gedurende die kwartaal/semester/jaar verwerf word, word nie in berekening gebring nie. Indien die student die module tydens die tweede eksamengeleentheid slaag, word nie meer as 50% as slaagpunt in die betrokke module toegeken nie.
  • Indien ’n student as gevolg van siekte of buitengewone omstandighede nie aan die eksamen in ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid kon deelneem nie, word die deurlopende evalueringspunt, tesame met die eksamenpunt wat tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal is, as die finale punt in die module behaal, bereken.
  • Die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe pas die bepalings van die Algemene Regulasies toe. Daarvolgens mag ’n student wat ’n beperkte aantal modules uitstaande het ten einde aan graadvereistes te kan voldoen, kragtens fakulteitsregulasies tot ’n spesiale eksamen daarin toegelaat word.

Slaag van Anatomie- en Fisiologiemodules

  1. 'n Modulepunt word bereken uit die deurlopende geleenthede vir evaluering tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke module. Hierdie evaluasies sal een of meer van die volgende insluit:
  1. Evaluasies ten opsigte van teoretiese kennis.
  2. Evaluasies ten opsigte van praktiese kennis en vaardighede.
  3. Verpligte bywoning van en aktiewe deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.
  4. 'n Finale omvattende moduletoets.
  1. Studente mag die opsie uitoefen dat die modulepunt aan die einde van die semester ook as die finale modulepunt vir die betrokke module bekragtig word (dit wil sê hulle word vrygestel van die module-eksamen van hierdie module) mits hulle aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Indien bogemelde modulepunt meer as 65% is.
  2. Bewese bywoning van alle toepaslike modulespesifieke aktiwiteite, naamlik:
  • Alle toetse/deurlopende evaluasies.
  • Alle praktika en vaardigheidsontwikkelingsessies.
  1. Bywoning van die betrokke module vanaf dag 1.
  2. Geen skuldigbevinding deur die Skool se Preliminêre Dissiplinêre Komitee (Studente-oortredings) aan enige vorm van ongerymdhede nie.
  1. 'n Module-eksamen word toegestaan aan alle geregistreerde studente (selfs al is die modulepunt meer as 65%).
  2. Die finale modulepunt word bereken uit die eksamenpunt en die modulepunt (deurlopende evaluering) in die verhouding 50:50.
  3. 'n Tweede module-eksamen word toegestaan aan alle studente wat 'n finale modulepunt van 40% tot 49% behaal het. Studente wat ’n finale modulepunt van minder as 40% behaal het, druip die module en sal die studiejaar moet herhaal.
  4. Die betrokke tweede eksamen word in November/Desember van dieselfde jaar of in Januarie van die daaropvolgende jaar afgeneem. Minstens 50% word vereis om die tweede eksamen te slaag.
  5. Siekte- of buitengewone eksamens vir studente wat weens gesondheids- of ander aanvaarbare redes nie die module-eksamen kon aflê nie, word tydens die tweede eksamenperiode afgelê. Studente doen formeel aansoek om sodanige eksamen, en toelating daartoe word deur die Voorsitter van die Skool of gemagtigde persoon verleen. Waar toepaslik, kan die Voorsitter van die Skool eers 'n aanbeveling van die Gesondheidskomitee van die Fakulteit vereis voordat toelating tot ’n siekte-eksamen toegestaan word.

Alle modaliteite van 'n finale eksamen moet gesamentlik as 'n siekte- of buitengewone eksamen afgelê word, selfs al was 'n deel van die betrokke eksamen reeds in die vorige eksamenperiode afgelê.

Die finale modulepunt word bereken uit die punte van al die afdelings/ modaliteite van die siekte- of buitengewone eksamen en die deurlopende evalueringspunt. Dieselfde kriteria soos uiteengesit vir 'n slaagpunt in 'n module, is ook hier van toepassing.
Studente wat vir aanvaarbare redes nie die module-eksamen in die eksamenperiode kon aflê nie, en die module-eksamen gevolglik in die tweede eksamenperiode aflê, verbeur die geleentheid om tot 'n verdere tweede eksamen toegelaat te word.

Vrystelling van die eksamen in (FAR) Farmakologie 381, 382
Vrystelling van die eksamen kan toegestaan word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as finale punt te aanvaar.

Bevordering tot volgende studiejaar

  • 'n Student moet al die voorgeskrewe kernmodules van 'n spesifieke studiejaar slaag ten einde bevorder te kan word tot die daaropvolgende studiejaar. 'n Student kan slegs tot 'n volgende studiejaar bevorder word indien hy of sy nie meer as twee fundamentele modules van sewe weke elk per semester of een module van 14 weke per semester gedruip het nie. ’n Ononderhandelbare voorvereiste vir toelating tot die finale studiejaar is slaagpunte in al die kern- en fundamentele modules van die voorafgaande studiejare.
  • Raadpleeg die Jaarboek vir fundamentele modules in elke dissipline.
  • 'n Slaagpunt verwys na 'n finale punt van minstens 50%.
  • Modules met krediete vir praktiese werk en kliniese opleiding kan nie geslaag word nie, alvorens al die voorgeskrewe kliniese ure en praktiese aktiwiteite tot die bevrediging van die departementshoof voltooi is.
  • Die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering mag na beoordeling van die student se totale profiel, spesiale toestemming aan die student verleen/toestaan om tot 'n volgende studiejaar bevorder te word.
  • Die uitsondering is die Departement Mensvoeding, waar die regulasies van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe ten opsigte van die modules deur daardie Fakulteit aangebied, van toepassing is.
  • Modules kan slegs vooruitgeneem of herhaal word indien dit in die bestaande eksamenrooster geakkommodeer kan word.
  • 'n Student wat 'n studiejaar herhaal, mag met die toestemming van die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering en die betrokke departementshoof, toegelaat word om fundamentele modules van die daaropvolgende jaar te neem, mits hy of sy aan die voorvereistes vir die betrokke modules voldoen. Geen aanpassing van bestaande roosters sal toegelaat word nie. Die volgende fundamentele modules is ter sprake:

Departement Verpleegkunde: SLK 110, 120; FSG 251, 252.

  • Departement Fisioterapie: SOH 254; FSG 251, 252, 261, 262, SLK 210
  • ANP 210, GMB 252, 253, 254, FAR 381, 382
  • Departement Arbeidsterapie: ZUL 110; SEP 110; SLK 210, 220;
  • FSG 251, 252, 261, 262; ANP 210; RPD 481; GNK 286
  • Departement Mensvoeding:  FLG 211, 212, 221, 222;
  • BCM 251, 252, 261, 262; FAR 381, 382, VDS 322; VDB 321
  • Departement Radiografie:  FSG 251, 252, 262; GNK 286; ANP 210.

Praktiese/kliniese/internskapinligting

  1. Die leergang behels verpligte praktiese en kliniese opleidingsmodules, bestaande uit ’n persentasie van die krediete wat vereis word vir die suksesvolle voltooiing van die graad.
  2. Studente sal vir die duur van die studie as studentverpleegkundiges by ’n goedgekeurde opleidingshospitaal (of hospitale) geregistreer word.
  3. Daar sal van studente verwag word om buiteklinieke en instansies wat gesondheidsdienste lewer, te besoek.
  4. Kliniese opleiding sal vir die duur van die studie by die fasiliteite hierbo genoem, plaasvind.
  5. Daar sal van studente verwag word om ’n dienskontrak met die goed-gekeurde opleidingshospitaal (of hospitale) te onderteken – besonderhede hiervan sal ná suksesvolle aansoek om toelating beskikbaar gestel word.

Sekere hospitale en gesondheidsfasiliteite is goedgekeur vir die doel van praktiese en kliniese opleiding in Fundamentele Verpleegkunde, Algemene Verpleegkunde, Psigiatriese Verpleegkunde, Gemeenskaps- en Verloskundige Verpleegkunde.

Slaag met lof

Die BNur-graad word met lof toegeken aan ’n student wat:

  1. minstens 75% behaal het in elk van NPE 461, NPE 462 en NUR 456;
  2. ’n gesamentlike gemiddelde van minstens 75% behaal het in NUR 451 en NUR 452; en
  3. ’n gesamentlike gemiddelde van minstens 75% behaal het in DNP 451 en DNP 452.

Minimum krediete: 120

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van algemene terminologie, embriologie, osteologie. Inleidende histologie behels sitologie, kern en seldeling, epitele, algemene bindweefsel en kraakbeen en been.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Introduction to physiological principles; neurophysiology, and muscle physiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Body fluids; haematology; cardiovascular physiology, lymphatic system, and body defence mechanisms.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners. *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module tydens semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ’n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in Sepedi waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verkry, evalueer, verwerk, bestuur en bied inligtingsbronne vir akademiese doeleindes aan deur gebruik te maak van toepaslike tegnologie. Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Anatomie van die kop en nek, asook neuro-anatomie Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die kop en nekgebiede, sintuie en die sentrale en perifere senuweestelsels (kraniaalsenuwees, outomone senuweestelsel), asook die oppervlaksanatomie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die toraks met inhoud, abdomen met inhoud en bekken met inhoud (organe, vaskulêre stelsels, senuweevoorsiening, limfdreinering, spiere en gewrigte), asook die oppervlaksanatomie. Inleidende histologie behels die histologie van die longe, lewer en niere.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie module is slegs vir absolute beginners *Slegs studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe mag hierdie module gedurende semester 2 neem. Alle ander studente moet hierdie module gedurende semester 1 neem. Studente in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe wat reeds oor die taalvaardighede beskik wat in hierdie module onderrig word, mag ‘n vrystellingseksamen aflê. Basiese kommunikatiewe vaardighede in isiZulu waarin alledaagse uitdrukkings en gepaste woordeskat met hoë gebruiksfrekwensie figureer, binne bepaalde sosiale situasies.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Anatomie van die aanhangskelet Sistematiese benadering tot anatomie met natmonsterbespreking van die spiere, bloedvate, senuweevoorsiening, limfdreinering en gewrigte van die boonste en onderste ledemate, asook die oppervlaksanatomie. Inleidende histologie behels spierweefsel, senuweeweefsel, bloed en hemopoïetiese weefsel.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aanleer van ‘n basiese, medies-georiënteerde woordeskat saamgestel uit Latynse en Griekse stamvorme verbind met voor- en agtervoegsels afkomstig uit hierdie tale. Die wyse waarop die betekenisse van mediese terme bepaal word deur die ontleding van mediese terme in hul herkenbare betekenisdraende, samestellende dele word onderrig en ingeoefen. Die funksionele gebruik van mediese terme in konteks as praktiese uitkoms van terminologiese toepassing geniet deurlopend aandag.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Vind, evalueer, prosesseer, bied inligtingbronne aan en bestuur hulle vir akademiese doeleindes deur die gepaste tegnologie te gebruik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Academic reading as well as academic writing and presentation skills, based on the approach followed in the healthcare sciences. *Presented to students in Health Sciences only.