E-pos ons

FAQ
Virtual Campus
UP-professor tot Italiaanse parlement verkies
19 Maart 2018

Prof Lorenzo Fioramonti, Direkteur van die Sentrum vir die Bestudering van Regeringsinnovasie (GovInn) en professor in die Departement Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (UP), is tot die Italiaanse parlement verkies onder die vaandel van die Vyfsterbewegingparty in die land se onlangse verkiesing.

Sy naam word ook genoem vir die pos van Minister van Ekonomiese Ontwikkeling in 'n toekomstige regering.

Prof Fioramonti, ’n bekende akademikus in Suid-Afrika en internasionaal, gee al lank advies vir baie politieke partye oor volhoubare ontwikkelingsbeleide en oor innoverende konsepte soos die 'welstandekonomie', wat ook die titel is van sy jongste boek, wat in Suid-Afrika uitgegee word. Die afgelope jaar was hy aan die hoof van ’n internasionale inisiatief gemik op die skep van ’n bondgenootskap van regerings en politieke partye wat verbind is tot die bevordering van ’n nuwe benadering tot ekonomiese bestuur, wat van die blote fokus op BBP-groei wegbeweeg en breër menslike en ekologiese welstand insluit.

Hy het werksessies bestuur en aangebied vir die ANC, die DA, die Stad Durban en die regerings van Namibië, Skotland, Finland, Swede, Slovenië, Costa Rica, Bhoetan en Nieu-Seeland.

Prof Fioramonti sal twee jaar onbetaalde verlof neem en sal aan GovInn en die Departement Politieke Wetenskappe verbonde bly. Hy merk op dat UP hom as ’n jong akademikus ’n goeie geleentheid gebied het om te floreer.

Oor sy verkiesing sê hy: 'Ek voel geëerd dat my navorsing nou ’n geleentheid gebied word om beleid te word in een van die wêreld se voorste ekonomieë. Ek is terdeë bewus van die behoefte om die wêreld se ontwikkelingstrategie te verander ten einde volhoubaarheid en gedeelde welstand te verwesenlik. Ek hoop my ondervinding kan ’n voorbeeld vir studente in Suid-Afrika en internasionaal word dat sterk idees ’n groot impak op beleidformulering kan hê.'

 

- Outeur Departement universiteitsverhoudinge
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Jacoba OdendaalWysig
Prof Lorenzo Fioramonti