Die Universiteit maak in sy algemene bedrywighede van twee amptelike tale gebruik, naamlik Afrikaans en Engels. By formele onderrig is die voertaal óf Afrikaans óf Engels óf albei tale, indien daar 'n aanvraag is en dit akademies en ekonomies regverdigbaar is. Dit bly egter steeds 'n student se verantwoordelikheid om jaarliks vas te stel in watter taal 'n module en alle verdere vlakke van die module aangebied word. Hierdie inligting word jaarliks in die Roosterboek gepubliseer. Die Universiteit behou die reg voor om, afhangende van die grootte van groepe en die beskikbaarheid van dosente, die onderrigtaal op kort kennisgewing te verander. Wat administratiewe en ander dienste betref, is 'n student daarop geregtig om te kies of die Universiteit in Afrikaans of Engels met hom of haar moet kommunikeer. Waar die Universiteit oor die vermoë beskik, word Sepedi addisioneel as 'n kommunikasietaal gebruik.
Die Registrateur het 'n oorhoofse verantwoordelikheid om toesig te hou oor die implementering van die Universiteit se Taalbeleid.
Let wel: Sedert 1997 is Engels die enigste onderrigtaal in die Fakulteit Veeartsenykunde. Voorgraadse studente word egter toegelaat om toets- en eksamenvraestelle in Afrikaans te beantwoord. Voornemende studente se vaardigheid in Engels mag as deel van die keuringsprosedure getoets word.
Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.
Get Social With Us
Download the UP Mobile App