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Menslike ontwikkeling en behoeftes in gesondheid en siekte. Mense as biologiese, psigiese en geestelike wesens binne sosio-ekonomiese en kulturele konteks. Basiese behoeftes: voeding, gemak en aktiwiteit, rus en slaap, eliminasie, higiëne, suurstof, leer, sensories en interpersoonlik, pynhantering, veiligheid, homeostase, groei en ontwikkeling, medikasiebehoeftes, geestelike behoeftes en die behoefte aan ‘n waardige afsterwe. Selfbeeld, eie identiteit en selfaktualisering. Toepaslike aspekte van mensvoeding. Menslike ontwikkelingsfases en die unieke behoeftes van elke fase. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verpleegkundige fasilitering van gesondheidsbevordering en siektevoorkoming. Die primêre gesondheidsorg (PGS-) benadering en die onderliggende beginsels daarvan. Gesondheidsbevordering as deel van die PGS-benadering. Modelle en benaderings, beplanning en implementering van gesondheidsbevorderings- en siektevoorkomingsprogramme. Siftingsondersoeke vir gesondheid en verwante assesseringsvaardighede. Onderrigvaardighede en die gesondheidsdiensverbruiker in die onderrig-leersituasie. Ongeskiktheid en rehabilitasiesorg as voorkomende en gesondheidsbevorderende modaliteit. Die onderliggende beginsels van rehabilitasiesorg. Die evaluering van gesondheidsbevorderings- en siektevoorkomingsprogramme. Bevordering van psigiese welstand: stres, konflik, substansmisbruik, geweld en fisieke mishandeling. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Gesondheidsdienslewering aan gemeenskappe en verpleegkundige hantering van geringe ongesteldhede Omvattende gesondheidsorg en die multidissiplinêre spanbenadering. Gemeenskapsbetrokkenheid en -deelname aan gesondheidsdienslewering. Bemagtiging van die gemeenskap. Inleiding tot openbare gesondheid en gesondheidsorgstelsels. Bejaardesorg. Geselekteerde geringe ongesteldhede van die boonste lugweë, mondholte en vel: oorpyn, seerkeel, verkoue en griep, sinusitis, tonsillitis, halitose, mondgesondheid en velgesondheid. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verpleegkundige hantering van noodsituasies en rampe in die gemeenskap. Die behoefte aan noodsorg. Voorsiening van nood-mediese dienste. Die impak van noodsituasies en rampe op die gemeenskap. Unieke behoeftes ten tye van buitengewone nood. Noodhulp en basiese voor-hospitaalse noodsorg. Psigiatriese noodgevalle: selfmoordrisiko, aggressie, selfvernietigende gedrag en emosionele trauma. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervaringe en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 240 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente voltooi hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervaringe en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 240 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente voltooi hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Omgewing, samelewing en gemeenskappe en die invloed daarvan op Verpleegkunde. Die omgewing as determinant van gesondheid en welsyn. Omgewingshigiëne. Samelewings- en gemeenskapsverskynsels, sektore, stratifikasie en instellings. Gemarginaliseerde gemeenskappe in Suid-Afrika. Die impak van siekte op gesinne, gemeenskappe en die samelewing. Gemeenskapsgebaseerde gesondheidsdienste en die rol van die hospitaal as gemeenskapsinstelling. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

Minimum krediete: 120

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Infeksie, immuniteit en basiese bakteriologie. Inleiding en basiese beginsels van infeksie, sterilisasie en die immuunstelsel. Bakteriële selle en die klassifikasie van siekteveroorsakende bakterieë.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n inleiding ten opsigte van ‘n basiese kennis en begrip van die biologiese basis van menslike gedrag. Die module behels die kernkonsepte en terminologie wat met die biologiese subsisteem verband hou, die reëls en beginsels onderliggend aan biologiese sielkunde en die identifisering van verwantskappe tussen verskillende biologiese sisteme en subsisteme. Verskillende kognitiewe prosesse word bestudeer insluitend persepsie, geheue, denke, intelligensie en kreatiwiteit. Verskeie denkprosesse, soos probleemoplossende, krities-analitiese en integrerende denke word geillustreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Structure, gas exchange and secretory functions of the lungs; build, excretory and non-urinary functions of the kidneys, acid-base balance, as well as the skin and body temperature control.
    Practical work: lung functions/spirometry, kidney function tests – side-room urine examinations. Digestion. Metabolism. Pathophysiology.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Fungi, parasitologie en virologie. Fungus-, virale en parasietinfestasies en -infeksies wat algemeen voorkom, en die organismes wat dit veroorsaak.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.
    Nutrition, digestion and metabolism, hormonal control of body functions and the reproductive systems. 
    Practical work: endocrine system, reproductive system, pregnancy test.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Sistemiese bakteriologie. Bakteriële infeksies wat algemeen voorkom en die bakterieë wat dit veroorsaak.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Akute en chroniese geestesafwykings. Verplegingsproses toegepas in die psigiatriese konteks. Psigopatologie, abnormale en afwykende gedrag. Algemene geestesafwykings: skisofrenie, affektiewe, kognitiewe en angstoestande. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verpleegterapeutiese gesprekke, groepterapie en omvattende sorg. Individuele terapie: Fasilitatiewe kommunikasie en die een-tot-een verhouding. Groep: Die groepsproses, groepsdinamiek, leierskap en leierskapsfunksies en toepaslike beramingsvaardighede. Geestesgesondheidsonderrig. Terapeutiese omgewing. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Terapeutiese vaardighede, geestesafwykings en kulturele aangeleenthede. Krisis-tussentrede. Verlies en rouproses. Geestelik versteurde individue. Kulturele sensitiwiteit in geestesgesondheidsverpleegkunde. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beginsels, perspektiewe, eties-wetlike oorweging en wetgewing verwant aan geïntegreerde gesondheidsorg, tradisionele genesing in Afrika, genesingsmodaliteite verwant aan natuurlike en alternatiewe terapieë, voedings- en medisinale belang van inheemse plante. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot medies-chirurgiese en traumaverpleegkunde. Die mediese en chirurgiese benadering tot gesondheidsorg. Akute versus chroniese siekte. Die invloed van siekte en hospitalisasie op die volwasse gesondheidsdiensverbruiker. Aspekte van professionele praktyk. Toepaslike beramingsvaardighede. Aspekte van traumaverpleging. Toegepaste mensvoeding. Intrinsieke en ekstrinsieke oorsake van siekte. Sellulêre stressors, aanpassingsprosesse, abnormale sellulêre groei, selbeskadiging, herstel en afsterwe van selle. Neoplasie en tumorpatologie. Algemene versteurings van homeostase. Inleiding tot genetika en verworwe siektes. Aspekte van mediese noodverpleegkunde. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verpleegterapeutiese kontekste. Eties-wetlike aspekte en gesondheidsbeleid met betrekking tot geestessiektes. Organisasies en inrigtings in psigiatriese gesondheidsorg. Teoretiese grondslae van psigiatriese verpleegpraktyk. Die DSM-klassifikasiestelsel van geestesversteurings. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervaringe en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 240 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente sal hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervaringe en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 240 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente sal hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beginsels van kindergesondheidsverpleegkunde. Unieke behoeftes tydens die kinderjare. Algemene gesondheidsprobleme tydens die kinderjare: respiratories, kardiovaskulêr en pynbeheer, diarree, naarheid en braking, wanvoeding en onvermoë om te gedy. Toegepaste mensvoeding. Die effek van hospitalisasie op kinders en hul gesinne. Terapeutiese spel en ondersteuning van die kind en verpleegterapeutiese tussentredes met kinders. Die unieke wêreld van die siek kind en alternatiewe benaderings tot siekte deur spelterapie. Aspekte van pediatriese noodverpleging. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Chirurgiese Verpleegkunde. Omvattende peri-operatiewe verpleging van pasiënte met algemene chirurgiese gesondheidsprobleme of beserings wat verband hou met die muskuloskeletale, neurologiese, gastro-intestinale, respiratoriese stelsel, die oog en reproduktiewe gesondheid. Toepaslike beramingsvaardighede. Sagteweefselbeserings, chirurgiese wonde en wondsorgtegnieke: wonde en wondherstel, toepaslike beramingsvaardighede, aseptiese wondsorgprosedures (beginsels en tegnieke), moderne wondsorgprodukte en bewysgebaseerde praktyk, traumatiese wonde (insluitend brandwondtrauma) en chroniese wonde. Toegepaste mensvoeding. Inflammasie, infeksie en nekrose. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Mediese verpleegkunde. Omvattende mediese verpleging van pasiënte met algemene gesondheidsprobleme wat verband hou met die respiratoriese, neurologiese, verterings-, renale, endokriene en kardiovaskulêre stelsel, akute vergiftiging, kanker en hematologiese probleme (anemie en leukemie) en metaboliese versteurings. Sirkulatoriese versteurings en edeemformasie. Oorsig van hipersensitiewe reaksies en outo-immuuntoestande. Voorbeelde uit die kliniese verpleegpraktyk. Toepaslike beramingsvaardighede. Toegepaste mensvoeding. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

Minimum krediete: 132

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Inleiding, reseptore, antagonisme, kinetiese begrippe. Middels wat inwerk op die outonome en sentrale senuweestelsel. Geneesmiddelbehandeling van hipertensie, angina pectoris, miokardiale infarksie, hartversaking, hart-aritmieë, en epilepsie. Diuretika, glukokortikosteroïede, lokale verdowers, narkosemiddels, analgetika, yster en vitamiene, onkostatika, immuunonderdrukkers.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hormone, geneesmiddels wat inwerk op histaminerge, serotonerge en dopaminerge reseptore. Geneesmiddelbehandeling van diabetes mellitus, skisofrenie, depressie, vetsug, angs, insomnia, spysverteringskanaalsiektes. Antistolmiddels, antimikrobe middels.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Omvattende gemeenskapsverpleging. Perspektiewe en benaderings tot omvattende verpleegsorg en ondersteuning van gemeenskappe. Toepaslike statutêre beheer oor primêre gesondheidsorg (PGS) - praktyke in Suid-Afika. Toepaslike beramingsvaardighede. Seksueel-oordraagbare infeksies en oordraagbare siektes. Terapeutiese ondersteuning van die gemeenskap. Rehabilitatiewe ondersteuning van behoeftige gemeenskappe. Klem word gelê op die fasilitering en ondersteuning van selfsorg met betrekking tot fisieke, psigiese en omgewingsgesondheid en -welsyn. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verloskunde: begeleiding tydens swangerskap. Oorsig van die perinatale periode. Embriologie en fetale groei en ontwikkeling. Die normale swangerskap, unieke behoeftes van die swanger vrou en laerisiko voorgeboortesorg. Toepaslike beramingsvaardighede. Toegepaste mensvoeding. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verloskunde: begeleiding tydens normale kindergeboorte en puerperium. Die verloop van die intrapartumperiode, verwante behoeftes en laerisiko, postnatale sorg. Toepaslike beramingsvaardighede. Toegepaste mensvoeding. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    LW: NPE 361- assessering vir semesterpunt: : Algemene verpleegkunde 60% verloskunde 20% en psigiatrie 20%. Finale assessering: Algemene verpleegkunde 30% verloskunde 20% psigiatrie 20% gemeenskap 30%. Kliniese leerervarings en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 300 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente sal hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geslagsgesondheidsverpleegkunde. Manlike geslagsgesondheidsverpleging. Vroulike geslagsgesondheidsverpleging. Gesinsbeplanning (kontrasepsie, infertiliteit en prekonsepsiesorg). Seksuele ontwikkeling en seksuele behoeftes, geslagsverhoudings en geslagskwessies, rol-identiteit en rolkonflik. Seksuele afwykings en seksuele misbruik. Geweld teenoor vroue en kinders. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verloskunde: hoërisiko swangerskap. Moederlike en perinatale morbiditeit en mortaliteit en aanmeldbaarheid. Risikoberaming van moeder en fetus. Toepaslike beramingsvaardighede. Toepaslike verpleegsorg vir spesifieke gesondheidsbehoeftes en -probleme tydens die voorgeboortetydperk. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    N.B.: DNP 354 moet voltooi word vóór DNP 353. Primere kuratiewe verpleging vir algemene en ongekompliseerde siektetoestande. Algemene en ongekompliseerde gesondheidsprobleme verwant aan die kardiovaskulêre, respiratoriese, spysvertering-, neurologiese, muskulo-skeletale en genito-urinêre stelsel, en infeksiesiektes van die baba- en kinderjare, volwassenheid en die bejaarde. Klagtes in verband met die oë. Muskulo-skeletale pyn/disfunksie en nie-traumatiese been/gewrigspyn. Toepaslike beramingsvaardighede. Toegepaste mensvoeding. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Omvattende gesinsverpleging. Gesinslewe en gesinsdinamiek. Alternatiewe gesinne en lewenstyle. Perspektiewe en benaderings tot die omvattende verpleegsorg en ondersteuning van gesinne. Gesinsgeweld en -patologie. Huweliksberading en gesinsterapie. Gesinne in die perinatale tydperk: unieke behoeftes en ondersteuning (insluitend basiese voorgeboorte en nageboortesorg). LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    N.B.: DNP 353 moet voltooi word ná DNP 354. Beginsels van pasiëntsorgbestuur. Beplanning, organisering, leidinggewing en beheer in direkte pasiëntsorgareas. Bestuur in die lewering van pasiëntsorg. Koördinering van die multi- en transdissiplinêre programme van behandeling en rehabilitasie. Aspekte van professionele praktyk. Inleiding tot arbeidsreg. Inspeksies van verpleegkundige en pasiëntsorgeenhede. Die kliniese praktykomgewing as leer-onderrigsituasie en die beginsels van volwasseleer. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    LW: NPE 362 semesterpunt: Algemene verpleegkunde 20%, verloskunde 40%, gemeenskap/PHC 20%, bestuur 20%. Finale assessering: Algemene verpleegkunde omvattende assessering 80%. (Farmakologie, bestuur, algemene verpleegkunde en PHC) en verloskunde OSCE 20%. Kliniese leerervarings en laboratoriumwerk: hierdie modules bestaan uit 300 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk elk (per semester). Studente sal hierdie modules in gespesifiseerde gesondheidsorgeenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

Minimum krediete: 144

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervarings en laboratoriumwerk: hierdie module bestaan uit 500 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk (per semester). Studente sal hierdie module in gespesifiseerde kliniese eenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beginsels van verpleegbestuur en professionele leierskap in kliniese verpleegpraktyk. Toegepaste beginsels van algemene bestuur, menslikehulpbronbestuur, bemarking en openbare skakeling en finansiële bestuur. Leierskap en leierskapsontwikkeling: perspektiewe, neigings en kontemporêre praktykaangeleenthede. Bestuursbeginsels in geselekteerde noodsituasies. Arbeidsreg en arbeidsverhoudinge. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verloskunde: Hoërisiko kindergeboorte. Abnormale verloop van die intrapartum periode, verwante behoeftes en hantering. Fetale monitor. Ruptuur van membrane, premature en postterm geboortes. Obstetriese beserings en noodgevalle. Verpleegkundige terapeutiese ondersteuning tydens die ervaring van hoërisiko swangerskap en swangerskapverwante komplikasies. Toepaslike beramingsvaardighede. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Verloskunde: Hoërisiko puerperium en die hoërisiko neonaat. Hoërisiko nageboortesorg. Kenmerke en behoeftes van die neonaat. Verpleegsorgbeginsels van gesonde en siek, of hoërisiko neonate. Omvattende verpleging van neonate met spesifieke probleme. Toepaslike beramingsvaardighede. Toegepaste mensvoeding. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Navorsing in gesondheidsorgwetenskappe:
    •   Die uitkomste van hierdie module is:
    •   Verstaan die belangrikheid van bewysgebaseerde kliniese praktyk.
    •   Verstaan die navorsingsproses en algemene benaderings tot navorsing.
    •   Kennis van die metodologieë algemeen gebruik in
        gesondheidsorgwetenskappe.
    •   Die lees en beoordeling van gepubliseerde navorsing.
    •   Die skryf van ‘n literatuuroorsig.
    •   Begrip en respek vir navorsingsetiek en die kriteria vir goeie gehalte navorsing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beginsels van professionele praktyk, verpleegpersoneelontwikkeling en onderrig in kliniese verpleegpraktyk. Verpleegkunde, etiek en die reg. Kontemporêre praktykaangeleenthede voortspruitend uit etos en die professionele verpleegpraktyk. Professionele selfregulering en die georganiseerde verpleegberoep. Privaat-verpleegprakty. Beplanning, implementering en evaluering van kliniese onderrig en indiensopleidingsprogramme, voortgesette ontwikkeling en lewenslange leer. LW: Slegs vir gekeurde BCur-studente.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Kliniese leerervarings en laboratoriumwerk: hierdie module bestaan uit 500 ure verpligte kliniese praktyk- en laboratoriumwerk (per semester). Studente sal hierdie module in gespesifiseerde kliniese eenhede voltooi. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Verpleegkunde elektief. Goedgekeurde elektief, gekies in samewerking met die departementshoof. • Temas van gemeenskapsverpleegkunde en primêre gesondheidsorg. • Temas van psigiatriese verpleegkunde en terapeutiese onderhoude. • Temas van algemene mediese verpleegkunde. • Temas van algemene chirurgiese verpleegkunde. • Temas van hospitaalgebaseerde verloskunde. Die beskikbaarheid van elektiewe sal afhang van studentebelangstelling en die beskikbaarheid van personeel en opleidingsfasiliteite. Studente moet voor registrasie navraag doen oor die voorgenome elektiewe. Tien (10) krediete van bogemelde elektiewe moet inhoude insluit van navorsingsgebaseerde projek (of navorsingsprojek), kontemporêre praktykaangeleenthede, internasionale verplegingstudies en etiese en wetlike aspekte van gesondheidsorgpraktyk binne die gekose elektief. LW: Slegs gekeurde BCur-studente mag vir hierdie module registreer.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences