Jaarboeke

Doktorsgraad (G.42-G.54)

IV.        DOKTORSGRAAD (G.42-G.54)

G.42    TOELATING

 1.   Behoudens gevalle waar 'n magistergraad nie as voorvereiste gestel word nie en behoudens die bepalings van G.1.3 en G.54, word 'n kandidaat slegs tot doktorstudie toegelaat indien hy of sy in besit is van 'n magistergraad.

2.   ’n Kandidaat kan deur die departementshoof toelating tot doktorstudie geweier word, indien hy of sy nie aan die standaard van bekwaamheid in die vak soos deur die departement bepaal, voldoen nie, met dien verstande dat ’n kandidaat wat nie aan die vereiste bekwaamheid voldoen nie, toegelaat kan word op voorwaarde dat addisioneel ooreengekome studieopdragte voltooi en/of eksamens afgelê moet word.

 3.  'n Kandidaat wat toelating tot doktorstudie geweier is, kan die dekaan versoek dat sy of haar aansoek om toelating ingevolge die voorgeskrewe prosedure heroorweeg moet word.

G.43    REGISTRASIE

1.  (S.58) ’n Student registreer aan die Universiteit op die tyd en wyse wat die Raad van tyd tot tyd bepaal en deur sodanige registrasie onderwerp die student hom of haar aan die reëls van die Universiteit.

2. Registrasie vind plaas ooreenkomstig die regulasies wat geld vir die betrokke graad waarvoor die student registreer, met dien verstande dat die verantwoordelikheid vir voldoening hieraan by die student self berus.

3. 'n Student wat geregistreer het, moet alle verskuldigde gelde betaal voor of op die tydstip wat die Raad bepaal, met dien verstande dat ’n student wat sy of haar registrasie kanselleer, nie geregtig is op terugbetaling van enige gelde nie en dus aanspreeklik bly vir die totale bedrag.

G.44    HERNUWING VAN REGISTRASIE

1.   Studente van die Universiteit word geregistreer vir een studiejaar, of vir 'n korter tydperk wat die Raad oor die algemeen of in 'n besondere geval bepaal. Na verstryking van die bedoelde studiejaar of tydperk moet daardie persoon, indien hy of sy 'n student van die Universiteit wil bly, sy of haar registrasie hernu en ten opsigte van so 'n hernuwing die gelde betaal wat van tyd tot tyd deur die Raad voorgeskryf word.

2.   Behoudens ander fakulteitsregulasies moet 'n doktorale student sy of haar studies binne drie jaar na eerste registrasie vir die graad voltooi. In buitengewone omstandighede mag die dekaan, op aanbeveling van die departementshoof of die Nagraadse Komitee goedkeuring verleen vir 'n vasgestelde verlenging van die tydperk.

G.45    BEËINDIGING VAN REGISTRASIE

'n Dekaan kan op aanbeveling van 'n betrokke Nagraadse Komitee die registrasie van 'n student kanselleer indien die student nie aan die minimum vereistes voldoen het, soos deur die fakulteitsraad bepaal nie, met dien verstande dat die student die dekaan kan versoek om die beslissing ingevolge die voorgeskrewe prosedure in heroorweging te neem. Die algemene reël is dat 'n doktorale student sy of haar studies binne drie jaar na eerste registrasie vir die graad moet voltooi, met 'n moontlike vasgestelde verlenging van die tydperk.

G.46    TOEPASSING VAN OU EN NUWE REGULASIES

1. Indien ’n regulasie waarvolgens ’n leergang saamgestel is, gewysig word, mag ’n student wat sy of haar leergang onder ’n ou regulasie begin het en wat sy of haar studie onderbreek het nie, die leergang volgens die ou regulasie voltooi, met dien verstande dat ’n fakulteitsraad oorgangsbepalings kan formuleer ten einde sodanige student in staat te stel om die studie volgens die nuwe regulasie te voltooi.

2. 'n Student wat vir ’n graadprogram geregistreer was en

   (a) versuim het om sy of haar registrasie vir sodanige graadprogram in die daaropvolgende kalenderjaar te hernu; of

   (b) wat in 'n studiejaar gedruip het; of

   (c) wat kragtens fakulteitsregulasies nie voldoen het aan die voorgeskrewe vorderingsvereistes nie,

word geag asof hy of sy studie onderbreek het en verbeur die reg om die studies volgens 'n ou regulasie voort te sit.

Die dekaan mag in uitsonderlike gevalle aan sodanige student die vergunning verleen om sy of haar studie onder sodanige voorwaardes voort te sit as wat die dekaan mag bepaal.

G.47    GELYKTYDIGE REGISTRASIE VIR TWEE STUDIERIGTINGS EN DIE DUPLIKASIE VAN DOKTORSGRADE

1.   ’n Student mag met verlof van die betrokke dekaan/dekane gelyktydig vir ’n graad, diploma of sertifikaat en ’n ander graad, diploma of sertifikaat, hetsy voor- of nagraads, registreer, onderworpe aan die regulasies wat op die betrokke studierigtings van toepassing is en enige ander voorwaardes wat die dekaan/ dekane mag neerlê op voorwaarde dat daar geen oorvleueling tussen die kursusinhoude van die eerste graad, diploma of sertifikaat en die tweede graad, diploma of sertifikaat mag wees nie. Sodanige vergunning kan deur die betrokke dekaan/ dekane teruggetrek word, indien die student nie bevredigend presteer nie.

2.   'n Gedupliseerde doktorsgraad is op dieselfde vlak en in dieselfde studieveld as 'n graad wat reeds toegeken is. Aansoekers word toegelaat om vir 'n tweede graad op doktorale vlak in te skryf alleenlik as die tweede graad in 'n onverwante studieveld is.

G.48    MINIMUM STUDIETYDPERKE EN VEREISTES VIR DOKTORSGRADE

1. Die doktorsgraad word slegs aan ’n student toegeken indien

1.1 een van die volgende tydperke verstryk het:

(a) minstens vier jaar na voldoening aan al die vereistes vir 'n drie-jarige baccalaureusgraad.

(b) minstens drie jaar na voldoening aan al die vereistes vir 'n vier-jarige baccalaureusgraad.

(c) minstens twee jaar na voldoening aan al die vereistes vir 'n baccalaureusgraad van vyf jaar of langer.

(d) minstens twee jaar na voldoening aan al die vereistes vir 'n magistergraad.

1.2 minstens 12 maande verstryk het sedert registrasie vir die doktorsgraad aan die Universiteit, tensy 'n korter tydperk deur die dekaan goedgekeur word.

2. Benewens die bepalings van G.48.1, word ’n doktorsgraad slegs aan ’n student toegeken indien voldoen word aan al die vereistes in fakulteitsregulasies neergelê is.

G.49    EKSAMENS

1. Algemeen

'n Doktorsgraad word toegeken op grond van 'n proefskrif, met dien verstande dat fakulteite eksamens, wat mondeling en/of skriftelik afgelê kan word, as bykomende vereiste kan stel.

2. Doktorale eksamens

(a) Die aard en omvang van eksamens, asook die slaagvereistes, word deur die dekaan op aanbeveling van die departementshoof vasgestel.

(b) Die uitslag van die eksamen word aan die dekaan voorgelê vir bekragtiging.

G.50    PROEFSKRIFTE

1. Algemeen

(a)    Goedkeuring van die onderwerp en titel

  1. Aansoeke vir goedkeuring van ’n onderwerp asook 'n  titel, sowel as titelwysigings, word op aanbeveling van die betrokke departementshoof aan die betrokke Nagraadse Komitee gerig.
  2. Die Nagraadse Komitee oorweeg die aansoeke en keur dit goed of verwys dit terug na die departementshoof.
  3. In die geval van ’n meningsverskil tussen die departementshoof en die Nagraadse Komitee, kan ’n skriftelike appél aan die dekaan gerig word. Die beslissing van die dekaan is finaal.
  4. Die titels van proefskrifte word vir kennisname aan die fakulteitsraad voorgelê.

(b)  Geheimhouding van studie

  1. Wanneer ’n studie of gedeelte daarvan vertroulik moet wees, word dit van die promotor vereis om ’n aansoek aan die Nagraadse Komitee te rig waarin die gronde vir die versoek en die duur van die vertroulikheidsperiode uiteengesit word. Hierdie tydperk sal normaalweg nie langer as 2 (twee) jaar wees nie.
  2. Die Nagraadse Komitee oorweeg die aansoek en keur dit goed of verwys dit terug na die promotor.
  3. In die geval van ’n meningsverskil tussen die promotor en die Nagraadse Komitee, kan ’n skriftelike appél aan die dekaan gerig word. Die beslissing van die dekaan is finaal.

(c) Aanwysing van promotor of medepromotor

  1. Die betrokke departementshoof moet binne een maand nadat die kandidaat geregistreer het, 'n promotor en/of medepromotor vanuit die fakulteit vir die kandidaat aanwys. Die aanwysing deur die departementshoof moet deur die Nagraadse Komitee bevestig word. Indien die Nagraadse Komitee nie die aanwysing deur die departementshoof bevestig nie, word die aangeleentheid na die dekaan verwys vir 'n finale beslissing.
  2. 'n Persoon wat as ‘n promotor vir 'n doktorale kandidaat aangewys word, moet oor 'n gelykwaardige kwalifikasie as die betrokke student beskik, en moet die statuur en ondervinding hê om aan studieleiding nagraadse kandidate te kan verskaf. Indien dit nie die geval is nie, moet die departementshoof goedkeuring van die Nagraadse komitee verkry vir sodanige aanwysing.
  3. 'n Persoon wat as die hoofpromotor aangewys word, moet in 'n akademiese posisie aan die Universiteit aangestel wees. Medepromotors wat nie in akademiese posisies in die Universiteit aangestel is nie, mag ook aangewys word.
  4. By aftrede of bedanking van 'n promotor uit die Universiteit se diens, mag hy of sy met die goedkeuring van die betrokke departementshoof steeds as promotor optree vir 'n student vir wie hy of sy as promotor aangestel is, ten einde sodanige student in staat te stel om die proefskrif te voltooi. Vir hierdie doel en vir hierdie tydperk sal so ’n promotor beskou word as 'n geakkrediteerde dosent aan die Universiteit. Hierdie reëling mag voortduur totdat die departementshoof dit nie meer as toepaslik of nodig beskou nie. Indien ’n promotor na aftrede of bedanking uit die Universiteit se diens nie langer bereid is om as promotor vir ’n student vir wie hy of sy as promotor aangestel is, op te tree nie, word ’n nuwe promotor ooreenkomstig die bepalings van G.50.1(c)(i) to (iii) aangewys.
  5. Die aanwysing van promotors en medepromotors word aan die fakulteitsraad vir kennisname voorgelê.
  6. 'n Ooreenkoms moet tussen die student en die promotor onderteken word. Die dokument dien as grondslag vir die interaksie tussen die student en die promotor. Dit dui hul onderskeie rolle, verantwoordelikhede en verwagtinge aan, en stel dit duidelik dat hulle ’n bindende ooreenkoms met mekaar aangaan.
  7. Dit is die betrokke departementshoof se verantwoordelikheid om die vordering van 'n kandidaat met betrekking tot sy of haar ondertekende ooreenkoms te monitor.

             (d)  Voorbereiding en indiening van proefskrif

  1. Die promotor dra volle verantwoordelikheid om toe te sien dat die proefskrif behoorlik deur die kandidaat voorberei word.
  2. 'n Proefskrif moet slegs met die skriftelike toestemming van die promotor ingedien word. Indien die promotor weier om toestemming vir indiening te verleen, mag die kandidaat by die Nagraadse Komitee toestemming versoek om in te dien. Die Nagraadse Komitee mag toestem tot die indiening van die proefskrif vir eksaminering of dit afkeur. Indien die Nagraadse Komitee die versoek afkeur, mag die kandidaat die aangeleentheid na die Viserektor verantwoordelik vir navorsing en nagraadse studies verwys, wat die Nagraadse Appèlkomitee moet saamroep om die aangeleentheid op grond van verslae van die kandidaat, die promotor en die Nagraadse Komitee te oorweeg. Die beslissing van die Nagraadse Appèlkomitee is finaal. Indien die Nagraadse Appèlkomitee die versoek van die kandidaat toestaan, mag die promotor, indien hy of sy dit so verkies, sy of haar naam van die proefskrif verwyder.
  3. 'n Proefskrif word by die Hoof: Studenteadministrasie ingedien voor die sluitingsdatum vir die verskillende promosieplegtighede soos jaarliks aangekondig.
  4. By die indiening van ’n proefskrif, moet die student ’n skriftelike verklaring van die promotor of die voorsitter van die Nagraadse Komitee, of die voorsitter van die Nagraadse Appèlkomitee, na gelang van die geval, voorlê waarin die indiening van die proefskrif goedgekeur word. 'n Doktorsgraadstudent moet by indiening van die proefskrif 'n CV, goedgekeur deur die promotor, indien.
  5. ’n Doktorsgraadstudent moet by die indiening van die proefskrif die volgende skriftelike verklaring aflê: "Ek verklaar dat die proefskrif wat ek hiermee vir die graad ............................. aan die Universiteit van Pretoria indien, my eie werk is en nie voorheen deur my vir ’n graad aan hierdie of ’n ander tersiêre instelling ingedien is nie".
  6. 'n Student moet vir eksamendoeleindes, in oorleg met die  promotor, 'n voldoende aantal ingebinde eksemplare van die proefskrif, gedruk op papier van goeie gehalte en met goeie letterkwaliteit, by die Hoof: Studenteadministrasie indien. Toestemming mag van die promotor verkry word om die proefskrif in ongebinde vorm in te dien, met dien verstande dat die student die finale goedgekeurde proefskrif in ingebinde of elektroniese formaat aan die eksaminatore voorsien.
  7. Indien die promotor dit nodig ag, moet ’n elektroniese kopie van die proefskrif by die Hoof: Studenteadministrasie vir eksamineringsdoeleindes ingedien word in die formaat soos deur die fakulteit gespesifiseer en in ooreenstemming met die minimum spesifikasies wat deur die Departement Biblioteekdienste gestel is. Die departementshoof kan bepaal of die elektroniese kopieë in die plek van of bykomend tot die papier-eksemplare ingedien moet word. [Die spesifikasies is beskikbaar by: http://upetd.up.ac.za/authors/publish/standards.htm#specs].
  8. Indien ’n proefskrif aanvaar word, maar die student moet sekere veranderings kragtens die besluite van die eksaminatore aanbring, moet die veranderings in alle eksemplare aangebring word tot bevrediging van die betrokke promotor, wat 'n verklaring tot dien effekte by die Hoof: Studenteadministrasie moet indien voor 15 Februarie vir die Herfspromosieplegtighede en voor 15 Julie vir die Lentepromosieplegtighede.
  9. Benewens die eksemplare van die proefskrif waarna in G.50.1(d)(vi), verwys word, moet elke suksesvolle student een gebinde papier-eksemplaar en twee elektroniese kopieë van die goedgekeurde proefskrif by die Hoof: Studenteadministrasie indien in die formaat soos deur die fakulteit gespesifiseer en in ooreenstemming met die minimum spesifikasies wat deur die Departement Biblioteekdienste gestel is. Die indiening moet voor 15 Februarie vir die Herfspromosieplegtighede en voor 15 Julie vir die Lentepromosieplegtighede geskied by gebreke waaraan die graad eers by 'n daaropvolgende reeks promosieplegtighede toegeken sal word. [Die spesifikasies is beskikbaar by: http://upetd.up.ac.za/authors/publish/standards.htm#specs].

(e) Vorderingsverslae

(i) Die promotor moet een maal per jaar skriftelik aan die departementshoof verslag doen oor die vordering van sy of haar kandidaat.

(ii) Bevredigende vordering in die eerste jaar, soos bevestig deur die departementshoof, is 'n voorwaarde tot registrasie vir 'n tweede jaar. Die departementshoof moet die goedkeuring op die elektroniese stelsel aanteken.

(f)     Voorbereiding van proefskrif, wat gepubliseerde artikels insluit

(i)   In gevalle waar die doktorale kandidaat artikels gepubliseer het wat gebaseer is op die resultate van die doktorale studie wat by die Universiteit onderneem is, voordat die proefskrif ingedien is, mag die artikels as grondslag vir die voorbereiding van die proefskrif gebruik word.

In sulke gevalle geld die volgende:

  • Die navorsing waaroor daar in die artikel verslag gelewer is moes plaasgevind het terwyl die kandidaat 'n geregistreerde doktorale student aan die Universiteit was;
  • Die proefskrif moet op so 'n manier voorberei word dat die gepubliseerde artikels as koherente nuwe kennisinhoud aangebied word, en dit moet 'n omvattende inleidende gedeelte insluit wat genoegsame agtergrond verskaf en die doelstellings van die navorsingsmateriaal uiteensit, asook 'n slotgedeelte wat die uitkomste en relatiewe belangrikheid van die werk opsom.
  • Die artikels mag as hoofstukke of afdelings in die proefskrif aangebied word.

(ii)  Die proefskrif gaan gepaard met 'n brief waarin die kandidaat verklaar dat die publikasies(s) wat in die proefskrif ingesluit is:

  • nie voorheen by hierdie of enige ander tersiêre instelling ingedien is vir so 'n doktorsgraad nie;
  • sy of haar eie werk is, en indien die kandidaat 'n medeskrywer van sodanige publikasie (s) is, moet sy of haar persoonlike bydrae tot die publikasie duidelik uiteengesit word;
  • behoorlike erkenning gee aan die institusionele beleid op kopiereg;

(iii) 'n Opsomming van nie meer nie as 500 woorde waarin die bydrae van die werk tot die dissipline uiteengesit word.

 

(g)    Intellektuele goedere

(i) Alle regte ten opsigte van intellektuele goedere wat deur ’n student geskep word tydens sy of haar studies of ingevolge enige navorsingsprojek aan die Universiteit of deur gebruikmaking van die Universiteit se toerusting, kom die Universiteit toe ingevolge die kontrak wat die student en/of sy of haar ouers of voogde by registrasie onderteken. Die reëling geld onder andere waar die student onder studieleiding of as deel van ’n projekspan van die Universiteit werk. Dit geld ook waar die student as ’n lid van ’n navorsingspan van die Universiteit vir ’n derde party kontrakwerk doen. Die Universiteit en die student kan egter by wyse van ’n skriftelike ooreenkoms ’n ander reëling tref.

(ii) ’n Student en die Universiteit kan ’n ooreenkoms bereik oor die publikasie van ’n proefskrif en/of enige artikel. Indien die kopiereg in die proefskrif en/of artikel die enigste eksploiteerbare intellektuele goedere is wat voortspruit uit die proefskrif en/of artikel, sal die Universiteit normaalweg die kopiereg, onderhewig aan bepaalde voorwaardes, aan die student oordra. ’n Fakulteit kan, in oorleg met die Kantoor van die Registrateur, reëlings tref wat vir daardie spesifieke fakulteit geld.

(iii) By die afwesigheid van enige ooreenkoms is die Universiteit geregtig daarop om na goeddunke die proefskrif en/of artikel vir publikasie soos bedoel in G.51, te reproduseer en/of te publiseer en om sodanige reproduksie te versprei.

(iv)By publikasie van die proefskrif of artikel soos bedoel in G.51, of ’n verwerking daarvan, moet vermeld word dat dit voortspruit uit ’n doktorale studie aan die Universiteit. Die naam van die promotor en die departement waarin die studie voltooi is, moet ook vermeld word. Herdrukke moet die titel en datum van die oorspronklike publikasie vermeld.

(v) 'n Student mag nie sonder die toestemming van die promotor 'n artikel vir publikasie indien wat die inhoud van die proefskrif weerspieël nie.

(vi) Bogenoemde moet saamgelees word met die Intellektuelegoederereg-beleid: Personeel en Studente, wat van tyd tot tyd gewysig word.

2.   Tegniese versorging van die proefskrif

(a)    Behoudens uitsonderings wat deur die departementshoof in oorleg met die promotor skriftelik goedgekeur moet word, moet die tegniese versorging van ’n proefskrif aan die volgende vereistes voldoen:

(b)    Titelblad

Die titelblad van die eksemplare van die proefskrif wat ingedien word, moet die volgende bevat:

(i)   (Die volle titel van die proefskrif) .....................………

                                                deur

(ii)  (Volle naam van die student) ................................................….……

(iii) Voorgelê ter gedeeltelike vervulling van die vereistes vir die graad

                               .........................................................…………………………

                                                of

Voorgelê ter vervulling van die vereistes vir die graad ..…………...

in die Fakulteit …………..……………..., Universiteit van Pretoria

(iv) (Jaar en datum van indiening) ..............................................………..

                 (c)    Formaat en omslag

Die proefskrif moet in ’n formaat wat nie groter as A4 is nie, ingedien word. Die ingebinde eksemplare moet in ’n harde omslag gebind word, waarop die titel van die proefskrif en die naam van die student gedruk is. Die naam van die student en die jaartal van indiening van die proefskrif moet op die rugkant van elke ingebinde eksemplaar aangebring word.

 

(d)    Etiese verklaring

Die proefskrif moet 'n verklaring deur die student insluit wat verklaar dat hy of sy voldoen het aan die Universiteit se Beleid oor Navorsingsetiek en Integriteit, en dat hy of sy oor die algemeen die beginsels van eerlikheid, objektiwiteit, die plig van sorg nagekom het, en op billike wyse krediet en gepaste erkenning gee vir werk wat deur ander gedoen is.

Die etiese verklaring verskyn voor die opsomming van die proefskrif en volg op die verklaring waarna in G.50.1(d)(v) verwys word, en moet die volgende bevat:

                          Etiese verklaring

Die outeur, wie se naam op die titelblad van hierdie proefskrif verskyn, het vir die navorsing in hierdie werkstuk die toepaslike goedkeuring rakende navorsingsetiek verkry.

Die outeur verklaar dat hy of sy die etiese standaarde, soos vereis in die Universiteit van Pretoria se Etiese kode vir navorsers en die Beleidsriglyne vir verantwoordelike navorsing, gehandhaaf het.

 

3.   Samevatting van die proefskrif

(a)  'n Opsomming van die proefskrif in Engels bestaande uit hoogstens 250 woorde word deur die student opgestel en in elke eksemplaar van die proefskrif ingebind.

(b)  Benewens die opsomming in G.50.3(a), moet ’n samevatting van die doktorale proefskrif (bestaande uit 350 woorde) in Engels, asook die titelblad in Engels, saam met die eksameneksemplare van die proefskrif ingedien word. Die samevatting sal by die Universiteit se Biblioteekdienste ingedien word.

(c) 'n Lys van sleutelterme vir die terugvindbaarheid van die bron moet ook saam met die eksameneksemplare van die proefskrif ingedien word.

(d)  Die opskrif van die samevatting waarna in G.50.3(b) verwys word, bevat die volgende:

(i)   (Die volle titel van die proefskrif) ..........................................

                                                deur

(ii)  (Volle naam van die student) ......................................................

(iii) Promotor ...............................................................................

      Medepromotor ...................................................................

(iv) Departement .................................................................................

(v)  Graad waarvoor die proefskrif ingedien word ...........................

(e)    Die student lê die samevatting van die proefskrif voor indiening aan die promotor voor vir goedkeuring.

 

4.   Beoordeling van die proefskrif         

(a) Aanstelling van die eksamenkommissie

  1. ’n Student moet die Hoof: Studenteadministrasie minstens drie maande voor indiening van die proefskrif skriftelik daarvan in kennis stel sodat eksaminatore dienooreenkomstig verwittig kan word.
  2. Die Nagraadse Komitee stel die eksamenkommissie vir ‘n bepaalde kandidaat aan, onderhewig aan die bepalings van regulasie G.50.4(a)(iii).
  3. Die promotor, in oorleg met die betrokke departementshoof, stel ’n lys van name van potensiële eksaminatore binne en buite Suid-Afrika op waaruit die Nagraadse Komitee eksaminatore aangewys word, met dien verstande dat ten minste een interne eksaminator en minstens twee eksterne eksaminatore van buite die Universiteit, waarvan verkieslik ten minste een uit die buiteland moet wees en ten minste twee plaasvervangende eksaminatore om die mondelinge eksamengeleentheid by te woon, soos voorsien in G.50.4(d)(iv). Indien ’n interne eksaminator nie aangewys word nie, moet ’n addisionele eksterne eksaminator aangewys word.
  4. Die studieleier/promotor mag nie ’n interne eksaminator wees nie.
  5. ’n Eksterne eksaminator mag nie enige belang by die kandidaat hê of op enige wyse betrokke wees by die navorsingswerk wat die kandidaat voorheen gedoen het nie. ’n Plaasvervangende eksaminator mag ook nie op enige wyse betrokke wees by die navorsingswerk wat die kandidaat voorheen gedoen het nie.
  6. Eksterne eksaminatore moet van verskillende instellings afkomstig wees.
  7. ’n Opsomming van die proefskrif in Engels, van nie meer nie as 250 woorde opgestel deur die student, word aan potensiële eksaminatore beskikbaar gestel ten einde hulle in staat te stel om te besluit of hulle oor die vakkundigheid beskik om die nominasie te aanvaar.
  8. Sodra ’n potensiële eksaminator sy aanstelling as eksaminator aanvaar het, word hy of sy van ’n formele aanstellingsbrief sowel as dokumentasie oor die beleid van die Universiteit rakende eksaminering voorsien. Eksaminatore moet ’n aanvaardingsvorm onderteken en terugstuur aan die Hoof: Studenteadministrasie.

(b) Identiteit van lede van die eksamenkommissie

  1. Die identiteit van die eksaminatore word nie aan die kandidaat bekendgemaak voordat die eksamineringsproses afgehandel is nie, en dan slegs met die instemming van die eksaminator en die Nagraadse Komitee.
  2. Die identiteit van die eksaminatore word in die program van die promosieplegtigheid waarop die graad aan die kandidaat toegeken word, bekendgemaak.

(c) Kriteria vir beoordeling

  1. ’n Proefskrif moet bewys lewer van die kandidaat se vermoë om oorspronklike navorsing te doen wat tot die ontsluiting van nuwe kennis en vakkundige insigte bydra.
  2. ’n Proefskrif moet voldoen aan die vereistes wat deur fakulteite gestel word, en word ook op die volgende beoordeel:

(aa)  wetenskaplike en akademiese standaard van navorsing; navorsingsprosedures en -tegnieke; metodologie; afbakening en omvang van navorsing; teoretiese fundering; literatuurdekking asook begrip van navorsingsterrein;

(bb)  wetenskaplike en akademiese gehalte van verwerking; aanbieding, analise en sintese van data; struktuur en logiese ontwikkeling en ordening van inhoud; asook kritiese bevindings, gevolgtrekkings en aanbevelings;

(cc)   redaksionele versorging en taalgebruik;

(dd)  tegniese afwerking en uitleg wat aan fakulteitsvereistes moet voldoen; en

(ee)  publiseerbaarheid van die proefskrif of gedeeltes daarvan.

    iii.  ‘n Student word toegelaat om ‘n proefskrif wat afgekeur is, net een keer in gewysigde vorm aan te bied, en in so ‘n geval moet hy of sy die volle koste van die eksaminering dra.

(d)  Eksaminatorsverslae

(i) Elke eksaminator dien onafhanklik en individueel ‘n verslag by die Hoof: Studenteadministrasie in. Die verslae word as vertroulik hanteer.

(ii) Elke verslag moet een van die volgende aanbevelings bevat, naamlik:

(aa)  dat die graad toegeken word sonder dat die kandidaat enige veranderinge aan die proefskrif hoef aan te bring;

(bb)  dat die graad toegeken word sodra geringe veranderinge tot bevrediging van die departementshoof aan die proefskrif deur die kandidaat aangebring is;

(cc)   dat die graad toegeken word sodra die kandidaat wesenlike veranderinge tot bevrediging van die eksamenkommissie aan die proefskrif aangebring het;

(dd)  dat die proefskrif nie aan die vereiste standaard voldoen nie, maar dat die kandidaat genooi word om die proefskrif te hersien en die proefskrif weer op ‘n latere stadium vir hereksaminering in te dien;

(ee)  dat die proefskrif afgekeur word en dat die kandidaat nie slaag nie; of

(ff)    dat die kandidaat eers vir ‘n mondelinge ondervraging deur die eksamenkommissie opgeroep word alvorens die uitslag gefinaliseer word;

(iii) Die eksaminatorsverslae word deur die Hoof: Studente-administrasie aan die departementshoof beskikbaar gestel.

(iv) In die geval van ‘n proefskrif is die aanbevelings wat die eksaminatore ingevolge G.50.4(d)(ii) doen, voorlopig van aard en onderhewig aan die suksesvolle voltooiing van ‘n mondelinge eksamen soos bedoel in G.50.4(d)(iv)(aa)–(cc) hieronder of word sodanige aanbevelings hanteer soos bedoel in G.50.4(d)(v) hieronder, na gelang van die geval.

(aa)  Die promotor reël ‘n mondelinge eksamengeleentheid onder voorsitterskap van die departementshoof waartydens daar van die kandidaat verwag word om ‘n voordrag oor die proefskrif te lewer. Die eksaminatore wat ingevolge G.50.4(a) aangestel word, vorm die eksamenkommissie vir hierdie eksamengeleentheid. Indien ‘n eksaminator nie aan die eksamengeleentheid kan deelneem nie, vra die promotor een van die plaasvervangende eksaminatore wat ingevolge G.50.4(a) aangestel is, om as ‘n lid van die eksamenkommissie op te tree.

(bb)  Die promotor, in oorleg met die departementshoof, stel vooraf ooreenkomstig G.50.4(e)(iii) die tersaaklike gedeeltes van die eksaminatorsverslae aan die kandidaat beskikbaar sodat die nodige wysigings aan die proefskrif aangebring kan word voordat die voordrag plaasvind.

(cc)   Na afloop van die voordrag deur die kandidaat, hou die eksamenkommissie ‘n geslote vergadering onder voorsitterskap van die departementshoof om die sukses van die kandidaat se aanbieding te oorweeg, al die eksaminatorsverslae in oënskou te neem en ‘n gekonsolideerde verslag aan die Nagraadse Komitee voor te lê met een van die volgende aanbevelings:

  • dat die graad toegeken word;
  • dat die proefskrif nie aan die vereiste standaard voldoen nie, maar dat die kandidaat genooi word om die proefskrif te hersien en die proefskrif weer op ‘n latere stadium vir hereksaminering in te dien;
  • dat die proefskrif afgekeur word en die graad nie aan die kandidaat toegeken word nie.

(v) Indien al die eksaminatore ingevolge G.50.4(d)(ii)(ee) aanbeveel dat die proefskrif afgekeur word, neem die promotor en die departementshoof die eksaminatorsverslae in oënskou en lê 'n gekonsolideerde verslag aan die Nagraadse Komitee voor.

(e)    Hantering van eksaminatorsverslae

(i) Onder geen omstandighede mag enige party enige van die eksaminatorsverslae wysig nie.

(ii) Die inhoud van eksaminatorsverslae of die gekonsolideerde eksaminatorsverslag mag slegs aan die kandidaat bekendgemaak word met toestemming van die Nagraadse Komitee en met die instemming van die eksaminatore.

(iii) Waar ‘n kandidaat verbeteringe aan ‘n proefskrif moet aanbring, word die tersaaklike gedeelte(s) van die eksaminatorsverslae deur die promotor in oorleg met die departementshoof aan die kandidaat beskikbaar gestel sodat die nodige wysigings aan die proefskrif aangebring kan word.

(f) Finalisering van verslae

(i) Indien die eksaminatorsverslae nie op wesenlike eenstemmigheid dui nie, lê die departementshoof in oorleg met die promotor 'n verslag voor aan die Nagraadse Komitee met 'n voorgestelde oplossing. ‘n Verslag van ‘n eksaminator mag onder geen omstandighede buite rekening gelaat word nie.

(ii) Indien dit nie moontlik is om eenstemmigheid te bereik nie, stel die dekaan, na raadpleging met die Nagraadse Komitee en departementshoof, ‘n addisionele eksterne eksaminator aan wat internasionaal erkenning in die navorsingsveld geniet om die proefskrif te beoordeel en aan die Nagraadse Komitee verslag te doen daaroor.

(iii) Die Nagraadse Komitee neem in die lig van alle verslae (insluitende die verslag vermeld in G.50.4(f)(ii)) 'n voorlopige besluit oor die toekenning van die graad al dan nie. Die komitee kan enige van die aanbevelings maak soos uiteengesit in G.50.4(d)(iv). Die aanbeveling word aan die dekaan voorgelê tesame met alle relevante dokumentasie.

(iv) Indien die dekaan met die aanbeveling saamstem, neem hy of sy dienooreenkomstig 'n besluit.

(v) Indien die dekaan nie met die aanbeveling saamstem nie, tree hy of sy in gesprek met die Nagraadse Komitee. Vir doeleindes van hierdie vergadering is die dekaan 'n lid van die Nagraadse Komitee en tree hy of sy óók as voorsitter van die Nagraadse Komitee op. Die vergrote komitee neem by wyse van 'n meerderheidstem 'n besluit. In die geval van 'n staking van stemme het die dekaan ‘n beslissende stem.

(vi) Nadat die besluit oor die uitslag van die proefskrif geneem is soos uiteengesit in G.50.4(f)(iii) of (iv), moet die Hoof: Studente-administrasie

(aa)  'n brief aan die eksaminatore rig om hulle te bedank vir hul deelname aan die eksaminering en vir die aanbevelings wat hulle gemaak het;

(bb)  die eksaminatore van die finale uitslag in kennis stel en aandui wat hulle betrokkenheid in die verdere proses sal wees (indien enige);

(cc)   die kandidaat, promotor, medepromotor en departementshoof van die finale uitslag in kennis stel.

G.51    ARTIKEL VIR PUBLIKASIE

Voor of by die indiening van 'n proefskrif, moet die student 'n bewys, uitgereik deur 'n geakkrediteerde joernaal dat 'n artikel ingedien is, by die Hoof: Studenteadministrasie indien.

Die artikel wat ingedien is, moet gebaseer wees op die navorsing wat die student vir die proefskrif gedoen het en moet deur die studieleier/promotor goedgekeur wees.

Die studieleier/promotor sal verantwoordelik wees daarvoor om toe te sien dat die artikel deur die prosesse van hersiening en hervoorlegging gaan, soos nodig mag wees.

G.52    VOLDOENING AAN GRAADVEREISTES EN GRAADVOORREGTE

Met die uitsondering van ’n eregraad, word ’n graad slegs aan ’n student toegeken indien hy of sy aan al die vereistes vir die betrokke graad voldoen het en die standaard van bekwaamheid bereik het wat vir elke module vir die graad vereis word, met dien verstande dat niemand op enige voorregte verbonde aan 'n graad geregtig is nie, alvorens die graad tydens 'n promosieplegtigheid aan hom of haar toegeken is.

Die doktorsgraad word nie met lof toegeken nie.

G.53    DOKTORSGRAAD OP GROND VAN PUBLIKASIES         

1.   Algemeen

 Hierdie doktorsgraad word toegeken in dié fakulteite waar die betrokke fakulteitsregulasies daarvoor voorsiening maak.

2.   Toelating

Die graad word toegeken aan ’n kandidaat wat omvangryke en hoogstaande navorsingswerk voltooi het.

3.   Aansoek

(a) ’n Kandidaat moet skriftelik by die dekaan aansoek doen om vir die graad oorweeg te word.

(b) ’n Aansoek met die oog op ’n bepaalde promosieplegtigheid moet drie maande voor die sluitingsdatum vir die verskillende promosie-plegtighede soos jaarliks aangekondig, ingedien word.

(c) Die aansoek moet vergesel wees van:

(i) vier stelle kopieë van die publikasies op grond waarvan aansoek gedoen word;

(ii) 'n verslag wat die agtergrond relevant tot die navorsingsveld uiteensit en die wat die doelstellings en inhoud van die inhoud van die werk weergee om sodoende die produksie van 'n nuwe kennisinhoud te demonstreer;

(iii) 'n opsomming van nie meer nie as 500 woorde wat die bydrae van die werk tot die dissipline aandui;

(iv) ’n verklaring waarin die kandidaat verklaar dat die publikasie/s wat vir die graad ingedien word:

  • nie voorheen by hierdie of 'n ander tersiêre instelling vir ’n sodanige doktorsgraad ingedien is nie;
  • sy of haar eie werk is, en indien die kandidaat 'n medeskrywer van sodanige publikasie (s) is, moet sy of haar persoonlike bydrae tot die publikasie duidelik uiteengesit word
  • met die nodige vergunning van die outeursreghebbende, na gelang van die geval, geskied.

4.   Registrasie

’n Kandidaat moet op die wyse wat die Universiteit bepaal, registreer en die voorgeskrewe registrasiegeld betaal.         

5.   Beoordeling van die publikasies

(a) Die dekaan benoem ’n komitee onder voorsitterskap van die voorsitter van die Navorsingskomitee en waarvan die betrokke departementshoof 'n lid is om ’n aanbeveling aan die fakulteitsraad te maak of die werke vir eksaminering ingevolge G.53.5(b) voorgelê moet word, al dan nie.

(b) Indien die fakulteitsraad die aanbeveling aanvaar, stel die Nagraadse Komitee ’n eksamenkommissie vir ’n bepaalde kandidaat aan, onderhewig aan goedkeuring deur die dekaan.

(c) Die betrokke departementshoof stel ’n lys van name van potensiële eksaminatore van binne en buite Suid-Afrika op waaruit die Nagraadse Komitee ten minste drie eksterne eksaminatore van buite die Universiteit aanwys, wat al drie internasionaal erken word vir die bydrae wat hulle tot die studieveld gemaak het. Normaalweg sal ten minste twee van hierdie eksaminatore van buite Suid-Afrika wees.

(d) Geen eksaminator mag enige belang by die kandidaat hê of op enige wyse betrokke wees by die navorsingswerk wat die kandidaat voorheen gedoen het nie.

(e) Eksterne eksaminatore moet van verskillende instellings afkomstig wees.

(f) Sodra ’n potensiële eksaminator sy/haar aanstelling as eksaminator aanvaar het, word hy/sy van 'n formele aanstellingsbrief sowel as dokumentasie oor die beleid van die Universiteit rakende eksaminering voorsien. Eksaminatore moet ’n aanvaardingsvorm onderteken en terugstuur aan die Hoof: Studenteadministrasie.

(g) 'n Kandidaat slaag indien al die lede van die eksamenkommissie die publikasies vir doeleindes van die toekenning van die doktorsgraad aanvaar, met dien verstande dat indien hoogstens een eksaminator dit nie aanvaar nie, die dekaan, na oorleg met die Nagraadse Komitee, ’n kundige en gerekende akademikus van statuur van buite die Universiteit as addisionele eksaminator mag aanstel. Indien die addisionele eksaminator die publikasies aanvaar, slaag die kandidaat. Indien die addisionele eksaminator ook nie die publikasies aanvaar nie, word die doktorsgraad nie toegeken nie.

(h) 'n Kandidaat word slegs eenmaal vir 'n doktorsgraad op grond van publikasies oorweeg.

(i) Die graad word nie met lof toegeken nie.

(j)  Nadat die besluit oor die toekenning van die graad, al dan nie, geneem is soos uiteengesit in G.53.5(g), moet die Hoof: Studenteadministrasie:

(i) ’n brief aan die eksaminatore rig om hulle te bedank vir hul deelname aan die eksaminering en vir die aanbevelings wat hulle gemaak het;

(ii) die eksaminatore van die finale uitslag in kennis stel en aandui wat hulle betrokkenheid in die verdere proses sal wees (indien enige);

(iii) die kandidaat en departementshoof van die finale uitslag in kennis stel.

V.         STATUSVERLENING MET DIE OOG OP NAGRAADSE STUDIE

G.54    BELEID OOR NAGRAADSE STUDENTEGEVALLE EN DIE ERKENNING VAN VORIGE LEER

Aangesien die Universiteit beperkte kapasiteit het in meeste voorgraadse velde (die maksimum is reeds bereik of studente word toegelaat uit ’n groot aantal aansoekers), is die Universiteit se beleid oor die erkenning van vorige leer slegs van toepassing op nagraadse studente (dit sluit nagraadse diplomas in). 

Verder is dit die Universiteit se strategiese missie om 'n internasionaal erkende navorsingsuniversiteit te wees en daarom is toelating tot nagraadse studie deur middel van die erkenning van vorige leer eerder die uitsondering as die reël.

Die Senaat kan:

(a)    ’n gegradueerde van ’n ander universiteit (hetsy in die Republiek of elders) tot ’n status aan die Universiteit toelaat wat gelykstaande is met die status wat hy of sy aan so ’n ander universiteit besit.

(b)    ’n persoon wat

(i)   aan ’n ander universiteit of inrigting (hetsy in die Republiek of elders) geslaag het in eksamens wat na die oordeel van die Senaat gelykwaardig is aan of hoër is as die eksamens wat voorgeskryf is vir ’n graad aan die Universiteit wat ’n voorvereiste is vir toelating tot ’n bepaalde nagraadse studieprogram of vir die toelating van so ’n persoon as navorsingstudent; of

(ii)  op ’n ander wyse ’n standaard van bekwaamheid bereik het wat na die oordeel van die Senaat vir die doeleindes van nagraadse studie of navorsing aan die Universiteit toereikend is,

as student vir ’n nagraadse graad, diploma of sertifikaat toelaat.

Daar word van die persoon na wie daar in paragraaf (b)(ii) verwys word, verwag om dieselfde vlak van toegepaste bekwaamheid (fundamentele kennis, begrip van die organisasie- of bedryfsomgewing, toepassing van noodsaaklike metodes, interpretasie, omskakeling en evaluering van teks, probleemoplossing en verandering van konteks, inligtingversameling, voordragvaardighede) en outonomie van leer (verantwoordelikheid vir eie leer, besluitneming, evaluering van eie en ander se prestasie, bestuur van leertake en navorsingsleierskap) te demonstreer as ’n student aan wie daar op die normale manier toegang verleen is.

Die manier waarop ’n persoon soos na verwys in subparagraaf (b)(ii), se vlak van toereikendheid geassesseer word, die tipe bewysmateriaal wat vereis word en die rolspelers wat betrokke is, word van tyd tot tyd deur elke fakulteit self bepaal en vorm die basis vir die motivering van elke geval aan die Senaat.

Om die geslaagdheid van bogenoemde prosedure te verseker, vereis die Senaat dat elke fakulteit jaarliks ’n verslag sal indien oor die vordering van kandidate wat volgens hierdie regulasie toegelaat is. 


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences