Jaarboeke

Fakulteit Geesteswetenskappe

Fakulteitsregulasies en -inligting

Die regulasies ten opsigte van grade, diplomas en sertifikate wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan voor die aanvang van die akademiese jaar gewysig word.

Die Algemene Regulasies (G. Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sal wees. Onkunde betreffende hierdie regulasies sal nie as ’n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Raadpleeg ook die Algemene Reëls en Inligting op die Jaarboek-webblad vir bykomende inligting.

1. Oorskakeling na/hertoelatings tot die Fakulteit Geesteswetenskappe
Die sluitingsdatum vir oorskakeling na die Fakulteit Geesteswetenskappe, asook aansoeke om hertoelatings is 14 dae na die aanvang van lesings.

1.1 Interne aansoek om oor te skakel (van 'n ander Fakulteit na die Fakulteit Geesteswetenskappe of van een Geesteswetenskappe-graad na 'n ander)

  • Studente wat aansoek doen om van 'n ander Fakulteit na die Fakulteit Geesteswetenskappe oor te skakel, moet 'n aansoek voorlê, tesame met 'n motiveringsbrief ten einde vir toelating in aanmerking te kom.
  • 'n Eerstejaarstudent wat in die tweede semester wil oorskakel: die Komitee neem die TP-telling in aanmerking, asook die student se akademiese rekord gedurende die voorafgaande semester (die student moet ten minste 24 krediete geslaag het).
  • 'n Senior student wat in die tweede semester wil oorskakel: die Komitee neem die TP-telling in aanmerking, asook die student se akademiese rekord gedurende die voorafgaande semester (Volgens Fakulteit-spesifieke regulasies  moet die student ten minste 30 krediete geslaag het).
  • 'n Student wat aansoek doen om in die daaropvolgende jaar oor te skakel: die Komitee neem die TP-telling in aanmerking, asook die student se akademiese rekord gedurende die voorafgaande jaar (Volgens Fakulteitspesifieke regulasies hieronder).
  • In die geval van ? keuringsprogram, moet die aansoek om oor te skakel direk by die betrokke Departement ingehandig word.

1.2 Aansoek om hertoegelaat te word (na akademiese uitsluiting)
Studente wat aansoek doen om hertoegelaat te word na akademiese uitsluiting moet 'n aansoek voorlê om hertoegelaat te word, asook 'n motiveringsbrief, ten einde in aanmerking te kom vir hertoelating.

Die komitee sal die aansoek oorweeg op grond van die algehele akademiese prestasie en die student se motiveringsbrief.
Indien die student se aansoek om hertoegelaat te word deur die komitee afgewys word, mag die student teen die besluit appelleer by die Sentrale Appélkomitee (Akademiese Administrasie).
In die geval van 'n keuringsprogram, maak die Departement 'n aanbeveling aan die Toelatingskomitee aangaande die hertoelating van die student.

1.3 Aansoek om van 'n ander universiteit oor te skakel na UP
Proses wat gevolg moet word soos hierbo. In gevalle waar die kredietstelsel verskil van UP, sal die student soos volg oorweeg word:

  • Moet ten minste 2 volle vakke (of die ekwivalent daarvan) geslaag het gedurende die laaste jaar van registrasie aan 'n ander universiteit (2 jaarmodules/4 semestermodules/8 kwartaalmodules).
  • Algemene Regulasie G.3(4): Regulasie G.3.2 is met die nodige veranderinge van toepassing op studente van ander tersiêre inrigtings wat by die Universiteit registreer.

2. Staking van modules
Datums vir wysigings/kansellasies word jaarliks gepubliseer. Daar sal streng by die Fakulteit Geesteswetenskappe se datums gehou word.

3. Gemeenskapsbetrokkenheid
Die Fakulteit Geesteswetenskappe skep geleenthede vir gemeenskapsbetrokken­heid waarin studente aktief kan deelneem met die doel om sosiale verant­woordelikheid te bevorder.

Spesifieke voorvereistes vir voorgraadse programme
Voornemende studente moet hulle vergewis van die voorvereistes vir spesifieke programme en modules wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe en in ander fakulteite aangebied word. Die spesifieke voorvereistes vir programme word volledig by die uiteensetting van leergange aangedui.

Indien 'n student 'n module volg wat deur 'n ander fakulteit aangebied word, moet hy of sy kennis neem van die toelatingsvereistes vir die betrokke module, subminimums in vraestelle, aanvullende eksamens, aantal krediete, ensovoorts, wat in daardie fakulteit geld.

'n Student wat toegelaat is tot 'n baccalaureusprogram in die Fakulteit Geesteswetenskappe en nie goeie vordering in die eerste semester toon nie (ten minste in die volgende modules slaag: AIM 101 (6) plus 2 semestermodules (24), dus 'n totaal van ten minste 30 krediete), word verplig om UPO101 in die eerste studiejaar te voltooi. Hierdie module moet deur die student voltooi word alvorens verdere toelating oorweeg kan word. Voorts sal so 'n student beperk word in die aantal krediete wat in die tweede semester geneem mag word.

Eweneens kan 'n student aan die einde van 'n semester of 'n studiejaar beperk word in die aantal krediete wat hy/sy in die daaropvolgende semester/jaar(e) mag neem of oorgeplaas word na die BA (Verlengde program) – na gelang van die student se voorafgaande prestasie.

1. Klasbywoning
Die studieprogramme van die Fakulteit Geesteswetenskappe is deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedgekeur en deur die Raad vir Hoër Onderwys geakkrediteer. Programbestuurders en koördineerders is derhalwe genoodsaak om aan die minimum vereistes van die Departement te voldoen.

Omdat die Fakulteit 'n hoë premie op die ontwikkeling van denkvaardighede en spesifieke akademiese bekwaamhede stel, is klasbywoning in al die modules en vir die volle duur van 'n program verpligtend vir alle studente wat graad­programme in die Fakulteit Geesteswetenskappe volg.

Waar die elektroniese media (soos clickUP) die belangrikste komponent van 'n module uitmaak, is dit moontlik dat klasbywoning nie 'n vereiste is nie. Studente moet in hierdie modules aan al die vereistes gestel vir die spesifieke module voldoen.

Studente kan toelating tot die eksamen in 'n spesifieke module geweier word as hulle nie aan die gepubliseerde bywoningsvereistes in daardie module voldoen nie.

Met die aanvang van ’n module, sal studente in die module se studiegids oor die vereistes en monitering van klasbywoning in die spesifieke module ingelig word.

2. Erkenning van modules geslaag
Die maksimum tyd vir die behoud van krediete na die onderbreking van studie is vyf (5) jaar. Indien 'n student ná 'n onderbreking met 'n bepaalde module op 'n hoër (tweede, derde of vierde) jaarvlak wil voortgaan, moet hy of sy al die vorige modules in die betrokke dissipline waarin geslaag is meer as vyf jaar voor die jaar waarin hy/sy beplan om weer in te skryf, herhaal.

3. Assessering
Die ondergenoemde regulasies geld vir die assessering van modules in die Fakulteit Geesteswetenskappe, maar departemente kan in uitsonderingsgevalle in oorleg met die Dekaan alternatiewe reëlings vir bepaalde modules tref.

Alle reëlings ten opsigte van assessering van ’n bepaalde module word by die aanvang van 'n module in 'n studiegids aan studente bekendgemaak.

3.1 Eksamens

  1. 'n Minimum jaar-/semesterpunt van minstens 40% in 'n module is nodig om toelating tot die eksamen in daardie module te kry.
  2. In die berekening van die finale punt vir 'n module waarin 'n eksamen afgeneem word, dra die jaar-/semesterpunt ’n gewig van 50% en die eksamenpunt ’n gewig van 50%. Die jaar-/semesterpunt word bereken op grond van ten minste twee assesserings in kwartaalmodules, drie assesserings in semestermodules en vier assesserings in jaarmodules.
  3. Om ’n module te slaag, moet ’n finale punt van minstens 50% sowel as ’n eksamenpunt van minstens 40% behaal word, met uitsondering van gevalle waar ’n module sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word. Studente slaag ’n module met lof indien ’n finale punt van minstens 75% behaal is.
  4. ’n Module mag afgesluit word sonder ’n geskeduleerde eksamen*, met dien verstande dat
  1. die finale punt bereken word op grond van die student se prestasie by ten minste drie assesserings in kwartaalmodules, vier assesserings in semestermodules en vyf assesserings in jaarmodules;
  2. ’n finale punt van ten minste 50% behaal word; en
  3. studente nie ’n addisionele geleentheid tot assessering het nie.

*NB In sodanige gevalle moet toestemming van die Dekaan vooraf verkry word.

  1. Die finale punte vir alle modules word eers bekendgemaak nadat die eksterne eksaminator/ eksaminatore /eksamen-kommissie die uitslae goedge­keur het.

3.2 Hereksamens, buitengewone eksamens en siekte-eksamens

  1. Beide hereksamens en buitengewone eksamens (insluitende siekte-eksamens) word in die hereksamen-periode geskryf. Buitengewone eksamens (of siekte-eksamens) het dieselfde duur en formaat as die hoofeksamen vir die module. Die duur en formaat van hereksamens mag van die hoofeksamen verskil.
  2. Studente wat tot ’n buitengewone eksamen (of siekte-eksamen) in ’n module toegelaat is, het nie ’n geleentheid om ’n hereksamen in die module te skryf nie.
  3. Studente mag in die volgende gevalle tot ’n hereksamen in ’n module toegelaat word:
  1. indien ’n finale punt van tussen 40% en 49% behaal is
  2. indien ’n finale punt van 50% of meer behaal is, maar die vereiste subminimum van 40% in die eksamen nie behaal is nie

 

  1. ’n Hereksamen moet toegestaan word aan studente wat ’n finale punt van tussen 40% en 49% in ’n eerstesemestermodule op eerstejaarsvlak behaal het.
  2. In die berekening van die finale punt vir die hereksamen dra die jaar-/semesterpunt ’n gewig van 50% en die hereksamenpunt ’n gewig van 50% (dws dieselfde as vir die hoofeksamen in die module). Die hoogste finale punt wat na die hereksamen behaal kan word, is 50%. Studente moet ’n subminimum van ten minste 40% in die hereksamen behaal om die module te slaag.
  3. In die berekening van die finale punt vir die buitengewone (of siekte-eksamen) geld dieselfde reël vir die berekening van die finale punt as vir die hoofeksamen (dws jaar-/semesterpunt dra ’n gewig van 50% en die eksamenpunt ’n gewig van 50%).
  4. Geen aanvullende eksamens word in die Fakulteit Geesteswetenskappe toegestaan nie.
  5. Geen spesiale hereksamen sal toegestaan word aan studente wat nie die geskeduleerde eksamen kon aflê nie.

Studente wat nie die hoofeksamen op die geskeduleerde dag geskryf het nie, mag om ’n buitengewone (of ’n siekte-eksamen) by die Studente­administrasiekantoor aansoek doen. Dosente mag nie aan studente goedkeuring verleen om gemelde eksamens af te lê nie. Aansoeke vir hierdie eksamens moet, tesame met ’n geldige mediese sertifikaat en/of stawende dokumentasie/beëdigde verklarings, binne drie werksdae na die hoofeksamen geskryf is, ingehandig word.

’n Mediese sertifikaat sal nie aanvaar word as daar aangedui word dat studente siek lyk of as studente die dokter meedeel dat hulle siek was en nie die eksamen kon skryf nie. Die mediese praktisyn moet gekonsulteer word voor of op die geskeduleerde eksamendatum.

’n Mediese sertifikaat sal nie aanvaar word as die fisiese adres en telefoonnommer van die dokter/mediese praktyk, asook die praktyknommer nie op die sertifikaat verskyn nie. In gevalle waar ’n ander rede as siekte gegee is, moet studente ’n beëdigde verklaring inhandig wat die rede vir hulle afwesigheid van die eksamen verskaf. Dit is die verantwoordelikheid van studente om seker te maak of hulle aansoeke goed- of afgekeur is.
Studente wat toegelaat is tot sodanige buitengewone of siekte-eksamens en nie die eksamen aflê nie, sal vir geen verdere buitengewone of siekte-eksamens kwalifiseer nie.

3.3 Spesiale eksamens in die Fakulteit Geesteswetenskappe
Studente wat aan al die vereistes vir die graad voldoen het, met die uitsondering van hoogstens een jaarmodule, of die ekwivalent daarvan, waarin hulle ’n finale punt van minstens 40% behaal het, kan deur die Dekaan, op aanbeveling van die betrokke departementshoof(de), toegelaat word tot spesiale eksamens aan die begin van die daaropvolgende semester. Studente wat ’n finale punt van minder as 40% in enigeen van die betrokke modules behaal het, kom nie in aanmerking nie. Die hoogste finale punt wat toegeken mag word, is 50%. Studente kwalifiseer slegs vir ’n spesiale eksamen indien hulle die voorgeskrewe eksamen in die finale studiejaar afgelê het.

3.4 Vrystelling van eksamen (promovering)
Geen promovering in enige modules word in die Fakulteit Geesteswetenskappe toegelaat nie.

3.5 Slaagvereistes
Tensy anders aangedui, geld Algemene Regulasie G.12.2 in dié verband.

3.6 Insae in eksamenantwoordstelle
Na die hoofeksamen sal departemente studente die geleentheid gee om insae in hulle antwoordstelle te hê en word terugvoering gegee oor die kriteria wat deur eksaminatore gebruik is. Die datum/tyd van die insae en die manier waarop terugvoering gegee sal word, word deur die betrokke departement bepaal. Kennisgewings sal by departemente opgesit word van wanneer die insae sal plaasvind. Studente wat nie die amptelike insae kan bywoon nie, mag by die betrokke department aansoek doen om ’n geleentheid om die eksamen­antwoordstel te sien. Geen dosent is onder verpligting om enige student, na twee weke van die aanvang van die volgende semester, ’n geleentheid te gee om die antwoordstel te sien nie.

3.7 Hernasien van eksamenantwoordstelle
Studente mag aansoek doen om hernasien van ’n eksamenantwoordstel ná insae van so ’n antwoordstel, maar binne 14 kalenderdae na aanvang van lesings in die volgende semester. Studente wat eksamenantwoordstelle wil laat hernasien, moet die voorgeskrewe fooi betaal en ’n versoek aan die Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe (Studenteadministrasiekantoor) rig, wat die betrokke departement in kennis sal stel indien ’n hernasien toegestaan word. Die antwoordstel sal dan deur ’n eksaminator, aangestel deur die hoof van die betrokke departement, hernagesien word. Punte sal aangepas word na aanleiding van die hernasien, maar geen hereksamen sal toegestaan word nie.

3.8 Bekendmaking van eksamenuitslae
Finale punte sal deur die Studenteadministrasiekantoor bekendgemaak word.
Dosente mag eksamenantwoordstelle na verloop van een jaar, vanaf die datum waarop die eksamen geskryf is, vernietig.

3.9 Departementele toetsbeleid
Departementele toetsbeleid sal deur middel van die studiegidse en/of departementele riglyne aan studente gekommunikeer word.

Studente wat nie aan die ondervermelde vereistes voldoen nie, kan van die Fakulteit uitgesluit word:

3.10 Bevorderingsvereistes
In die geval van voltydse studente moet ’n driejaargraad in ’n maksimum van vyf jaar, en ’n vierjaargraad in ’n maksimum van ses jaar voltooi word. In die geval van studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, moet ’n driejaargraad in ’n maksimum van ses jaar voltooi word. Tensy ander regulasies vir ’n program deur die Fakulteitsraad goedgekeur is, moet

  1. voltydse studente wat vir ’n driejaargraad ingeskryf is, in hulle eerste jaar van registrasie ten minste 60 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 80 krediete verwerf;
  2. voltydse studente wat vir ’n vierjaargraad ingeskryf is, in hulle eerste jaar van registrasie ten minste 80 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 85 krediete verwerf; en
  3. studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, in die geval van ’n driejaargraad, in hulle eerste jaar van registrasie ten minste 50 krediete en in elke daaropvolgende jaar ten minste 80 krediete verwerf.

3.11 Uitsluiting

  1. Uitsluiting na die eksamen in die eerste semester:
  1. eerstejaarstudente sal nie toegelaat word om hulle studies in die Fakulteit voort te sit indien hulle minder as 12 krediete in die eerste semester slaag nie;
  2. senior studente sal nie toegelaat word om hulle studies in die Fakulteit voort te sit indien hulle aan die begin van die akademiese jaar met spesifieke voorwaardes toegelaat is nadat hulle aan die einde van die vorige jaar uitgesluit was nie (dws hulle is slegs vir die eerste semester geregistreer, met die spesifieke voorwaarde dat hulle al die modules moet slaag waarvoor hulle geregistreer is) en dan nie aan die gestelde voorwaardes voldoen nie.
  3. In die geval van (a) mag studente wel by die Sentrale Appélkomitee (Akademiese Administrasie) teen die besluit appelleer.
  1. Uitsluiting na die eksamen in die tweede semester: Verwys na Regulasie 2.5.10.

3.12 Beëindiging van registrasie
Die Dekaan kan in die loop van ’n akademiese jaar, op aanbeveling van ’n toepaslike fakulteitskomitee, die registrasie van ’n student of registrasie vir ’n module kanselleer indien die student nie aan die minimum vereistes wat deur die fakulteitsraad ten opsigte van toetse, eksamens of enige ander werk gestel word, voldoen het nie, met dien verstande dat die student die Dekaan kan versoek om die beslissing ingevolge die voorgeskrewe prosedure in heroorweging te neem.

Spesifieke regulasies van toepassing op nagraadse kwalifikasies:
1. Akademiese geletterdheid
Daar kan van nuweling- nagraadse studente verwag word om bewys te lewer van hul akademiese geletterdheid.

2. Erkenning vir modules
Geen erkenning word verleen vir modules wat deel van ’n graadprogram vorm waarvoor die student reeds aan die graadvereistes voldoen het, of waar die student gelyktydig vir meerdere graadprogramme geregistreer is nie.

3. Erkenning van modules geslaag
Die maksimum tyd vir die behoud van krediete ná ’n onderbreking van studie is drie (3) jaar. Indien ’n student sy of haar nagraadse studie ná ’n onderbreking wil voortsit, sal hy of sy al die modules wat meer as drie jaar tevore geslaag is, moet herhaal.

4. Hernuwing van registrasie
4.1  Honneursgraad

 Behoudens uitsonderings wat die Dekaan op aanbeveling van die departementshoof goedkeur, kan ’n student hom of haar nie meer as twee maal vir die honneurseksamen in dieselfde module aanmeld nie.

 ’n Student vir ’n honneursgraad moet sy of haar studie, in die geval van voltydse studente, binne twee jaar voltooi, en in die geval van deeltydse studente, binne drie jaar na die eerste registrasie vir die graad, met dien  verstande dat die Dekaan, op aanbeveling van die departementshoof, in buitengewone omstandighede ’n vasgestelde beperkte verlenging van die tydperk kan goedkeur.

4.2 Magistergraad

  1. Studente aan die Universiteit registreer vir een studiejaar. Na verloop van ’n jaar moet studente wat hul studie aan die Universiteit wil voortsit hul registrasie hernu en die gelde vir hernuwing van registrasie betaal wat die Raad van tyd tot tyd voorskryf.
  2. Behoudens uitsonderings wat deur die dekaan, op aanbeveling van die departementshoof goedgekeur is, mag ’n student nie meer as twee keer vir die magistergraadeksamen in dieselfde vak inskryf nie. Dit geld vir sowel modules as die verhandeling.
  3. ’n Student aan wie die dekaan, op aanbeveling van die departementshoof toestemming verleen het om meer as twee keer vir die eksamen in dieselfde departement in te skryf, moet die volle gelde vir hierdie eksamen betaal.
  4. Studente wat vir ’n magistergraad ingeskryf het, moet hul studie binne twee jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi, uitgesonderd programme waar ’n langer tydperk vereis word.
  5. Hernuwing van registrasie ná die tweejaartydperk word net in spesiale omstandighede toegelaat waar die departementshoof goedkeuring kan verleen vir ’n beperkte vaste verlenging van hierdie tydperk ooreenkomstig die gestelde prosedures.

4.3 Doktorsgraad

  1. Studente aan die Universiteit registreer vir een studiejaar of vir ’n korter tydperk wat in die algemeen of in spesifieke gevalle deur die Raad bepaal word. Na verloop van ’n studiejaar of sodanige korter tydperk, moet studente wat hul studie aan die Universiteit wil voortsit, hul registrasie hernu en die gelde vir hernuwing van registrasie betaal wat die Raad van tyd tot tyd voorskryf.
  2. Behoudens ander fakulteitsregulasies moet ’n student vir ’n doktoraal sy of haar studie binne drie jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi. In spesiale omstandighede kan die dekaan, op aanbeveling van die departementshoof of die Nagraadse Komitee, goedkeuring verleen vir ’n beperkte vaste verlenging van hierdie tydperk.

5. Minimum studietydperke en vereistes vir grade
5.1  Honneursgraad

  1. 'n Honneursgraad word slegs aan 'n student toegeken indien aan die volgende minimum studietydperke voldoen is:
  1. Een akademiese jaar nadat die kwalifikasie verwerf is op grond waarvan toelating tot die studie verkry is.
  2. Waar ’n honneursgraad gelyktydig met ’n baccalaureusgraad geneem word, een akademiese jaar bo en behalwe die minimum tydperk voorgeskryf vir die betrokke baccalaureusgraad, met dien verstande dat die Universiteit, in geval van uitsonderlike meriete, die minimum bywoningstydperk in ooreenstemming met die Gemeenskaplike Statuut kan verkort.
  1. Benewens die bepalings van G.22.1, word ’n honneursgraad slegs aan ’n student toegeken, indien voldoen word aan al die vereistes in die fakulteitsregulasies neergelê.

5.2 Magistergraad
Die magistergraad word slegs aan ’n student toegeken indien minstens een jaar verloop het nadat die kwalifikasies op grond waarvan toelating tot magisterstudie verkry is, verwerf is, met dien verstande dat die student, behoudens ’n korter tydperk wat die Dekaan mag goedkeur, vir minstens twaalf maande vir die magistergraad aan hierdie Universiteit geregistreer moet wees.
’n Magistergraad word slegs aan ’n student toegeken, indien aan al die vereistes in hierdie fakulteitsregulasies neergelê, voldoen word.

5.3 Gedoseerde magistergraad en miniverhandeling

  1. ’n Gedoseerde magistergraad word aan ’n student toegeken op grond van eksamens (per module) en ’n miniverhandeling of ander navorsingsverwante uitsette.
  2. Besluite oor die omvang (getal krediete) van die navorsings-komponent van ’n gedoseerde magistergraad word geneem met inagneming daarvan dat die Universiteit ’n internasionaal erkende, navorsingsintensiewe Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling is.
  3. Miniverhandelings of ander tersaaklike vorms van navorsing word saamgestel en geëksamineer ooreenkomstig die instruksies wat in die fakulteitsregulasies bepaal word.

5.4 Doktorsgraad

Die doktorsgraad word slegs aan ’n student toegeken indien een van die volgende tydperke verstryk het:

  1. Minstens vier jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n drie­jarige baccalaureusgraad.
  2. Minstens drie jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n vier­jarige baccalaureusgraad.
  3. Minstens twee jaar na voldoening aan die vereistes vir ’n bacca­laureusgraad van vyf jaar of langer.
  4. Minstens twee jaar na voldoening aan al die vereistes vir ’n magistergraad.
  5. Met uitsondering van ’n korter tydperk wat deur die dekaan goedgekeur kan word, ten minste 12 maande sedert registrasie vir die doktoraal aan hierdie Universiteit verloop het.
  6. Benewens die bepalings van die toepaslike G. Regulasie word ’n doktorsgraad aan ’n student toegeken slegs as hy of sy voldoen het aan al die vereistes wat in die fakulteitsregulasies gestel is.

6. Prosedure ten opsigte van registrasie vir magister- en doktorsgraad­programme (navorsingsgerig)
’n Student wat vir ’n navorsingsgerigte nagraadse studieprogram registreer moet ononderbroke geregistreer wees. Indien ’n nagraadse student sy/haar studie onderbreek, is die student by hernuwing van registrasie aanspreeklik vir die volle onderriggelde van toepassing op die graadprogram.

Nagraadse studente wat nie hulle registrasie jaarliks hernu nie, word beskou as synde studente te wees wat ’n onderbreking in hul studies gehad het.

6.1 Studente vir die magistergraad (slegs verhandeling) moet:
’n Goedgekeurde navorsingsvoorstel indien voor registrasie vir ’n bepaalde graadrigting. Die navorsingsvoorstel vir die verhandeling moet deur die departementele navorsingskomitee goedgekeur word en by die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe ingedien word vir finale goedkeuring voordat met die navorsing voortgegaan kan word.

6.2 Studente vir ’n DPhil-, DLitt- of PhD-graad moet:
’n goedgekeurde navorsingsvoorstel indien voor registrasie vir ’n bepaalde graadrigting. Die navorsingsvoorstel vir die proefskrif moet deur die departementele navorsingskomitee goedgekeur word en by die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe ingedien word vir finale goedkeuring alvorens met die navorsing voortgegaan kan word;
’n proefskrif oor die goedgekeurde navorsingsonderwerp vir eksa­minering indien;
’n mondelinge doktorale eksamen slaag alvorens die graad toegeken sal word. Die doktorale eksamen, wat ook die formaat van ’n verdediging van die proefskrif of seminaar kan aanneem, word voor ’n paneel eksaminatore gedoen wat deur die Dekaan, in oorleg met die departementshoof, studieleier en navorsingskoördineerder, aangestel word.

6.3 Studente wat vir ’n gedoseerde magistergraadprogram registreer, moet in gevalle waar daar etiese implikasies is, vooraf die navorsingsvoorstel vir die miniverhandeling aan die Navorsingsetiekkomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe voorlê vir goedkeuring, alvorens daar met die navorsing begin word. Sien ook die toepaslike Algemene Regulasies.

7. Assessering
Die ondergenoemde regulasies geld vir assessering van nagraadse modules vir honneurs- en gedoseerde magisterprogramme wat deur departemente in die Fakulteit Geesteswetenskappe aangebied word. Departemente kan in uitsonderingsgevalle, in oorleg met die Dekaan, alternatiewe reëlings vir bepaalde modules tref.

Alle reëlings ten opsigte van assessering van ’n bepaalde module moet by die aanvang van die module in die studiegids aan studente bekendgemaak word.

7.1 Eksamens

  1. ’n Minimum vorderingspunt van 40% in ’n module is nodig om toelating tot die eksamen te kry.
  2. In die berekening van die finale punt vir ’n module waarin ’n eksamen afgeneem word, dra die vorderingspunt ’n gewig van minstens 50% en die eksamenpunt ’n gewig van minstens 50%. Die vorderingspunt word bereken op grond van ten minste twee assesserings wat gedurende die tydperk waarin die module aangebied word, gedoen is.
  3. Om in ’n module te slaag, moet ’n finale punt van minstens 50% en ’n minimum eksamenpunt van 40% behaal word, met uitsondering van gevalle waar ’n module sonder ’n geskeduleerde eksamen afgesluit word. ’n Student slaag ’n module met lof indien ’n finale punt van minstens 75% behaal is.
  4. ’n Module mag afgesluit word sonder ’n geskeduleerde eksamen*, met dien verstande dat:
  1. al die uitkomste van die betrokke module langs die weg van formatiewe assessering geëvalueer is;
  2. die finale punt bereken word op grond van die student se prestasie by ten minste drie assesseringsgeleenthede;
  3. ’n finale punt van minstens 50% behaal word;
  4. studente nie ’n tweede geleentheid tot assessering, soort­gelyk aan ’n hertoets of ’n hereksamen, het nie.

*NB Toestemming van die Dekaan moet in sodanige gevalle vooraf verkry word.

  1. Die finale punte vir alle modules sal eers bekendgemaak word nadat die eksamenkommissie van die Fakulteit Geestesweten­skappe ’n beslissing oor finale resultate gegee het. Geen uitslae sal voortydig bekendgemaak word nie.

7.2 Hereksamens en buitengewone (insluitende siekte-) eksamens
Slegs waar van toepassing.

7.3 Eksamenvrystelling (promovering)
Geen promovering in enige modules geld in die Fakulteit Geestesweten­skappe nie.

7.4 ’n Formele eksamen (mondelings of skriftelik) is ’n vereiste vir doktorsgrade in die Fakulteit Geesteswetenskappe, tensy die Dekaan vrystelling gee. Sien ook die toepaslike G. Regulasie.

8. Graad met lof
Behoudens ander bepalings by individuele programme moet ’n student ’n geweegde gemiddelde van minstens 75% behaal ten einde die graadkwalifikasie met lof te verwerf. Die doktorsgraad word nie met lof toegeken nie.

9. Konsepartikel vir publikasie
Die dekaan kan vereis dat 'n student voor of gelyktydig met die indiening van die verhandeling 'n konsepartikel vir publikasie by die studieleier moet indien. Die konsepartikel moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die verhandeling gedoen het en moet deur die studieleier goedgekeur wees. Die studieleier sal dan die geleentheid hê om toe te sien dat die artikel deur die prosesse van hersiening en hervoorlegging gaan, soos nodig mag wees ten einde die artikel te publiseer.

Voor of by die indiening van 'n proefskrif, moet die student 'n bewys, uitgereik deur 'n geakkrediteerde joernaal dat 'n artikel ingedien is, by die Hoof: Studenteadministrasie indien. Die artikel wat ingedien is, moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die proefskrif gedoen het en moet deur die studieleier/promotor goedgekeur wees.

Die promotor sal verantwoordelik wees daarvoor om toe te sien dat die artikel deur die prosesse van hersiening en hervoorlegging gaan, soos nodig mag wees.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences