Jaarboeke

Program: BCom Rekeningkundige Wetenskappe

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
07130043 Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 445
Contact:
Prof JGI Oberholster
[email protected]
+27 (0)124203788

Programinligting

Hierdie graadprogram (wat slegs voltyds aangebied word) is die gespesialiseerde baccalaureusgraad vir kandidate wat voorberei vir die toepaslike kwalifiserende eksamens van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR/SAICA) en die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (ORRO/IRBA). Die program BCom (Rekeningkundige Wetenskappe), tesame met die (voltydse program) BcomHons (Rekeningkundige Wetenskappe) en die Sertifikaat in die Teorie van Rekening-wetenskappe (STR), is geakkrediteer deur die SAIGR/SAICA as deel van hulle opvoedkundige vereistes vir die geoktrooieerde rekenmeesterkwalifikasie.

Toelatingsvereistes

                 

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.

  • Lewensoriëntering word uitgesluit by die berekening van die TPT.                                                                                                                                                                                                                                                                                  

Minimum vereistes 

Prestasievlak

           

TPT

Afrikaans of Engels

Wiskunde

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

6

2

B

B

34

Addisionele vereistes

  1. Algemene Regulasies G.1 tot G.15 (met uitsondering van Regulasie G.11.2(c)) is van toepassing op ’n baccalaureusgraad.
  2. Tensy die Dekaan anders besluit, mag ’n student nie meer as die voorgeskrewe getal modules per semester volg nie.
  3. ’n Ander module as dié wat onder keusemodules vermeld is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan geneem word.
  4. ’n Student wat reeds in besit van ’n baccalaureusgraad is, mag nie modules wat vir dié graad geslaag is, weer vir ’n ander rigting of graad in hierdie Fakulteit aanbied nie. (Raadpleeg Algemene Regulasies G.8 en G.9.)
  5. ’n Module wat op 300-vlak geslaag is, sal slegs as kwalifiserende module vir die graad erken word indien die ooreenstemmende voorgeskrewe module(s) op 200-vlak ook reeds geslaag is, tensy die Dekaan anders besluit, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as kwalifiserende modules geld: Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320), en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369). Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
  6. ’n Module wat reeds geslaag is, mag slegs met die toestemming van die Dekaan herhaal word.
  7. ’n Module wat reeds geslaag is, mag nie vir meer as een graad of spesialiseringsrigting in aanmerking geneem word nie.
  8. Die onus rus op studente om voor registrasie seker te maak dat hul modules nie op die klas-, toets- en eksamenrooster bots nie.
  9. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ondersteun uitkoms-gebaseerde onderwys en plaas ’n hoë premie op die ontwikkeling van spesifieke akademiese vaardighede. Klasbywoning in al die modules en vir die volle duur van die program is daarom verpligtend vir alle studente.
  10. Die Dekaan het ’n beslissingsbevoegdheid ten opsigte van aangeleenthede waar-voor nie in die Algemene of Fakulteitsregulasies voorsiening gemaak word nie.

Ander programspesifieke inligting

Let wel: Raadpleeg die alfabetiese lys van modules vir die voorvereistes van alle modules.

  1. Die spesialiseringsmodules op eerste tot derde jaar vir die graad BCom in Rekeningkundige Wetenskappe mag slegs deur studente wat vir die graad gekeur is, geneem word.
  2. ’n Student wat FRK 100 druip, moet FRK 100 herhaal en mag nie vir FRK 101 registreer nie. ’n Student wat FRK 101 gedruip het, mag FRK 101 slegs herhaal as sy/haar finale punt vir hierdie module laer as 35% was. As sy/haar finale punt vir FRK 101 35% of hoër was, moet die student vir FRK 100 registreer.
  3. Nota: Indien tweedejaarmodules met FRK 101-periodes bots, word studente aangeraai om nie vir die betrokke modules te registreer nie, aangesien klasbywoning vir FRK 101 verpligtend is.
  4. Studente word sterk aangeraai om KOB 183 slegs in die derde kwartaal van hul tweede jaar te neem soos dit voorgeskryf is en nie in hul eerste jaar nie. KOB 183 voorveronderstel ’n basiese kennis van tweedejaar Rekeningkunde, Ouditkunde, Finansiële bestuur en Belasting en eerstejaarstudente het nog nie blootstelling aan hierdie vakke gehad nie.

Spesialiseringsmodules: FRK 300, FBS 300, BEL 300 en ODT 300.

 

’n Kandidaat wat:

  1. in die Graad 12-eksamen minstens 5 (60-69%) in Wiskunde behaal het, kry toelating tot die module COS 110 in Rekenaarwetenskap; of wat COS 153 of COS 131 of COS 132 asook WTW 133 geslaag het, kry toelating tot die module COS 110 in Rekenaarwetenskap;
  2. in die Graad 12-eksamen in Wiskunde minstens met minstens 4 (50-59%) geslaag het, word tot WTW 134, WTW 115 en WTW 152 toegelaat, en minstens 5 (60-69%) tot WTW 114, WTW 126, WTW 158 en WTW 161 in Wiskunde en WST 111 in Wiskundige statistiek toegelaat (Vir die graadprogram in Aktuariële en Finansiële Wiskunde word 80% in Wiskunde vereis);
  3. in die Graad 12-eksamen minstens 5 (60-69%) in Wiskunde behaal het, of minstens 50% in beide Statistiek 113, 123 word tot Statistiek (STK 110 en STK 120) toegelaat;
  4. tot die BCom (Rekeningkundige Wetenskappe)-graad toegelaat is sal slegs tot Finansiële Rekeningkunde 100 (FRK 100) toegelaat word indien die uitslag in die verpligte rekeningkundige vaardigheidstoets aanvaarbaar is. Kandidate wat nie Graad 12-Rekeningkunde geneem het nie, sal onvoorwaardelik tot Finansiële rekeningkunde 101 (FRK 101) toegelaat word). Graad 12-Rekeningkunde is nie ’n voorvereiste vir toelating tot enige BCom-graadprogram nie;
  5. in die Graad 12-eksamen minstens 4 (50-59%) in Wiskunde behaal het, of minstens 60% in beide Statistiek 113, 123 word tot Informatika 112 en Ekonomie 120 toegelaat en ten minste 6 (70-79%) in Wiskunde of 60% in beide STK 113 en 123, word tot EKN 113 en 123 toegelaat;
  6. in die Graad 12-eksamen in Wiskunde minstens 5 (60-69%) of 4 (50-59%) behaal het, word tot Informatika 154, 171 en 164 toegelaat.

Let wel: “Graad 12-eksamen” verwys na die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)- eindeksamen.

Hoofvak
Ten einde as "hoofvak" te kwalifiseer moet minstens die ekwivalent van vier 14- week-modules van ’n vak, insluitende twee op 300-vlak, geslaag word, met dien verstande dat die volgende modules, wat slegs op 300-vlak aangebied word, ook as "hoofvakke" geld:

  • Arbeidsreg 311 (ABR 311), Arbeidsverhoudinge 320 (ABV 320) en Internasionale sakebestuur 359 en 369 (OBS 359 en 369);
  • en dat slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem mag word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300 vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).

Bevordering tot volgende studiejaar

Volgens Algemene Regulasie G.3 word spesifieke bevorderingsvoorwaardes gestel deur fakulteitsrade waaraan studente van die fakulteit moet voldoen.

  1. 'n Student moet in ten minste 4 kernsemestermodules of 2 kern-jaarmodules slaag om tot die volgende akademiese jaar toegelaat te word.
  2. 'n Student wat minder as 4 kernsemestermodules of 2 kernjaarmodules geslaag het, word nie tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hertoegelaat nie. Sodanige student wie se reg op hertoelating verval het, mag skriftelik by die Fakulteit se Toelatingskomitee aansoek doen om voorwaardelike hertoelating tot die Fakulteit – met die voorbehoud dat die Toelatingskomitee verdere voorwaardes ten opsigte van studente se vordering mag stel. 'n Student se aansoek om voorwaardelike hertoelating mag geweier word.
  3. 'n Student wat voorwaardelik tot die Fakulteit hertoegelaat word, se studies sal na die eerste semestereksamen nagegaan word om vas te stel of hy/sy aan die gestelde voorwaardes voldoen het. Indien daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie, sal sodanige student se studies opgeskort word.
  4. 'n Student wie se studies weens swak akademiese prestasie opgeskort word, het die reg om teen die besluit van die Fakulteit se Toelatingskomitee te appelleer.
  5. 'n Student kan bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien die vasgestelde klasgeld soos voorgeskryf, nie betaal is nie.
  6. 'n Student kan toelating tot die eksamen of bevordering tot 'n volgende studiejaar of in 'n module geweier word indien hy/sy nie aan die bywonings-vereistes voldoen het nie. Klasbywoning in alle modules en vir die volle duur van die program is verpligtend vir alle studente.

Slaag met lof

  1. 'n Graad kan met lof toegeken word mits die kandidaat aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Die graad moet binne drie jaar voltooi word;
  2. 'n Geweegde gemiddelde (GPA) van 75% moet behaal word;
  3. Modules wat reeds geslaag is en herhaal word, se nuwe punt sal nie in berekening gebring word nie. Die oorspronklike slaagpunt van die module sal gebruik word vir die berekening van die GPA.
  1. Oorskakelaars van ander fakulteite en ander universiteite (insluitend krediete wat oorgedra word en erken word vanaf die graad waarvoor oorspronklik geregistreer was), sal as buitengewone gevalle deur die dekaan oorweeg word.
  2. Die GPA sal nie gerond word tot die naaste volgende heelgetal nie.
  3. Buitengewone gevalle sal deur die dekaan oorweeg word.

Algemene inligting

Minimumvereistes vir baccalaureusgrade; semester- en jaarmodules; nuwe regulasies

  1. Studente wat voor 2015 met hul studies begin het, moet die program voltooi ooreenkomstig die bepalinge van die leergang van die jaar waarin hulle studies ’n aanvang geneem het, of ooreenkomstig die leergang van die jaar waarin hulle na hul huidige spesialiteitsrigting oorgeskakel het. Studente wat dit verkies, mag egter aansoek doen om oor te skakel na die jongste leergang, maar dan moet hulle voldoen aan al die vereistes daarvan. Hulle mag ook nie weer terugskakel na die regulasies van ’n vorige jaar nie.
  2. Studente wat in 2015 vir die eerste keer vir ’n graadprogram registreer, moet die modules volg wat in die betrokke spesialiseringsrigting aangedui word.

Let wel: Slegs twee 14-week modules, of die ekwivalent daarvan, wat nie deur 100- en 200-vlakke modules voorafgegaan word nie, mag as kwalifiserende modules vir graaddoeleindes geneem word. Met ander woorde, ten minste vier 14-week-modules wat voorafgegaan word deur die 100- en 200-vlak moet op 300-vlak geneem word (behalwe in die geval waar die modules slegs vanaf 200-vlak aangebied word).
Die onus rus dus ten volle op studente om vóór registrasie seker te maak dat hulle leergange aan al die vereistes van die toepaslike regulasies voldoen.

Minimum krediete: 119

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Verkry, evalueer, verwerk, bestuur en bied inligtingsbronne vir akademiese doeleindes aan deur gebruik te maak van toepaslike tegnologie. Pas effektiewe soekstrategieë toe in verskillende tegnologiese omgewings. Demonstreer die etiese en regverdige gebruik van inligtingsbronne. Integreer 21ste-eeuse kommunikasie met die bestuur van akademiese inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    This module intends to equip students with the competence in reading and writing required in the four high impact modules: Business Management, Financial Accounting, Statistics and Economics. Students will also be equipped to interpret and draw figures and graphs and to do computations and manage relevant formulas. During Semester 1 students engage with the online computer program MyFoundationsLab individually in a flexible learning environment, and during Semester 2 they attend the scheduled contact sessions and do the coursework.                                                                              This module is offered by the Faculty of Humanities.

     

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module het te doen met die kern beginsels van ekonomie. 'n Onderskeid tussen makro-ekonomie en mikro-ekonomie word getref. 'n Bespreking van die markstelsel en die sirkulêre vloei van goedere, dienste en geld word gevolg deur 'n afdeling wat handel oor mikro-ekonomiese beginsels, insluitend vraag- en aanbod ontleding, verbruikers gedrag en nutmaksimering, produksie en die koste daarvan, en die verskillende mark modelle van firma gedrag. Arbeids markinstellings en kwessies, loonbepaling, asook inkome-ongelykheid en armoede word aangespreek. 'n Afdeling oor geld, bankwese, rentekoerse en monetêre beleid sluit die kursus af.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inligtingstelsels; inligtingstelsels in ondernemings; apparatuur: invoer; verwerking; uitvoer; programmatuur: stelsels- en toepassingsprogrammatuur; organisering van data en inligting; telekommunikasie en netwerke; die internet en intranet. Transaksieverwerkingstelsels; bestuursinligtingstelsels; besluitnemingsteunstelsels; inligtingstelsels in besigheid en samelewing; stelselontleding; stelselontwerp; implementering; onderhoud en hersiening.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Beskrywende statistiek:
    Steekproefneming en die insameling van datafrekwensieverdelings en grafiese voorstellings. Beskrywende maatstawwe van lokaliteit en spreiding.  Waarskynlikheidsleer en inferensie:
    Inleidende waarskynlikheidsleer en teoretiese verdelings.  Steekproefverdelings. Beramingsteorie en hipotesetoetsing van steekproefgemiddeldes en steekproef-verhoudings (een- en tweesteekproefgevalle). Identifisering, gebruik, evaluering en interpretasie van statistiese rekenaarpakkette en statistiese tegnieke.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Rekeningkundige Wetenskappe)-studente *Studente wat in 'n vorige akademiese jaar vir FRK 101 geregistreer was en nie die module geslaag het nie, word slegs toegelaat om die module te herhaal indien hulle minder as 35% daarvoor behaal het en mag nie met ‘n punt van onder 35% vir FRK 100 registreer nie. (Hierdie is ‘n kernmodule vir BCom (Rekeningkundige Wetenskappe) wat deel uitmaak van die GR-program. Modules word opgestel en aangebied met kennisname van die vereistes van die SAIGR se sillabus.) 'n Inleiding tot die konseptuele raamwerk (teorie van rekeningkunde); basiese rekeningkundige vergelyking; belasting op toegevoegde waarde, afslag; inkomste; rekeningkundige prosedures vanaf brondokumente via hulpjoernale na algemene grootboek en proefbalans; finansiële jaarstate van ‘n eenmansaak; kontrolerekeninge; departementele rekeninge; bankrekonsiliasiestate; voorraad; niebedryfsbates eiendom, aanleg en toerusting; kontant en kontantekwivalente; beleggings; lenings; renteberekeninge; versekeringseise; ondernemings entiteite sonder winsoogmerk; takrekeningkunde; permanente vennootskappe; vennootskapsrekeninge; veranderinge in vennootskappe; beslote korporasies; maatskappye; ontleding en vertolking van finansiële state met gebruik van ‘n kontantvloeistaat; vervaardigingsentiteites; opsporing en regstelling van foute; onvolledige rekords;. 'n Tegniese vermoë om voorgaande kennis op komplekse probleme toe te pas, is noodsaaklik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir studente van BCom (Rekeningkundige Wetenskappe)
    Inleiding tot bestuursrekeningkunde, kritiese beredeneringsvaardighede en probleemoplossings-tegnieke vir bestuursrekeningkunde, kostebegrippe, eenvoudige liniêre regressie-analise om toekomstige verkoopsvolumes en kostes te kan vooruitskat, tydreeks-analise vir die vooruitskatting van toekomstige verkoopsvolumes, indeksering om sodoende ’n stel finansiële data vir inflasie en deflasie aan te pas, inleiding tot finansiële bestuur, die funksionering van die finansiële markte wat die werking van die rentekoers- en wisselkoersmeganismes insluit, wiskunde vir besighede wat tydwaarde-van-geld-berekeninge insluit, en kritiese beredeneringsvaardighede en probleemoplossingstegnieke in ’n finansiëlebestuur-konteks. Waar toepaslik sal spreibladtoepassings (Excel) aangespreek word tydens die aanbieding van die onderskeie onderwerpe.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module beskou die kern beginsels van ekonomie, met spesifieke fokus op makro-ekonomiese maatstawwe. Die private en openbare sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie word behandel, terwyl die makro-ekonomiese verwantskappe en meting van binnelandse produk en nasionale inkomste bespreek word. Totale vraag en -aanbod vorm die kern van hierdie ontleding. Verwante konsepte van ekonomiese groei, werkloosheid en inflasie word ook aan studente verduidelik met behulp van hierdie analise. Die mikro-eknomiese beginsels van die owerheid word behandel in 'n afsonderlike afdeling, gevolg deur 'n afdeling oor internasionale ekonomie wat fokus op internasionale handel, wisselkoerse en die betalingsbalans. Ontwikkelings ekonomie en 'n afdeling van Suid-Afrika in die konteks van die wêreld-ekonomie vorm die laaste deel van die kursus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Koopreg; huurreg; kredietooreenkomste; verteenwoordigingsreg; sekerheidstelling.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Algemene inleiding. Algemene kontraktereg: inleiding tot die kontraktereg; wilsooreenstemming; handelingsbevoegdheid; juridiese en fisiese uitvoerbaarheid; formaliteite; partye tot die kontrak, voorwaardes en verwante regsaspekte, besondere bedinge en uitleg van kontrakte; kontrakbreuk en beëindiging van kontraktuele verhoudinge.

    Sien meer

Minimum krediete: 166

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    In die eerste kwartaal van hierdie module word studente toegerus met begrip van die morele kwessies wat menslike agentskap in ekonomiese en politieke kontekste beïnvloed. Filosofie rus die student toe met analitiese redeneringsvaardighede wat nodig is om komplekse morele probleme wat verband hou met ekonomiese en politieke besluitneming te verstaan en op te los. Ons toon aan hoe die grootste vrae aangaande sosiaal-ekonomiese aspekte van ons lewens ontleed kan word en verhelder kan word deur beredeneerde debat. Voorbeelde van temas wat gedek kan word in die module sluit in geregtigheid en die gemeenskaplike belang van die samelewing, morele nadenke oor die aard en rol van ekonomiese markte in die samelewing, kwessies wat betrekking het op geregtigheid en gelykheid, en dilemmas oor lojaliteit. Die filosowe wie se werk gedek word, kan byvoorbeeld insluit Aristoteles, Locke, Bentham, Mill, Kant, Rawls, Friedman, Nozick, Bernstein, Dworkin, Sandel, Walzer, en MacIntyre. In die tweede kwartaal is die fokus op professionalisme, loopbane en etiek. Etiese kodes in besighede en professies, professionele kodes. en etiese kwessies in die rekenmeestersprofessie word aangespreek.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Rekeningkundige wetenskappe)-studente
    (Hierdie is ‘n kernmodule vir BCom (Rekeningkundige Wetenskappe) wat deel uitmaak van die GR-program. Modules word opgestel en aangebied met kennisname van die vereistes van die SAIGR se sillabus.)
    Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van die Maatskappywet en Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: die aanbieding van finansiële state; inkomste; voorraad; eiendom, aanleg en toerusting; beleggingseiendom; waardedaling (van individuele bates); voorsienings; hure; gebeure na die balansstaatdatum; verdienste per aandeel; rekeningkundige beleid, veranderinge in rekeningkundige ramings en foute; sekere aspekte van finansiële instrumente. Inleiding tot konsolidasies, insluitend basiese konsolidasietegnieke vir beide volfiliale en filiale wat gedeeltelik besit word. Sekere aspekte van die Maatskappywet, insluitend direkteursvergoeding en Bylae 4.
    ‘n Tegniese vermoë om voorgaande kennis op komplekse probleme toe te pas, is noodsaaklik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Maatskappyereg; reg insake beslote korporasies; vennootskapsreg; arbeidsreg; arbitrasie- en vervoerreg; versekeringsreg; verhandelbare dokumente; insolvensiereg; erf- en trustreg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Hierdie inligting is slegs in Engels beskikbaar.

    *Module content will be adapted in accordance with the appropriate degree programme. Only one of KOB 281– 284 may be taken as a module where necessary for a programme.

    Applied business communication skills

    Acquiring basic business communication skills will enhance the capabilities of employees, managers and leaders in the business environment. An overview of applied skills on the intrapersonal, dyadic, interpersonal, group (team), organisational, public and mass communication contexts is provided. The practical part of the module (for example, the writing of business reports and presentation skills) concentrates on the performance dimensions of these skills as applied to particular professions.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot inkomstebelasting ten opsigte van maatskappye en individue
    In hierdie module word 'n inleiding tot die beredderingsproses van bestorwe en insolvente boedels verskaf. Spesifieke klem word geplaas op die opstel van die eksekuteursrekening vir bestorwe boedels asook die trusteesrekening vir insolvente boedels. Die berekening van boedelbelasting word in detail behandel. Inleiding tot belasting, beswaar en appèl, bruto inkomste, bron van inkomste, bruto inkomste (spesifieke insluitings), vrygestelde inkomste, algemene aftrekkingsdefinisie, vasgestelde verliese, spesifieke aftrekkings vir maatskappye, spesifieke aftrekkings vir individue, kapitaaltoelaes.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Geskiedenis van ouditering: begrip ‘professie’. Die teorie, insluitend die postulate in ouditkunde. Belangrikste begrippe, geselekteerde Maatskappywetartikels deur die Openbare Rekenmeesters- en Ouditeursraad (OROR) en die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) voorgeskryf. Publikasies van die SAIGR en OROR. Beginsels van ouditering, die ouditproses. Interne beheer en stelselontwerp en evaluering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Rekenaarverwerking van rekeningkundige inligting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Rekeningkundige wetenskappe)-studente
    Doel en funksie van bestuursrekeningkunde. Grondliggende kostebegrippe. Die bepaling van produkkoste met inbegrip van grondstof-, arbeids- en bokoste en die toedeling daarvan volgens die tradisionele sowel as aktiwiteitsgebaseerde kostetegnieke, voorraadbestuur, die akkumulering van kostes volgens ‘n taak- en proseskostestelsel, die hantering van gesamentlike en neweprodukte en die bepaling van kostes volgens ‘n direkte sowel as ‘n absorpsiekostebenadering. Besluitneming met verwysing na kostevolume-wins-verhoudings, relevante koste, risiko en waarskynlikhede, beslissingsbome, liniêre programmering en kapitaalbegrotings. Beplanning en beheer dmv kwantitatiewe tegnieke, begrotings en standaardkosteberekening.

    Sien meer

Minimum krediete: 160

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die doel van die module is om die leerder in staat te stel om die belasting op toegevoegdewaarde-aanspreeklikheid te kan bereken en die nodige joernaalinskrywings te kan weergee; die normale belastingaanspreeklikheid (ingesluit die bepaling van belasbare kapitaalwinste en aangeslane kapitaalverliese) van individue, maatskappye, boedels en trusts te kan bereken en belastingbeginsels te kan bespreek; en om voorlopige en werknemersbelasting te kan bereken en beswaar teen ‘n aanslag te kan aanteken.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Rekeningkundige wetenskappe)-studente (Hierdie is ‘n kernmodule vir BCom (Rekeningkundige Wetenskappe) wat deel uitmaak van die GR-program. Modules word opgestel en aangebied met kennisname van die vereistes van die SAIGR se sillabus.) Hersiening van werk gedek in FRK 201 en toepassing van hierdie kennis op gevorderde probleme. Voorbereiding en aanbieding van maatskappy finansiële jaarstate in ooreenstemming met die vereistes van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk in verband met die volgende: inkomstebelasting; hure (insluitend verkoop-en terughuurooreenkomste); eiendom, aanleg en toerusting; beleggingseiendom; voorsienings; gebeure na balansstaatdatum; verdienste per aandeel (insluitend wesensverdienste); ontasbare bates; waardedaling (insluitend inleiding tot kontantgenererende eenhede); staatstoekennings; die uitwerking van verandering in wisselkoerse (insluitend skansrekeningkunde); leenkoste; werknemervoordele; niebedryfsbates gehou vir verkoop en beëindigde bedrywighede; geassosieerdes; gesamentlike ondernemings; kontantvloeistate; verdere aspekte van finansiële instrumente. Gevorderde konsolidasie-aangeleenthede, insluitend intragroeptransaksies; dividende; voorkeuraandele; herwaardasies; horisontale, vertikale en gemengde groepe; insolvente filiale; die verkryging van ‘n bykomende belang. Ontleding en vertolking van finansiële state, asook veranderinge in kapitaalstrukture. ‘n Tegniese vermoë om voorgaande kennis op komplekse probleme toe te pas, is noodsaaklik.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Toepassing van statistiese steekproefnemingsmetodes in ouditkunde. Maatskappywetartikels en artikels uit die Wet op Beslote Korporasies deur die OROR en die SAIGR voorgeskryf. Publikasies van die SAIGR, die OROR en geselekteerde internasionale standpunte. Die ouditproses. Interne beheer, stelselontwerp en evaluering. Beheermaatreëltoetse. Ouditering in ‘n elektroniese dataverwerkingsomgewing.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Slegs beskikbaar vir BCom (Rekeningkundige wetenskappe)-studente
    Die doel en funksie van bestuursrekeningkunde. Grondliggende kostebegrippe. Die bepaling van produkkoste met inbegrip van grondstofkoste, arbeidskoste, bokoste en die toedeling daarvan volgens die tradisionele sowel as aktiwiteitsgebaseerde kostetegnieke, voorraadbestuur, die akkumulering van koste volgens ‘n taak- en proseskostestelsel, die hantering van gesamentlike en neweprodukte en die bepaling van kostes volgens ‘n direkte sowel as ‘n absorpsiekostebenadering. Besluitneming met verwysing na kostevolume-wins-verhouding, relevante koste, risiko en waarskynlikhede, beslissingsbome, liniêre programmering en kapitaal-investeringsbegrotings, projekbestuurbeginsels. Beplanning en beheer deur middel van kwantitatiewe tegnieke, begrotings en standaardkosteberekening. Prestasiemeting dmv verantwoordelikheids-rekeningkunde en die vasstelling van oordragspryse.
    Finansiële bestuur met inagneming van die doel van finansiële bestuur, bedryfskapitaalbestuur, finansieringsbesluite, koste van kapitaal, dividendbeleid, kapitaalstruktuurbesluite, aandelewaardasies. Die student moet in staat wees om die onderliggende teorieë op gevorderde gevallestudies toe te pas.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences