Jaarboeke

Fakulteit Geesteswetenskappe

Fakulteitsregulasies en -inligting

Die reëls vir grade, diplomas en sertifikate wat hier gepubliseer word, is aan verandering onderhewig en kan voor die begin van die akademiese jaar gewysig word.

Die Algemene Regulasies (G-regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Daar word van elke student verwag om hom of haar deeglik met hierdie regulasies vertroud te maak. Onkunde rakende hierdie regulasies sal nie as ’n verskoning vir enige oortreding aanvaar word nie.

Raadpleeg ook die Algemene Reëls en Inligting op die Jaarboek-webwerf vir bykomende inligting.

1. Oorskakeling na die Fakulteit Geesteswetenskappe
Die sluitingsdatum vir oorskakeling na die Fakulteit Geesteswetenskappe is 31 Oktober. 

1.1 Interne aansoeke vir oorskakeling (van ’n ander fakulteit na die Fakulteit Geesteswetenskappe of van een Geesteswetenskappegraad na ’n ander)

  • Studente wat vir oorskakeling na die Fakulteit Geesteswetenskappe aansoek doen, moet ’n aansoek vir oorskakeling en ’n motiveringsbrief voorlê om vir toelating oorweeg te word.
  • ’n Student wat vir oorskakeling in die volgende jaar aansoek doen: Die Komitee oorweeg die TP-telling aan die hand van die Fakulteit se vereistes en die student se akademiese prestasie in die voorafgaande jaar (soos bepaal in Fakulteitsregulasie 3.10.1 hieronder).
  • In die geval van ’n keuringsprogram moet die aansoek vir oorskakeling regstreeks aan die betrokke departement voorgelê word.
  • Geen middeljaaraansoeke sal oorweeg word nie.
  • Aansoeke waarvoor diskresionêre toelating vereis word, moet deur die Fakulteit se Toelatingskomitee oorweeg word.

1.2 Aansoek vir hertoelating (na akademiese uitsluiting)
Studente wat ná akademiese uitsluiting aansoek doen om hertoegelaat te word, moet 'n aansoek, asook 'n motiveringsbrief en ander stawende dokumente, aanlyn indien ten einde vir hertoelating oorweeg te word.

  • Die Fakulteit se Appèlkomitee sal die aansoek oorweeg op grond van algemene akademiese prestasie, die student se motiveringsbrief en ander stawende dokumente.
  • Indien die aansoek vir hertoelating deur die Komitee geweier word, kan die student versoek dat die Fakulteit se besluit deur die Senaat se Hersieningskomitee hersien word.

In afwesigheid van volledige stawende dokumentasie sal die komitee nie ’n besluit kan neem nie. Dit is die student se verantwoordelikheid om al die vereiste en tersaaklike inligting te verstrek. Die Fakulteit is daarop geregtig om die dokumente of bewyse wat ingedien word, te verifieer indien nodig.

1.3 Aansoek vir oorskakeling van ’n ander universiteit na UP
Die proses soos hierbo (1.1) moet gevolg word. In gevalle waar die kredietstelsel verskil van die een wat deur UP gebruik word, sal studente op die volgende kriteria oorweeg word:

  • Moet 50% van die modules/vakke geslaag het, gelyk aan 60 krediete of meer as hulle eerstejaars is en ten minste 80 krediete as hulle senior studente is.
  • Moet ten minste twee volle vakke (of die ekwivalent daarvan) geslaag het in die eerste jaar dat hulle aan ’n ander universiteit ingeskryf was (2 jaarmodules/4 semestermodules/8 kwartaalmodules).
  • Algemene Regulasie G.3.4: Regulasie G.3.2 is met die nodige veranderinge van toepassing op studente van ander tersiêre instellings wat aan die Universiteit registreer.

2. Kansellering van modules
Datums vir kansellering en/of verandering van modules word jaarliks gepubliseer. Daar sal streng gehou word by die datums wat deur die Fakulteit Geesteswetenskappe gepubliseer word.

3. Gemeenskapsbetrokkenheid 
Die Fakulteit Geesteswetenskappe skep geleenthede vir gemeenskapsbetrokkenheid waaraan studente aktief kan deelneem ten einde maatskaplike verantwoordelikheid te bevorder.


Spesifieke vereistes vir voorgraadse programme
Voornemende studente moet hulle vergewis van die vereistes vir spesifieke programme en modules wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe en ander fakulteite aangebied word. Die besonderhede van die spesifieke vereistes vir programme word in die afdeling oor leergange uiteengesit.

As ’n student ’n module wil volg wat deur ’n ander fakulteit aangebied word, moet hy of sy kennis neem van die toelatingsvereistes vir daardie module, asook die subminimum wat in die betrokke fakulteit vir eksamenvraestelle, aanvullende eksamens, aantal krediete en dies meer vereis word.

’n Student wat vir ’n baccalaureusprogram in die Fakulteit Geesteswetenskappe aanvaar is en wat in die eerste semester nie goeie vordering maak nie (slaag ten minste die volgende modules: AIM 101 (6) plus 2 semestermodules (24), altesaam ten minste 30 krediete), sal UPO 101 in die eerste studiejaar moet voltooi. Hierdie module moet voltooi word alvorens verdere toelating oorweeg sal word. ’n Student kan beperk word in die aantal krediete waarvoor hy/sy toegelaat word om in die tweede semester te registreer.

Voorts kan ’n student aan die einde van ’n semester of studiejaar beperk word in die aantal krediete waarvoor hy/sy toegelaat word om in die daaropvolgende semester/studiejaar te registreer, of die student kan na die BA – Verlengde program oorgeplaas word, afhangende van die student se vorige akademiese prestasie. Verwys na Fakulteitsregulasie 4 hieronder. 

1. Klasbywoning
Die studieprogramme van die Fakulteit Geesteswetenskappe is deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedgekeur en deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer. Programbestuurders en -koördineerders is dus verplig om te voldoen aan die minimum vereistes wat deur die Departement gestel word.

Aangesien die Fakulteit Geesteswetenskappe groot waarde aan die ontwikkeling van dinkvaardighede en spesifieke akademiese bekwaamhede heg, is klasbywoning in alle modules en vir die volle duur van ’n program verpligtend vir alle studente wat vir graadprogramme van die Fakulteit ingeskryf is.

Waar die elektroniese media (soos clickUP) die belangrikste komponent van ’n module uitmaak, is dit moontlik dat klasbywoning nie ’n vereiste is nie. In sulke modules word studente verplig om te voldoen aan alle vereistes wat vir die spesifieke module voorgeskryf is.

Studente kan toelating tot die eksamen in ’n spesifieke module geweier word as hulle nie aan die gepubliseerde bywoningsvereistes in daardie module voldoen het nie.

Aan die begin van ’n module sal die studiegids vir daardie module studente oor die vereistes en monitering van klasbywoning in daardie spesifieke module inlig.

2. Erkenning van modules wat geslaag is
Die maksimum duur vir die behoud van krediete na ’n onderbreking van studie is vyf (5) jaar. Studente wat ná ’n onderbreking met ’n spesifieke module op ’n hoër (tweede, derde of vierde) jaarvlak wil voortgaan, sal alle vorige modules in daardie dissipline wat geslaag is meer as vyf jaar voor die jaar waarin hulle wil herregistreer, moet herhaal.

3. Assessering
Die regulasies hieronder geld vir die assessering van modules in die Fakulteit Geesteswetenskappe, maar departemente kan, in uitsonderlike gevalle en in oorleg met die Dekaan, alternatiewe reëlings vir spesifieke modules tref. 

Aan die begin van ’n module sal die studiegids vir daardie module studente oor alle reëlings vir assessering in daardie spesifieke module inlig.

3.1 Eksamens

  1. ’n Jaar- of semesterpunt van ten minste 40% in ’n module word vir toelating tot die eksamen vir daardie module vereis.
  2. By die berekening van die finale punt vir ’n module waarin ’n eksamen afgeneem word, dra die jaar- of semesterpunt ’n gewig van 50% en die eksamenpunt ’n gewig van 50%.  Die jaar- of semesterpunt word bereken op grond van ten minste twee assesserings in kwartaalmodules, drie assesserings in semestermodules en vier assesserings in jaarmodules.
  3. Om in ’n module te slaag, moet ’n finale punt van ten minste 50% asook ’n minimum eksamenpunt van 40% behaal word, uitgesonderd waar ’n module sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word. Studente slaag ’n module met lof indien ’n finale punt van ten minste 75% behaal is.
  4. 'n Module kan sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word*, met dien verstande dat –
  1. die finale punt gebaseer is op ’n student se prestasie in ten minste drie assesserings in kwartaalmodules, vier assesserings in semestermodules en vyf assesserings in jaarmodules;
  2. ’n finale punt van ten minste 50% behaal is; en
  3. studente nie ’n bykomende geleentheid vir assessering gebied word nie.

*LW: In sulke gevalle moet die Dekaan se toestemming vooraf verkry word.

  1. Die finale resultate vir alle modules sal gepubliseer word slegs na goedkeuring daarvan deur die eksterne eksaminator/eksaminatore/eksamenkommissie.

3.2 Hereksamens en buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens)

  1. Sowel hereksamens as buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens) word in die hereksamentydperk geskryf. Buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens) het dieselfde duur en formaat as die hoofeksamen vir die module. Die duur en formaat van die hereksamen kan verskil van dié van die hoofeksamen.
  2. Studente wat tot ’n buitengewone eksamen (of ’n siekte-eksamen) toegelaat is, sal nie ’n geleentheid gebied word om ’n hereksamen in die module te skryf nie.
  3. Studente kan in die volgende gevalle tot ’n hereksamen in ’n module toegelaat word:
  1. indien ’n finale punt van tussen 40% en 49% behaal is; of
  2. indien ’n finale punt van 50% of meer behaal is maar nie die vereiste eksamensubminimum van 40% nie.
  1. Indien die module waarin ’n finale punt van tussen 40% en 49% behaal is, ’n eerstesemestermodule op eerstejaarvlak is, moet ’n hereksamen toegestaan word.
  2. By die berekening van die finale punt vir die hereksamen dra die jaar- of semesterpunt ’n gewig van 50% en die hereksamenpunt ’n gewig van 50% (d.i. dieselfde as vir die hoofeksamen in die module). Die hoogste finale punt wat na die hereksamen toegeken kan word, is 50%. Studente moet ’n subminimum van ten minste 40% in die hereksamen behaal om die module te slaag.
  3. By die berekening van die finale punt vir ’n buitengewone eksamen (of ’n siekte-eksamen) geld dieselfde beginsel as vir die hoofeksamen in die module (d.i. die jaar- of semesterpunt dra ’n gewig van 50% en die eksamenpunt dra ’n gewig van 50%).
  4. Geen aanvullende eksamens word in die Fakulteit Geesteswetenskappe toegestaan nie.
  5. Geen spesiale hereksamen word toegestaan aan studente wat nie die geskeduleerde hereksamen kon skryf nie.

Studente wat nie die hoofeksamen op die geskeduleerde dag geskryf het nie, kan by die Studenteadministrasiekantoor vir ’n buitengewone eksamen (of ’n siekte-eksamen) aansoek doen. Dosente mag nie aan studente goedkeuring verleen om sulke eksamens af te lê nie. Aansoeke vir hierdie eksamens, tesame met ’n geldige mediese sertifikaat en/of stawende dokumentasie/beëdigde verklarings, moet binne drie werkdae nadat die hoofeksamen geskryf is, ingedien word.

’n Mediese sertifikaat sal nie aanvaar word as daar aangedui word dat studente siek lyk of as studente die dokter meedeel dat hulle siek was en nie die eksamen kon skryf nie. Die mediese praktisyn moet voor of op die geskeduleerde eksamendatum gekonsulteer word.

’n Mediese sertifikaat sal nie aanvaar word as die fisiese adres en telefoonnommer van die dokter/mediese praktyk, asook die praktyknommer, nie op die sertifikaat verskyn nie. In gevalle waar ’n ander rede as siekte gegee is, moet studente ’n beëdigde verklaring inlewer wat die rede vir hulle afwesigheid van die eksamen verskaf. Dit is die verantwoordelikheid van studente om seker te maak of hulle aansoeke goed- of afgekeur is.

Studente wat tot sodanige buitengewone of siekte-eksamens toegelaat is en dan nie die eksamen aflê nie, sal vir geen verdere buitengewone of siekte-eksamens kwalifiseer nie.

3.3  Spesiale eksamens in die Fakulteit Geesteswetenskappe
Studente wat aan al die vereistes vir die graad voldoen het, met uitsondering van hoogstens een jaarmodule of die ekwivalent daarvan, waarin hulle ’n finale punt van minstens 40% behaal het, kan met goedkeuring van die Dekaan, op aanbeveling van die betrokke departementshoof(de), toegelaat word tot spesiale eksamens aan die begin van Januarie. Studente wat ’n finale punt van minder as 40% in enigeen van die betrokke modules behaal het, kom nie hiervoor in aanmerking nie. Die hoogste finale punt wat toegeken mag word, is 50%. Studente kwalifiseer vir ’n spesiale eksamen slegs indien hulle die voorgeskrewe eksamen in die finale studiejaar afgelê het.

3.4 Vrystelling van eksamen (promovering)
Geen promovering in enige modules word in die Fakulteit Geesteswetenskappe toegelaat nie.

3.5 Slaagvereistes
Tensy anders aangedui, geld Algemene Regulasie G.12.2 in dié verband.

3.6 Insae in eksamenantwoordstelle
Na die hoofeksamen sal departemente studente geleentheid gee om insae in hulle antwoordstelle te kry en word terugvoering gegee oor die kriteria wat deur eksaminatore gebruik is. Die datum/tyd van die insae en die manier waarop terugvoering gegee word, word deur die betrokke departement bepaal. Kennisgewings oor wanneer die insae sal plaasvind, sal by departemente aangebring word. Studente wat nie die amptelike insae kan bywoon nie, kan by die betrokke departement aansoek doen vir ’n geleentheid om die eksamenantwoordstel te sien. Na verstryking van twee weke sedert die aanvang van die volgende semester is geen dosent onder verpligting om enige student ’n geleentheid te gee om die antwoordstel te sien nie.

3.7 Hernasien van eksamenantwoordstelle
Studente kan aansoek doen vir hernasien van ’n eksamenantwoordstel ná insae in so ’n antwoordstel, maar dit moet geskied binne 14 kalenderdae na die begin van lesings in die volgende semester. Studente wat eksamenantwoordstelle wil laat hernasien, moet die voorgeskrewe fooi betaal en ’n versoek aan die Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe (Studenteadministrasiekantoor) rig, wat die betrokke departement in kennis sal stel indien ’n hernasien toegestaan word. Die antwoordstel sal dan hernagesien word deur ’n eksaminator wat deur die hoof van die betrokke departement aangestel word. Punte sal na aanleiding van die hernasien aangepas word, maar geen hereksamen sal toegestaan word nie.

3.8 Bekendmaking van eksamenuitslae
Finale punte sal deur die Studenteadministrasiekantoor bekendgemaak word.
Dosente mag eksamenantwoordstelle vernietig na verloop van een jaar vanaf die datum waarop die eksamen geskryf is.

3.9 Departementele toetsbeleid
Departementele toetsbeleid sal deur middel van die studiegidse en/of departementele riglyne aan studente gekommunikeer word.

Studente wat nie aan die ondervermelde vereistes voldoen nie, kan van die Fakulteit uitgesluit word.

3.10 Bevorderingsvereistes
In die geval van voltydse studente moet ’n driejaargraad in hoogstens vyf jaar, en ’n vierjaargraad in hoogstens ses jaar voltooi word. In die geval van studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, moet ’n driejaargraad in hoogstens ses jaar voltooi word. Tensy ander regulasies vir ’n program deur die Fakulteitsraad goedgekeur is, moet –

  1. voltydse studente wat vir ’n driejaargraad ingeskryf is, in hul eerste jaar van registrasie ten minste 60 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 80 krediete verwerf;
  2. voltydse studente wat vir ’n vierjaargraad ingeskryf is, in hul eerste jaar van registrasie ten minste 80 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 85 krediete verwerf; en
  3. studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, in die geval van ’n driejaargraad, in hul eerste jaar van registrasie ten minste 50 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 80 krediete verwerf.

3.11 Uitsluiting

  1. Uitsluiting na die eksamen in die eerste semester:
  1. Eerstejaarstudente word uit die Fakulteit uitgesluit indien hulle alle modules in die eerste semester druip.
  2. Senior studente word uit die Fakulteit uitgesluit indien hulle aan die begin van die akademiese jaar met spesifieke voorwaardes geregistreer is nadat hulle aan die einde van die vorige jaar uitgesluit was nie (dws hulle is slegs vir die eerste semester geregistreer, met die voorwaarde dat hulle al die modules moet slaag waarvoor hulle geregistreer is) en dan nie aan die gestelde voorwaardes voldoen nie.
  3. In die geval van (a) kan studente by die Fakulteit se Appèlkomitee teen die besluit appelleer – indien die appèl verwerp word, kan die student die Senaat se Hersieningskomitee versoek om die Fakulteit se besluit te hersien.
  1. Uitsluiting na die eksamen in die tweede semester: Kyk Regulasie 3.10.

3.12 Beëindiging van registrasie
Die Dekaan kan in die loop van ’n akademiese jaar, op aanbeveling van ’n toepaslike fakulteitskomitee, die registrasie van ’n student of registrasie vir ’n module kanselleer indien die student nie aan die minimum vereistes wat deur die Fakulteitsraad ten opsigte van toetse, eksamens of enige ander werk gestel is, voldoen het nie, met dien verstande dat die student die Dekaan kan versoek om die beslissing ingevolge die voorgeskrewe prosedure te heroorweeg.

3.13 Geesteswetenskappe Spesiaal
Hierdie program is bedoel vir studente wat hul eerste graad voltooi het en vir niegraaddoeleindes wil registreer.

4. Maksimum aantal krediete
Enige student wat graag addisionele krediete bo en behalwe die 120 krediete wat vir die graad gespesifiseer is, wil aandurf, moet programkoördineerders raadpleeg en hul toestemming verkry alvorens hulle toegelaat sal word om te registreer.

Indien toestemming verleen word:

  • Studente op eerstejaarsvlak mag ? maksimum van 12 krediete (EEN eerstejaarsmodule) per semester (48 uur per week) neem.
  • Studente op tweedejaarsvlak mag ? maksimum van 20 krediete (EEN addisionele 20-kredietmodule of EEN addisionele 12-kredietmodule) per semester (maks 53.3 uur per week) neem.
  • Studente op derdejaarsvlak mag ? maksimum van 30 krediete (EEN derdejaarsmodule of EEN tweedejaarsmodule) per semester (maks 60 uur per week) neem.

Studente wat toestemming kry om addisionele krediete te neem, moet in ? gegewe semester in alle kursusse slaag alvorens hulle toestemming gegee sal word om in die daaropvolgende semester addisionele krediete te neem.


Spesifieke regulasies van toepassing op nagraadse kwalifikasies

1. Akademiese geletterdheid
Daar kan van nuweling- nagraadse studente verwag word om bewys te lewer van hul akademiese geletterdheid.

2. Erkenning vir modules
Geen erkenning word verleen vir modules wat deel van ’n ander graadprogram vorm waarvoor die student reeds aan die graadvereistes voldoen het, of waar die student gelyktydig vir meerdere graadprogramme geregistreer is nie.

3. Erkenning van modules geslaag
Die maksimum tyd vir die behoud van krediete ná ’n onderbreking van studie is drie (3) jaar. Indien ’n student sy of haar nagraadse studie ná ’n onderbreking wil voortsit, sal hy of sy al die modules wat meer as drie jaar tevore geslaag is, moet herhaal.

4. Hernuwing van registrasie

4.1 Honneursgraad
Behoudens uitsonderings wat die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof goedkeur, mag ’n student hom of haar nie meer as twee maal vir die honneurseksamen in dieselfde module aanmeld nie.
’n Student vir ’n honneursgraad moet sy of haar studie, in die geval van voltydse studente, binne een jaar na registrasie vir die graad voltooi, en in die geval van deeltydse studente, binne twee jaar na die eerste registrasie vir die graad.
In spesiale omstandighede kan die Dekaan, op aanbeveling van die departementshoof, ’n beperkte verlenging van hierdie tydperk goedkeur.

4.2 Magistergraad

  1. Studente aan die Universiteit registreer vir een studiejaar. Na verloop van ’n jaar moet studente wat hul studie aan die Universiteit wil voortsit, hul registrasie hernu en die gelde vir hernuwing van registrasie betaal wat die Raad van tyd tot tyd voorskryf.
  2. Behoudens uitsonderings wat deur die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof goedgekeur is, mag ’n student nie meer as een keer vir dieselfde module vir ’n magistergraad inskryf nie. Dit geld vir sowel modules as die verhandeling.
  3. ’n Student aan wie die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof toestemming verleen het om meer as een keer vir die eksamen in dieselfde departement in te skryf, moet die volle gelde vir hierdie eksamen betaal.
  4. Studente wat vir ’n magistergraad ingeskryf het, moet hul studie binne twee jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi, uitgesonderd programme waar ’n langer tydperk vereis word.
  5. Hernuwing van registrasie ná die tweejaartydperk word net in spesiale omstandighede toegelaat waar die departementshoof goedkeuring kan verleen vir ’n beperkte vaste verlenging van hierdie tydperk ooreenkomstig die gestelde prosedures.

4.3 Doktorsgraad

  1. Studente aan die Universiteit registreer vir een studiejaar of vir ’n korter tydperk wat in die algemeen of in spesifieke gevalle deur die Raad bepaal word. Na verloop van ’n studiejaar of sodanige korter tydperk moet studente wat hul studie aan die Universiteit wil voortsit, hul registrasie hernu en die gelde vir hernuwing van registrasie betaal wat die Raad van tyd tot tyd voorskryf.
  2. Behoudens ander fakulteitsregulasies moet ’n student vir ’n doktorsgraad sy of haar studie binne drie jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi. In spesiale omstandighede kan die Dekaan, op aanbeveling van die departementshoof of die Nagraadse Komitee, goedkeuring verleen vir ’n beperkte vaste verlenging van hierdie tydperk.

5. Minimum studietydperke en vereistes vir grade
5.1 Honneursgraad

  1. 'n Honneursgraad word aan 'n student toegeken slegs indien daar aan die volgende minimum studietydperke voldoen is:
  1. Een akademiese jaar na verwerwing van die kwalifikasie op grond waarvan toelating tot die studie verkry is.
  2. Waar ’n honneursgraad gelyktydig met ’n baccalaureusgraad geneem word, een akademiese jaar bo en behalwe die minimum tydperk voorgeskryf vir die betrokke baccalaureusgraad, met dien verstande dat die Universiteit, in geval van uitsonderlike meriete, die minimum bywoningstydperk in ooreenstemming met die Gemeenskaplike Statuut kan verkort.
  1. Benewens die bepalings van regulasie G.22.1 word ’n honneursgraad aan ’n student toegeken slegs indien die student voldoen aan al die vereistes wat in hierdie fakulteitsregulasies gestel word.

5.2 Magistergraad
Die magistergraad word aan ’n student toegeken slegs indien minstens een jaar verloop het na verwerwing van die kwalifikasies op grond waarvan toelating tot magisterstudie verkry is, met dien verstande dat die student, behoudens ’n korter tydperk wat die Dekaan kan goedkeur, vir minstens 12 maande vir die magistergraad aan hierdie Universiteit geregistreer moet wees.
’n Magistergraad word aan ’n student toegeken slegs indien hy of sy voldoen aan al die vereistes wat in hierdie fakulteitsregulasies gestel word.

5.3 Gedoseerde magistergraad en miniverhandeling

  1. ’n Gedoseerde magistergraad word aan ’n student toegeken op grond van eksamens (per module) en ’n miniverhandeling of ander navorsingsverwante uitsette.
  2. Besluite oor die omvang (getal krediete) van die navorsingskomponent van ’n gedoseerde magistergraad word geneem met inagneming daarvan dat die Universiteit ’n internasionaal erkende, navorsingsintensiewe Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling is.
  3. Miniverhandelings of ander tersaaklike vorms van navorsing word saamgestel en geëksamineer ooreenkomstig die instruksies wat in die fakulteitsregulasies bepaal word.

5.4 Doktorsgraad
’n Doktorsgraad word aan ’n student toegeken slegs indien een van die volgende tydperke verstryk het:

  1. Minstens vier jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n driejarige baccalaureusgraad.
  2. Minstens drie jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n vierjarige baccalaureusgraad.
  3. Minstens twee jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n baccalaureusgraad van vyf jaar of langer.
  4. Minstens twee jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n magistergraad.
  5. Met uitsondering van ’n korter tydperk wat deur die Dekaan goedgekeur kan word, minstens 12 maande na registrasie vir die doktorsgraad aan die Universiteit.

Benewens die bepalings van die toepaslike Algemene Regulasie word ’n doktorsgraad aan ’n student toegeken slegs as hy of sy voldoen het aan al die vereistes wat in die fakulteitsregulasies gestel word.

6. Prosedure ten opsigte van registrasie vir magister- en doktorsgraadprogramme (navorsingsgerig)
’n Student wat vir ’n navorsingsgerigte nagraadse studieprogram registreer, moet ononderbroke geregistreer wees. Indien ’n student sy/haar studie onderbreek, is die student by herregistrasie aanspreeklik vir die volle onderriggelde wat op die graadprogram van toepassing is.

Nagraadse studente wat nie hul registrasie jaarliks hernu nie, word beskou as studente wat ’n onderbreking in hul studies gehad het.

6.1 Studente vir die magistergraad (slegs verhandeling) moet:
’n goedgekeurde navorsingsvoorstel indien voor registrasie vir ’n bepaalde graadprogram. Die navorsingsvoorstel vir die verhandeling moet deur die departementele navorsingskomitee goedgekeur word en dan by die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe ingedien word vir finale goedkeuring voordat met die navorsing voortgegaan kan word.

6.2 Studente vir ’n PhD-graad moet:

  1. ’n goedgekeurde navorsingsvoorstel indien voor registrasie vir ’n bepaalde graadprogram. Die navorsingsvoorstel vir die proefskrif moet deur die departementele navorsingskomitee goedgekeur word en dan by die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe ingedien word vir finale goedkeuring alvorens met die navorsing voortgegaan kan word;
  2. 'n proefskrif oor die goedgekeurde onderwerp vir eksaminering indien;
  3. 'n mondelinge doktorale eksamen slaag alvorens die graad toegeken sal word. Die doktorale eksamen, wat ook die formaat van ’n verdediging van die proefskrif of seminaar kan aanneem, word voor ’n paneel eksaminatore gedoen wat deur die Dekaan in oorleg met die departementshoof, studieleier en navorsingskoördineerder aangestel word.

6.3 Studente wat vir ’n gedoseerde magistergraadprogram registreer, moet in gevalle waar daar etiese implikasies is, die navorsingsvoorstel vir die miniverhandeling vooraf aan die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe voorlê vir goedkeuring, alvorens daar met die navorsing begin word. Sien ook die toepaslike Algemene Regulasies.

7. Assessering
Die regulasies hieronder geld vir assessering van nagraadse modules vir honneurs- en gedoseerde magisterprogramme wat deur departemente in die Fakulteit Geesteswetenskappe aangebied word. 
Departemente kan in uitsonderingsgevalle en in oorleg met die Dekaan alternatiewe reëlings vir bepaalde modules tref.

Die reëlings ten opsigte van assessering van ’n bepaalde module moet by die aanvang van die module in die studiegids aan studente bekendgemaak word

7.1 Eksamens

  1. ’n Minimum vorderingspunt van 40% is nodig om toelating tot die eksamen te kry.
  2. By die berekening van die finale punt vir ’n module waarin ’n eksamen afgeneem word, dra die vorderingspunt ’n gewig van minstens 50% en die eksamenpunt ’n gewig van minstens 50%. Die vorderingspunt word bereken op grond van minstens twee assesserings wat gedurende die tydperk waarin die module aangebied word, gedoen is.
  3. Om in ’n module te slaag, moet ’n finale punt van minstens 50% en ’n minimum eksamenpunt van 40% behaal word, met uitsondering van gevalle waar ’n module sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word. ’n Student slaag ’n module met lof indien ’n finale punt van minstens 75% behaal is.
  4. 'n Module kan sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word*, met dien verstande dat:
  1. al die uitkomste van die module deur middel van formatiewe assessering geëvalueer is;
  2. die finale punt bereken word op grond van die student se prestasie by minstens drie assesseringsgeleenthede;
  3. 'n finale punt van minstens 50% behaal word; en
  4. studente nie ’n bykomende geleentheid tot assessering, soos ’n hertoets of ’n hereksamen, kry nie.

*LW Toestemming van die Dekaan moet in sodanige gevalle vooraf verkry word.

  1. Die finale uitslae vir alle modules sal bekendgemaak word eers na kondonering van die uitslae deur die eksamenkommissie van die Fakulteit Geesteswetenskappe. Geen uitslae sal voortydig bekendgemaak word nie.

7.2 Hereksamens en buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens) 
Slegs waar van toepassing.

7.3 Eksamenvrystelling (promovering)
Geen promovering in enige modules word in die Fakulteit Geesteswetenskappe toegelaat nie.

7.4 ’n Formele eksamen (mondeling of skriftelik) is ’n vereiste vir doktorsgrade in die Fakulteit Geesteswetenskappe, tensy die Dekaan vrystelling gee. Sien ook die toepaslike Algemene Regulasie.

8. Graad met lof
Behoudens ander bepalings by individuele programme moet ’n student ’n geweegde gemiddelde van minstens 75% behaal ten einde die graad met lof te verwerf. Die doktorsgraad word nie met lof toegeken nie

9. Konsepartikel vir publikasie
Die Dekaan kan vereis dat 'n student voor of by indiening van ’n verhandeling 'n konsepartikel vir publikasie by die studieleier moet indien. Die konsepartikel moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die verhandeling gedoen het en moet deur die betrokke studieleier goedgekeur wees. Die studieleier het dan ’n geleentheid om die artikel deur al die prosesse van hersiening en hervoorlegging te neem wat nodig en/of geskik is ten einde die artikel te publiseer.

Voor of by indiening van 'n proefskrif moet die student 'n bewys van voorlegging van ’n artikel, wat deur 'n geakkrediteerde joernaal uitgereik is, by die Hoof: Studenteadministrasie indien. Die artikel moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die proefskrif gedoen het en moet deur die studieleier/promotor goedgekeur wees.

Die promotor is daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die artikel deur al die nodige prosesse van hersiening en hervoorlegging gaan.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences