Jaarboeke

Program: MBChB Geneeskunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10130001 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 6 jaar Totale krediete: 1216
Contact:
Prof BG Lindeque
[email protected]
+27 (0)123541201

Programinligting

Elke student in Geneeskunde moet onmiddellik na toelating tot die eerste studiejaar by die Registrateur van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aansoek doen om registrasie as student in Geneeskunde.

Na verwerwing van die graad moet ’n student by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as ’n intern registreer en vir minstens een jaar opleiding ondergaan aan ’n inrigting wat deur genoemde Raad vir dié doel goedgekeur is. (Studente wat na Julie 2006 kwalifiseer, sal verplig wees om ’n tweejaar-internskap te voltooi.) Daarna moet hy of sy by die Raad as geneesheer registreer en een jaar gemeenskapsdiens verrig alvorens hy of sy in ’n privaat praktyk kan praktiseer.

Die geïntegreerde, uitkomsgebaseerde probleem-georiënteerde graadprogram bestaan uit teoretiese blokke, spesiale aktiwiteite (SA’s) en kliniese rotasies. Tydens die finale 18 maande, bekend as die Studentinternkompleks (SIK) vind al die programaktiwiteite in die kliniese omgewings plaas.

Toelatingsvereistes

  •  Ten einde te kan registreer moet NSS/IEB/Cambridge-kandidate voldoen aan die minimum vereistes vir graadstudie en aan die minimum vereistes van die betrokke studieprogram.
  •  Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.
  •  Graad 11-uitslae word gebruik vir die voorlopige toelating van voornemende studente.
  •  Toelating vir Gesondheidswetenskappe studieprogramme is onderhewig aan 'n keuringsproses.
  •  Vir keuringsdoeleindes word die som van die uitslae in ses vakke insluitend Engels Wiskunde en Fisiese Wetenskap bereken. 
 
 

Minimum vereistes vir 2016

Prestasievlak

TPT

Engels

Wiskunde

Fisiese Wetenskap

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSC/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

5

3

C

C

5

3

C

C

35

 

 
 

 

 

Addisionele vereistes

In die eerste studiejaar is daar 300 plekke in die MBChB-graadprogram beskikbaar. Aansoekers vir MBChB I word aan die hand van verskillende kategorieë beoordeel en die minimum toelatingsvereistes word hiervolgens vasgestel.

  1. Volgens die keuringsproses, moet kandidate Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskap met ‘n minimum prestasiekode van 5 (60%-69%) geslaag  het. ‘n Minimum TPT van 35 is ‘n voorvereiste om in aanmerking te kom vir keuring en/of toelating.
  2. Kandidate mag nie die eerste studiejaar van hierdie graadprogram aan enige ander Suid-Afrikaanse universiteit voltooi nie.
  3. ’n Kandidaat wat ten minste ’n volledige akademiese jaar aan ’n ander universiteit voltooi het en minstens vier eerstejaarsvakke geslaag het, kan in aanmerking kom vir keuring, maar slegs vir die MBChB I-program.
  4. Die toelating van buitelandse kandidate word beperk. Kandidate van lande in die SAOG word verkieslik oorweeg.
  5. Kandidate word na afloop van die keuring per SMS en skriftelik van die uitslag verwittig.
  6. Skoolverlaters met geen vorige tersiêre opleiding wat nie tot die MBChB I-program toegelaat is nie, kan vir die eerste studiejaar van ’n BSc-graadprogram in Biologiese of Mediese Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria registreer, indien hulle daarvoor kwalifiseer. Indien hulle die voorgeskrewe eerstesemestermodules slaag, kan hulle voor 31 Mei in die eerste studiejaar aansoek doen vir MBChB I om vanaf die tweede semester oorweeg te word.
  7. Kandidate wat nie tot die eerste studiejaar van die MBChB-graadprogram toegelaat word nie, kan aansoek doen om toelating tot enige ander graadprogram solank hulle aan die betrokke toelatingsvereistes van hierdie Universiteit voldoen en kan op grond van daardie prestasie weer aansoek om toelating tot of oorskakeling na MBChB I doen.

Ander programspesifieke inligting

Belangrik:
Studente het drie evalueringsgeleenthede, naamlik ’n bloktoets, eerste eksamen en tweede eksamen ten einde te slaag in GPS Generiese prosedurevaardighede 280. Alhoewel 'n student nie teruggehou sal word as GPS 280 gedruip word nie, moet die betrokke module teen die einde van die eerste semester van die derde studiejaar geslaag word, in gebreke waarvan die student wel teruggehou sal word in die derde studiejaar.

Vierde studiejaar:

  • SA 11 (GNK 487) Vel 487 word voorafgegaan deur een studieweek genaamd SA 11a in die 4de jaar, 2de semester.
  • 'n Student wat vanaf 2015 BOK 284 (25 krediete) neem, sal module GNK 482 moet neem en slaag.
  • SA 16 (GNK 482) Geregtelike geneeskunde 482 sal vir die eerste keer vanaf 2017 aangebied word. ‘n Student wat BOK 482 voor 2015 geslaag het, hoef nie hierdie module te neem nie aangesien die inhoud reeds by BOK 284 (31 krediete) ingesluit was.

Vyfde studiejaar:
Blok 18 (GNK 585) Farmakoterapie 585 word voorafgegaan deur twee studieweke, naamlik Blok 18a in die 2de jaar, 2de semester en Blok 18b in die 4de jaar, 2de semester.
Let wel: Punte behaal in die oggendrotasies word in berekening gebring by die betrokke blokpunte.

Toelating tot die Studentinternkompleks (SIK):
Tweede helfte van vyfde studiejaar en die sesde studiejaar

  1. Om tot die SIK toegelaat te word, moet ’n student in al die eksamenmodules en oggendrotasies van die eerste semester van die vyfde studiejaar geslaag het.
  2. Rotasies en einde-van-rotasie- evaluasie (eerste eksamen) en einde-van-semester-eksamen (tweede eksamen):
  1. Opleiding in die SIK duur 18 maande. Rotasies vind oor 63 weke in drie semesters plaas.
  2. Alle studente wat betrokke is, geniet dieselfde rang van senioriteit en staan as studentinterns bekend; dit wil sê, geen onderskeid word in hierdie geval tussen die status van ’n vyfde- en sesdejaarstudent gemaak nie.
  3. ’n Rotasie duur sewe weke, en elke drie rotasies word logies saam-gegroepeer, in die drie semesterafdelings van die SIK.
  4. Die semesterrotasies word soos volg ingedeel:

Studentinternkompleks (SIK) (18 maande)
SIC Semester (a): Chirurgie en verwante dissiplines en huisartskunde

  1. Chirurgie (7 weke) GNK 680 – 52 krediete
  • Algemene chirurgie
  • Vaskulêre chirurgie
  • Plastiese chirurgie
  • Pediatriese chirurgie
  • Kardiotorakale chirurgie
  • Neurochirurgie (1 week)
  1. Chirurgie-verwante subdissiplines (3 weke)
  • Urologie (2 weke) GNK 690 – 11 krediete
  • Ortopedie (3 weke) GNK 681 – 17 krediete
  • 1 week van eksamens
  1. Anestesiologie en huisartskunde (7 weke)
  • Anestesiologie (3½ weke) GNK 682 – 20 credits
  • Huisartskunde (3½ weke) GNK 691 – 20 credits

Totale krediete per semester: 120

SIK Semester (b): Interne geneeskunde en verwante subdissiplines en psigiatrie

  1. Interne geneeskunde (7 weke) GNK 683 – 45 krediete
  2. Interne geneeskunde-verwante subdissiplines (3½ weke) GNK 684 – 20 krediete
  • Dermatologie
  • Hematologie
  • Kardiologie
  • Neurologie (3½ weke) GNK 693 – 15 krediete
  1. Psigiatrie (7 weke) GNK 685 – 40 krediete

Totale krediete per semester: 120

SIK Semester (c): Vroue- en kindergesondheid en gemeenskapsgebaseerde onderrig

  1. Obstetrie en ginekologie (7 weke) GNK 686 – 40 krediete
  2. Pediatrie (7 weke) GNK 687 – 40 krediete
  3. Gemeenskapsobstetrie (3½ weke) GNK 692 – 20 krediete
  4. Gemeenskapsgebaseerde onderrig (3½ weke) GNK 688 – 20 krediete

Totale krediete per semester: 120

SA13 Spesiale aktiwiteit: Diagnostiese laboratorium-geneeskunde

  1. Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde (2 weke) GNK 689 – 11 krediete
  • Beeldvormende geneeskunde
  • Getuienisgebaseerde geneeskunde
  • Bio-etiek (2 dae)*

Totale krediete: 11 
Totale krediete Studentinternkompleks 371

SA 13 Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde word gevolg deur twee studie-dae, naamlik SA 13a in die 6de jaar, 2de semester.

  1. Einde-van-rotasie-evaluasie word aan die einde van elke sewe-week- rotasie gehou. Studente wat 'n finale punt van minstens 60% behaal, promoveer die rotasie en hoef nie die einde-van-semester-eksamen in die rotasie af te lê nie.
  • In die eerste semester vind hierdie eksamen drie keer vir studente in die eerste semester van hul sesde studiejaar).
  • In die tweede semester vind die eksamen ook drie keer plaas (vir studente in die tweede semester van beide die vyfde en sesde studiejaar).
  1. Einde-van-semester-eksamen vind plaas in die betrokke rotasies van die betrokke semester van 'n SIK waarin studente nie voldoende presteer het nie (d.i. minder as 60%).Studente wat nie in hierdie eksamens slaag nie, sal nie tot die volgende semester se rotasies toegelaat word nie, en sal die betrokke onsuksesvolle rotasie(s) moet herhaal en slaag. (Nadere besonderhede in die      verband verskyn hieronder.
  2. Tydens die eerste semester van die sesde studiejaar word twee periodes van twee weke elk aan die volgende bestee: GNK 689: Diagnostiese laboratoriumgeneeskunde; Beeldvormende geneeskunde; Getuienisgebaseerde geneeskunde; Bio-etiek.

Rotasie(s) gedruip of nie gepromoveer nie

  1. ’n Studentintern wat vir die eerste keer ’n sewe-week-rotasie of rotasies druip (dit wil sê die einde-van-rotasie-eksamen) of nie daarin promoveer nie, lê die einde-van-semester-evaluasie daarin af. Indien suksesvol in die tweede eksamen, word voortgegaan met die rotasies van die volgende semester. Indien nie suksesvol nie, moet die betrokke rotasie(s) by die eerste geleentheid in die volgende semester herhaal word. Die aard van sodanige herhaling moet beskou word as remediërend en dit eindig met die volgende einde-van-rotasie-evaluasie.
  2. Die einde-van-rotasie-eksamen vir sodanige studentinterns dien as die volgende amptelike eksamen en moet as sodanig deur eksterne eksaminatore gemonitor word. ’n Slaagpunt van minstens 50% word vereis.
  3. Studentinterns wat die einde-van-rotasie-evaluasie suksesvol aflê, gaan voort met die volgende “semesterrotasies” en mag by hul oorspronklike groep aansluit vir die res van die SIK. Die derde rotasie van die semester sal dan weer ongelykfasig wees.
  4. Studentinterns wat die einde-van-rotasie-evaluasie (dit wil sê eerste eksamen) weer druip, gaan roetinegewys voort met die volgende rotasies of semesteraktiwiteit soos van toepassing ooreenkomstig die aantal rotasies wat gedruip is. Sodanige studentinterns sal die onsuksesvolle rotasies aan die einde van die opleidingstydperk voltooi, nadat alle ander rotasies geslaag is.
  5. Die sesde studiejaar mag twee keer gedruip word, mits geen vorige jaar gedruip is nie. Dit beteken dat ’n totaal van sewe semesters vir die sesde studiejaar beskikbaar is vir ’n studentintern wat geen vorige studiejaar gedruip het nie.

Eksamens en slaagvereistes

Slaag van 'n blok/spesiale aktiwiteit in die MBChB-graadprogram

  1. 'n Blokpunt word bereken uit die einde van die blokevaluering en tydens die verloop van die aanbieding van die betrokke blok of spesiale aktiwiteit. Hierdie evaluasies sal een of meer van die volgende insluit:
  1. Evaluasies ten opsigte van teoretiese kennis.
  2. Evaluasies ten opsigte van kliniese kennis en vaardighede.
  3. Verpligte bywoning van en aktiewe deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.
  4. ’n Finale omvattende bloktoets wat deur eksterne eksaminatore gemodereer word.
  1. Studente mag die opsie uitoefen dat die blokpunt aan die einde van die jaar as die finale blokpunt vir die betrokke blok bekragtig word (dit wil sê hulle word vrygestel van die blokeksamen van hierdie blok) mits hulle aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Bogenoemde blokpunt is meer as 60%.
  2. Bewese bywoning van alle toepaslike blokspesifieke aktiwiteite, te wete:
  • Alle toetse/deurlopende evaluasies.
  • Alle praktika en oggendsaalrondte-aktiwiteite.
  • Alle relevante vaardigheidslaboratoriumaktiwiteite.
  • Alle relevante gemeenskapsgebaseerde onderrigaktiwiteite.
  • Alle kliniese rotasies.
  1. ’n Slaagsyfer in die kliniese rotasietoets.
  2. Bywoning van die betrokke blok vanaf dag 1.
  3. Geen skuldigbevinding deur die Fakulteit se Preliminêre Dissiplinêre Komitee (Studente-oortredings) aan enige vorm van oneerlikheid of bedrog nie.

 

  1. ’n Blokeksamen word toegestaan aan alle geregistreerde studente ongeag die blokpunt.
  2. Die finale blokpunt word bereken uit die blokeksamenpunt en die blokpunt (deurlopende evaluering) in ’n verhouding 50:50 of 60:40, na gelang van die studiejaar en/of blokspesifieke regulasies. Die formule waarvolgens die finale blokpunt bereken word, sal uiteengesit word in die blokboek (studie-handleiding) en by die aanvang van die program aan die studente verduidelik word.
  3. Om ’n blok/spesiale aktiwiteit te slaag waarin ’n kliniese komponent teenwoordig is, word ’n subminimum van 50% as blokeksamenpunt vereis (’n student wat dus ’n blokpunt bo 50%, ’n blokeksamenpunt onder 50%, en ’n finale blokpunt van bo 50% behaal, druip die blok en word tot ’n tweede eksamen toegelaat).
  4. Met betrekking tot die Aaneenlopende Kliniekbesoekprogram (L-CAS-aktiwiteite) van ’n akademiese jaar (modulekode LCP 180, 280, 380, 480 en 580), moet studente ’n portefeulje vir assessering aan die einde van die jaar inhandig. Bevredigende bywoning word verder vereis betreffende hierdie module om die jaar te slaag. Let wel: Studente word nie toegelaat binne pasiënte se huise of enige ander ongemagtigde fasiliteit nie.
  5. ‘n Tweede eksamen in ’n blok word toegestaan aan alle studente wat in ’n betrokke blok druip.
  6.  As ’n reël word die betrokke tweede eksamen in November/Desember van dieselfde jaar of in Januarie van die daaropvolgende jaar afgeneem. Hierdie regulasie is egter nie van toepassing aan die einde van die eerste semester van MBChB V nie. ’n Minimum van 50% word vereis om in die tweede eksamen te kan slaag.
  7. Siekte- of buitengewone eksamens vir studente wat weens gesondheids- of ander aanvaarbare redes nie die blokeksamen kon aflê nie, word tydens die tweede eksamenperiode afgelê. Studente doen formeel aansoek om sodanige eksamen, en toelating daartoe word deur die Voorsitter van die Skool of bemagtigde persoon goedgekeur. Waar toepaslik, kan die Voorsitter van die Skool eers ’n aanbeveling van die Gesondheidskomitee van die Fakulteit vereis voordat toelating tot ’n siekte-eksamen toegestaan word. Alle modaliteite van ’n finale eksamen moet gesamentlik as ’n siekte- of buitengewone eksamen afgelê word selfs al was ’n deel van die betrokke eksamen alreeds in die vorige eksamenperiode afgelê. Die finale blokpunt word bereken uit die punte van al die afdelings/modaliteite van die siekte- of buitengewone eksamen en die betrokke blokpunt (deurlopende evaluerings-punt). Dieselfde kriteria soos uiteengesit vir ’n finale punt in ’n blok, is ook hier van toepassing.Let wel: Geen spesiale datums sal vir siekte-/buitengewone eksamens gereël word nie. Sodanige eksamens sal slegs op die geskeduleerde datums van gewone eerste/tweede eksamens plaasvind.
  8. Siekte- of buitengewone toetse word nie in die MBChB-graadprogram toegestaan nie. Studente wat met toestemming van toetse afwesig is, sal uiteraard geen blokpunt hê nie, en die slaag van hierdie betrokke blok/ke sal uitsluitlik deur die blokeksamenpunt bepaal word.


Herhaling van blokke en/of spesiale aktiwiteite (en dus die studiejaar) in die MBChB-graadprogram
’n Student wat een of meer blokke en/of spesiale aktiwiteite in ’n betrokke jaar druip moet die studiejaar herhaal. Sodanige student word egter vrygestel van die blokke en/of spesiale aktiwiteite wat wel in die onsuksesvolle jaar geslaag is.
Die Eksamenmodereringsvergadering en/of die Voorsitter van die Skool vir Geneeskunde behou die reg om slegs ’n slaagpunt in genoemde blokke en/of spesiale aktiwiteite toe te staan, mits die student in daardie blokke en/of spesiale aktiwiteite aan die volgende vereistes voldoen:

  • Dat die punt wat aan die betrokke blok of spesiale aktiwiteit toegeken is, nie op grond van kondonering geskied het nie.
  • Dat die student die betrokke blok of spesiale aktiwiteit gereeld bygewoon het, aan alle aktiwiteite deelgeneem het en verder aan alle ander vereistes voldoen het.

Eksamens en slaagvereistes
Ingevolge die bepalings van Algemene Regulasie is daar 'n minimum jaar- of semesterpunt van 40% wat benodig word om tot die eksamen toegelaat te word nie: Met dien verstande dat alle jaar- en semestermodules binne ’n skool nie op dieselfde wyse hanteer hoef te word nie alhoewel ’n groot mate van eenvormigheid gewens is. Die bepaling dat alle studente vrylik tot eksamens toegelaat word, word ondersteun. 'n Finale blokpunt in die betrokke module word egter bereken uit die blokeksamenpunt sowel as die blokpunt wat saamgestel word uit die deurlopende evaluering tydens die aanbieding van die module (dws die semester-, jaar-, module- of blokpunt). Laasgenoemde punt word bereken uit punte behaal in een of meer van die onderstaande:

  1. Evaluering oor teoretiese kennis.
  2. Evaluering oor kliniese kennis en vaardighede.
  3.  Verpligte bywoning van en deelname aan voorgeskrewe aktiwiteite.

Die bydrae van elke modaliteit in die berekening van die bogenoemde punt, word in die regulasies uiteengesit en in studiehandleidings opgeneem, en dit word breedvoerig voor die aanvang van die modules aan die betrokke studente verduidelik. So ook die gewig wat aan bogenoemde punte en aan die onderskeie eksamenpunte by die berekening van die finale blokpunt van die student toegeken word, wat wissel tussen 50:50 en 40:60 na gelang van die studierigting, studiejaar en programspesifieke samestelling.
Die belangrikheid van deurlopende evaluering in die assessering van studente is ononderhandelbaar en daarom sal punte in hierdie soort evaluasies in alle modules/vakke deel uitmaak van die finale slaagpunt.
Die slaagsyfer vir skripsies is minstens 50%. Die bepalings van die Algemene Regulasies ten opsigte van slaagvereistes vir verhandelings is mutatis mutandis op skripsies van toepassing.
Vir vereistes in bovermelde verband, raadpleeg ook die studie-handleiding van 'n gegewe blok.

Akademiese uitsluiting van verdere studie

  1. Ingevolge die bepalings van die Algemene Regulasies word ’n student slegs toegelaat om te herregistreer indien sodanige student die graad-program waarvoor hy of sy ingeskryf is, binne die minimum voorgeskrewe tydperk van studie plus twee jaar voltooi.
  2. In die geval van die MBChB-graad wat deur die Skool vir Geneeskunde aangebied word, moet ’n student wat ’n studiejaar vir die tweede keer druip, ’n skriftelike aansoek om hertoelating tot die program, aan die Hertoelatings-komitee van die Skool met die Voorsitter van Skool as voorsitter, rig.
  3. Die betrokke Komitee sal alle relevante faktore in oorweging neem.

Bevordering tot volgende studiejaar

Druipelinge/Toelating tot die tweede semester van MBChB I

  1. Gekeurde eerstejaarstudente wat in alle voorgeskrewe eerste-semestermodules op 100-vlak geslaag het, word onderworpe aan die bepalings van die Algemene Regulasies outomaties tot die tweede semester van die eerste studiejaar toegelaat.
  2. Gedurende die tweede semester kan studente wat vakke gedruip het, op ’n antisemesterbasis tot ‘n eksamen toegelaat word, op voorwaarde dat daar geen roosterbotsings sal wees nie.
  3. In die Skool vir Geneeskunde mag ’n student nie meer eerstesemester-modules as wat in totaal gelykstaande is aan agt lesings per week, op ’n antisemesterbasis in die tweede semester herhaal nie.

Druipelinge/Toelating tot MBChB II

  1. ’n Student moet al die modules voorgeskryf vir MBChB I slaag om toelating tot MBChB II te verkry.
  2. Studente wat die toelaatbare hoeveelheid modules van die eerste semester op ’n antisemesterbasis in die tweede semester volg, moet ’n tweede eksamen daarin aflê en slaag voor die aanvang van die tweede studiejaar. Indien ’n student die betrokke module(s) dan slaag, sal die feit dat dit in die eerste semester gedruip is, nie toelating tot MBChB II beïnvloed nie.
  3. Geen tweedesemesterblok of spesiale aktiwiteit vir MBChB I word op ’n antisemesterbasis aangebied nie.
  4. ALLE studente wat MBChB I druip, verbeur keuring en moet skriftelik aansoek doen om hertoelating tot die MBChB-graadprogram. Raadpleeg ook Reg. M.1 (c) in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die tweede studiejaar
Om tot die tweede studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die eerste studiejaar geslaag het.

Druipelinge/Toelating tot MBChB III

  1. Studente moet al die voorgeskrewe modules vir MBChB II slaag vir toelating tot MChB III.
  2. Studente wat een blok druip, mag die MBChB II-jaar* herhaal sonder om sy/haar keuring te verbeur.
  3. Studente wat twee blokke druip maar wat nog nie vantevore ’n blok gedruip het nie, mag die MBChB II-jaar* herhaal, sonder om sy/haar keuring te verbeur.
  4. Studente wat drie of meer blokke druip, word outomaties van die program uitgesluit.
  5. Studente wat MBChB I gedruip het en vervolgens ook MBChB II (nieteenstaande die hoeveelheid blokke wat betrokke is), word outomaties van die program uitgesluit.
  6. Studente wat van die program uitgesluit is, is weer aan keuring met die oog op hertoelating tot MBChB II onderworpe.

Raadpleeg Eksamens en slaagvereistes in verband met studente wat sekere blokke druip en die jaar gevolglik moet herhaal.

Toelating tot die derde studiejaar
Om tot die derde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die tweede studiejaar geslaag het met die uitsluiting van SA9.

Druipelinge (derde studiejaar)
’n Student wat enige gegewe blok (d.i. eksamenmodules) druip, moet die derde studiejaar herhaal. Raadpleeg ook die fakulteitsregulasies in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die vierde studiejaar
Om tot die vierde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die derde studiejaar geslaag het. Raadpleeg ook die fakulteitsregulasies in verband met studente wat enkele blokke en dus ’n studiejaar druip.

Druipelinge (vierde studiejaar)
’n Student wat enige gegewe blok (d.i. eksamenmodules) druip, moet die vierde studiejaar herhaal. Raadpleeg die paragraaf oor druipelinge in verband met studente wat enkele blokke in ’n jaar (en dus die studiejaar) druip.

Toelating tot die vyfde studiejaar
Om tot die vyfde studiejaar toegelaat te word, moet ’n student in al die modules voorgeskryf vir die vierde studiejaar geslaag het.

Tweede semester
Die Studentintern-kompleks (SIK) neem ‘n aanvang aan die begin van die tweede semester van die vyfde studiejaar.

Druipelinge

  1. Aan die einde van die eerste semester van die vyfde studiejaar lê studente ’n blokeksamen af in elk van die blokke waarin hulle nie promoveer nie. ’n Tweede eksamen vind direk ná aanvang van die SIK plaas. Suksesvolle studente verkry SIK-status en gaan voort met die SIK.
  2.  Studente wat die eksamen sowel as die tweede eksamen in een of meer van die blokke druip (en dus die semester druip) mag nie met die SIK voortgaan nie, maar neem deel aan ’n remediëringsprogram wat plaasvind tydens die eerste sewe weke van die tweede semester.
  3. ’n Tweede eksamen sal in die ontbrekende blokke toegestaan word aan die einde van die sewe-week-periode.
  4. Onsuksesvolle afhandeling van die oggendrotasies tydens die eerste semester van die vyfde studiejaar sal ’n student verhoed om die betrokke blok(ke) te promoveer en eksamen sal dan verpligtend wees.
  5. Indien die studente die tweede eksamen slaag kan hulle vanaf die tweede sewe-week-rotasieperiode by die SIK inskakel.
  6. Indien ’n student weer druip met die tweede eksamen, word die res van die studiejaar as remediëring gebruik. In Januarie van die daarop-volgende jaar kan studente voorwaardelik met die SIK begin, maar moet die SIK onderbreek vir die duur van die onsuksesvolle blok wanneer dit in die eerste semester aangebied word. Studente moet die blok dan herhaal. Suksesvolle studente gaan dan voort met die SIK.

Slaag met lof

Die graad word met lof aan ’n student toegeken wat ’n gemiddelde van minstens 75% in die Studentinternkompleks-rotasies behaal het.

Algemene inligting

Studentinterns: MBChB

Alle studente

  1. Na afloop van elke sewe-week-rotasie vind ’n einde-van-rotasie-evaluering (EVRE) in die verskillende departemente plaas. Die doel van die EVRE is die identifisering van studente wat vrystelling van eksamen (semester-eksamen) verkry en diegene wat nie vrystelling verkry nie en die eksamen dus aan die einde van die semester moet aflê. Alle EVRE’s word deur eksterne eksaminatore ondersteun.
  2. Dieselfde proses vind plaas in rotasies wat 3,5 weke duur.
  3. Geen punte word aan studente bekend gemaak nie; slegs die name en/of die registrasienommers van studente wat die semestereksamen moet aflê, word bekend gemaak.
  4. Na afloop van die semestereksamen (wat oor drie dae strek op datums wat vooraf bepaal word), word ’n EMV gehou, met die volgende doelwitte:
  • Bekragtiging van die rotasiepunte van studente wat eksamen-vrystelling verkry het, as die semestereksamenpunt. Die rotasiepunt en die EVRE-punt dra by tot die finale punt.
  • Identifisering van die studente wat die semestereksamen geslaag het. Die rotasiepunt en die semestereksamenpunt dra by tot die finale punt.
  • Identifisering van die studente wat die semestereksamen gedruip het. Hierdie studente word na Studenteadministrasie verwys, aangesien ’n nuwe rotasie-indeling nou gevolg moet word.
  • Identifisering van die studente wat studiehulp benodig.

Studente wat rotasies herhaal: MBChB

  1. Studente wat rotasies herhaal, lê aan die einde van die rotasie wat herhaal is, die EVRE af. Die doelwit is om ’n slaagpunt te behaal. Die deurlopende evaluasiepunte en die EVRE-punt dra by tot die finale punt.
  2. Op die eerste Woensdag na afloop van die rotasie word ’n EMV om 13:00 gehou (of op ’n ander tyd soos gereël) om die prestasie van die studente, wat die rotasie herhaal, te evalueer. Die doelwitte van hierdie EMV is:
  • Identifisering van die studente wat die herhaalrotasie slaag (finale punt van 50% en hoër) (maksimum op vorm aangedui is "50H").
  • Identifisering van die studente wat die herhaalrotasie druip. Hierdie studente word na Studenteadministrasie verwys aangesien ’n nuwe rotasie-indeling nou gevolg moet word.
  • Identifisering van die studente wat studiehulp benodig.
  1. Die prestasie van studente wat ’n 3,5-weke rotasie herhaal het, word by dieselfde EMV bespreek.


Studente wat "finaliste" is op ander tye as die einde van die sesde studie-jaar: MBChB

  1. Studente wat vorige rotasies herhaal het, suksesvol was, en nou "finaliste" is, maar wat die huidige rotasie vir die eerste keer doen:
  1. Hierdie studente doen die EVRE soos alle ander studente. Die doelwit is om, soos in die geval van ander studente, diegene te identifiseer wat vrystelling van die semestereksamen verkry of nie.
  2. Studente wat na afloop van die EVRE vrystelling van eksamen verkry, slaag die rotasie dus outomaties.
  3. Studente wat na afloop van die EVRE nie vrystelling van die semester-eksamen verkry nie, moet dus aan die einde van die betrokke semester die eksamen aflê.
  4. Om in te pas by UP-regulasies kan hierdie afstuderende studente (“finaliste”) wat slegs een kursus (rotasie) uitstaande het om die MBChB-graadprogram te kan voltooi en nie vrystelling van eksamen verkry het nie, aansoek doen om in die volgende week ’n “spesiale eksamen” af te lê (vervroeg van die semester-eksamen waar van toepassing). Die vervroegde eksamen moet verkieslik in die volgende week op die Maandag of die Dinsdag afgelê word. Die formaat word deur die departement bepaal en aangesien die student reeds deur die eksterne evalueringsproses geëvalueer is, is teenwoordigheid van ’n eksterne eksaminator by hierdie spesiale eksamen opsioneel, dog aanbeveel. Die finale punt bestaan uit die eksamenpunt en moet 50% of hoër wees om te kan slaag. Die punte moet teen die Woensdag beskikbaar wees sodat hierdie studente se punte by die EMV wat op daardie Woensdag plaasvind, kan dien.
  5. Die doelwitte van die EMV vir hierdie kategorie studente is:
  • Identifisering van die studente wat die spesiale eksamen geslaag het. Hierdie studente voltooi dan die MBChB-graadprogram en ’n spesiale mini-belofteseremonie word vir hulle gereël.
  • Identifisering van die studente wat die spesiale eksamen gedruip het. Hierdie studente druip die kursus, moet die betrokke rotasie herhaal en word dus na Studenteadministrasie verwys.
  1. Studente wat "finaliste" is, maar die huidige rotasie herhaal (alle omstandighede – reeds vantevore, of deur 'n onlangse EMV, as gedruip geïdentifiseer): MBChB
  1. Hierdie studente lê die EVRE af soos alle ander studente. Die doelwit is om ’n slaagpunt te behaal. Die deurlopende evaluasiepunte en die EVRE-punt dra by tot die rotasiepunt, wat in hierdie geval ook die finale punt is. Die punt moet 50% of hoër wees, maar die maksimum wat op die vorm aangedui word, is "50H".
  2. Op die eerste Woensdag na afloop van die rotasie word ’n EMV om 13:00 gehou (of 'n ander tyd soos gereël) om die prestasie van hierdie studente wat die huidige rotasie herhaal het, te evalueer. Die doelwitte van hierdie EMV is:
  • Identifisering van die studente wat die EVRE/eksamen geslaag het. Hierdie studente voltooi dan die MBChB-graadprogram en ’n spesiale mini-belofteseremonie word vir hulle gereël.
  • Identifisering van die studente wat die EVRE/eksamen gedruip het. Hierdie studente druip die rotasie, moet die betrokke rotasie herhaal en word dus na Studenteadministrasie verwys.
  1. Studente in hierdie kategorie wat slegs ’n 3,5-weke rotasie herhaal, volg presies dieselfde roete, maar ’n unieke EMV word gereël kort na die volltooiing van die EVRE/eksamen. Dieselfde doelwitte geld.
Studente wat teen 28 Februarie aan alle vereistes vir die MBChB-graad sal voldoen, sal die betrokke graad tydens die Herfspromosieplegtighede gedurende April van die betrokke jaar amptelik ontvang. Studente wat tydens of ná Maart eers aan alle vereistes vir die MBChB-graad sal voldoen, sal die betrokke graad tydens die Lentepromosieplegtighede in September van die betrokke jaar ontvang.

Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences