Jaarboeke

Program: MMed Openbare Gesondsheidsgeneeskunde

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
10250372 Fakulteit Gesondheidswetenskappe
Credits Duration
Duur van studie: 4 jaar

Toelatingsvereistes

'n Voornemende student vir die MMed-graadprogram moet vir minstens twee jaar in besit wees van die MBChB-graad van die Universiteit of ’n kwalifikasie wat deur die Universiteit as gelykwaardig erken word. Daarbenewens moet sodanige student vir minstens een jaar by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as geneesheer geregistreer wees.

Addisionele vereistes

Elke student moet die Universiteit tevrede stel dat hy of sy

(i)      vir ’n tydperk van vier jaar volgens die vereistes van die Departement Gesondheidsgeneeskunde, met welslae ’n voltydse opleidingspos beklee het.

(ii)     toepaslike teoretiese en praktiese opleiding ontvang en voltooi het soos bepaal;

(iii)    met welslae die voorgeskrewe skriftelike, mondelinge en/of praktiese universiteits- of ekwivalente primêre Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika-eksamens afgelê het.

Ander programspesifieke inligting

Let wel: Alle MMed-studente moet vir (TNM 800) Toegepaste navorsingsmetodologie 800 registreer en dit bevredigend bywoon.

Onder hoofvak word verstaan die erkende spesialiseringsgebied van die Geneeskunde waarop die student hom of haar in die besonder toelê. Die studie van die hoofvak strek oor vier jaar, soos deur die Departement Openbare Gesondheidsgeneeskunde voorgeskryf

Eksamens en slaagvereistes

(i)      Die eksamens in die voorvereiste vakke word afgeneem in die volgorde soos bepaal deur die hoof van die department waaronder die hoofvak ressorteer (Openbare Gesondheidsgeneeskunde).

(ii)     Die finale uitgangseksamen in die hoofvak sal deur die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika geadministreer word. Slegs kandidate wat aan al die vereistes vir MMed(Openbare Gesondheidsgeneeskunde) voldoen, met uitsondering van die hoofvak, d.i. alle voorvereiste vakke is geslaag, alle toepaslike opleiding soos voorgeskryf deur Reg. P.3(c) is voltooi en die vereiste navorsingskomponent is voltooi soos vir die graad vereis ingevolge die Fakulteitsjaarboekregulasies – Toegepaste navorsingsmetodologie 800 (TNM 800) en ’n verhandeling (GGS 890), sal toegelaat word om die uitgangseksamen van die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika af te lê.

(iii)    Om in ’n vak te slaag, word ’n minimum finale punt van 50% vereis.

(iv)    ’n Student mag hom of haar nie meer as twee keer vir die eksamen in ’n voorvereiste vak (tweede eksamen uitgesluit) en ook nie meer as twee keer vir die eksamen in die hoofvak aanmeld nie.

Tweede eksamengeleentheid

Tweede eksamens in die voorvereiste vakke vind eers plaas nadat minstens ses maande verloop het na die eksamen waarin die student gedruip het.

Vrystelling

(i)      Gedeeltelike vrystelling mag deur die Fakulteitsraad verleen word op grond van vergelykbare opleiding en ervaring in ’n ander pos of aan ’n ander erkende inrigting, wat betref die opleiding en werk soos reeds genoem: Met dien verstande dat die maksimum toelaatbare tydperk van vrystelling hoogstens 18 maande sal wees in die geval van ’n vierjarige graadprogram.

(ii)     Vrystelling van hoogstens twee jaar Openbare Gesondheidsgeneeskunde-opleiding mag in die Departement Openbare Gesondheidsgeneeskunde ten opsigte van die MMed (Openbare Gesondheidsgeneeskunde)-graad verleen word aan ’n kandidaat wat reeds in besit is van ’n genootskap van die Kollege van Openbare Gesondheidsgeneeskunde, of ’n genootskap van die Kollege van Beroepsgesondheidsgeneeskunde van die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika. Sodanige kandidaat moes ’n periode van minstens 24 maande as kliniese assistent in Openbare Gesondheids geneeskunde of Beroepsgesondheidsgeneeskunde, soos deur die RGBSA erken, voltooi het.

Praktiese/kliniese/internskapinligting

Van kliniese assistente in Openbare Gesondheidsgeneeskunde word verwag om gedurende hul opleidingstydperk ’n roterende verbintenis met ’n aantal aangewese gesondheidsdiensorganisasies te ondergaan.

Navorsing

’n Verhandeling oor ’n goedgekeurde navorsingsprojek moet geslaag word benewens die hoofvak en voorvereiste vakke. Die bepalings van die Algemene Regulasies in verband met die voorbereiding en indiening, tegniese versorging en samevatting van ’n verhandeling, is van toepassing.

Slaag met lof

Die graad word aan die einde van die voorgeskrewe opleidingstydperk, d.i. vier jaar, toegeken. Die graad word met lof toegeken aan ’n student wat ’n finale punt van minstens 75% in sy of haar hoofvak behaal het.


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

To contact the University during the COVID-19 lockdown, please send an email to [email protected]

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences