Jaarboeke

Program: BCur Verpleegkunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10131011 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 548
Contact:
Prof FM Mulaudzi
[email protected]
+27 (0)123541908

Programinligting

(i)      Die graad Baccalaureus in Verpleegkunde [BCur] is ’n vierjarige, professionele, beroepsgerigte heelkwalifikasie wat gegradueerdes in staat stel om by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) geregistreer te word as:

-     Verpleegkundige (Algemene, Psigiatriese en Gemeenskapsverpleging); en

-     Vroedvrou/Vroedmeester.

(ii)     Suksesvolle voltooiing van die graadprogram sal aan gegradueerdes ook die geleentheid bied om hul studies in Verpleegkunde op nagraadse vlak voort te sit.

(iii)    Kandidate wat voldoen aan die nodige toelatingsvereistes sal die voor-geskrewe leergang, soos uiteengesit in paragraaf (e) hieronder, volg.

  1. Die verpligte praktiese en kliniese opleidingsure van hierdie graad-program behels ’n totaal van minstens 4 000 ure oor ’n tydperk van vier jaar.
  2. Aangesien verpligte praktiese en kliniese opleiding, asook professionele ontwikkeling vereis word, kan die leergang nie in minder as vier jaar voltooi word nie.
  3. Die betrokke opleidingsinstansies sal siekte- en vakansieverlof toestaan in ooreenstemming met die toepaslike vereistes van die SARV in dié verband.

Let wel: Raadpleeg ook die Algemene Regulasies.

Toekenning van die graad

'n Student wat aan alle programvereistes voldoen, en wat die vereiste praktiese en kliniese opleiding suksesvol voltooi het, verwerf die graad Baccalaureus in Verpleegkunde [BCur].

By die suksesvolle voltooiing van die graad is die gegradueerde geregtig daarop om by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging te registreer as Verpleegkundige (Algemene, Psigiatriese en Gemeenskapsverpleegkundige), en as Vroedvrou/ Vroedmeester.

Toelatingsvereistes

  •  Ten einde te kan registreer moet NSS/IEB/Cambridge-kandidate voldoen aan die minimum vereistes vir graadstudie en aan die minimum vereistes van die betrokke studieprogram.
  •  Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  •  Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  •  Toelating vir Gesondheidswetenskappe studieprogramme is onderhewig aan 'n keuringsproses.
  •  Vir keuringsdoeleindes word die som van die uitslae in ses vakke insluitend Engels bereken. 
  • Wiskunde Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskappe is aanbevole vakke en kan ’n waardevolle bydrae tot studies en keuring in hierdie rigting lewer. Hierdie vakke is nie verpligtend nie.
 

Minimum vereistes vir 2016

Prestasievlak

TPT

Engels

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

4

3

D

D

28

Keuring is gebaseer op akademiese meriete die NBT die Toegevoegdewaarde-vraelys en 'n onderhoud.

 

 

Ander programspesifieke inligting

1. 'n Student wat spesifieke modules moet herhaal, moet ook ’n sertifikaat van bevredigende bywoning en vordering in die herhaaljaar verwerf in Verpleeg-praktykopleiding (beide modules van die betrokke studiejaar), selfs al het die student dit reeds in die onsuksesvolle jaar geslaag.

2. Eksamen moet afgelê word in al die modules wat deur die Departement Verpleegkunde aangebied word, aangesien promovering nie moontlik is in enige van hierdie modules nie.

3. Elke afdeling van (NPE 461) Verpleegpraktykonderrig 461 moet afsonderlik, met ’n subminimum van 50% geslaag word.

 

 

 

Eksamens en slaagvereistes

Vrystelling van die eksamen in (ANP) Anatomiese Patologie 210
Vrystelling van die eksamen mag verleen word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as die finale punt te aanvaar.

Akademiese uitsluiting van verdere studie

  1. Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies, moet 'n student die graadprogram waarvoor hy of sy geregistreer is, binne die minimum voorgeskrewe tydperk van studie plus twee jaar voltooi.
  2. Onderhewig aan die bepaling in a. hierbo genoem, word 'n student wat 'n studiejaar in die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe vir die tweede keer druip, slegs een kans gegun om 'n studiejaar te herhaal, en moet sodanige student 'n skriftelike aansoek indien om hertoelating tot die program volgens die voorgeskrewe prosedure.
  • Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies is daar geen minimum jaar- of semesterpunt wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie en kry alle geregistreerde studente outomaties toelating tot die eksamen.
  • Die finale punt vir 'n bepaalde module in Verpleegkunde, Fisioterapie, Radiografie, Arbeidsterapie en Mensvoeding (minstens 50% word vereis om te slaag) word bereken uit die eksamenpunt sowel as die punt saamgestel uit die evaluasie van 'n student tydens deurlopende, objektiewe en gekontroleerde assesserings-geleenthede gedurende die kwartaal/semester/jaar. Minstens een formele assessering per module word as die minimum norm in dié verband gestel, en studente sal deurgaans op ’n gereelde grondslag aan selfgerigte leeropdragte blootgestel word ten einde selfgerigte leer te bevorder.
  • In die geval van modules met praktiese komponente word vereis dat die studente aan al die toepaslike bywoningsvereistes met betrekking tot die bemeestering van praktiese vaardighede voldoen alvorens ’n slaagpunt vir die module verwerf word.
  • Daar is twee hoofeksamengeleenthede per jaar, die eerste en tweede eksamen. Ten opsigte van eerstesemestermodules is die eksamengeleentheid in Mei/Junie en die tweede eksamengeleentheid in Julie. Ten opsigte van tweedesemester-modules is die eerste eksamengeleentheid in Oktober/November en die tweede eksamengeleentheid in November/Desember van dieselfde jaar. In gevalle waar studente addisionele kliniese werkure moet voltooi om tot ’n tweede eksamen toegelaat te word, sal die departementshoof die tweede eksamengeleentheid bepaal.
  • Slegs twee eksamengeleenthede per module is toelaatbaar. Indien ’n student ’n module tydens die tweede eksamengeleentheid druip, moet die betrokke module herhaal word.
  • 'n Tweede eksamengeleentheid in ’n module word in die volgende gevalle aan studente verleen:

- Indien ’n student ’n finale punt van minder as 50% in die betrokke module gedurende die eerste eksamengeleentheid behaal het en dus druip.
- Indien ’n student nie die subminimum in die eksamen, wat vir ’n bepaalde module vereis word, behaal het nie.
- Indien ’n student weens siekte of buitengewone omstandighede nie die eksamen in ’n module gedurende die eerste eksamengeleentheid kon aflê nie.

  • Studente wat weens bogemelde redes die tweede eksamen wil aflê, moet 24 uur na die uitslae ontvang is, registreer vir die tweede eksamengeleentheid.
  • Indien ’n student ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid gedruip het, word die eksamenpunt wat hy of sy tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal, as die finale punt verreken. Die punte wat met die deurlopende evaluering gedurende die kwartaal/semester/jaar verwerf word, word nie in berekening gebring nie. Indien die student die module tydens die tweede eksamengeleentheid slaag, word nie meer as 50% as slaagpunt in die betrokke module toegeken nie.
  • Indien ’n student as gevolg van siekte of buitengewone omstandighede nie aan die eksamen in ’n module tydens die eerste eksamengeleentheid kon deelneem nie, word die deurlopende evalueringspunt, tesame met die eksamenpunt wat tydens die tweede eksamengeleentheid in die betrokke module behaal is, as die finale punt in die module behaal, bereken.
  • Die Skool vir Gesondheidsorgwetenskappe pas die bepalings van die Algemene Regulasies toe. Daarvolgens mag ’n student wat ’n beperkte aantal modules uitstaande het ten einde aan graadvereistes te kan voldoen, kragtens fakulteitsregulasies tot ’n spesiale eksamen daarin toegelaat word.

Slaag van Anatomie- en Fisiologiemodules

  1. 'n Modulepunt word bereken uit die deurlopende geleenthede vir evaluering tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke module. Hierdie evaluasies sal een of meer van die volgende insluit:
  1. Evaluasies ten opsigte van teoretiese kennis.
  2. Evaluasies ten opsigte van praktiese kennis en vaardighede.
  3. Verpligte bywoning van en aktiewe deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.
  4. 'n Finale omvattende moduletoets.
  1. Studente mag die opsie uitoefen dat die modulepunt aan die einde van die semester ook as die finale modulepunt vir die betrokke module bekragtig word (dit wil sê hulle word vrygestel van die module-eksamen van hierdie module) mits hulle aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Indien bogemelde modulepunt meer as 65% is.
  2. Bewese bywoning van alle toepaslike modulespesifieke aktiwiteite, naamlik:
  • Alle toetse/deurlopende evaluasies.
  • Alle praktika en vaardigheidsontwikkelingsessies.
  1. Bywoning van die betrokke module vanaf dag 1.
  2. Geen skuldigbevinding deur die Skool se Preliminêre Dissiplinêre Komitee (Studente-oortredings) aan enige vorm van ongerymdhede nie.
  1. 'n Module-eksamen word toegestaan aan alle geregistreerde studente (selfs al is die modulepunt meer as 65%).
  2. Die finale modulepunt word bereken uit die eksamenpunt en die modulepunt (deurlopende evaluering) in die verhouding 50:50.
  3. 'n Tweede module-eksamen word toegestaan aan alle studente wat 'n finale modulepunt van 40% tot 49% behaal het. Studente wat ’n finale modulepunt van minder as 40% behaal het, druip die module en sal die studiejaar moet herhaal.
  4. Die betrokke tweede eksamen word in November/Desember van dieselfde jaar of in Januarie van die daaropvolgende jaar afgeneem. Minstens 50% word vereis om die tweede eksamen te slaag.
  5. Siekte- of buitengewone eksamens vir studente wat weens gesondheids- of ander aanvaarbare redes nie die module-eksamen kon aflê nie, word tydens die tweede eksamenperiode afgelê. Studente doen formeel aansoek om sodanige eksamen, en toelating daartoe word deur die Voorsitter van die Skool of gemagtigde persoon verleen. Waar toepaslik, kan die Voorsitter van die Skool eers 'n aanbeveling van die Gesondheidskomitee van die Fakulteit vereis voordat toelating tot ’n siekte-eksamen toegestaan word.

Alle modaliteite van 'n finale eksamen moet gesamentlik as 'n siekte- of buitengewone eksamen afgelê word, selfs al was 'n deel van die betrokke eksamen reeds in die vorige eksamenperiode afgelê.

Die finale modulepunt word bereken uit die punte van al die afdelings/ modaliteite van die siekte- of buitengewone eksamen en die deurlopende evalueringspunt. Dieselfde kriteria soos uiteengesit vir 'n slaagpunt in 'n module, is ook hier van toepassing.
Studente wat vir aanvaarbare redes nie die module-eksamen in die eksamenperiode kon aflê nie, en die module-eksamen gevolglik in die tweede eksamenperiode aflê, verbeur die geleentheid om tot 'n verdere tweede eksamen toegelaat te word.

Vrystelling van die eksamen in (FAR) Farmakologie 381, 382
Vrystelling van die eksamen kan toegestaan word indien 'n student wat 'n modulepunt van minstens 60% behaal het, die opsie uitoefen om dit as finale punt te aanvaar.

Bevordering tot volgende studiejaar

  • 'n Student moet al die voorgeskrewe kernmodules van 'n spesifieke studiejaar slaag ten einde bevorder te kan word tot die daaropvolgende studiejaar. 'n Student kan slegs tot 'n volgende studiejaar bevorder word indien hy of sy nie meer as twee fundamentele modules van sewe weke elk per semester of een module van 14 weke per semester gedruip het nie. ’n Ononderhandelbare voorvereiste vir toelating tot die finale studiejaar is slaagpunte in al die kern- en fundamentele modules van die voorafgaande studiejare.
  • Raadpleeg die Jaarboek vir fundamentele modules in elke dissipline.
  • 'n Slaagpunt verwys na 'n finale punt van minstens 50%.
  • Modules met krediete vir praktiese werk en kliniese opleiding kan nie geslaag word nie, alvorens al die voorgeskrewe kliniese ure en praktiese aktiwiteite tot die bevrediging van die departementshoof voltooi is.
  • Die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering mag na beoordeling van die student se totale profiel, spesiale toestemming aan die student verleen/toestaan om tot 'n volgende studiejaar bevorder te word.
  • Die uitsondering is die Departement Mensvoeding, waar die regulasies van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe ten opsigte van die modules deur daardie Fakulteit aangebied, van toepassing is.
  • Modules kan slegs vooruitgeneem of herhaal word indien dit in die bestaande eksamenrooster geakkommodeer kan word.
  • 'n Student wat 'n studiejaar herhaal, mag met die toestemming van die Voorsitter van die eksamenmodereringsvergadering en die betrokke departementshoof, toegelaat word om fundamentele modules van die daaropvolgende jaar te neem, mits hy of sy aan die voorvereistes vir die betrokke modules voldoen. Geen aanpassing van bestaande roosters sal toegelaat word nie. Die volgende fundamentele modules is ter sprake:

Departement Verpleegkunde: SLK 110, 120; FSG 251, 252.

  • Departement Fisioterapie: SOH 254; FSG 251, 252, 261, 262, SLK 210
  • ANP 210, GMB 252, 253, 254, FAR 381, 382
  • Departement Arbeidsterapie: ZUL 110; SEP 110; SLK 210, 220;
  • FSG 251, 252, 261, 262; ANP 210; RPD 481; GNK 286
  • Departement Mensvoeding:  FLG 211, 212, 221, 222;
  • BCM 251, 252, 261, 262; FAR 381, 382, VDS 322; VDB 321
  • Departement Radiografie:  FSG 251, 252, 262; GNK 286; ANP 210.

Praktiese/kliniese/internskapinligting

(i)      Die leergang behels verpligte praktiese en kliniese opleidingsmodules, bestaande uit ’n persentasie van die krediete wat vereis word vir die suksesvolle voltooiing van die graad.

(ii)     Studente sal vir die duur van die studie as studentverpleegkundiges by ’n goedgekeurde opleidingshospitaal (of hospitale) geregistreer word.

(iii)    Daar sal van studente verwag word om buiteklinieke en instansies wat gesondheidsdienste lewer, te besoek.

(iv)    Kliniese opleiding sal vir die duur van die studie by die fasiliteite hierbo genoem, plaasvind.

(v)     Daar sal van studente verwag word om ’n dienskontrak met die goed-gekeurde opleidingshospitaal (of hospitale) te onderteken – besonderhede hiervan sal ná suksesvolle aansoek om toelating beskikbaar gestel word.

Sekere hospitale en gesondheidsfasiliteite is goedgekeur vir die doel van praktiese en kliniese opleiding in Fundamentele Verpleegkunde, Algemene Verpleegkunde, Psigiatriese Verpleegkunde, Gemeenskaps- en Verloskundige Verpleegkunde.

 

Slaag met lof

Die BCur-graad word met lof toegeken aan ’n student wat:

(i)      minstens 75% behaal het in elk van NPE 461, NPE 462 en NUR 456;

(ii)     ’n gesamentlike gemiddelde van minstens 75% behaal het in NUR 451 en NUR 452; en

(iii)    ’n gesamentlike gemiddelde van minstens 75% behaal het in DNP 451 en DNP 452.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences