Jaarboeke

Gedragskode: Vergaderings en byeenkomste

A.      VERTREKPUNTE

         Die Universiteit van Pretoria weerspieël die samelewing waarin dit funksioneer en is daarom onderworpe aan dieselfde prosesse wat ’n impak het. Hierdie prosesse mag lei tot meningsverskille en inherente spanning. In navolging van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is dit deel van die missie van die Universiteit van Pretoria om ’n kultuur van vryheid van spraak en vrye meningsuiting op kampus te vestig. Hierdie missie kan egter slegs bereik word indien dit plaasvind in ’n omgewing waar alle partye die reg uitoefen terwyl hulle tegelykertyd die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, aanvaar. Personeellede en studente het die reg om hulle ontevredenheid of meningsverskil oor sekere sienings of aksies uit te spreek, onderworpe aan spesifieke voorwaardes. Hierdie voorwaardes sluit die volgende in:

  • ? sensitiwiteit vir die regte van ander,
  • respek vir politiese, kulturele en geloofsverskille en
  • verdraagsaamheid teenoor opponerende menings.

         Vryheid van spraak moet ook individuele privaatheid, waardigheid en persoonlike keuse in ag neem. Toewyding aan hierdie regulasie impliseer dat studente en personeellede hierdie verantwoordelikhede aanvaar en dat hulle hulleself daaraan onderwerp.

 

B.      DOEL

         Om met die oog op die voortgesette verantwoordelike beoefening van vryheid van spraak en meningsuiting tydens vergaderings en byeenkomste op ’n gedragskode ooreen te kom.

 

C.      WOORDOMSKRYWING

1.       Sprekers

          Persone van binne of buite die Universiteit, ongeag hul politieke of ander verbintenisse, wat ’n uitnodiging ontvang om personeel, studente en die breë publiek op die universiteitsterrein toe te spreek, of aan enige ooreengekome verrigtinge of handelinge deel te neem.

 

2.       Organiseerders

2.1    Die VSR en/of studenteligggaam wat die uitnodiging rig om aan georganiseerde studente-aktiwiteite deel te neem, ongeag of die byeenkoms vooraf geskeduleer is of nie.

2.2    In die geval van uitnodigings om aan byeenkomste of programme deel te neem wat nie deel van die georganiseerde studente-aktiwiteite uitmaak nie, is dit die betrokke persoon en/of organisasie wat die uitnodiging rig.

 

3.       Tydens die verrigtinge

3.1    Die amptelike verrigtinge is die tydperk nadat die voorsitter of sameroeper van die vergadering of byeenkoms die begin van die verrigtinge aankondig of poog om dit aan te kondig en duur voort totdat die voorsitter of sameroeper aankondig dat die verrigtinge tot ’n einde gekom het. Vir dié doel word die gebruik om vraetyd toe te laat, beskou as deel van die amptelike verrigtinge.

3.2    Vir doeleindes van hierdie gedragskode het die begrip “tydens die vergadering of byeenkoms” dieselfde betekenis.

 

4.       Protes

          Protes soos bedoel in paragraaf E van hierdie gedragskode en wat op die voorgeskrewe wyse gelewer word tydens die verrigtinge, of op ’n ander gepaste tyd, ingevolge die ordereëlings van die organiseerders.

 

5.       Ongemagtigde protes

          ’n Protes wat nie voldoen aan die omskrywing en ander vereistes wat in hierdie gedragskode vir ’n protes voorgeskryf word nie.

 

6.       Aansoeker

          ’n Personeellid of student van die Universiteit, of ’n organisasie wat by die VSR geaffilieer is en wat die versoek tot protes aan die organiseerders rig.

 

7.       VSR

          Die Verteenwoordigende Studenteraad van die Universiteit van Pretoria soos verkies en gekonstitueer kragtens die konstitusie van die Studenteraad en die Studentesenaat.

 

8.       Universiteitsowerheid

          Die Rektoraat of enige ander orgaan of afdeling van die Universiteit en sluit in gepaste gevalle ’n bevoegde lid van die universiteitspersoneel in.

 

9.       Uitnodigings

9.1    Alle uitnodigings aan sprekers geskied, na gelang van die geval, deur die organiseerders in oorleg met die universiteitsowerheid.

9.2 Ondanks enige bepaling in hierdie kode, kan die Rektoraat, indien hy van oordeel is dat ’n bepaalde byeenkoms die goeie gang van die onderwys en navorsing en die handhawing van orde en dissipline sal benadeel of in gevaar sal stel, gelas dat bepaalde uitnodigings nie gerig word nie of gekanselleer word, na gelang van die geval.

 

               10.     Universiteitsgaste

          Sprekers word vir doeleindes van hierdie gedragskode as universiteitsgaste beskou en daar moet ten alle tye hoflik teenoor hulle opgetree word. Hulle moet behandel moet word volgens die beskaafde norme en standaarde waarvoor die Universiteit hom beywer.

 

D.      VERPLIGTINGE: ORGANISEERDERS

1.       Die organiseerders het die volgende verantwoordelikhede:

  1. Die veiligheid en welsyn van sprekers vanaf die oomblik wat hulle die universiteitsterrein betree en totdat hulle die terrein na afloop van die besoek verlaat het.
  2. Die uitvoer van toegangsbeheer by alle byeenkomste en in hierdie verband die nakoming van neergelegde beleidsvoorskrifte van die Raad.
  3. Die voorsiening van inligting aan die voorsitter of sameroeper van ’n byeenkoms om hom of haar vertroud te maak met die verpligtinge ingevolge hierdie gedragskode. Die voorsitter of sameroeper moet die aanwesiges vooraf behoorlik oor die inhoud van hierdie kode inlig.
  4. Alle redelike maatreëls en voorsorg wat noodsaaklik is vir die ordelike verloop van die verrigtinge.
  5. Die organiseerders kan versoek dat UP Veiligheidsdienste ondersteuning verleen in die nakoming van die verpligtinge in D.1(a), (b) en (d), met dien verstande dat

(i)      ’n skriftelike versoek vooraf aan die Departement Veiligheidsdienste gerig word;

(ii)     die verpligtinge wat deur die Departement Veiligheidsdienste oorgeneem moet word, duidelik omskryf en skriftelik ooreengekom word;

(iii)    Die Departement Veiligheidsdienste die uitsluitlike verant-woordelikheid dra vir dit wat in terme van D.1(e)(ii) hierbo uiteengesit is.

     f. Die organiseerders is verantwoordelik vir die samestelling en beskikbaarmaking van alle inligting en stawende bewyse in geval van enige skending van hierdie gedragskode. Die besonderhede moet binne drie dae aan die Registrateur voorgelê word. Die Departement Veiligheidsdienste dra die verantwoordelikheid vir verpligtinge oorgeneem ingevolge paragraaf D.1(e)(i) tot (iii). Maatreëls wat deur die organiseerders getref is om die verantwoordelikhede soos genoem in paragraaf D.1(a) tot (e) na te kom, moet voldoen aan die beleidsbepalings neergelê deur die Universiteit ten opsigte van toegangsbeheer en beveiliging van die universiteitsterrein.

 

E.      PROTES EN ANDER OPTREDES

  1. Benewens die protes wat in terme van paragraaf E.4 vergun word, is alle ander vorme van protes of optrede wat mag lei tot die ontwrigting van ’n vergadering of byeenkoms nie toelaatbaar nie.

2.       Behoudens die bepalings van paragraaf C.1.10 en E.1 is dit toelaatbaar om plakkate, baniere en vlae, wat deur protesgangers gedra word, voor of na die verrigtinge te vertoon, met dien verstande dat geen plakkate, baniere, vlae of slagspreuke teen universiteitsgeboue aangebring mag word nie. (Slagspreuke mag nie haatspraak insluit nie.)

3.       Behoudens die bepalings van paragraaf C.1.10 en E.1 is dit toelaatbaar om voor of na die verrigtinge slagspreuke te skreeu en/of liedere te sing.

4.       Daar mag protes aangeteken word tydens ’n vergadering of byeenkoms, met dien verstande dat dit in alle opsigte aan die volgende vereistes voldoen:

Aansoekers moet 10 werksdae voor die aanvang van ’n vergadering of byeenkoms skriftelik aan die organiseerders kennis gee van hulle voorneme om protes aan te teken. Die geskrewe kennisgewing moet gepaardgaan met die volledige inhoud van die protesnota. Hierdie vereiste word gesien as noodsaaklike voorwaarde van ’n behoorlike kennisgewing.

5.       Die volgende vereistes is van toepassing op die protesnota soos genoem in paragraaf E.4:

(i)      Die protesnota moet in die vorm van ’n persverklaring geskryf wees. Hierdie verklaring moet hardop deur die aansoeker voorgelees word soos bepaal in paragraaf E.6 en E.7.

(ii)     Die inhoud van die protesnota mag nie teen die persoon van die spreker gerig wees nie.

(iii)    Die aansoeker aanvaar volle verantwoordelikheid vir die inhoud van die protesnota en die organiseerders verleen toestemming tot die lewering daarvan op risiko van die aansoeker.

6.       Dit is die organiseerders se uitsluitlike reg om die ordereëlings vir die vergadering te bepaal en alle teenwoordiges sal daaraan gebonde wees.

7.       Indien ’n aansoek om protes nie volledig aan al die gestelde vereistes in paragraaf E.4(a), E.5 en E.9 voldoen nie, word sodanige protes as ’n ongemagtigde protes beskou en sal dit nie toegelaat word nie, met dien verstande dat indien die aansoek wel aan die gestelde vereistes voldoen, die organiseerders verplig is om, onderhewig aan die voorskrifte van paragraaf E.8, protes tydens die verrigtinge of op ’n ander gepaste tyd, toe te laat.

8.       Die maksimum tyd wat tydens ’n vergadering of byeenkoms vir protes toegelaat word, is vyf minute, met dien verstande dat indien meerdere aansoekers protes wil aanteken, die tyd tot ’n maksimum van 10 minute verleng kan word. Aansoekers wat groepe verteenwoordig kan voorkeur gegee word.

9.       In die geval van protes deur verskeie aansoekers, kan die organiseerders van die vergadering of byeenkoms aansoekers versoek om, na gelang van die geval, protesnotas te verkort sodat die protes binne die gestelde tydsgrense afgehandel kan word.

 

F.      TOEPASSING

         Die gedragskode is van toepassing op

(a)     alle personeel van die Universiteit, ongeag permanente, deeltydse of tydelike aanstellings;

(b)     alle ingeskrewe studente van die Universiteit; en

(c)     groepe en organisasies waarvan ingeskrewe studente lede is of die aktiwiteite of bestuur van sodanige groep of organisasie waaraan studente deelneem, ongeag of die betrokke groep of organisasie by die VSR geaffilieer is of nie.

G.     OORTREDINGS

  1. Hierdie gedragskode het die status van ’n reglement en oortreders van enige voorskrif kan vervolg word ingevolge die reëls soos neergelê deur die Universiteitsraad, Artikel 36 van die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997) asook die Statuut van die Universiteit van Pretoria.
  2. Indien ’n organisasie wat by die VSR geaffilieer is enige van die voorskrifte in hierdie gedragskode enigsins oortree, of poog om dit te oortree, kan die VSR besluit om sodanige organisasie se affiliasie summier te beëindig.

3.       Die aanhitsing of intimidering van groepe of individue tot ’n oortreding van hierdie gedragskode, sal as ’n oortreding daarvan beskou word, waarmee, na gelang van die geval, ingevolge par. G.1 en 2 gehandel kan word.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences