Jaarboeke

Program: MA Voorligtingsielkunde (Gedoseer)

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
01250213 Fakulteit Geesteswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 2 jaar Totale krediete: 180
Contact:
Prof TM Bakker
[email protected]
+27 (0)124204924

Programinligting

Hierdie program verskaf geïntegreerde akademiese, praktiese en professionele opleiding in voorligtingsielkunde.

Sluitingsdatum vir aansoeke: Jaarliks 31 Mei.

Die graad behels twee jaar voltydse studie en is gebaseer op die navorser (50%)-praktisyn (50%)-model. Alle kursusse van al die modules van die navorsers- en praktisynsopleiding moet geslaag word om die MA (Voorligtingsielkunde) graad te verwerf.

Na die suksesvolle voltooiing van die MA (Voorligtingsielkunde)-graad, moet ’n student as intern voorligtingsielkundige registreer by die Professionele Raad vir Sielkunde van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) om ’n eenjaar voltydse internskap in voorligtingsielkunde te deurloop. Na die suksesvolle voltooiing van die internskap in voorligtingsielkunde en die Professionele Raad vir Sielkunde se raadseksamen by die RGBSA, kan ’n intern-voorligtingsielkundige aansoek doen vir registrasie as Voorligtingsielkundige by die Professionele Raad vir Sielkunde van die RGBSA. Sodanige registrasie is onderhewig aan die bepalings van die Professionele Raad vir Sielkunde ten tye van registrasie.

A. Navorsersopleiding
Navorsersopleiding behels 50% van die MA (Voorligtingsielkunde)-opleiding. Gedurende die twee jaar word daar van die student verwag om ’n navorsings-voorstel suksesvol op te stel, ’n navorsingsprojek te onderneem en ’n mini-verhandeling (VOS 895) te skryf.

B. Praktisynsopleiding
Praktisynsopleiding behels 50% van die MA (Voorligtingsielkunde)-opleiding. Gedurende die twee jaar, word daar akademiese en praktiese opleiding gedoen. Die akademiese opleiding word vervat in drie kernmodules en twee keusemodules. Die kernmodules is: Fundamentale sielkunde (SLK 801), Sielkundige assessering (SLK 806), en Voorligtingsielkunde (SLK 802).

Die keusemodules is: Gemeenskapsielkunde (SLK 804) en Sportsielkunde (SLK 805). Die opleiding word gedoen deur middel van didaktiese onderrig en/of ervaringsleer. Die praktiese opleiding wat deur studente gedoen word, word deur die Departement Sielkunde op ’n jaarlikse basis gereël.

C. Professionele ontwikkeling
Naas die navorsers- en praktisynsopleiding word daar op ’n deurlopende basis deur die twee jaar in alle modules aan die professionele ontwikkeling van die student aandag gegee. Die professionele ontwikkeling van die student behels professionele praktyk- en identiteitsontwikkeling. Professionele praktykontwikkeling fokus op die wetlike en etiese raamwerk waarbinne die voorligtingsielkundige praktiseer, terwyl professionele identiteitsontwikkeling fokus op die “persoon” van die voornemende voorligtingsielkundeige, die student.

Toelatingsvereistes

  • BSocSciHons of BAHons in Sielkunde of ekwivalente kwalifikasie wat geakkrediteer is by die Raad vir Hoër Onderwys.
  • Toelating tot die MA (Voorligtingsielkunde)-program is onderhewig aan 'n assesserings- en keuringsproses van moontlike kandidate wat gebaseer is op vereistes soos deur die program van tyd tot tyd voorgeskryf word.
  • Daar is 'n assesserings- en keuringsproses vir toelating van kandidate tot die MA Voorligtingsielkunde program. Slegs 'n beperkte aantal kandidate word jaarliks tot die program toegelaat. Inligting oor die assesserings- en keuringsproses, asook die toelatingskriteria, kan by die Departement Sielkunde verkry word ten tye van die aansoek.

Ander programspesifieke inligting

Dit is slegs moontlik om hierdie opsie (Sportsielkunde) te kies indien die kandidaat voldoen aan die voorvereistes wat deur die departementshoof gestel word.

Eksamens en slaagvereistes

Assesserings

  1. Om 'n module te slaag, moet 'n finale punt van 50% behaal word. 'n Student slaag 'n module met lof wanneer 'n finale punt van 75% behaal word.
  2. Vordering in modules word op 'n deurlopende basis geassesseer deur middel van verskeie assesseringsaktiwiteite. Die assesserings is ontwerp om te verseker dat al die uitkomste van ’n module geëvalueer word deur middel van formatiewe assessering.
  3. Die finale resultate van alle modules sal slegs gepubliseer word nadat die eksamenkommissie van die Fakulteit Geesteswetenskappe dit bekragtig het. Geen resultate sal voor die bekragtiging bekend gestel word nie

Bevordering tot volgende studiejaar

Vereistes om na jaar II van die program te vorder

  1. In elk van die programme moet aan al die vereistes van die eerste jaar voldoen word alvorens daar met die tweede jaar voortgegaan kan word.
  2. Indien al die vereistes van die eerste jaar nie nagekom word nie, kan die eerste jaar nie herhaal word nie en daardie student sal die program moet verlaat.
  3. Indien so 'n student sy/haar studies wil voltooi, sal die student moet heraansoek doen in ooreenstemming met die reëls wat betrekking het op die keuringsproses vir alle nuwe aansoeke.
  4. Geen module mag oorgedra word vanaf die eerste jaar na die tweede jaar nie.


Vereistes om na die internskap te vorder

  1. Die reëls en regulasies soos bepaal deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA), en wat van tyd tot tyd aangepas word, is van toepassing.
  2. Alle programvereistes van die graad moet suksesvol voltooi word en die assessering daarvan afgehandel wees deur die betrokke komitees van die Universiteit.
  3. Die magsitergraad moet binne twee jaar voltooi word.

.

Slaag met lof

'n Student slaag ’n module met lof wanneer 'n finale punt van 75% behaal word.

Algemene inligting

Professionele wangedrag
Navrae ten opsigte van moontlike professionele wangedrag binne die program
Indien dit voorkom of ’n student enige professionele reël, regulasie of kode van die RGBSA verbreek, kan daardie student versoek word om voor die uitvoerende bestuur van die Departement Sielkunde te verskyn. Hierdie komitee sal bepaal of die saak na die RGBSA verwys moet word vir verdere ondersoek.

Opskorting van deelname aan die program
Die dekaan mag, op aanbeveling van die hoof van die Departement Sielkunde, ’n ondersoek las na die bevoegdheid van 'n student om te as 'n sielkundige te praktiseer. ’n Moontlike uitkoms van so ’n ondersoek sluit in, maar is nie beperk nie tot die opskorting van die student se studies gedurende die akademiese jaar. Hierdie besluit sal oorweeg word deur 'n paneel in die departement en verskeie aspekte, soos die student se vordering en gedrag, sal in aanmerking geneem word. Die student sal ook die geleentheid gegun word om op die aantygings te reageer.

Minimum krediete: 90

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Departementele keuring - slegs vir MA: Voorligtingsielkunde. In hierdie module sal studente leer hoe om sielkundige programme in sosiale gemeenskappe te ontwikkel en te implementeer (bv lewensvaardigheids-programme) ten einde hulle in staat te stel om die rol van ‘n gemeenskapskonsultant te vertolk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Departementele keuring - slegs vir MA: Voorligtingsielkunde. Hierdie module fokus op die afneem, merk en interpretasie van sielkundige assesseringstegnieke in verskeie kontekste. Die skryf van 'n verslag met betrekking tot die resultate wat verkry is deur middel van 'n assessering, geniet ook aandag.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Departementele keuring - slegs vir MA: Voorligtingsielkunde. In hierdie module sal studente die fundamentele beginsels onderliggend aan menslike gedrag leer. Hierdie module behels temas wat onder andere met die volgende verband hou: ontwikkelingsielkunde, persoonlikheidsielkunde, neurosielkunde, sosiale sielkunde, psigopatologie en professionele praktyk.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Departementele keuring - slegs vir MA: Voorligtingsielkunde. In hierdie module sal studente leer hoe om terapeutiese werk te doen, wat hulle in staat sal stel om die rol van ‘n terapeut te vertolk.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences