Jaarboeke

Program: BA Sport- en Vryetydstudies Sportsielkunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
01130128 Fakulteit Geesteswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 3 jaar Totale krediete: 444
Contact:
Prof LH Human
[email protected]
+27 (0)124206039

Programinligting

Hierdie voltydse driejaarprogram is gemik op die student wat belangstel in beroepe in die sport- en vryetydsindustrieë. ’n Breë kennisbasis ontwikkel studente se begrip en toepaslike vaardigheidsprofiele om die potensiaal, moontlikhede en impak van modern geglobaliseerde sport en vryetyd krities te ondersoek, te skep, te bevorder, te lei en te bestuur. Studente word begelei tot spesialisering in die areas van sportbestuur, sportsielkunde, sport en vryetyd in die samelewing of sportafrigtingswetenskappe. Spesialisering berei studente voor vir beroepe in die openbare en private sektore in kontekste van kommersiële en professionele sport, sportontwikkeling, gemeenskaps-ontwikkeling deur massadeelname, sportafrigting en die fasilitering van psigososiale welsyn deur middel van sport en rekreasie.

By voltooiing van hierdie spesialiseringsrigting sal die gegradueerde oor kennis en vaardigheidsprofiele toepaslik in sport-, oefening- en prestasiesielkunde beskik. Gegradueerdes sal beroepe soos verhoudingsfasiliteerders, sportafrigters en fasiliteerders van leer in sport, oefening en vryetydskontekste kan beoefen. Deur hierdie spesialiseringsrigting met Sielkunde as keusevak te kombineer, kan die gegradueerde vir nagraadse studie in Sportsielkunde aansoek doen.

Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 September jaarliks.

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.

  • Kandidate wat ? TPT van 30 in Graad 11 behaal het en voldoen aan die minimum vak- en prestasievereistes van hierdie studieprogramme sal outomaties in die studieprogramme geplaasword, onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke.

  • Om toelating te behou, sal daar van leerders verwag word om 'n TPT van ten minste 28 in Graad 12 te behaal.

  • Voornemende studente wat reeds voorlopige toelating tot hierdie studieprogramme ontvang het, maar ? TPT van ten minste 27 in Graad 12 behaal het, sal deur die Toelatingskomitee oorweeg word indien plekke beskikbaar is.

  • Die Toelatingskomitee van die Fakulteit Geesteswetenskappe sal hierdie studente oorweeg sodra die uitslag van die Nasionale Normtoets (National Benchmark Test – NBT) beskikbaar is en onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke.

  • Die Fakulteit sal bevredigende resultate in die NBT beoordeel in die lig van sy onderneming om te verseker dat ‘n voldoende gedeelte aansoekers uit die histories benadeelde kategorie van die bevolking getrek word.

  • Aansoekers met 'n TPT van 30, maar wie nie aan die vakvereistes voldoen nie, moet die NBT aflê.

  • Lewensoriëntering word uitgesluit wanneer die TPT bereken word.

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Afrikaans of English

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

30

Ander programspesifieke inligting

Studente wat in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is, is verplig om VAG 110 en VAG 125 te neem.
Studente wat nie in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is nie, is verplig om ’n taalmodule ter waarde van 12 krediete uit die lys van taalmodules te neem (sien Akademiese geletterdheid).

Nota:

  • Van die student sal verwag word om ’n geakkrediteerde Vlak 0/1 Afrigtingsertifikaat – teen sy eie koste – in een sportsoort van sy eie keuse as deel van die graadvereistes in YCS 120 te verwerf. ’n Sportafrigtingsertifikaat kan verwerf word by enige erkende Nasionale Sportfederasie (NSF) in Suid-Afrika. Praktiese demonstrasie en toepassing van sportafrigtingsvaardighede kan op of van die kampus af uitgevoer word.
  • Van die student sal ook verwag word om ’n Gemeenskapsrekreasieleiersertifikaat – teen eie koste – as deel van die vereistes van YSL 110 te verwerf. Die department sal reëlings in hierdie verband tref.

Akademiese geletterdheid
Alle studente wat vir die eerste keer aan die Universiteit van Pretoria inskryf en alle nuwelingstudente wat vir die eerste keer by die Fakulteit Geesteswetenskappe inskryf se akademiese geletterdheid sal aan die begin van die akademiese jaar deur middel van hulle NSS-punte bepaal word.

  1. Studente wat ’n graadprogram in Engels volg: Die NSC Graad 12-Engelspunt sal gebruik word om te bepaal of studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe vir die akademiese-geletterdheidsmodules (ALL 110 en ALL 125 in Engels) moet registreer.
  • Huistaal: Studente wat 'n 4 of laer behaal het, registreer vir ALL 110 en ALL 125.
  • Eerste Addisionele Taal: Studente wat ’n 5 of laer behaal het, registreer vir ALL 110 en ALL 125.
  1. Studente wat ’n graadprogram in Afrikaans volg: Die NSC Graad 12-Afrikaanspunt sal gebruik word om te bepaal of studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe vir die akademiese-geletterdheidsmodules (VAG 110 en VAG 125 in Afrikaans) moet registreer.
  • Huistaal: Studente wat ’n 4 of laer behaal het, registreer vir VAG 110 en VAG 125.

Alle studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe wat as risikogevalle geïdenti¬fiseer is, is verplig om ten minste twaalf krediete te verwerf in die akademiese- geletterdheidsmodules VAG 110 of ALL 110 en VAG 125 of ALL 125.
Alle studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe wat nie as risikogevalle geïdentifiseer is nie, is verplig om ten minste 12 krediete in ’n taalmodule te verwerf:

Department of English
ENG 110 Introduction to literature in English (I) 
ENG 120 Introduction to literature in English (II) 
ENG 118 English for specific purposes 

Departement Afrikaans
AFR 110 Afrikaanse taalkunde en letterkunde 
AFR 120 Afrikaanse taalkunde en letterkunde 
AFR 114 Afrikaans vir sprekers van ander tale (I) 

Departement Afrikatale
NDE 1101 Inleiding tot isiNdebele-grammatika: Capita selecta 
*Studente wat isiNdebele in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
ZUL 110 IsiZulu vir beginners
ZUL 111 Inleiding tot isiZulu-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat isiZulu in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
SEP 110 Sepedi vir beginners 
SEP 111 Inleiding tot Sepedi-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat Sepedi in die tweede semester wil neem, registreer ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta)
STW 110 Setswana vir beginners 
STW 111 Inleiding tot Setswana-grammatika – Capita selecta 
*Studente wat Setswana in die tweede semester wil neem, moet ook vir AFT 121 (Afrikatale-letterkunde: Capita selecta) registreer.

Departement Moderne Europese Tale
DTS 104 Duits vir beginners 
DTS 113 Duits: Kultureel-professioneel (1) *Voorvereiste: Graad 12 Duits
FRN 104 Frans vir beginners 
FRN 113 Frans: Kultureel-professioneel (1) *Voorvereiste: Graad 12 Frans
SPN 101 Spaans vir beginners
SPN 102 Spaans vir beginners 
PTG 101 Portugees vir beginners

Departement Antieke Tale en Kulture
HEB 110 Hebreeus 
LAT 110 Latyn 
GRK 110 Grieks 

Minimum krediete: 138

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie module bou voort op die fundamentele beginsels van sportafrigting. Fokus word geplaas op die praktiese vergestalting van die prosesse en tegnieke van leer en onderrig in 'n sportparadigma. Metodologiese tegnieke soos geïmplementeer deur die sportafrigter in die onderrig en leer van sportvaardighede word geïdentifiseer en bespreek. Die oorkoepelende fokus is op die integrasie van onderrig en leer in die praktiese uitvoering van sportvaardighede. In hierdie module kry die student geleentheid om 'n Vlak 0/1 Sportafrigting-sertifikaat in 'n sportsoort van eie keuse te verwerf. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word die basiese beginsels van die sielkunde van sport, oefening en prestasie bekendgestel as platform vir opeenvolgiende modules. Die fundamentele beginsels van motivering, aktivering, aandag, persoonlikheid en aggressie en die rol daarvan in sport, oefening en prestasie word geïdentifiseer, omskryf en bespreek in diverse sportkontekste. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n inleiding ten opsigte van ‘n basiese kennis en begrip van die biologiese basis van menslike gedrag. Die module behels die kernkonsepte en terminologie wat met die biologiese subsisteem verband hou, die reëls en beginsels onderliggend aan biologiese sielkunde en die identifisering van verwantskappe tussen verskillende biologiese sisteme en subsisteme. Verskillende kognitiewe prosesse word bestudeer insluitend persepsie, geheue, denke, intelligensie en kreatiwiteit. Verskeie denkprosesse, soos probleemoplossende, krities-analitiese en integrerende denke word geillustreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module verskaf 'n breë inleiding tot sport en rekreasie as produkte in die mark. Die aard van en verskille tussen sport en rekreasie, beleid, planne strategieë en strukture in Suid-Afrika en Sone VI in Afrika word geïdentifiseer en bespreek. Die rol, betekenis en dinamiese aard van rekreasie- en sportbestuur word bekendgestel en bespreek. Klem word geplaas op die basiese bestuurstake en -funksies van beplanning, organisasie, leiding en kontrole in sport- en rekreasiekontekste. Hierdie module voorsien 'n basis van bestuurkennis en -vaardighede waarop opeenvolgende modules en interdissiplinêre kennis in sport- en rekreasiebestuur berus.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word die onderliggende teoretiese dimensies en praktiese beginsels van wetenskaplike sportafrigting geïdentifiseer, gedefinieer en bespreek. Hierdie kennis vorm die basis vir opeenvolgende kennis, vaardigheid en toepassing in sportafrigtingskontekste.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module  word die rol en funksie van sport as sosiale fenomeen bespreek. Kontemporêre kwessies en polemiek in sport in die samelewing word geïdentifiseer en bespreek om die student in staat te stel om diskoerse in die geglobaliseerde wêreld van sport te herken en bydraes te lewer. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is 'n inleiding en bekendstelling van die basiese beginsels, dinamika en vaardighede in die sielkunde van sportafrigting. Die module identifiseer en verduidelik die verskillende rolle van die afrigter as leier, motiveerder, fasiliteerder en kommunikeerder vanuit 'n psigologiese perspektief. Hierdie module herken en verduidelik die sielkundige beginsels wat die ontwikkeling van kinders deur deelname aan sport en afrigting eksploreer en onderlê. Die groeibeginsels sal met die verskillende lewensfases geïntegreer word. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module ondersoek die student die verskil tussen sport- en rekreasiebestuur en leierskap en die toepassing in rekreasie en sport. Geselekteerde klassieke en moderne bestuurs- en leierskapteorieë word geïdentifiseer, beskryf en vergelyk in sport- en rekreasiekonteks. Studente word begelei om gepaste leierskapstyle en vaardighede te selekteer en toe te pas in die multikulturele sport- en rekreasiewerklikheid van Suid-Afrika. Fokus word geplaas op die ontwikkeling van leierskapsvaardighede deur sport en rekreasie. Hierdie module vestig leierskapsvaardighede en -selfvertroue vir praktiese gemeenskapsbetrokkenheid in latere modules. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module verskaf die onderbou tot die teoretiese konsepte van vryetyd en rekreasie in samelewings. Grondslae van vryetye en rekreasie, multidimensionele voorsieningsisteme en diverse areas van rekreasie word geïdentifiseer, gekarakteriseer en bespreek in 'n moderne konteks. Die invloed, potensiaal en moontlikhede van rekreasiedienslewering in die samelewing word geïdentifiseer en prakties geïllustreer. In hierdie module verwerf studente 'n geakkrediteerde rekreasieleier-sertifikaat as basis vir opvolgende gemeenskapsbetrokkenheid en akademiese diensleer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Algemene oriëntering tot die sielkunde. Inleiding tot verskillende teoretiese benaderings in en die ontwikkeling van die sielkunde as wetenskap word behandel.  Geselekteerde temas uit die alledaagse lewe word bespreek en met sielkundige beginsels geïntegreer. Hierdie module fokus ook op sentrale persoonlikheidsteorieë. 'n Inleiding tot verskillende paradigmatiese benaderings in die sielkunde word gegee.

    Sien meer

Minimum krediete: 156

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Die module is ‘n inleiding tot die verskillende ondersoekmetodes van die sosiale- en geesteswetenskappe. Die doel van hierdie module is om studente in te lei in die navorsingsproses met die doel om hulle toe te rus met die vaardighede om:
    • sosiale probleme te identifiseer en navorsingsvrae en -hipoteses te formuleer;
    • ‘n basiese begrip van wat die skryf van ’n literatuuroorsig en navorsingsvoorstel behels te ontwikkel;
    • kennis te dra van ondersoekmetodes en op ‘n toepaslike metode te kan besluit;
    • data te interpreteer en grafies voor te stel; en
    • bewus te wees van die noodsaak om eties verantwoordbare navorsing te doen.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Hierdie module bou voort op YCS 210 en identifiseer, verduidelik en implementeer die beginsels, waarde en rol van motoriese beheer, motoriese ontwikkeling en motoriese leer in effektiewe sportafrigting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module ondersoek teorieë, navorsing en praktiese toepassings van die sielkunde van welsyn en kritiese aspekte soos beserings, uitbranding en dwelmmisbruik in sport. Die erkenning van 'n proaktiewe benadering vir die ontwerp, ontwikkeling en implementering van positiewe sielkundige beginsels om die kapasiteit van welsyn te skep deur die sinvolle deelname aan sport, oefening en vryetydsaktiwiteite. Die interpretasie van verskillende rehabilitasiestrategië, -beginsels en -vaardighede sal volgens die behoefte van die deelnemer aangewend en toegepas word. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word basiese anatomie-, fisiologie- en kinesiologiekennis en -beginsels verwant aan sportafrigtingkontekste, geïdentifiseer, bespreek en toegepas. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word menslike ontwikkeling vanaf konsepsie tot adolessensie, asook volwassenheid aan die hand van verskillende teoretiese modelle bespreek. Dit sluit in ontwikkelingsveranderinge ten opsigte van kognitiewe, fisieke, emosionele en sosiale funksionering en die konteks van werk. Tradisionele en kontemporêre teorieë oor menslike ontwikkeling in hierdie fases word bestudeer ten einde die kernvraagstukke wat tydens die kinderjare en volwassenheid relevant is, te verstaan en verklaar.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module oriënteer studente ten opsigte van kennis en vaardighede vir die ontwikkeling van strategieë vir 'n aktiewe en wennasie ten einde die algemene welsyn en gesondheid van die Suid-Afrikaanse bevolking deur middel van massadeelname aan rekreasie en sport te bevorder. Kennis en vaardighede vir die identifisering, ontwikkeling en behoud van talentvolle sportpersone deur sportontwikkelingstrukture en -sisteme word bespreek. Die Sportakademiestelsel in Suid-Afrika en Sone VI in Afrika word ontleed en toepaslike diensleweringstrategieë en -strukture word beplan en ontwerp. Die student doen akademiese diensleer deur gemeenskapsbetrokkenheid in diverse gemeenskappe. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word interpersoonlike en groepprosesse vanuit ‘n sosiaal-sielkundige perspektief bestudeer. Temas wat behandel word, sluit in kommunikasie, prososiale gedrag, sosiale beïnvloeding en oorreding, politieke transformasie, groepgedrag en geweld.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is 'n  inleiding tot sporttoerisme vanuit 'n toerismebestemmingsperspektief. Konsepte in sporttoerisme word geïdentifiseer en bespreek. 'n Tydlyn van die ontwikkeling van sporttoerisme, verskillende sporttoerismemodelle, motivering vir betrokkenheid in sporttoerisme en vorme van sporttoerisme word geanaliseer. Die waarde en impak van sporttoerisme in die samelewing word vanuit 'n bestemmingstoerismeperspektief ondersoek. Die rol en invloed van die regering in sporttoerisme word geanaliseer en geëvalueer. Die impak van sporttoerisme op gemeenskapsontwikkeling word deur middel van gevallestudies ontleed. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module identifiseer, verduidelik en pas die basiese sielkundige effektiwiteitsbeginsels en vaardighede van hoëprestasiesport in diverse prestasiesportkontekste toe. Die rol en waarde van sielkundige vaardigheidsopleiding, toepaslike kognitiewe benaderings, teoretiese raamwerke en verskillende intervensiestrategieë word ondersoek, geïntegreer en toegepas om sielkundige taaiheid te ontwikkel met die doel om prestasie in sport te optimaliseer. 

    Sien meer

Minimum krediete: 150

Fundamentele modules

  • Module-inhoud:

    Die module fokus op die aannames en prosesse wat keuses van metodologie in die sosiale- en geesteswetenskappe onderlê. Die doel van hierdie module is om studente met die vaardighede toe te rus om:
    ontologiese en epistemologiese debatte te verstaan;
    verskillende benaderings tot navorsing in die sosiale- en geesteswetenskappe te identifiseer;
    basiese statistiese keuses en analises te kan bespreek; en
    elementêre beginsels van kwalitatiewe data-ontleding te kan beskryf.

    Sien meer

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Die module ondersoek ‘n gemeenskapsielkundige perspektief op menslike ontwikkeling en sielkundige intervensie en verken die bydrae van verskeie perspektiewe in sielkunde op ‘n kritiese wyse. Die module fokus op temas soos definisies van kernkonsepte, -beginsels en -doelwitte van gemeenskapsielkunde, die rol van die gemeenskapsielkundige asook die impak van vroeë denkraamwerke op kontemporêre perspektiewe. Die implikasies van hierdie idees vir praktiese inisiatiewe wat op geestesgesondheid in gemeenskappe fokus, word bespreek. Die module fokus verder op kritiese sielkunde. Kritiese sielkunde is 'n orientasie teenoor sielkunde wat krities staan teenoor die aannames en praktyke van die hoofstroom. Dit poog om magsvraagstukke aan te spreek soos hul manifesteer in hoofstroomsielkunde. Die fokus is op ondersoeke na hoe die praktyke en teorieë van hoofstroomsielkunde bydra tot hierdie magsvraagstukke wat gemarginaliseerde groepe betrek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Identifikasie van abnormale gedrag in kinders aan die hand van kennis van normale kinderontwikkeling; inleiding tot die studie van verskeie modelle met betrekking tot abnormale gedrag; verstaan en toepassing van basiese konsept in kinderpsigopatologie. Die module verskaf ook ‘n inleiding tot psigopatologie en simptomatologie van volwasse abnormale gedrag. Terminologie, definisie van abnormale gedrag, probleme met diagnose, etiketering en mites aangaande abnormale gedrag sal bespreek word. Neurose as ‘n spesifieke geestesversteuring word krities bestudeer vanuit ‘n multidimensionele perspektief, insluitend intrapsigiese, interpersoonlike and sosiaal-kulturele verduidelikings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module fokus op teoretiese raamwerke, paradigmas en navorsingmetodologieë in die konteks van sport- en oefensielkunde. Verskillende navorsingmetodologieë en sportsielkundepraktyke word met die mees prominente teoretiese raamwerke en paradigmas in die veld van sport- en oefensielkunde in ooreenstemming gebring en word dan geëksploreer, geanaliseer en vergelyk. Die navorsingsproses vanaf die skep van 'n navorsingsvraag en ontwikkeling van 'n navoringsvoorstel in die veld van sport- en oefensielkunde word dieper ondersoek en beoordeel. Die kritiese analise van bestaande navorsing en praktiese gevallestudies in die veld van sport- en oefensielkunde word ontwikkel en beredeneer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word hoër-orde denkvaardighede ontwikkel as vereiste vir die kritiese evaluering van verskeie sosiale kwessies en kontekste in sport. Sosiale dinamika, teorieë en navorsing in sport, oefening en prestasiekontekste word in diverse sportkontekste geïnterpreteer en geïmplementeer. Kontemporêre psigososiale aspekte van spankohesie, die rol van toeskouers, aggressie en vandalisme word bespreek en geëvalueer.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences