Nerina Bosman

In Memoriam Heinrich Grebe (2 Maart 1950 - 8 April 2011)

deur Nerina Bosman


Heinrich Philip Grebe is in Swellendam gebore en verhuis later na Bellville waar hy sy skoolloopbaan afsluit. Aan die Universiteit van Kaapstad verwerf hy sy eerste graad (in Argitektuur), daarna die BA, BA Honneurs in Algemene Taalwetenskap en MA in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 promoveer hy aan die Universiteit van Pretoria met die proefskrif Die historiografie van Afrikaans in heroënskou.

As lektor is hy eers verbonde aan Unisa en daarna is die Universiteit van Pretoria sy akademiese tuiste waar hy nagenoeg 29 jaar lank voor- en nagraads in die Afrikaanse en Algemene Taalkunde doseer. Onder sy leiding kom ook die aanleerderskursus Leer Nederlands tot stand.
Heinrich publiseer veral op die gebied van die Historiese Taalkunde. Kort voor sy dood is 'n voorkopie van sy boek Op die keper beskou: Oor die ontstaan van Afrikaans (ter perse) aan hom
oorhandig. Die boek bevat dele uit sy proefskrif asook ander taalkundige opstelle.

Hy skryf ’n stuk of 14 vakwetenskaplike artikels - meestal rondom die historiografie van Afrikaans. Artikels met hierdie tema as onderwerp sluit in:

Grebe, H.P.  1998. Teoretiese uitgangspunte oor taalverandering: ’n dichotomie. In: Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, jaargang 16, nr. 3. pp. 96-111.

Grebe, H.P. 1999. Oosgrensafrikaans: ’n te eksklusiewe begrip? In: Literator, jaargang 20, nr.1. pp. 51-66.

Grebe, H.P. 1999. Oosgrensafrikaans as teoretiese konstruk onder die loep. In: Literator, jaargang 20, nr.2. pp. 47-57.

Grebe, H.P. 2002. Standaardafrikaans: daar’s ’n vlieg in die salf. In: Southern African Linguistics and Applied Language Studies. 20 (1-2): 37-46.

Grebe, H.P. 2004. De tijd gestulpt: Nederlandse grammaticale resten in niet-standaardafrikaans.  In: Gelderblom et al. (red.). Neerlandistiek de grenzen voorbij: Handelingen van het   Vijftiende Colloquium Neerlandicum, Groningen, 24-30 augustus 2003. Woudbrugge: IVN. pp. 123-137.

Grebe, H.P. 2004. ’n Prys om te betaal? Die belang van historiese taalnavorsing in ’n etnies verdeelde samelewing. In: Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. Jaargang 11 , nr. 2. pp. 127 – 140.

Grebe, H.P. 2007. Die dinamika van Kaaps-Hollands – belangrike nuwe insigte in die ontwikkeling en standaardisering van Afrikaans. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. Jaargang 13, nr. 1. pp 16 – 28.

Grebe, H.P. 2009. De taal is gans het volk – taalstandaardisatie en de constructie van identiteit. Internationale neerlandistiek. Februarie 2009.


Taalpolities sou mens hom as 'n aktivis kon beskryf. Hy het hom met getroue reëlmaat verset teen die toenemend verskralende (en vervelige) eentaligheid wat so kenmerkend van ons daaglikse amptelike kommunikasie by die universiteit en in die groter Suid-Afrika geword het.

Sy kollegas en studente by die universiteit gaan hom baie mis.

Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences