Jaarboeke

Eerste en gevorderde baccalaureusgrade (G.1-G.15)

I.           EERSTE EN GEVORDERDE BACCALAUREUSGRADE (G1.-G.15)

G.1      TOELATING     

1.   Om vir ’n eerste baccalaureusgraad aan die Universiteit te registreer, moet ’n kandidaat

                            (a)     oor ’n Nasionale Senior Sertifikaat, wat deur Umalusi gesertifiseer is, beskik;

(b)    aan die besondere vereistes vir toelating tot bepaalde modules en studierigtings voldoen, soos in die toelatingsreglemente en fakulteits-regulasies van die onderskeie fakulteite en departemente voorgeskryf.      

 2.  Toelatingsvereistes vir kandidate met 'n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

(a)    Die minimum statutêre toelatingsvereistes vir hoër onderwys is 'n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat deur Umalusi gesertifiseer is, met 'n prestasievlak van 4 (50-59%) in vier erkende 20-kredietvakke uit die aangewese vaklys.

Neem asseblief kennis dat Lewensoriëntering 'n 10-kredietvak is.

(b)    Ten einde toelating te verkry tot 'n fakulteit en spesifieke programme, word toepaslike kombinasies van erkende NSS-vakke asook spesifieke vlakke van prestasie van voornemende studente vereis.

 In hierdie verband word die vasstelling van 'n toelatingspunttelling (TPT) uiteengesit en 'n opsomming van die fakulteitspesifieke vereistes, d.w.s. die toelatingspunttelling (TPT) per program, asook die spesifieke vakke en die vereiste prestasievlak wat per program vereis word, verskaf. Neem asseblief kennis dat daar addisionele vakvereistes mag wees, wat onder “Regulasies” in die Regulasies-publikasies van die onderskeie fakulteite aangedui word.

(c)     Vasstelling van 'n Toelatingspunttelling (TPT, voorheen M-telling)

Die berekening is gebaseer op 'n kandidaat se prestasie in ses van die erkende 20-kredietvakke. Die telling gebruik die NSS-prestasieskaal, wat van 1 tot 7 strek. Hiervolgens is 42 die hoogste TPT wat behaal kan word.

Lewensoriëntering word by die berekening van die TPT uitgesluit vir toelating per fakulteit.          

Prestasiekode

Prestasievlak

Punte %

7

Uitstekende prestasie

80-100%

6

Meriete prestasie

70-79%

5

Beduidende prestasie

60-69%

4

Bevredigende prestasie

50-59%

3

Gemiddelde prestasie

40-49%

2

Elementêre prestasie

30-39%

1

Nie behaal nie

0-29%

 

Voorlopige toelating word gebaseer op die resultate verkry in die finale Graad 11-eksamen.

Neem asseblief kennis: Die finale Graad 12-resultate sal egter van deurslaggewende belang wees vir toelating.

Alternatiewe toelatingsweë: Kandidate met ’n TPT wat laer is as wat vereis word of sonder ’n vereiste vak soos Wiskunde, mag vir toelating tot 'n fakulteit oorweeg word, indien hulle voldoen aan die addisionele assesseringskriteria soos deur die Universiteit van tyd tot tyd bepaal. Kandidate wat voldoen aan die standaard toelatingsvereistes van die Universiteit, sal egter voorkeur geniet.

 

3.   ’n Kandidaat wat nie aan die vereistes in G.1.1(a) hierbo voldoen nie, kan ook vir toelating oorweeg word indien hy of sy

                   (a)    oor ’n sertifikaat beskik wat met die oog op toelating deur die Universiteit aanvaar word as ’n sertifikaat soos bedoel in G.1.1(a); of

                   (b)    ’n gegradueerde van ’n ander tersiêre inrigting is, of tot die status van ’n gegradueerde van so ’n inrigting toegelaat is; of

                   (c)     ’n toelatingseksamen slaag soos van tyd tot tyd deur die Universiteit voorgeskryf word.

 

4.  Die Senaat kan die aantal studente wat toegelaat mag word om vir ’n studierigting te registreer, beperk. In só ’n geval kies die betrokke dekaan na goeddunke uit die studente wat vir registrasie kwalifiseer, diegene wat toegelaat mag word.

 

5.    Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies en die bepalings van G.1.3 en G.54, word ’n kandidaat slegs tot die studie vir ’n nagraadse baccalaureusgraad toegelaat indien hy of sy reeds in besit is van ’n erkende baccalaureusgraad.

 

G.2      REGISTRASIE

 

           1.   (S.58) ’n Student registreer aan die Universiteit op die tyd en wyse wat die Raad van tyd tot tyd bepaal en deur sodanige registrasie onderwerp die student hom of haar aan die reëls van die Universiteit.

           2.   Registrasie vind plaas ooreenkomstig die regulasies wat geld vir die betrokke graad waarvoor die student registreer, met dien verstande dat die verantwoordelikheid vir voldoening hieraan by die student self berus.

3.   Behoudens uitsonderings deur die betrokke dekaan goedgekeur, kan ’n student slegs vir ’n module registreer indien die amptelike klasrooster volledige klasbywoning moontlik maak en geen toets- of eksamen-roosterbotsings voorkom nie, met dien verstande dat dit nie van toepassing is op afstandonderrigstudente nie.

4.   Behoudens uitsonderings wat die dekaan in oorleg met die betrokke departementshoof mag goedkeur, word ’n student nie toegelaat om later as 15 dae na aanvang van die lesings in die betrokke kwartaal of semester vir ’n module te registreer nie.

5.   Keerdatums vir die wysiging of staking van modules (jaar-, semester- en kwartaalmodules) word jaarliks in die Universiteitskalender gepubliseer. Indien die wysiging of staking vóór of op die betrokke keerdatums plaasvind, sal die module nie op die student se akademiese rekord verskyn nie. Nadat die keerdatums vir module- en studierigtingwysigings verstryk het, vind wysigings alleen plaas na goedkeuring deur die dekaan op aanbeveling van die departementshoof. In laasgenoemde geval word enige module wat gestaak is wel op die student se volle akademiese rekord getoon.

6.   Registrasie vir ’n module wat nie vir graad- of diplomadoeleindes geneem word nie, kan slegs met goedkeuring van die dekaan geskied.

7.   ’n Student wat geregistreer het, moet alle verskuldigde gelde betaal voor of op die tydstip wat die Raad bepaal, met dien verstande dat ’n student wat sy of haar registrasie kanselleer, nie geregtig is op terugbetaling van enige gelde nie en dus aanspreeklik bly vir die totale bedrag.

 

G.3      HERNUWING VAN REGISTRASIE

 

1.   Studente van die Universiteit word geregistreer vir een studiejaar, of die korter tydperk wat die Raad oor die algemeen of in ’n besondere geval bepaal. Na verstryking van bedoelde studiejaar of tydperk moet daardie persoon, indien hy of sy ’n student van die Universiteit wil bly, sy of haar registrasie hernu en ten opsigte van so ’n hernuwing die gelde betaal wat van tyd tot tyd deur die Raad voorgeskryf word.

            2.   Die registrasie van ’n student word slegs hernu indien hy of sy

(a)    in ’n bepaalde studiejaar, in die geval van voltydse studente, in ten minste die ekwivalent van vier semestermodules, en in die geval van na-uurse studente, afstandonderrigstudente en studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, in ten minste die ekwivalent van twee semestermodules geslaag het, met dien verstande dat fakulteitsrade ander vorderingsvereistes kan neerlê waaraan studente met die oog op hertoelating moet voldoen;

(b)    die graadprogram waarvoor geregistreer is, in die geval van voltydse studente, steeds binne die voorgeskrewe minimum tydperk plus twee jaar, en in die geval van na-uurse studente, afstandonderrigstudente en studente wat ’n goedgekeurde verlengde studieprogram volg, steeds binne die voorgeskrewe minimum tydperk plus drie jaar kan voltooi, met dien verstande dat fakulteitsrade ander vorderings- vereistes kan neerlê waaraan studente met die oog op hertoelating moet voldoen.

3.   ’n Student wat nie aan die vereistes in G.3.2 gestel voldoen nie en wat hertoelating tot die fakulteit verlang, kan die dekaan skriftelik versoek dat sy of haar aansoek om hertoelating tot die fakulteit ingevolge die voorgeskrewe prosedure oorweeg word.

 4.   Regulasie G.3.2 is met die nodige veranderinge van toepassing op studente van ander tersiêre inrigtings wat by die Universiteit registreer.

G.4      BEËINDIGING VAN REGISTRASIE

 ’n Dekaan kan in die loop van ’n akademiese jaar, op aanbeveling van ’n toepaslike fakulteitskomitee, die registrasie van ’n student of registrasie vir ’n module kanselleer, indien die student nie aan die minimum vereistes wat deur die fakulteitsraad ten opsigte van toetse, eksamens of enige ander werk gestel word, voldoen het nie, met dien verstande dat die student die dekaan kan versoek om die beslissing ingevolge die voorgeskrewe prosedure in heroorweging te neem.

G.5      TOEPASSING VAN OU EN NUWE REGULASIES

1.   Indien ’n regulasie waarvolgens ’n leergang saamgestel is, gewysig word, mag ’n student wat sy of haar leergang onder ’n ou regulasie begin het en wat hul studie nie onderbreek het nie, die leergang volgens die ou regulasie voltooi, met dien verstande dat ’n fakulteitsraad oorgangsbepalings kan formuleer ten einde sodanige student in staat te stel om die studie volgens die nuwe regulasie te voltooi.

2.   ’n Student wat vir ’n graadprogram geregistreer was en

  1. versuim het om sy of haar registrasie vir sodanige graadprogram in die daaropvolgende kalenderjaar te hernu; of
  2. wat in ’n studiejaar gedruip het; of
  3. kragtens fakulteitsregulasies nie voldoen het aan die voorgeskrewe vorderingsvereistes nie,

word geag asof hy of sy studie onderbreek het en verbeur die reg om die studies volgens ’n ou regulasie voort te sit, met dien verstande dat ’n dekaan in uitsonderlike gevalle aan sodanige student die vergunning kan verleen om sy of haar studie onder sodanige voorwaardes voort te sit as wat die dekaan mag bepaal.

G.6      GELYKTYDIGE REGISTRASIE VIR TWEE STUDIERIGTINGS

’n Student mag met verlof van die betrokke dekaan/dekane gelyktydig vir ’n graad, diploma of sertifikaat en ’n ander graad, diploma of sertifikaat, hetsy voor- of nagraads, registreer, onderworpe aan die regulasies wat op die betrokke studierigtings van toepassing is en enige ander voorwaardes wat die dekaan/ dekane mag neerlê op voorwaarde dat daar geen oorvleueling tussen die kursus-inhoude van die eerste graad, diploma of sertifikaat en die tweede graad, diploma of sertifikaat mag wees nie. Sodanige vergunning kan deur die betrokke dekaan/ dekane teruggetrek word, indien die student nie bevredigend presteer nie.

G.7      MINIMUM STUDIETYDPERKE EN VEREISTES VIR BACCALAUREUSGRADE

(G.S.16) ’n Baccalaureusgraad word slegs aan ’n student toegeken, indien hy of sy voldoen het aan die minimum studietydperk en ander vereistes wat vir die verwerwing van die graad in die Gemeenskaplike Statuut en die regulasies van die Universiteit gestel word.

G.8      ERKENNING VAN MODULES AAN HIERDIE UNIVERSITEIT GESLAAG

1.   (G.S.16) Modules kan alleen vir graaddoeleindes erken word, indien die geldigheidsdatum van die student se Nasionale Senior Sertifikaat, soos bepaal in G.1.1, vroeër is as 2 April van die akademiese jaar waarin sodanige module voltooi is.

2.   Indien ’n student sy of haar studie wil voortsit na ’n onderbreking, kan die dekaan, op aanbeveling van die departementshoof, van sodanige student vereis dat hy of sy met die oog op die voortsetting van studies, bepaalde geslaagde modules herhaal of aanvullende werk daarin doen.

3.   Tydperke van bywoning en krediete in modules wat ’n student aan die Universiteit verwerf het en wat nie deel gevorm het van die vereistes van ’n graad wat reeds aan ’n student toegeken is nie, kan deur die dekaan in oorleg met die betrokke departementshoof aanvaar word vir ’n baccalaureus-graad, mits aan die bepalings van G.8.1 en G.9.4(a) voldoen word.

4.   Tydperke van bywoning en krediete in modules wat ’n student aan die Universiteit verwerf het en wat deel gevorm het van die vereistes van ’n graad wat reeds aan die student toegeken is, kan deur die dekaan in oorleg met die betrokke departementshoof vir ’n graad in ’n ander fakulteit, of vir ’n tweede baccalaureusgraad in dieselfde fakulteit aanvaar word, mits daar geen oorvleueling tussen die kursusinhoude van die eerste graad en die graad in die ander fakulteit of die tweede graad in dieselfde fakulteit voorkom nie en voorts dat aan die bepalings van G.9.4(b) voldoen word.

G.9      ERKENNING VAN MODULES/STUDIE-EENHEDE AAN ANDER TERSIÊRE INRIGTINGS GESLAAG EN DIE TOELATING VAN SODANIGE STUDENTE

1.   (G.S.17) ’n Student wat by ’n ander tersiêre inrigting geregistreer was, moet by aansoek om toelating tot hierdie Universiteit ’n sertifikaat voorlê met betrekking tot sy of haar gedrag aan eersgenoemde tersiêre inrigting, asook ’n volledige amptelike studierekord van die betrokke tersiêre inrigting en enige ander dokumente wat die departementshoof of dekaan mag vereis.

2.   (G.S.18) Behoudens andersluidende bepalings in die Gemeenskaplike Statuut, kan die dekaan as deel van die bywoning van ’n student vir ’n baccalaureusgraad aan hierdie Universiteit, bywoningstydperke aanvaar as ingeskrewe gematrikuleerde student aan enige ander tersiêre inrigting wat die Senaat vir hierdie doel goedgekeur het. Behoudens die bepalings van G.9.3, kan die dekaan verder ook sertifikate van bekwaamheid aanvaar wat in enige module deur sodanige ander tersiêre inrigting uitgereik is, en sodanige modules erken deur vrystelling van klasbywoning en die eksamen te verleen, met dien verstande dat sodanige sertifikaat van bekwaamheid aanvaar word slegs ten opsigte van ’n module wat deur die tersiêre inrigting waar dit geneem is vir goedgekeurde studieprogramme erken word, en met dien verstande verder dat aan die bepalings van G.8.1 voldoen word. Die betrokke departementshoof kan aanvullende vereistes stel indien ’n student met daaropvolgende modules in die betrokke vak wil voortgaan.

3.   Indien daar oorvleueling in die kursusinhoude van die graad waarvoor die student wil inskryf of ingeskryf is en die graad wat reeds deur ’n ander instansie toegeken is, voorkom, mag die dekaan nie sertifikate van bekwaamheid in enige module aanvaar nie en nie enige module wat deel is van die graad wat reeds toegeken is, erken nie.

4.   ’n Baccalaureusgraad word slegs ingevolge subparagraaf (2) toegeken indien

  1. die student se bywoningstydperke ten minste gelyk is aan die volle tydperk wat vir die graad voorgeskryf word;
  2. die student, behoudens andersluidende vereistes wat deur die Senaat op grond van vooraf goedgekeurde geakkrediteerde programme goedgekeur is, modules aan die Universiteit bygewoon het wat deur die Universiteit vereis word

(i)  vir ’n graad waarvoor die bywoningstydperk drie akademiese jare is, ten minste gedurende twee akademiese jare, met dien verstande dat hy of sy ten minste die helfte van die totale getal modules voorgeskryf vir die graad, as geregistreerde student vir daardie graad bygewoon het;

(ii)  vir ’n baccalaureusgraad waarvan die bywoningstydperk vier akademiese jare is, minstens gedurende die finale twee akademiese jare;

(iii)  vir ’n baccalaureusgraad waarvoor die bywoningstydperk vier en ’n halwe akademiese jare is, minstens gedurende die finale twee en ’n halwe akademiese jare;

(iv)  vir ’n baccalaureusgraad waarvoor die bywoningstydperk vyf akademiese jare is, minstens gedurende die finale twee akademiese jare;

 (v)  vir ’n baccalaureusgraad waarvoor die bywoningstydperk vyf en ’n halwe akademiese jare is, minstens gedurende die finale twee en ’n halwe akademiese jare;

 (vi)   vir ’n baccalaureusgraad waarvoor die bywoningstydperk ses akademiese jare is, minstens gedurende die finale drie akademiese jare, met dien verstande dat vir die Baccalaureus Artium (Teologie), modules minstens gedurende die finale twee akademiese jare bygewoon is.

G.10    VEREISTES VIR EKSAMENTOELATING, BEVORDERING TOT ‘N VOLGENDE STUDIEJAAR OF IN ‘N MODULE, ASOOK BYWONINGSMODULES

1.   Bevredigende bywoning, voorbereiding en betaling van klasgelde

(a) ’n Student word slegs tot ’n eksamen of die bevordering of promovering in ’n module toegelaat, indien die dosent in daardie module in oorleg met die departementshoof sertifiseer dat die student deur die behoorlike uitvoering van sy of haar werk, hom-/haarself bevredigend voorberei het en aan die bywoningsvereistes voldoen het.

(b) ’n Student kan toelating tot die eksamen, of bevordering tot ’n volgende studiejaar of in ’n module geweier word, indien die vasgestelde klasgelde soos voorgeskryf, nie betaal is nie. ’n Student se finale punte kan ook weerhou word indien sy/haar klasgelde uitstaande is.

(c)  ’n Student mag toelating tot die eksamen, of bevordering tot ’n volgende studiejaar of in ’n module geweier word, indien hy of sy nie aan die bywoningsvereistes voldoen nie.

(d) In uitsonderlike gevalle, indien dit toepaslik geag word, mag die dekaan van ’n fakulteit ’n student toelaat om ’n module of gedeelte van ’n module nie by te woon nie.

2.   Toelating tot eksamen

  Behoudens andersluidende bepalings in fakulteitsregulasies, word geen minimum jaar- of semesterpunt vir toelating tot die eksamen vereis nie, met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules in 'n fakulteit nie op dieselfde wyse hanteer hoef te word nie, alhoewel 'n groot mate van eenvormigheid gewens is.

3.   Bevordering tot ’n volgende studiejaar en promovering in ’n module

 (a)  Studente wat die vereiste standaard soos in G.10.3(b) bepaal in ’n module bereik het, kan op grond van magtigende fakulteitsregulasies tot ’n volgende semester of vlak in ’n vak bevorder of gepromoveer word sonder die aflegging van die voorgeskrewe eksamen, met dien verstande dat ’n student alleen krediet ontvang vir gepromoveerde modules, indien die studie in daardie vak afgesluit word deur die suksesvolle aflegging van ’n voorgeskrewe eksamen in ’n opvolgende module van die vak.

 (b)  Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies, bereik ’n student die vereiste standaard van vordering in ’n module soos bedoel in G.10.3(a) indien hy of sy deur die behoorlike uitvoering van sy of haar werk, hom- of haarself bevredigend voorberei het en daarbenewens ’n jaar- of semesterpunt van minstens 65% in die betrokke module behaal het, soos saamgestel en bereken ingevolge G.11.1(a) en (b).

(c)  Studente wat aan ’n ander universiteit in ’n module bevorder is of gepromoveer het sonder om daarin eksamen af te lê, kan tot ’n volgende semester of vlak in die vak, na gelang van die geval, aan hierdie Universiteit toegelaat word, met dien verstande dat ’n student alleen krediet ontvang vir ’n gepromoveerde  module, nadat ’n opvolgende module in die vak aan hierdie Universiteit in ’n eksamen geslaag is.

4.   Bywoningsmodules

 Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies, verwerf ’n student krediet vir ’n bywoningsmodule slegs indien hy of sy klasse tot bevrediging van die betrokke dosente bygewoon het en ’n jaar- of semesterpunt van minstens 50% vir sy of haar werk behaal het.

G.11    JAAR- EN SEMESTERPUNTE EN HERHALING VAN MODULES      

 1.   Jaar- en semesterpunte

 (a)  Elke fakulteit moet by wyse van fakulteitsregulasies bepaal hoe jaar- en semesterpunte saamgestel word, met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules in 'n fakulteit nie op dieselfde wyse hanteer hoef te word nie, alhoewel 'n groot mate van eenvormigheid gewens is.

 (b)  Aan die begin van ’n akademiese jaar of ’n semester lig die departementshoof op ’n gepaste wyse die studente in sy of haar departement in oor die formule vir die berekening van jaar- of semesterpunte in modules in daardie departement. Voor elke toets word studente ook ingelig ten opsigte van die gewig wat aan daardie toets se uitslag verleen sal word by die berekening van die jaar- of semesterpunt. Elke departementshoof maak die jaar- of semesterpunte aan die studente in sy of haar departement bekend op die laatste by die amptelike afsluiting van lesings.

2.   Herhaling van modules

(a)  ’n Student wat in ’n bepaalde eksamen druip, is verplig om die module(s) wat deur die eksamen afgesluit word, opnuut by te woon/ te herhaal, tensy die dekaan op aanbeveling van die betrokke departementshoof vrystelling van klasbywoning/ herhaling verleen, in welke geval die jaar- of semesterpunt van ’n student in ag geneem moet word en vrystelling slegs een maal ten opsigte van ’n bepaalde module toegestaan word.

(b)  Aansoek om vrystelling van klasbywoning moet binne 14 dae na die aanvang van die lesings ingedien word, met dien verstande dat dekane verdienstelike laat aansoeke ook kan oorweeg.

(c)  ’n Student wat ’n module gedruip het, kan op grond van die prestasie in ’n opvolgende semester in die betrokke module, deur die dekaan in oorleg met die departementshoof van die eksamen in sodanige module vrygestel word en krediet daarvoor ontvang.

G.12    ASSESSERING (Eksamens, toetse en skripsies)

1.   Eksamens en skripsies

’n Eksamen in ’n module mag mondeling en/of skriftelik wees. Skripsies word voorberei en geëksamineer soos in fakulteitsregulasies bepaal.

2.   Slaagvereistes

2.1    Ten einde in ’n module te slaag, moet ’n student

                           (i)  die minimum eksamenpunt behaal wat vir daardie module voorgeskryf word;

                           (ii)  ’n finale punt van minstens 50% behaal;

                           (iii)  aan die subminimum in onderdele van modules voldoen, soos in die regulasies van die betrokke fakulteite bepaal.

2.2    Elke fakulteit moet by wyse van fakulteitsregulasies bepaal watter gewig toegeken word aan die jaar- of semesterpunt en die eksamenpunt by die berekening van die finale punt van die student, met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules in 'n fakulteit nie op dieselfde wyse hanteer hoef te word nie, alhoewel 'n groot mate van eenvormigheid gewens is.

2.3    Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies, slaag ’n student ’n module met lof indien hy of sy ’n finale punt van minstens 75% behaal.

3.   Aanvullende eksaminering

Na aflegging van ’n eksamen, kan die eksaminatore met die oog op die toekenning van ’n finale eksamenpunt, ’n student oproep om ’n aanvullende eksamen oor bepaalde aspekte van die werk in ’n module af te lê.

4.   Hereksamens

4.1  Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies, kan ’n student tot ’n hereksamen in ’n module toegelaat word indien

        (a) ’n finale punt van tussen 40% en 49% behaal is; of

 (b) ’n slaagpunt behaal is, maar die vereiste subminimum in die eksamengedeelte van die module of onderdele daarvan nie behaal is nie.

4.2  Indien die module waarin ’n finale punt tussen 40% en 49% behaal is, ’n eerstesemestermodule op 100-vlak is, moet ’n hereksamen toegestaan word.

4.3 Behoudens andersluidende fakulteitsregulasies, moet ’n student om in ’n hereksamen te slaag, ’n finale punt van minstens 50% behaal. Die semester- of jaarpunt word nie in berekening gebring nie en die hereksamenpunt is die finale punt.

4.4 Die hoogste finale punt wat aan ’n student in ’n hereksamen toegeken kan word, is 50%.

4.5 Spesiale hereksamens word nie gereël vir studente wat nie gedurende die hereksamentydperk die eksamen op geskeduleerde tye kan aflê nie.

4.6 Hereksamens dek dieselfde leerinhoud as wat vir die eksamen die geval was.   

5.   Buitengewone eksamens (insluitend siekte-eksamens)

5.1 ’n Student wat deur onvermydelike omstandighede of deur siekte verhinder is om vir die eksamen voor te berei of daaraan deel te neem, kan deur die dekaan tot ’n buitengewone eksamen in die betrokke module(s) toegelaat word.

5.2 ’n Aansoek om ’n buitengewone eksamen af te lê, moet vergesel van toepaslike stawende bewyse, op die voorgeskrewe wyse by die dekaan ingedien word binne drie dae na die datum van die betrokke eksamen wat weens die onvermydelike omstandighede nie afgelê kon word nie, met dien verstande dat ’n aansoek wat om ’n aanvaarbare rede nie betyds ingedien kon word nie, ook vir oorweging voorgelê kan word.

5.3 Die tydperk vir die aflegging van ’n buitengewone eksamen word deur die dosent in oorleg met die betrokke departementshoof bepaal, met dien verstande dat die eksamen so spoedig moontlik na die onvermydelike omstandighede of siekte verby is, afgeneem behoort te word, en met dien verstande verder dat so ’n eksamen in ’n module in nie meer as een eksamenperiode afgelê mag word nie.

5.4 Indien 'n buitengewone eksamen toegestaan word, betaal die student die voorgeskrewe gelde, met dien verstande dat in gevalle waar die koste vir die afneem van die eksamen die voorgeskrewe gelde oorskry, sodanige addisionele koste van die student verhaal kan word.

6.   Spesiale eksamens

6.1 ’n Student wat ’n beperkte aantal modules kortkom om ’n graad te voltooi, kan kragtens fakulteitsregulasies toegelaat word tot ’n spesiale eksamen.

6.2  Indien die spesiale eksamen voor 31 Januarie afgelê word, moet sodanige student nie weer vir die betrokke module/s registreer nie en die eksamen word soos ’n hereksamen behandel.

6.3  Indien die spesiale eksamen na 31 Januarie afgelê word, moet die student weer vir die betrokke module/s registreer en moet ’n semester-, eksamen en finale punt op ’n gepaste wyse verwerf word.

6.4 In gevalle waar ’n spesiale eksamen na 31 Januarie afgelê word, word die uitslag van die eksamen nie in aanmerking geneem met die oog op die promosieplegtighede in Maart/April nie en in gevalle waar ’n spesiale eksamen na 30 Junie afgelê word, word die uitslag van die eksamen nie in aanmerking geneem met die oog op die promosieplegtighede in September nie. Uitslae van spesiale eksamens moet voor 15 Februarie en 15 Julie onderskeidelik by die Hoof: Studenteadministrasie ingedien word.

6.5  Al die regulasies wat geld vir ’n hereksamen, is ook van toepassing op ’n spesiale eksamen (Sien G.12.4).

6.6  ’n Student kwalifiseer slegs vir ’n spesiale eksamen indien hy/sy die voorgeskrewe eksamen in die finale (voorafgaande) studiejaar afgelê het.

            7.   Algemeen

Indien ’n student ’n eksamen afgelê het, is hy/sy nie daarop geregtig om aansoek te doen vir ’n buitengewone eksamen (insluitende ’n siekte-eksamen) op grond van die volgende nie:

(a)    onvermelde siekte ten tyde van die eksamen;

(b)    dat die kandidaat swak voorberei was as gevolg van siekte; of

(c)     die teenwoordigheid van onvermelde spesiale omstandighede ten tyde van die eksamen.

G.13    EKSAMINATORE

’n Eksamen in ’n module moet afgeneem word deur een of meer eksaminatore wat nie belas is met die onderrig in daardie onderdeel van die module by die studente wat geëksamineer word nie, saam met een of meer van die dosente van so ’n module. Indien dit weens die dood, bedanking, afwesigheid, siekte of ander onvermoë van die betrokke dosent prakties onuitvoerbaar is, kan die dekaan van die betrokke fakulteit, na oorleg met die betrokke departementshoof, die nodige reëlings tref.

G.14    INSAE EN HERNASIEN VAN EKSAMENANTWOORDSTELLE

Departemente gee na eksaminering terugvoering aan studente oor die raamwerk wat eksaminatore tydens eksaminering gebruik, op voorwaarde dat, in die geval van afstandonderrig die dekaan ander reëlings kan tref om terugvoering aan studente te gee. Die wyse waarop terugvoering geskied, word deur die departementshoof  bepaal. Studente kan ná insae en binne 14 dae na die aanvang van die lesings in die volgende semester en na betaling van die voorgeskrewe geld, aansoek doen om die hernasien van ’n antwoordstel deur ’n eksaminator wat deur die betrokke departementshoof aangewys word.

G.15    VOLDOENING AAN GRAADVEREISTES EN GRAADVOORREGTE

Met die uitsondering van ’n eregraad, word ’n graad slegs aan ’n student toegeken indien hy of sy aan al die vereistes vir die betrokke graad voldoen het en die standaard van bekwaamheid bereik het wat vir elke module vir die graad vereis word, met dien verstande dat niemand op enige voorregte verbonde aan ’n graad geregtig is nie, alvorens die graad tydens ’n promosieplegtigheid aan hom of haar toegeken is.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences