Heinrich Grebe
deur Annette Jordaan
Hein(rich) Grebe – sommige van ons het hom leer ken as Hein – was nie net ons kundige kollega wat betref die linguistiek en die Afrikaanse taalkunde en veral die historiografie van Afrikaans nie. Hy was ook ’n kosbare en betrokke vriend vir baie jare. Hy kon soms erg ongeduldig raak met die “klein jakkalsies” soos ’n rekenaar wat nie wil luister na wat van hom gevra word nie. Dan moes ons hom oortuig dat dit nie diemoeite werd is om “die ding” by die GW se venster te probeer uitgooi nie! Almal weet ook dat hy die benadeling van Afrikaans op verskeie vlakke – ook binne die universiteitstrukuur – geensins kon aanvaar nie en ’n vurige kampvegter vir sy geliefde taal gebly het. Nederlands het hom die laaste jare ook na aan die hart gelê, en as hy in die teekamer vertel het van ’n “wonderlike boek” wat hy ontdek het en wat ons tog moet lees, het ons sommer geweet dit sal ’n Nederlandse teks wees. Wat my besonder opgeval het, was dat hy, wat so passievol vir ’n saak soos die voortbestaan van Afrikaans kon “veg”, sonder enige teken van opstandigheid die siektetoestand aanvaar het wat so onverwags op sy pad gekom het. Daar was ’n berusting en rustigheid – feitlik ’n blymoedigheid – was alle verstand te bowe gegaan het. Hy het telkemale bely dat hy nou “in die Here se hand is”. Sylaaste weke was vir almal van ons wat hom toe nog besoek het en ’n woord kon wissel, al het sy woorde ook minder geword, ’n blywende inspirasie. Heinrich het ons gewys met hoeveel moed en kalmte van gees ’n mens die laaste grens behoort te nader. Dankie, Hein, vir amper twee-en-twintig jaar se vriendskap as kollega en mentor - die waarde daarvan is onmeetbaar.
Copyright © University of Pretoria 2025. All rights reserved.
Get Social With Us
Download the UP Mobile App