Jaarboeke

Program: BCur Verpleegkunde (Onderrig en Administrasie)

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10131081 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 636
Contact:
Prof FM Mulaudzi
[email protected]
+27 (0)123541908

Programinligting

Die graad Baccalaureus in Verpleegkunde (Onderrig en Administrasie) [BCur (I et A)] bied aan professionele verpleegkundiges, geregistreer by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV), die geleentheid om na-basiese, professionele kwalifikasies in enige van die ondergenoemde spesialiserings-rigtings (hoofspesialiteit) te verwerf:

  1. Verplegingsbestuur
  2. Verplegingsonderwys
  3. Gemeenskapsverpleegkunde
  4. Kliniese verpleegkunde, met ’n gekose subspesialiteit in die tweede studiejaar, naamlik:
  • Gevorderde Verloskunde en Neonatale Verpleegkunde
  • Neonatale Verpleegkunde
  • Kinderverpleegkunde
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleging: Algemeen
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleegkunde: Pediatries
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleging: Trauma- en Noodverpleging
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Operasiesaalverpleging
  • Kliniese Verpleegkunde, Gesondheidsdiagnose, Behandeling en Sorg

Suksesvolle voltooiing van die hele graadprogram sal aan gegradueerdes ook die geleentheid bied om hul studies, binne hul gekose spesialiserings-gebied, op nagraadse vlak voort te sit, indien daar voldoende aansoeke is.

Kandidate wat aan die betrokke toelatingsvereistes voldoen, moet ’n geskikte leergang binne die gekose spesialiseringsgebied, in oorleg met die departementshoof saamstel. Sodanige saamgestelde leergang moet in oorleg met die departementshoof op ’n jaarlikse basis hersien word.

Let wel: Raadpleeg ook die Algemene Regulasies.

Toelatingsvereistes

Registrasie as verpleegkundige met twee jaar ondervinding
Let asseblief daarop dat Graad 12-leerders nie vir hierdie studieprogramme kan aansoek doen nie.

Addisionele vereistes

  1. ’n Bewys van registrasie as Algemene Verpleegkundige by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging.
  2. Kandidate wat Gemeenskapsverpleegkunde wil volg, moet ook as Vroedvrou/ Vroedmeester by die SARV geregistreer wees.
  3. Minstens twee jaar toepaslike ervaring as geregistreerde verpleegkundige in die werkplek (ander verpleegkundeverwante kursuswerk uitgesluit) word vereis in die geval van Verplegingsbestuur en Verplegingsonderwys.

Addisionele toelatingsvereistes vir Kliniese Verpleegkunde

  1. Minstens een jaar toepaslike ondervinding in die werkplek, wat betrekking het op die spesialiseringsgebied en goedgekeur deur die Departementshoof; ander verpleegkundeverwante kursuswerk uitgesluit.
  2. Studente moet toegang hê, ten minste op ’n deeltydse basis, tot kliniese opleidingsfasiliteite wat geskik is vir die gekose spesialiseringsgebied en wat goedgekeur is deur die departementshoof.
  3. Met die uitsondering van die subspesialiteite Kritiekesorgverpleging – Algemeen; Trauma- en Noodverpleging en Operasiesaalverpleging – moet studente ook by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging as Vroedvrou/ Vroedmeester geregistreer wees.

Ander programspesifieke inligting

Minstens 360 krediete word vereis, onderhewig aan:

  1. Suksesvolle voltooiing op 100-, 200- en 300-vlak, van twee goedgekeurde hoofvakke (kernmodules) binne ’n gegewe spesialiteitsgebied.
  2. Suksesvolle voltooiing van alle voorgeskrewe fundamentele modules.
  3. Bevredigende prestasie en suksesvolle voltooiing van die vereiste praktiese werk en/of kliniese opleiding soos voorgeskryf vir die spesifieke vakgebied.
  4. Suksesvolle voltooiing van ’n goedgekeurde leergang (graadprogram) wat saamgestel is uit modules wat ekwivalent is aan 10 jaarmodules.

Oorgangsmaatreëls

Studente sal vrygestel word van voorgeskrewe modules op grond van ooreenstemmende modules in die voorafgaande sewe (7) jaar geslaag.

Eksamens en slaagvereistes

Akademiese uitsluiting van verdere studie

  1. Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies, moet 'n student die graadprogram waarvoor hy of sy geregistreer is, binne die minimum voorgeskrewe tydperk van studie plus twee jaar voltooi.
  2. Onderhewig aan die bepaling in a. hierbo genoem, word 'n student wat 'n studiejaar in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe vir die tweede keer druip, slegs een kans gegun om 'n studiejaar te herhaal, en moet sodanige student 'n skriftelike aansoek indien om hertoelating tot die program volgens die voorgeskrewe prosedure.
  • Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies is daar geen minimum jaar- of semesterpunt wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie en kry alle geregistreerde studente outomaties toelating tot die eksamen.
  • Die finale punt vir 'n bepaalde module in Verpleegkunde, Fisioterapie, Radiografie, Arbeidsterapie en Mensvoeding (minstens 50% word vereis om te slaag) word bereken uit die eksamenpunt sowel as die punt saamgestel uit die evaluasie van 'n student tydens deurlopende, objektiewe en gekontroleerde assesserings-geleenthede gedurende die kwartaal/semester/jaar. Minstens een formele assessering per module word as die minimum norm in dié verband gestel, en studente sal deurgaans op ’n gereelde grondslag aan selfgerigte leeropdragte blootgestel word ten einde selfgerigte leer te bevorder.
  • In die geval van modules met praktiese komponente word vereis dat die studente aan al die toepaslike bywoningsvereistes met betrekking tot die bemeestering van praktiese vaardighede voldoen alvorens ’n slaagpunt vir die module verwerf word.
  • Daar is twee hoofeksamengeleenthede per jaar, die eerste en tweede eksamen. Ten opsigte van eerstesemestermodules is die eksamengeleentheid in Mei/Junie en die tweede eksamengeleentheid in Julie. Ten opsigte van tweedesemester-modules is die eerste eksamengeleentheid in Oktober/November en die tweede eksamengeleentheid in November/Desember van dieselfde jaar. In gevalle waar studente addisionele kliniese werkure moet voltooi om tot ’n tweede eksamen toegelaat te word, sal die departementshoof die tweede eksamengeleentheid bepaal.
  • Slegs twee eksamengeleenthede per module is toelaatbaar. Indien ’n student ’n module tydens die tweede eksamengeleentheid druip, moet die betrokke module herhaal word.
  • 'n Tweede eksamengeleentheid in ’n module word in die volgende gevalle aan studente verleen:

- Indien ’n student ’n finale punt van minder as 50% in die betrokke module gedurende die eerste eksamengeleentheid behaal het en dus druip.
- Indien ’n student nie die subminimum in die eksamen, wat vir ’n bepaalde module vereis word, behaal het nie.
- Indien ’n student weens siekte of buitengewone omstandighede nie die eksamen in ’n module gedurende die eerste eksamengeleentheid kon aflê nie.

  • Studente wat weens bogemelde redes die tweede eksamen wil aflê, moet 24 uur na die uitslae ontvang is, registreer vir die tweede eksamengeleentheid.
  • Indien ’n student ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid gedruip het, word die eksamenpunt wat hy of sy tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal, as die finale punt verreken. Die punte wat met die deurlopende evaluering gedurende die kwartaal/semester/jaar verwerf word, word nie in berekening gebring nie. Indien die student die module tydens die tweede eksamengeleentheid slaag, word nie meer as 50% as slaagpunt in die betrokke module toegeken nie.
  • Indien ’n student as gevolg van siekte of buitengewone omstandighede nie aan die eksamen in ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid kon deelneem nie, word die deurlopende evalueringspunt, tesame met die eksamenpunt wat tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal is, as die finale punt in die module behaal, bereken.
  • Die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe pas die bepalings van die Algemene Regulasies toe. Daarvolgens mag ’n student wat ’n beperkte aantal modules uitstaande het ten einde aan graadvereistes te kan voldoen, kragtens fakulteitsregulasies tot ’n spesiale eksamen daarin toegelaat word.

Bevordering tot volgende studiejaar

  • 'n Student moet al die voorgeskrewe kernmodules van 'n spesifieke studiejaar slaag ten einde bevorder te kan word tot die daaropvolgende studiejaar. 'n Student kan slegs tot 'n volgende studiejaar bevorder word indien hy of sy nie meer as twee fundamentele modules van sewe weke elk per semester of een module van 14 weke per semester gedruip het nie. ’n Ononderhandelbare voorvereiste vir toelating tot die finale studiejaar is slaagpunte in al die kern- en fundamentele modules van die voorafgaande studiejare.
  • Raadpleeg die Jaarboek vir fundamentele modules in elke dissipline.
  • 'n Slaagpunt verwys na 'n finale punt van minstens 50%.
  • Modules met krediete vir praktiese werk en kliniese opleiding kan nie geslaag word nie, alvorens al die voorgeskrewe kliniese ure en praktiese aktiwiteite tot die bevrediging van die departementshoof voltooi is.
  • Die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering mag na beoordeling van die student se totale profiel, spesiale toestemming aan die student verleen/toestaan om tot 'n volgende studiejaar bevorder te word.
  • Die uitsondering is die Departement Mensvoeding, waar die regulasies van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe ten opsigte van die modules deur daardie Fakulteit aangebied, van toepassing is.
  • Modules kan slegs vooruitgeneem of herhaal word indien dit in die bestaande eksamenrooster geakkommodeer kan word.
  • 'n Student wat 'n studiejaar herhaal, mag met die toestemming van die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering en die betrokke departementshoof, toegelaat word om fundamentele modules van die daaropvolgende jaar te neem, mits hy of sy aan die voorvereistes vir die betrokke modules voldoen. Geen aanpassing van bestaande roosters sal toegelaat word nie. Die volgende fundamentele modules is ter sprake:

Departement Verpleegkunde: SLK 110, 120; FSG 251, 252.

  • Departement Fisioterapie: SOH 254; FSG 251, 252, 261, 262, SLK 210
  • ANP 210, GMB 252, 253, 254, FAR 381, 382
  • Departement Arbeidsterapie: ZUL 110; SEP 110; SLK 210, 220;
  • FSG 251, 252, 261, 262; ANP 210; RPD 481; GNK 286
  • Departement Mensvoeding:  FLG 211, 212, 221, 222;
  • BCM 251, 252, 261, 262; FAR 381, 382, VDS 322; VDB 321
  • Departement Radiografie:  FSG 251, 252, 262; GNK 286; ANP 210.

Praktiese/kliniese/internskapinligting

Sekere hospitale en gesondheidsorgfasiliteite is goedgekeur vir die doel van praktiese en kliniese opleiding. Daar sal van studente verwag word om hul praktiese werk en/of kliniese opleiding aan hierdie fasiliteite te voltooi.

Slaag met lof

Die graad word met lof aan studente toegeken wat ’n gemiddelde van minstens 75% in die vereiste 300-vlak modules behaal het.

Algemene inligting

Fakulteitsertifikate

  1. Studente wat uittree uit die program voor voltooiing van die graad, en wat voldoen aan al die vereistes vir die registrasie van 'n addisionele kwalifikasie by die SARV, sal 'n toepaslike Fakulteitsertifikaat ontvang.
  2. Lysting of registrasie by die SARV kan verkry word in die volgende spesialiteitsgebiede, na gelang van van die spesifieke modules wat geslaag is:
  1. Lysting: Medisynehantering in Verpleging en die Fisiese Evaluering van Pasiënte
  2. Registrasie
  • Verpleegadministrasie
  • Verplegingsonderwys
  • Gemeenskapsverpleegkunde
  • Gevorderde Verloskundige en Neonatale Verpleegkunde
  • Neonatale Verpleegkunde
  • Kinderverpleegkunde
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleging – Algemeen
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleging – Pediatries
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Kritiekesorgverpleging – Trauma- en Noodverpleging
  • Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde: Operasiesaalverpleging
  • Kliniese Verpleegkunde, Gesondheidsdiagnose, Behandeling en Sorg

Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences