Jaarboeke

Tugbepalings: Studente

1.       DISSIPLINÊRE KODE: STUDENTE

(Reëls deur die Universiteitsraad voorgeskryf)

AANHEF

Die Dissiplinêre Kode: Studente van die Universiteit van Pretoria is gegrond op die beginsels van akademiese integriteit en eerlikheid asook gepaste gedrag binne die breër institusionele verband. Hierdie beginsels vorm die kern van die Universiteit se daaglikse aktiwiteite en die hoofrede vir sy bestaan, naamlik om studente akademies te onderrig en op te lei en, in die breër sin, om norme en waardes van uitnemendheid te koester. Die Dissiplinêre Kode verleen erkenning aan die feit dat die bewaring van bogenoemde beginsels 'n inherente vereiste is vir die behoud van die integriteit van die verskeie kwalifikasies wat die Universiteit toeken. Die bewaring van sodanige beginsels is noodsaaklik vir die skep en handhawing van 'n omgewing wat bevorderlik is vir standvastige akademiese praktyke oor die algemeen en wat bydra tot die vorming van individue wat waarde tot die samelewing kan toevoeg.

Die Dissiplinêre Kode maak voorsiening vir korrektiewe en strafmaatreëls wat in geskikte omstandighede aangewend kan word. Dit is daarop gemik om leiding te gee aan studente ten einde waar nodig gedrag te verbeter. Die Dissiplinêre Kode bevorder ook die regverdige en regmatige beoordeling van dissiplinêre ondersoeke en die oplegging van toepaslike dissiplinêre maatreëls.

'n Spesifieke oogmerk van die Dissiplinêre Kode is om, in die belang van sowel studente as die Universiteit, alle dissiplinêre verrigtinge so spoedig moontlik sonder onnodige vertraging in te stel en af te handel.

Ingevolge hierdie Dissiplinêre Kode sal die Universiteit alle redelike maatreëls implementeer om die belange van studente, personeellede, kontrakteurs en lede van die publiek op al sy kampusse of ander persele te beskerm. Die doel van die Dissiplinêre Kode is ook om die belange van die Universiteit as 'n akademiese instelling te bevorder en te beskerm.

Die Dissiplinêre Kode is nie bedoel om 'n omvattende stel reëls en regulasies te wees wat vir elke moontlike onaanvaarbare en strafbare handeling deur 'n student voorsiening maak nie en derhalwe sal die reëls en regulasies hieronder nie oordrewe letterlik en streng uitgelê word nie. By die beoordeling van ’n student se gedrag ten einde te bepaal of sodanige gedrag op wangedrag neerkom, en/of by die beoordeling of die spesifieke gedrag van die student deur ’n spesifieke reël of aanklag gedek word, sal die bepalende faktor te alle tye die wangedrag of oortreding wees waarop sodanige reël of regulasie gemik is.

 

1.1       OMSKRYWING VAN WANGEDRAG

Ingevolge hierdie Dissiplinêre Kode word die volgende handelinge as wangedrag beskou:

Indien 'n student

1.1.1       enige voorskrif, regulasie, reël of riglyn van die Universiteit oortree of poog om dit te oortree;

1.1.2       weier om gehoor te gee aan enige regmatige opdrag of versoek van enige raadslid, dosent, kontrakteur, personeellid of sekuriteitsbeampte van die Universiteit, of enige ander persoon wat regtens 'n gesagsposisie beklee of aan wie die Universiteit bevoegdheid gedelegeer het, of teenstrydig met sodanige opdrag of versoek optree;

1.1.3      skuldig is aan opsetlike of nalatige gedrag wat tot gevolg het dat:

1.1.3.1       die goeie naam van die Universiteit in gedrang gebring of andersins gekompromitteer word;

1.1.3.2       die handhawing van orde en dissipline aan die Universiteit benadeel of in gedrang gebring word;

1.1.3.3       die goeie gang van onderrig, navorsing en/of gemeenskapsdiens aan die Universiteit benadeel of in gedrang gebring word;

1.1.4      sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid van paragraaf 1.1.1 tot 1.1.3,

1.1.4.1       onregmatig inbreuk maak op enige persoon se menseregte soos vervat in die Handves van Regte, Hoofstuk 2 van die Grondwet, 1996;

1.1.4.2      'n handeling verrig wat ingevolge die Suid-Afrikaanse reg 'n misdaad is en tot nadeel van die Universiteit, sy personeel, gaste, kontrakteurs of studente is;

1.1.4.3       binne Universiteitsverband hom of haar skuldig maak aan die skending van 'n persoon se outeursreg of enige ander intellektuele goederereg, insluitend maar nie beperk tot plagiaat nie;

1.1.4.4       binne Universiteitsverband –

a.      op 'n oneerlike wyse optree of poog om aldus op te tree wat enige vorm van gedrag insluit wat misleiding behels, byvoorbeeld diefstal, ongemagtigde besit van goedere, omkopery, bedrog, vervalsing of die aflê van vals of misleidende verklarings. (Hierdie handelinge vorm nie 'n geslote lys van moontlike oortredings ten opsigte van oneerlikheid vir die doel van hierdie paragraaf nie);

b.      enige persoon intimideer, aanrand of poog om aan te rand of by bakleiery betrokke is;

c.      enige wanvoorstelling maak rakende enige administratiewe proses wat insluit maar nie beperk is tot die volgende nie: wanvoorstellings rakende akademiese en ander rekords, insluitend graad- en diplomasertifikate asook ander dokumente; wanvoorstellings rakende siektetoestande; wanvoorstellings wat gemaak word om die Universiteit te oorreed of poog om te oorreed om administratief op ’n wyse te handel waarop die Universiteit in die afwesigheid van die wanvoorstelling nie sou gehandel het nie of waarskynlik nie sou gehandel het nie;

d.     'n dokument vervals (insluitend maar nie beperk nie tot die daarstel van 'n vervalste dokument en/of die aanbied daarvan as 'n wettige dokument, die wysiging van 'n bestaande dokument deur onder meer onware of misleidende inligting in te sluit of die vervalsing van 'n ander persoon se handtekening op enige dokument);

e.      'n vervalste dokument aanbied, onder meer soos beskryf in paragraaf 1.1.4.4 (d), met die doel om te mislei; en/of

f.       plagiaat pleeg deur te verklaar of te kenne te gee dat iemand anders se geskrewe of skeppende werk (woorde, beelde, idees, opinies, ontdekkings, kunswerke, musiek, opnames, rekenaargesteunde werk) sy/haar eie oorspronklike werk is en/of deur sodanige werk of materiaal, in geheel of gedeeltelik, in sy of haar eie werk te inkorporeer sonder om die bron behoorlike te erken of aan te haal;

1.1.4.5      die eiendom van die Universiteit of eiendom wat onder die beheer van die Universiteit is, onregmatig of ongemagtig gebruik of sodanige eiendom op 'n wyse beskadig wat tot aanspreeklikheid vir skade aanleiding kan gee;

1.1.4.6      ongemagtig enige Universiteits- of Universiteitsbeheerde terrein of gebou of 'n gedeelte daarvan betree of beset of 'n poging daartoe aanwend;

1.1.4.7      onwelvoeglik of onbetaamlik optree op 'n Universiteits- of Universiteitsbeheerde terrein of by 'n Universiteitsfunksie of -aktiwiteit op enige plek of in omstandighede waar hy of sy die Universiteit verteenwoordig of beskou word om die Universiteit te verteenwoordig, of andersins as 'n student van die Universiteit geïdentifiseer word;

1.1.4.8      op enige wyse inbreuk maak of poog om inbreuk te maak op die bewegingsvryheid van 'n student, kontrakteur of personeellid van die Universiteit of 'n lid van die publiek wat op ’n Universiteits- of Universiteitsbeheerde terrein of by 'n Universiteitsfunksie of -aktiwiteit op enige plek teenwoordig is, of in omstandighede waar die student wat sodanige inbreuk veroorsaak, die Universiteit verteenwoordig of as verteenwoordiger beskou kan word;

1.1.4.9      beledigend, onwelvoeglik of onbetaamlik optree teenoor 'n student, kontrakteur of personeellid van die Universiteit of 'n lid van die publiek wat op ’n Universiteits- of Universiteitsbeheerde terrein of by 'n Universiteitsfunksie of -aktiwiteit op enige plek teenwoordig is, of in omstandighede waar die student wat hom of haar op die bogenoemde wyse gedra die Universiteit verteenwoordig of as verteenwoordiger beskou kan word;

1.1.4.10    in stryd met die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse reg of 'n reël van die Universiteit, 'n afhanklikheidsvormende middel (soos alkohol of dwelms, insluitend maar nie beperk nie tot enige dwelm soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel, Wet 140 van 1992 of enige wet wat dit mag wysig of vervang) op 'n Universiteits- of Universiteitsbeheerde terrein of by 'n Universiteitsfunksie of -aktiwiteit op enige plek of in omstandighede waar hy of sy die Universiteit verteenwoordig of as verteenwoordiger beskou word of andersins as 'n student van die Universiteit geïdentifiseer kan word, onwettig besit, versprei, koop, verkoop, gebruik of onder die invloed daarvan is;

1.1.4.11    op 'n onbehoorlike wyse enige voordeel of inligting of toegang tot inligting bekom of poog om dit te bekom wat enige student op enige moontlike wyse akademies in 'n gunstige posisie met betrekking tot ander studente plaas;

1.1.4.12     opsetlik of nalatig vals of verkeerde inligting verskaf, en sodanige optrede tot nadeel of potensieel tot nadeel van die Universiteit is; en/of

1.1.4.13   'n ander student help of aanmoedig om iets te doen wat wangedrag daarstel.

 

1.2     PROSEDURE IN GEVAL VAN WANGEDRAG

1.2.1      Algemeen

1.2.1.1       In geval van 'n beweerde oortreding van hierdie Dissiplinêre Kode moet 'n aanklag van wangedrag by die Kantoor van die Registrateur ingedien word.

1.2.1.2       Die Registrateur is nie daartoe verplig nie, maar behou die reg voor om te eniger tyd op 'n wyse wat die Registrateur in die omstandighede as dienstig beskou, die ouer/s of wettige voog van 'n student (ongeag of die student regtens meerderjarig is of nie) in kennis te stel van enige dissiplinêre ondersoek en/of stappe wat teen die student gedoen word.

1.2.1.3       Indien die student minderjarig is, sal die student se ouer/s of wettige voog van die stappe in kennis gestel word en sodanige persone mag die verrigtinge bywoon. 'n Minderjarige student moet tydens die sluit van 'n ooreenkoms deur sy of haar ouer/s of wettige voog bygestaan word.

1.2.1.4       Die Registrateur kan 'n personeellid van die Universiteit (voltyds of deeltyds) of 'n persoon van buite die Universiteit met toepaslike regskwalifikasies aanstel om as inleier in verrigtinge voor die Komitee vir Dissipline (Studente) op te tree.

1.2.1.5       Indien die Registrateur van mening is dat 'n formele aanklag van wangedrag teen ’n student geregverdig is, kan die Registrateur sodanige aanklag laat formuleer.

 

1.2.2      Bespoedigde informele prosedure

1.2.2.1       Die Registrateur kan in sy of haar persoonlike hoedanigheid en na sy of haar goeddunke, met toestemming van 'n beweerde oortreder, op 'n bespoedigde wyse 'n klag ondersoek, die saak afhandel en 'n straf oplê of 'n aanklag van wangedrag vir ondersoek gelas.

1.2.2.2      Die Registrateur kan 'n straf oplê soos voorsien in paragraaf 1.3.1.2 en die saak summier afhandel. Indien daar op enige ander straf soos bepaal in paragraaf 1.3 ooreengekom word, moet die ooreenkoms tussen die Registrateur en die student deur die Komitee vir Dissipline (Studente) bevestig word.

1.2.3   Tydelike skorsing of verwydering van 'n student van 'n Universiteitsbeheerde terrein of koshuis hangende 'n dissiplinêre prosedure

1.2.3.1      Die Registrateur kan, na sy of haar goeddunke, indien daar redelike gronde is om te vermoed dat 'n student aan ernstige wangedrag skuldig is, of in enige ander toepaslike omstandighede, 'n student tydelik uit 'n koshuis skors of tydelik toegang tot enige of alle Universiteitsbeheerde terreine ontsê, hangende die uitslag van 'n dissiplinêre ondersoek.

1.2.3.2      Die Registrateur is geregtig om op bogenoemde wyse op te tree indien hy of sy van mening is dat dit redelikerwys nodig is om die belange van die betrokke student, ander studente, kontrakteurs, personeellede, lede van die publiek en/of die Universiteit te beskerm.

1.2.3.3      Die student is geregtig om mondelinge vertoë tot die Registrateur te rig indien hy of sy van mening is dat die gronde waarna in paragraaf 1.2.3.1 hierbo verwys word nie bestaan nie of nie sy of haar tydelike skorsing regverdig nie, of dat dwingende bykomende omstandighede bestaan wat oorweeg moet word.

1.2.3.4      Die Registrateur sal bogenoemde vertoë oorweeg, alle toepaslike omstandighede in ag neem en regverdig en billik na sy of haar goeddunke handel.

1.2.4    Formele pleit- en strafprosedure

1.2.4.1      Indien 'n aanklag of aanklagtes teen 'n student geformuleer is, en die student –

a.   die aanklag/tes teen hom of haar vrywillig en geredelik erken;

b.   die geleentheid gegee is om vertoë tot die Registrateur te rig oor die toepaslike dissiplinêre maatreëls en tersaaklike aspekte;

c.   vrywillig en geredelik 'n pleit- en strafooreenkoms met die Universiteit aangegaan het;

kan die Registrateur in ooreenstemming met paragraaf 1.3 dissiplinêre stappe teen die student doen.

1.2.4.2      Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) sal, in die teenwoordigheid van die student, of die student en/of sy of haar ouer/s of wettige voog, of die student en/of sy of haar gekwalifiseerde en praktiserende regsverteenwoordiger, die aanklag, erkenning van skuld en dissiplinêre maatreëls wat opgelê is, noteer en opteken. 'n Regter van die Grondwetlike Tribunaal kan die verrigtinge as 'n waarnemer bywoon soos in paragraaf 1.4.4 voorsien.

1.2.4.3      Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) kan, indien dit te eniger tyd voordat die student skuldig bevind word blyk dat die student sy of haar besluit ten opsigte van die pleit- en strafooreenkoms wil hersien of verdere vertoë wil rig, die saak vir verdere oorweging na die Registrateur terugverwys.

1.2.4.4      Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) kan, indien toepaslik, die saak uitstel met die oog op formele dissiplinêre verrigtinge en/of formele betoë ter versagting en verswaring namens onderskeidelik die student en die Universiteit. Die saak sal dan hervat word en 'n inleier sal ooreenkomstig paragraaf 1.2.1.4 aangestel word.

1.2.5   Formele dissiplinêre prosedure

1.2.5.1      Indien aanklagtes soos voorsien in paragraaf 1.2.1.5 teen 'n student geformuleer is en die student die aanklag/tes teen hom of haar ontken, kan die Registrateur 'n dissiplinêre ondersoek deur die Komitee vir Dissipline (Studente) gelas. Die Komitee sal bepaal of die student aan die beweerde wangedrag skuldig is en in ooreenstemming met hierdie Dissiplinêre Kode op dissiplinêre maatreëls besluit.

1.2.5.2      Die skriftelike aanklag sal opgestel en aan die betrokke student beteken word. In die dokument word die student opgeroep om op 'n bepaalde datum, tyd en plek wat in die dokument vermeld word, te verskyn ten einde op die aanklag te antwoord.

1.2.5.3     'n Student is geregtig om tydens die dissiplinêre verrigtinge deur sy of haar ouer/s of wettige voog en/of gekwalifiseerde en praktiserende regsverteenwoordiger vergesel te word. Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) kan toestemming gee dat 'n derde party, buiten die ouer/s of voog van die student, die student bystaan. Sodanige derde party sal toegelaat word om algemene ondersteuning aan die student te bied, maar mag nie as 'n regsverteenwoordiger optree nie.

1.2.5.4      Indien die student besluit om die dienste van 'n gekwalifiseerde en praktiserende regsverteenwoordiger te gebruik, sal die student na sy of haar goeddunke en op eie koste van sodanige dienste gebruik maak. Die naam en kontakbesonderhede van die regsverteenwoordiger moet voor die datum van die dissiplinêre verrigtinge by die Registrateur ingedien word. Nóg die Universiteit nóg die student sal tydens die verloop van die dissiplinêre verrigtinge 'n eis met betrekking tot die koste aangegaan deur 'n party ten opsigte van regsverteenwoordiging, teen mekaar hê.

1.2.5.5      Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) bepaal die prosedure wat tydens 'n bepaalde dissiplinêre verrigting gevolg word, met inagneming van die reëls van billike administratiewe geregtigheid. Laasgenoemde sluit onder andere in dat die student –

a.   genoegsame besonderhede van die aanklag/tes teen hom of haar ontvang;

b.   redelike tyd gegun word om vir die verrigtinge voor te berei;

c.   hom of haar nie self hoef te inkrimineer nie;

d.   gevra word of hy of sy die aanklag/tes verstaan en versoek word om skuldig of onskuldig op die aanklag/tes te pleit;

e.   toegelaat word om getuies te roep om in sy of haar guns te getuig;

f.    toegelaat word om enige persoon wat teen hom of haar getuig, onder kruisverhoor te neem;

g.   toegelaat word om sy of haar saak aan die Komitee vir Dissipline (Studente) te stel;

h.   toegelaat word om die Komitee vir Dissipline (Studente) oor enige toepaslike aspek toe te spreek;

i.    toegelaat word om versagtende omstandighede aan te bied indien hy of sy skuldig bevind word aan enige aanklag/tes teen hom of haar;

j.    geregtig is om ingelig te word van enige verdere interne prosesse (enige moontlike appèl) wat hy of sy verder kan voer en die moontlike gevolge of uitslag van sodanige prosesse; en

k.   op versoek, voorsien word van skriftelike redes vir enige besluit van die Komitee vir Dissipline (Studente).

1.2.5.6       Die Komitee vir Dissipline (Studente) moet notule hou van die verrigtinge of toesien dat dit gehou word op 'n wyse wat dit as gepas beskou.

1.2.5.7       Op die skriftelike versoek van 'n student wat skuldig bevind is aan enige aanklag, moet die Komitee vir Dissipline (Studente) binne 'n redelike tydperk na sodanige versoek skriftelike redes vir die besluit en/of dissiplinêre maatreëls verskaf. Nadat genoemde skriftelike redes verskaf is, het die Komitee vir Dissipline sy funksie volvoer.

1.3       STRAWWE

1.3.1       Die Voorsitter kan, nadat 'n student aan wangedrag skuldig bevind en getuienis ter strafversagting aangehoor is, enige een van of 'n kombinasie van die volgende strawwe oplê:

1.3.1.1       die student berispe;

1.3.1.2       die student tydelik of permanent van 'n reg of voorreg ontneem wat met sy of haar inskrywing aan die Universiteit gepaard gaan;

1.3.1.3      'n boete oplê van hoogstens die bedrag wat die Raad van tyd tot tyd vir die doel bepaal, en/of die student gelas om 'n bedrag te betaal wat gelykstaande is aan die werklike skade wat deur die student veroorsaak is en/of om enige ander party vir die skade wat gely is te vergoed;

1.3.1.4       die student verplig om vir 'n bepaalde aantal ure wat as redelik beskou word in die lig van die aard en erns van die oortreding en die bewyse wat aan die Komitee voorgehou is, gemeenskapsdiens binne die Universiteit te verrig;

1.3.1.5       die student van die reg of voorreg ontneem om vir 'n bepaalde module te registreer of 'n krediet wat in 'n module verwerf is, herroep;

1.3.1.6       die student se inskrywing vir 'n bepaalde tydperk opskort;

1.3.1.7      'n student permanent uit die Universiteit skors;

1.3.1.8       die student die voorreg ontsê om weer as 'n student aan die Universiteit te registreer; en/of

1.3.1.9       die toekenning van enige graad, kwalifikasie en/of ander toekenning uitstel hangende die afhandeling van enige dissiplinêre prosedure of die verstryking van enige opgeskorte straf, of ontvangs van betaling, of die nakoming van enige dissiplinêre maatreël of straf.

1.3.2      Die Voorsitter kan enige van die bogenoemde strawwe in geheel of gedeeltelik opskort op voorwaarde dat die student enige maatreël wat opgelê is met die doel om gedrag te verbeter, studente op te voed en/of as aanmoediging te dien om gedrag te verander, nakom of daaraan voldoen.

1.3.3       Wanneer daar ingevolge paragraaf 1.5 teen 'n besluit van die Komitee vir Dissipline (Studente) geappelleer word, kan die Voorsitter, in toepaslike omstandighede, enige dissiplinêre maatreël wat deur die Komitee opgelê is, opskort hangende die uitslag van die appèl.

 

1.4  KOMITEE VIR DISSIPLINE (STUDENTE)

1.4.1       Die Komitee vir Dissipline (Studente) bestaan uit een lid, naamlik die Voorsitter, met dien verstande dat 'n addisionele lid gekoöpteer kan word soos voorsien in paragraaf 1.4.2. Die Voorsitter word aangestel uit die volgende kategorieë persone:

1.4.1.1       'n personeellid (voltyds of deeltyds) van die Universiteit met 'n regskwalifikasie, of

1.4.1.2       'n persoon van buite met 'n regskwalifikasie wat deur die Visekanselier en Rektor aangestel word om as die Voorsitter van die dissiplinêre ondersoek op te tree.

1.4.2      Die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) kan in gevalle waar die aangeleentheid ingewikkeld is en/of bepaalde kundigheid vereis word of waar dit andersins gewens is, 'n tweede lid tot die Komitee koöpteer om oor 'n spesifieke aangeleentheid te besluit. In sodanige gevalle moet die tweede lid van die Komitee –

1.4.2.1       'n akademiese personeellid van die Universiteit wees in die geval van akademiese aangeleenthede; of

1.4.2.2       'n personeellid van die Universiteit wees, wat 'n akademiese of nie-akademiese personeellid kan wees, in alle ander aangeleenthede;

en indien enige dispuut sou ontstaan oor of 'n personeellid 'n akademiese of nie-akademiese personeellid is, sal die Voorsitter daaroor besluit.

1.4.3         Die personeellid na verwys in paragraaf 1.4.2 sal sy of haar kundigheid bydra soos gepas en by alle oorlegplegings van die Komitee vir Dissipline (Studente) ingesluit word, maar kan nie oor die bevinding stem nie.

1.4.4         Die Grondwetlike Tribunaal kan 'n ingeskrewe student van die Universiteit uit die geledere van die dienende regters van die Grondwetlike Tribunaal aanwys, soos bepaal in die Grondwet vir Studenteregering van die Universiteit van Pretoria, om tydens die verloop van enige dissiplinêre verrigtinge as waarnemer op te tree. Hierdie regter van die Grondwetlike Tribunaal moet akademies goed presteer en ten minste op derdejaarsvlak studeer. Die regter van die Grondwetlike Tribunaal mag bydraes lewer tot die verrigtinge, waar van toepassing, en by alle oorlegplegings van die Komitee vir Dissipline (Studente) ingesluit word, maar kan nie oor die bevinding stem nie.

1.4.5         Indien daar geen aangestelde regters van die Grondwetlike Tribunaal is nie, of indien geen aangestelde regters beskikbaar is nie, kan enige dissiplinêre verrigting regtens voortgaan sonder verteenwoordiging uit die geledere van die regters van die Grondwetlike Tribunaal.

1.4.6         Dissiplinêre verrigtinge (wat die appèlprosedure insluit) is streng vertroulik en moet deur alle partye wat by die betrokke verrigtinge teenwoordig of andersins betrokke is, as sodanig hanteer word. Voormelde vertroulikheidsverpligting is ook van toepassing op enige dokumentasie wat gebruik of inligting wat bekend gemaak is. Die Universiteit behou die reg voor om 'n skriftelike onderneming van vertroulikheid van enige betrokke party te verkry.

 

1.5     APPÈLPROSEDURE

1.5.1      'n Student kan ooreenkomstig die volgende prosedure appelleer teen die skuldigbevinding en/of die dissiplinêre maatreëls opgelê deur die Komitee vir Dissipline (Studente):

1.5.1.1       Die student kan teen die skuldigbevinding en/of die dissiplinêre maatreëls opgelê deur die Komitee vir Dissipline (Studente) na die Appèlkomitee van die Senaat appelleer deur 'n skriftelike Kennisgewing van Appèl by die Registrateur in te dien.

1.5.1.2     Die skriftelike Kennisgewing van Appèl moet nie later nie as 10 (tien) dae nadat die student van die Komitee vir Dissipline (Studente) se besluit verwittig is, by die Registrateur ingedien word. Die Kennisgewing van Appèl sal vergesel word van 'n bedrag van hoogstens R2 000 (tweeduisend Rand) of 'n ander bedrag wat van tyd tot tyd deur die Raad vasgestel word, as synde 'n bydrae ter gedeeltelike delging van die koste verbonde aan die appèl: met dien verstande dat die Registrateur in sy of haar diskresie in verdienstelike gevalle die bedrag betaalbaar kan verminder of betaling daarvan kan kwytskeld.

1.5.1.3       Die gronde vir die appèl moet volledig in die Kennisgewing van Appèl uiteengesit word en moet duidelik aantoon of teen die bevinding en straf of slegs teen die straf geappelleer word.

1.5.1.4       Nadat die Kennisgewing van Appèl ontvang is, word 'n afskrif daarvan aan die Voorsitter van die Komitee vir Dissipline (Studente) besorg, waarop die Voorsitter binne 'n redelike tyd 'n antwoord op die gronde vir appèl voorberei en aan die Registrateur verstrek.

1.5.1.5       Die Registrateur tref die nodige reëlings sodat die appèl so gou as moontlik deur die Appèlkomitee van die Senaat aangehoor word.

1.5.1.6       Die Appèlkomitee van die Senaat kan enige skuldigbevinding bevestig, wysig of tersydestel en is geregtig om enige straf en/of dissiplinêre maatreël wat opgelê is op te skort, te vermeerder of te verminder. Indien die Appèlkomitee van die Senaat die skuldigbevinding en/of dissiplinêre maatreëls wat deur die Komitee vir Dissipline (Studente) opgelê is, tersydestel of verminder, sal die bedrag wat die student ingevolge paragraaf 1.5.1.2 hierbo betaal het, aan hom of haar terugbetaal word.

1.5.1.7       Die appèl word bereg op die dokumentasie voor die Appèlkomitee van die Senaat en geen mondelinge vertoë namens die student of die Universiteit sal toegelaat word nie.

 

1.6     APPÈLKOMITEE VAN DIE SENAAT

1.6.1      Die Appèlkomitee van die Senaat bestaan uit:

1.6.1.1       die Voorsitter van die Senaat of sy of haar verteenwoordiger, wat 'n personeellid (voltyds of deeltyds) van die Universiteit of 'n persoon van buite die Universiteit kan wees, en wat as Voorsitter van die Komitee sal optree; en

1.6.1.2       een permanente akademiese personeellid van die Fakulteit Regsgeleerdheid wat 'n professor in die Fakulteit moet wees indien die Voorsitter nie akademies in die regte gekwalifiseerd is nie; en

1.6.1.3       een ander permanente akademiese personeellid van enige fakulteit binne die Universiteit.

1.6.2       Ten opsigte van die personeellede waarna daar in paragraaf 1.6.1.2 en 1.6.1.3 hierbo verwys is, is daar 'n voorbehoud dat 'n personeellid wat as 'n lid van die Komitee vir Dissipline (Studente) aangaande 'n sekere aangeleentheid gedien het, nie as 'n lid van die Appèlkomitee van die Senaat aangaande dieselfde aangeleentheid kan dien nie.

 

1.7   ALGEMEEN

1.7.1       Indien 'n student weier of versuim om 'n dissiplinêre verhoor by te woon, kan die verhoor in sy of haar afwesigheid voortgaan op 'n wyse wat die Komitee vir Dissipline (Studente) met inagneming al die tersaaklike omstandighede as redelik beskou.

1.7.2       Indien die student besluit om van 'n regsverteenwoordiger gebruik te maak, is dit die student se verantwoordelikheid om te verseker dat sodanige verteenwoordiger geredelik beskikbaar en by die verrigtinge teenwoordig is. Sou die regsverteenwoordiger die aangeleentheid onredelik vertraag, kan die Voorsitter na goeddunke besluit om in die afwesigheid van die regsverteenwoordiger met die saak voort te gaan.

1.7.3       Indien 'n student se wangedrag ook 'n skending is van enige professionele of etiese kode van 'n beroep wat hy of sy wil betree, sal die Universiteit op versoek van die tersaaklike professionele liggaam, hierdie inligting aan die professie voorsien. Die betrokke student se toestemming sal in hierdie opsig verkry word.

1.7.4       Indien 'n student skuldig bevind is aan 'n ernstige oortreding wat ook 'n misdryf daarstel, is die Universiteit geregtig, en in sekere omstandighede verplig, om buiten enige interne stappe wat gedoen is, die saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld.

1.7.5       Enige verwysing na die Registrateur van die Universiteit in hierdie Dissiplinêre Kode sal, tensy uitdruklik andersins gestipuleer, sy of haar gedelegeerde verteenwoordiger insluit wat gemagtig is om as sodanig op te tree ten opsigte van alle aspekte wat in die Dissiplinêre Kode uiteengesit is.

1.7.6       Indien die Visekanselier en Rektor van mening is dat die omstandighede in 'n besondere geval dit regverdig, kan hy of sy al of sommige van die handelinge self verrig wat deur die Registrateur ingevolge die Dissiplinêre Kode (Studente) verrig moet word, of hy of sy kan ooreenkomstig artikel 68(3) van die Wet op Hoër Onderwys, 101 van 1997, soos gewysig, die bevoegdheid om genoemde handelinge te verrig aan 'n ander personeellid van die Universiteit delegeer.

1.7.7       Niks in hierdie dokument verhinder die Raad van die Universiteit om, waar die Raad dit noodsaaklik ag, bepaalde dissiplinêre kodes en prosedures vir die regulering van gedrag in koshuise of in ander eenhede binne die Universiteit daar te stel nie. Sodanige dissiplinêre kodes en prosedures sal, waar toepaslik, gelyklopend met die Dissiplinêre Kode (Studente) funksioneer, binne die bepaalde raamwerk van regsbevoegdheid wat die Raad daaraan toegeken het.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences